|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 97
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Oor sinlike lus en hoogmoed. Robert se opdrag betreffende die Patetikus. Die filosofie van die genotsugtige, wêreldse mens
97 Ek sê: "Liefste Helena, jy het My `n goeie raad gegee! Daarvolgens sal ons ook handel. Slaag ons, dan sal hulle lewe; slaag dit egter nie, dan sal hulle verdoem wees! Ons sal dadelik aan die werk gaan, want solank hierdie afskuwelike soort nie omvorm word of vernietig is nie, sal ons nooit volkome ryp en goeie vrugte van die aarde kan verwag nie.
[2] Die hoogmoed kan baie makliker bestry word as hierdie verderflike kwaal! Wanneer mense trots, hoogmoedig en heerssugtig geword het, dan gee mens hulle oorlog, gebrek, armoede en siektes; dan sal hulle spoedig tot besinning kom en die verdeemoedigende lesse sal hulle `n tydlank bybly. Maar `n egte geil bok steur hom aan niks nie. Al sal hy ook alle nare geslagsiektes deurgemaak het, en ten slotte deur swakte nouliks nog kan gaan of staan en die dood hom van alle kante staan en aangryns, dan maak hy hom nog nie bekommerd daaroor nie, as hy maar net die liggaam van `n weelderige vrou kan betas! As hy gaan slaap, is sy laaste gedagte…genot! En wanneer hy ontwaak, is sy eerste gedagte weereens…genot! En so die hele trae en slaperige dag deur weer niks anders as liggaamlike genot! En so is sy sinne, sy liefde en vriendskap en alles in hom liggaamlike genot!
[3] En hoe groot is die hoogmoed wat steeds saamgaan met die lus van die vlees, en wat hom maar al te gou aanmeld wanneer iemand so `n geil boksoort in sy lewe-saligmakende wêreld moontlikergewys een of ander vriendskaplike vermaning durf gee. Dan is dit vir die ontugtige `n doring in die oog! Kyk, so is dit met hom op aarde gesteld en so kom hy ook hierheen!
[4] Noudat jy dit weet, moet ons dadelik ernstig probeer om iets met die Patetikus te bereik. Die resultate sal jou leer, of die moeite wat ons vir hom doen, beloon sal word of nie."
[5] Daarop stuur Ek Robert na die Patetikus om hom beleefd na My te ontbied.
[6] Robert maak vol allervriendelikste hoogagting `n buiging en sê: "O Heer, wanneer U self die werk ter hand neem, moet dit slaag! As hy maar hier te kry is. Dit lyk vir my dat hy eerder hierheen gekarwy wil word! Wat dink U daarvan Heer, as ons eers die vier-en-twintig danseresse, wat hulle naby hom bevind, in die teenoorgestelde rigting, dus ietwat meer na die ooste laat gaan, waar hulle danspodium tog is? Want ek het opgemerk dat ons ellendige Patetikus met sy hele geselskap steeds nader aan die sjarmante danseresse beweeg! Hy begin al watertand by die gedagte om met die danseresse te praat, maar dit lyk my hy weet nie hoe om te begin nie. Daarom dink ek in ieder geval dat dit nie sleg sou wees om die danseresse eers na die bepaalde plek te laat gaan nie."
[7] Ek sê: "Beste Robert, wat jy goed dink, is ook goed in My oë. Wanneer iemand iets as goed herken, en hy laat na om te doen, begaan hy `n sonde teenoor sy eie hart. Doen dus alles wat jy goed en doelmatig vind!"
[8] Robert gaan nou vinnig na die danseresse en vra hulle om na die voorafbepaalde plek te gaan. Hulle doen dadelik met groot vriendelikheid soos wat Robert verlang!
[9] Daarop word die Patetikus met sy geselskap rasend, gaan na Robert en sê: "Ho, ho, hierdie skatjies het nou lank genoeg in my teenwoordigheid gestaan en tydens julle dom geklets het julle nie na hulle omgesien nie. Maar juis noudat ek nader met hulle wil kennis maak, moet die duiwel jou hierheen bring om hulle voor my neus weg te kaap! Ek glo dat jy wel genoeg het aan hulle wat daar aan julle Adams- Abrahams- Moses en God-weet-wat-nog-meer aan tafel as die mooiste skape bymekaar staan! My Emma-Gonde is ook daarby en my Marianne en die baie mooi Aurora van `n Lerchenfeldse. Weliswaar het jy baie min kans by haar, soos dit my voorkom, omdat die pseudo-Heiland Jesus vir haar heelwat meer blyk te beteken as jy! Maar jy kan wel na haar kyk soos iemand wat tot sy ore verlief is op haar, en stilstaan in wanhoop!
[10] O jy, oerdom vent van `n Robert Blum! Op aarde was jy `n esel en hier is jy `n os! Dus in één persoon die volledige klomp vee wat by die geboorte van Christus aanwesig was. Nou, mooi so! Werklik, jy sal dit nog ver bring in jou hemel. Dink jy dan, koninklike, Saksiese boekejood, dat ek nie elke woord gehoor het van julle beraadslaging oor die gehele oneindigheid van God nie? Maar ere aan wie ere toekom, of nie! Die mooi Lerchenfeldse Aurora het die belangrike voorreg om te mag oordeel, en julle wyse Gods-osse en -esels het die genoegdoening gehad om te sonbad in haar wysheid, net soos die bladmyte in die heerlike strale uit die snuit van `n glimwurm! Ja, dit was werklik hemelsmooi, verhewe en die groot God waardig, of dalk nie?
[11] En nou wil jy my saamsleep na die mooi vergadertafel, waaraan deur `n Lerchenfeldse, wat met `n fosforiserende skynsel oorgegiet is, oor soveel verhewends beslis word, ja, self `n oordeel word gevel oor ons manne, omdat ons op aarde soms dierlik en dom genoeg was om onsself in so `n verregaande mate te vergeet, dat ons onsself met sulke laagstaande skepsele wil afgee. Vriend, dan kan jy lank wag. Broertjie, maak maar weer `n regsomkeer, gaan maar terug na jou fosforstralende geselskap en sê aan hulle: So vang mens alleen onnosele sukkelaars en dwase; ander voëls laat hulle nie so maklik vang nie, sekerlik nie as `n verheerlikte Lerchenfeldse met die medewete van haar pseudo-Jesus esels op voëljagte uitstuur nie. As jy weer terug is daar, gee my groete aan haar!
[12] Robert, stomverbaas oor so `n ontvangs, kyk die Patetikus `n tyd lank opgewonde aan en staan op die punt om hom tien keer growwer te bejeën. Hy vermaan homself egter en sê op gematigde toon: "Vriend, jy het my nog nie eers aangehoor nie, en sou dus nie kon verneem wat ek jou te vertel het nie, en jy verwens my sonder om enige rede daartoe te hê! Laat my eers met jou praat en oordeel dan, of ek iets onredelik van jou verlang!"
[13] Die Patetikus val hom in die rede” "Vriend, sonder om nou direk `n esel te wees soos jy, reik my ore tog tot by julle pragtige vergadertafel en het die twyfelagtige genoegdoening om alles te hoor wat daar besluit word. En so het my ore dan ook die brutaliteit gehad om te verneem wat in julle hoë raad beslis word oor die mense, wat hulle op aarde, jammer genoeg, hulle veroorloof het om te geniet van dit, wat hulle deur die wet van die natuur aan hulle hare heen gesleep word!
[14] Ja, julle dom kêrels van `n hemelse wyse! Wie het dan die natuur geskape en wie het met sy hand die ysterwette in haar gelê? Kyk, die egte, alleen ewige waaragtige Godheid! Hoe kan `n wurm egter sondig, wanneer hy dit doen wat die wette van die natuur hom instinkmatig ingee? Volgens my is alleen hulle wys wat die wette in die groot natuur vir sy voordeel gebruik en daarvolgens lewe. Hulle is egter esels, wat hulle bo die wette van die natuur verhef en slegs `n bosinlike vreugde nastreef, wat nêrens anders bestaan as in hulle dom harsings nie. Wanneer ek egter volgens hierdie wette geleef het, sê eers, waar is dan die God wat my daaroor sou oordeel?!"
[15] Robert sê op `n nog meer gematigde toon: "Hoor eers, vriend, jy wen jou op vanweë die noodsaaklike verwydering van die vier-en-twintig danseresse, wat baie sterk beslag gelê het op jou onsuiwer sinne. Maar matig jou nou en wees tog verstandig, sodat jy mag insien of my boodskap aan jou om `n goeie of `n slegte dom rede is!
[16] Jy steun nou wel geweldig op die natuurwette en wil aan my duidelik maak, dat mens wel bekrompe moet wees, as hy hom nie steeds diensbaar maak aan `n genotsugtige doel nie. Ek vra jou egter: Vriend, hoe verklaar jy dan dat baie sulke yweraars, na `n kortstondige sinlike genot, in allerlei liggaamlike en geestelike ongeneeslike ellende beland, waar, by wyse van spreke, geen God hom meer kan uithaal nie. Hulle hele natuur word vermink, hulle gees geleidelik aan gedood, en hulle siel verduister.
[17] Sê eers, sou dit fisiek en geestelik vir sulke mense nie beter gewees het, as hulle die eerste wet van wellus nie so stip nagekom het, aangesien hulle daardeur `n tweede uit die hel oor hulself afgeroep het? Die tweede is net soos die eerste ook `n natuurwet. As jy soseer ingenome is met die eerste, waarom dan nie met die tweede ook nie, wanneer hy sy regte moet laat geld?
[18] Jy sê: "Waar is die God wat my sou kan oordeel oor die opvolg van die in die natuur ingelegde wette?" Ek vra jou egter: Welke God het dan die tweede, afskuwelike wet ingestel as gevolg van die eerste, wanneer dit ywerig en gewetensvol nageleef word?
[19] God het wel alle wette in die natuur gelê, maar Hy het die vrye mens verstand en rede gegee, omdat hy die eerste wette van sy vlees slegs baie matig, en dan ook binne die staat van die huwelik, na behore sou vervul. Vir stappe buite die grense van die moraal het Hy ook wagters geplaas, wat sulke oortredinge steeds gevoelig deur `n tweede teenwet bestraf.
[20] Wanneer ons egter uit ervaring weet, dat ons alleen op die middeweg werklik gelukkig kan wees, hoe kan jy dan die mense, wat volgens die korrekte ordening van God lewe, nog esels noem?
[21] Wat het jy nou gedurende jou hele aardse en nou geestelike lewe in die ware sin van die woord gehad om te geniet? Op aarde het jy in voortdurende twis en tweedrag geleef met jou wettige vrou. Jou hoere het jou so dikwels geplunder tot op die laaste sent, sodat jy onaangename skuld moes maak. Enkele jare voor jou vertrek uit die natuurwêreld na hierdie geestelike, het `n sjarmante Italiaanse vrou jou nog dermate aangesteek, dat hoor en sien daarna vergaan het. Vyf artse behandel, prik jou met naalde en sny twee jaar lank aan jou deur en deur geslagsieke liggaam! Dit het jou egter nie gehelp nie, maar het jou nog ellendiger gemaak as wat jy was. Toe dit vir jou alles te veel geword het, koop jy hulle met geld om sodat hulle jou `n versagtende middel moet gee. Ja, jy sou nog jarelank so kon aangaan, as die Weense geskiedenis nie jou ellendige lewensdraad afgesny het nie! Sê my nou eers: Was jy met hierdie tweede natuurwet ingenome en welke saligheid geniet jy nou hier?"
|
|
|
|
|