Die milt van die aarde
14-1-1847
9 By elke dier is die milt een van die belangrikste organe naas die longe; Dit is die eintlike energiebron van elke dierlike liggaam. Tot behoud van die lewe is die orgaan net so noodsaaklik as die hart, die maag en die longe, want sonder die milt sou die organe in elke dierlike liggaam dood gewees het.
[2] Ek sê dat dit die vuurherd in die dierlike liggaam is. Die vuurherd is in elke huis vir die kook van die ete en vir verwarming van die kamers die aller noodsaaklikste; ongeag hoe sy lyk, sy moet tog aanwesig wees en sy is ook dit waaraan die mense die allermeeste behoefte het; die aller eerste mense op aarde het ook die vuur leer ken voor al die ander dinge; sou hulle dit nie geken het nie, dan kon Kain en Abel geen brandoffers gebring het nie.
[3] Om die belang van so `n vuurherd, en wat so `n vuurherd eintlik is, met `n voorbeeld uit julle tyd goed duidelik en aanskoulik te maak, sal ons eers na die teenswoordig bestaande sogenaamde lokomotiewe kyk.
[4] So `n lokomotief is menslik bekyk, baie kunstig saamgestel. Vul ons die ketel met water, maar stook ons geen vuur daaronder nie, waardeur die water omgeskakel word in stoom wat dryfkrag het, dan sal jy dadelik sien dat die hele meganisme tot niks dien nie. Die vuur is dus die eintlike dryfkrag; dit skakel eers die water om in stoom en die stoom gryp dan eers die meganisme met haar krag aan en die stoomvoertuig kom dan in sy bekende vinnige beweging.
[5] Soortgelyke, weliswaar oneindig kunstiger lokomotiewe, is die dierlike liggame; maar hulle hele meganisme, wat uit talloos baie dele en organe bestaan, sou tot niks dien as die vuurherd sou ontbreek nie. Slegs hierdie skakel al die voedselbestanddele wat sy tot haarself neem, om en dryf haar deur sy eie krag in die vate verder, waar sy in bloed oorgaan en dan eers na die hart gevoer word en hiervandaan na haar eintlike bestemming.
[6] Hierdie vuurherd in die dierlike liggaam, genoem milt, bestaan daarom uit een lugtige massa en kan in haar, in alle rigtings lopende selweefsel, die elektromagnetiese vuur opwek en onderhou. Die opwekking vind plaas deurdat sy deur `n voortdurende wrywing van haar selweefsels `n elektromagnetiese vuur laat ontstaan en dit in talryke buidelvormige vate, soos in klein elektriese flesse opslaan, en as`t ware gedurig daarmee versadig is, om daarvan elke oomblik die negatiewe deel na die maag en die positiewe deel na die hart te voer.
[7] Ek weet goed dat baie artse en natuurkundiges tot op dié oomblik nog nie weet wat hulle van die milt moet maak nie, waar dit egter ook moeilik agter te kom is, omdat niemand `n lewende dier van binne kan bekyk om op hierdie manier te ondersoek wat die milt doen nie. Is die dier dood, dan is die milt tog al veel eerder dood; maar hierby is julle nou meegedeel wat die milt is en waarvoor sy dien.
[8] Ons het dus hieruit gesien, dat die milt een van die noodsaaklikste organe van die dierlike liggaam is, omdat sy die eintlike dryfkrag vir alle ander dierlike meganismes in haarself opwek, bewaar en aan ander dele afgee.
[9] Soos die heel onbelangrik lykende orgaan dus een van die belangrikste van die dierlike liggaam is, so is `n soortgelyke orgaan ook in die aarde aanwesig, wat met reg die milt van die aarde genoem kan word. Hierdie aardmilt is, net soos in die dierlike liggaam, eers vir die maag van belang, maar staan ook met die aardhart in noue organiese verbinding. Want naas die maag, wat sy verbrandingshitte van die milt trek, moet die hart ook sy pulserende krag put uit dié belangrike orgaan. In nie mindere mate nie, berus ook die werking van die long op die van die milt, hoewel die long vir die helfte `n totaal vrye beweging het wat met die wil van die siel verbonde is, om welke rede, veral die mens, willekeurig nou vinniger, dan weer langsamer asem kan haal.
[10] Aangesien die milt dus ook in ons aardliggaam een van die belangrikste rolle speel om lewe op te wek, is dit ook nie meer as billik dat mens aan die orgaan `n besondere aandag bestee nie.
[11] Om dit egter ook in te sien, sal ons die werkinge van ons aardmilt kortliks belig.
[12] Kyk net na die vuurspuwende berge op die aarde! Hulle is weliswaar slegs onbelangrike uitlopers van hierdie vernaamste vuurherd, maar hulle aanblik kan ons tog wel `n oortuigende beeld gee hoe dit in die “hoofvuurvertrek” van die aardliggaam lyk. Dit is dus `n werking, wat op die oppervlakte van die aarde sigbaar word.
[13] Dan beskou ons die tallose vuurwarm waterbronne, wat ook hulle verwarming van die hooforgaan van die aarde trek, as dit dan nie onmiddellik is nie, dan tog via vurige organe wat in die nouste verbinding met die aardorgaan staan. Dit is die tweede uitwerking van die aardorgaan, wat op die aardoppervlak merkbaar is.
[14] Laat ons dan verder kyk na die wolke en mis en ook na die winde wat hierdie wolke en mis beweeg. Dit alles is `n uitwerking van die aardmilt, want haar sentrale hoofvuur dring deur tallose organe van die aarde heen en verwarm dit oral voldoende. As mens slegs enkele kilometers in die aarde sou deurdring, sou mens jouself kan oortuig hoe magtig die innerlike verwarmingsorgaan van die aarde reeds hier werk. As daar nou water in hierdie diepte deurdring, word dit weldra in dampe omgesit. Hierdie blaas die aardhuid omhoog en dring dan langsamerhand as gas deur die porieë, klowe en ander splete van die aardkors, vul op dié manier die lug en versteur haar ewewig, waardeur die winde dan ontstaan. As hierdie waterdamp en gasse, wat in die binneste van die aarde gevorm word, - dikwels as gevolg van te groot druk - met geweld `n uitweg soek, dan word `n groot of klein aardbewing daardeur veroorsaak en in die nabyheid van die uitbarsting tree vernielende orkane, warrelwinde en soms ook vuurboë op. Hier het ons dan weer `n derde aanskoulike verskynsel op die aardoppervlakte, wat deur die orgaan veroorsaak word.
[15] Op gelyke wyse is die bewegings van die see geen eb en vloed nie, maar slegs die golwende en stormagtige beweging, soos ook alle seestromings afkomstig is van die ingewande orgaan. Die sout van die see kan ook maar net in die seewater kom, as bepaalde stowwe vooraf deur die vuur opgelos en ter versouting van die see deur talryke organe na bo gedryf word. Ook alle meteorologiese verskynsels, wat in die dampkring rondom die aarde optree, is uit hierdie ingewande afkomstig en nie in die minste nie, ook alle vegetatiewe krag op aarde. Naas hierdie is daar nog talloos baie verskynsels in en op die aarde, wat alles uit hierdie ingewande orgaan afkomstig is; dog honderd skrywers sou in honderd jaar nie klaarkry om dit alles op te som nie! Daarom sou dit ook `n sinnelose en belaglike werk wees om al hierdie verskynsels apart op te noem en te bespreek en ook des te ondoelmatiger, omdat al hierdie verskynsels uit die latere beskouing van die geestelike deel, tog al baie makliker begryp kan word. Daarom is dit genoeg dat ons dit hier in die algemeen aangee, hoewel dit andersyds tog ook niemand onverskillig mag laat nie, om self vooraf oor die baie belangrike punt `n meer diepgaande kennis te verwerf, want sonder hierdie kennis sal hy die geestelike nie so grondig kan begryp nie.
[16] Ons het nou enkele van die belangrikste werkings van die aardmilt opgenoem en wel om die belangrike ingewande orgaan grondig en met waardering te kan begryp; om haar betekenis egter nog dieper tot ons te laat deurdring, sal ons onsself persoonlik in die orgaan van die aarde begewe, om daar een klein doelmatige ekskursie te maak en na te gaan hoe hierdie aardmilt opgebou is en waar sy haar vuur en die brandstof vandaan kry.