|
Aarde en Maan JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 18
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94. |
|
|
Die aardkors.
26-1-1847
18 Nadat ons die middelste aarde deurgegaan het, begewe ons onsself - soos wat alreeds gesê is - na die buitenste aarde, wat as`t ware die huid of die kors van die aarde uitmaak.
[2] Die buitenste deel van die aarde bestaan allermins uit `n meganies kunstige bousel; wat daar in hierdie sfeer egter ontbreek, word voor gekompenseer deur talryke struktuurvorme en daar heers `n sodanige oorvloed van alles, wat geen enkele menseverstand sou kan begryp of haarself sou kan voorstel hoe en wat daar alles in hierdie aardkors aangaan nie.
[3] By die vroeëre twee aardes het ons alles eenvoudiger gevind, omdat die werking, benewens die aan haar voorafgaande aktiwiteit, in `n sekere sin heel eenvoudig is. Mens sou die inwendige aktiwiteit en die inwendige arbeid kan vergelyk met `n gewone dryfwiel, waarby mens niks anders sien as dat dit stadig, maar tog met baie vaart, om sy as wentel nie. Gaan mens dan egter die werkplek binne, waar deur die eenvoudige werking van die genoemde dryfwiel `n werklik gekompliseerde meganisme in die mees verskillende bewegings omgesit word en waar deur hierdie rat- en spilwerke die mees verskillende resultate bereik word, dan is mens verbaas as mens bedink dat dit alles deur die eenvoudige ver verwyderde dryfwiel teweeggebring word.
[4] So kan mens ook die eenvoudige werking in die binneste van die aarde beskou as `n eenvoudige dryfwiel, waardeur egter juis op ons derde en buitenste aarde talryke werkings van velerlei soort teweeggebring word. Mens moet jouself egter nie voorstel, dat die uiterlike aarde van die binneste aarde deur `n lugleë ruimte of deur `n daar tussen geleë ruimte - byvoorbeeld `n onderaardse see - geskei is nie; maar beide hierdie aardes is ewe innig en vas met mekaar verbonde soos die bas met die hout van die boom.
[5] Eers rus op die vaste aarde, `n kilometers dik gevoelige aardhuid, waaroorheen slegs die eintlike gevoellose aardkors lê, waarin hyself die werking van die innerlike organiese lewe van die aarde verduisendvoudig. Daar word alles wat daarin of daarbuite geplaas word, gevorm, dit wil sê die saad, soos dit geaard is, word óf nuut gevorm, óf in homself vasgelê, soos die uit die kiem ontstane uiterlike vorm homself eens sal ontplooi. Oftewel, word hier vir die sade die krag gewek en al na hulle aard geskei, sodat dit geskik sal wees vir die tot lewe wekking van die reeds aanwesige saad, sowél vir plant as dier. Dit word dan langsamerhand deur die planteryk, die water en deur tallose klein diertjies opgeneem en baie intelligent gebruik.
[6] Vir `n soortgelyke voorbereiding is seker in die eerste plek `n uiters gekompliseerde, meganies-organiese konstruksie van dié deel van die aarde nodig. Maar `n dergelike meganisme alleen sou nog maar baie weinig of heeltemal niks oplewer nie; dog die inrigting van dié deel van die aarde moet – naas die mees wonderbaarlik gekompliseerde meganisme tot skeiding en verdeling van die uit die binneste van die aarde opstygende sappe en kragte - nog `n tweede, oneindig meer gekompliseerde installasie besit, met die doel om die subtiele inwerkings uit die omliggende oneindige heelal op te neem en na die korrekte plek van bestemming te voer.
[7] Dat ons vir dié doel nie met `n eenvoudige installasie gediend sou wees nie, kan mens jouself maklik voorstel, as mens maar net `n enkele plant aandagtig sou beskou; hoeveel dele besit dit nie en wat `n oneindige hoeveelheid van elke deel moet in elke plant aanwesig wees, soos byvoorbeeld stekels, hare, rande, hoekies, vesels, drade, vloeistowwe, vette en nog meer soortgelyke dinge, en dit alles verbind deur `n kunstige meganisme, wat slegs daartoe dien om hierdie een plant te vorm. As `n plant alleen al soveel voorsiening nodig het, hoe oneindig veelvoudiger en gekompliseerder verbindings en meganismes sal daar dan nie in die derde aarde deel aanwesig moet wees nie, as dit ten eerste gaan oor die vorming van die veelsoortige en ryk mineraalwêreld, daarna oor die hele plantewêreld en ten slotte oor die talryke variante in die dierewêreld!
[8] `n Sandkorreltjie, wat sekerlik die eenvoudigste mineraal is, is so kunstig saamgestel, dat julle van pure verbasing met oop monde sou staan, as julle sou kan sien op hoe `n kunstige wyse dit in homself saamgestel is. Dan sou julle `n groot hoeveelheid van die mees verskillende kristalle ontdek, wat so reëlmatig saamgevoeg is, dat `n knap wiskundige dit nie sou kan bereken nie. Dit is egter nog niks nie. As julle enkele kristalle noukeurig sou ondersoek, sou julle ontdek dat dit niks anders is, as `n blote versameling van dierlike kadawers en wel van `n soort infusiediertjies, wat veel kleiner is, as die reeds lank meer ontwikkelde soort, wat jy in gistende waterdruppels sien verskyn. Sou jy dan hierdie kadawertjies self van naderby ondersoek, dan sou jy in elke kadawer `n tallose hoeveelheid atomiese diertjies ontdek, wat tydens die lewe van hierdie, nou in kristalvormige aanmekaar gekleefde infusiediertjies, hulle tot spys en voeding gedien het. En sou dit vir julle moontlik wees om so `n atomiese diertjie - weliswaar meer met julle geestelike oog, as met `n skerp gewapende natuurlike oog - te beskou, dan sou julle in elke atomiese diertjie `n miniatuur heelalsfeer ontdek, waarin die hele universum in allerkleinste afmetings in beeld te voorskyn tree. Neem miljoene daarvan tesame in so `n kristalletjie, wat weer uit duisende infusiediertjies saamgestel is en die sandkorreltjie dan weer uit honderd sulke kristalle, dan sal julle tenminste `n klein begrip kan vorm van die waarlik kunstige bou van die aller eenvoudigste stuk mineraal, of liewer gesê, dit sou vir julle beter sigbaar word.
[9] Wat moet daar alles gebeur om so `n eenvoudige stukkie mineraal voort te bring! Hoe kunstig moet die meganisme wel nie wees in werkplekke, waar slegs sandkorreltjies gefabriseer word nie, as daar twee generasies diere - waarvan elke diertjie reeds `n werklik kunstige organisme besit - die bou van so `n sandkorrel voorafgegaan het; jy kan jou nie eens `n begrip vorm van die besonder kunstige organisme van die betreffende diertjies nie. Want so `n diertjie het oë, ore en ander sintuie en bowendien `n totaal vrye beweging. Weet goed, dat dit alreeds alle menslike begrippe te bowe gaan om dit te vervaardig! Nog raaiselagtiger is die beeld van die universum in `n atomiese eiervormige kegeldiertjie. Die buitekant van die aarde moet wel `n werklik kunstige reproduksie meganisme besit om uit dit alles dan weer `n sandkorreltjie te vervaardig. Hoeveel is daar dan wel nie nodig om ander minerale te ontwikkel en hulle hulle bepaalde eienskap en vorm te gee nie. En wat is daar nie nodig om die mees uiteenlopende plante te vorm, wat ten slotte daar is om die tallose baie diersoorte op te bou, waarvan die aantal nog nie met die getal miljoen te meet is nie!
[10] Uit hierdie slegs oppervlakkige uiteensetting sal julle maklik kan begryp, dat dit gewoon onmoontlik is om hier `n spesiale beskrywing te gee van die oneindige gekompliseerde vormingsmeganisme. Sou ons hierdie saak werklik in alle onderdele wil uitlê, dan sou duisend skrywers seker `n biljoen jaar werk hê. En wie dan so `n werk sou wil bestudeer, die sou dan nog duisend biljoen jaar moet lewe om `n soortgelyke werk minstens eenmaal in so `n lang lewe deur te lees. Kortom, die belaglike van so `n onderneming is al met die eerste oogopslag duidelik. Daarom sal ons by die beskouing van die buitelaag van die aarde, slegs `n algemene uitleg gee, waardeur baie uiterlike verskynsels van naderby verklaar kan word. Al die orige sal, soos al dikwels gesê, makliker uit die “Geestelike” deel te begryp wees en dan sal `n minuut meer vrug dra as `n miljoen aardse jare. Daarom, hierna slegs nog maar iets oor die besondere inrigting van die buitenste deel van die aarde.
|
|
|
|
|