|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 138
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die graaf en die Fransiskaan oor die pas verneemde stemme. Die graaf het nog steeds bedenkinge. `n Man uit die volk roep Jesus aan
138 Die dertig wat hulle buite bevind, hoor die gesprek; graaf Bathianyi selfs baie duidelik, woord vir woord.
[2] Die graaf verbaas hom daaroor ten seerste en sê vir die Fransiskaan: "Vriend, het jy die troosvolle woorde verneem? Soos dit vir my voorkom het nóg u, nóg ek, gelyk. Die eerste stem was weliswaar bars en vol ongeduld, maar daarna verhef hom `n ander, buitengewone aangename engelestem, wat soos balsem oor my bedrukte bors gevloei het. Ja, vriend, so beval die Heer Jesus my goed, maar soos u Hom vir my geskilder het, sou ek Hom nooit kon aanneem nie!"
[3] Die Fransiskaan sê: " Hy, wat meer gee as wat hy het, is `n skelm en `n boef. My mening was ten minste eerlik, al was ek somtyds grof. aangesien dit hier vir ons almal ewe duister is, is dit ook nie te verwonder dat ons besprekinge nie al te duidelik aan die lig kon kom nie! In wese het ek tog gelyk, toe ek trag om u daartoe te beweeg om die hulp, wat deur die Heer Jesus aangebied word, aan te neem. Meneer die graaf was egter vasbeslote om nie die hulp aan te neem nie, hoogstens onder allerhande belaglike en ergerlike voorwaardes. Nou het u met u eie ore gehoor en daarom dink ek, dat u van nou af aan geen beswaar meer sal maak nie.
[4] Dat ek Christus, die ewige Seun van die Allerhoogste, nie so ken soos wat Sy engele Hom ken nie, sal tog maklik te begryp wees. Tog weet ek goed, dat die goeie Heer Jesus heeltemal nie so tiranniek en onverbiddelik is soos wat die heilige Ignatius van Loyola Hom voorgestel het nie. Ek het naamlik steeds die vers voor oë gehad waar Jesus eens op `n tyd gespreek het: "Kom almal na My toe, wat uitgeput is en onder laste gebuk gaan; Ek sal julle almal verkwik!" Helaas het die Roomse priesters dit op die lofwaardige biegstoel betrek, waar slegs die Heer Jesus Christus, diegene wat uitgeput is en onder laste gebuk gaan, sou aanneem en verkwik. Hierdie verkwikking deur die biegstoel het egter steeds menige swakke tot wanhoop gebring en baie hulle besit, rus en lewe ontneem; toestande wat werklik weinig verkwikkend te siene gee! Ek dink toe eintlik by myself, dat `n buitengewone goeie mens sekerlik anders sou wil omgaan met die uitgeputte en belaste mense as die heilige Roomse, alleensaligmakende kerk, wat na die verdoeming van die arme ketters na die ewige hellepyn, hulle middagmaal volkome onbesorg laat smaak, asof daar heeltemal niks sou gebeur het nie, en nog hulleself `n uiterste liefdevolste moeder daarby noem!
[5] Ek meen dus: Belas en vermoei is ons en ons het alle rede om ons na die uiterste liefdevolle Heer Jesus te begewe en Hom vir die beloofde en aangebode verkwikking te smeek. Ek is bereid om `n begin te maak. Wie my wil volg, doen nou maar wat ek nou onherroeplik sal doen!"
[6] Die graaf sê: "Wag tog nog `n bietjie! Miskien kry ons nog enkele wenke uit die onsigbare mond, sodat ons sal weet hoe ons hierdie saak moet aanpak. Mens kan by die allerhoogste Heer tog nie met die deur in die huis val nie. U het werklik `n helder verstand, ondanks die duisternis wat ons omgewe, maar u maak die fout, dat u die hoogste mistieke lewensverhoudinge van hierdie wêreld net met natuurlike oë bekyk en net so hier wil handel as op aarde in die huis van u ouers. Weet u dan wat hom hier bo en onder ons bevind nie. Dit wil sê dat mens homself hier noukeurig moet laat inlig, voordat mens maar ook die eerste tree waag.
[7] Ek is geensins meer teen die aanneem van die aangebode hulp nie, ja, ek verheug my selfs kinderlik daarin. Ek sal u nog meer sê, my innige wens is nou om Christus, die Heer van die ewigheid, te sien en in die grootste liefde aan Sy voete neer te val en, so moontlik, daar uit liefde te sterf. Maar vriend, om dadelik die hele hand vas te gryp wanneer die pinkie baie mistiek getoon word, sal nie deug nie!
[8] Hoflikheid as uithangbord van `n dankbare en deemoedige hart word graag op aarde gesien, maar vrypostige brutaliteit word sleg gewaardeer! Moet ons dan nou in die ryk van die eintlike lewe aanneem, dat mens hier onbeleefd moet wees soos `n straatseun om by die hoogste Heer van die oneindigheid iets gedaan te kry? Daarom, beste vriend, bedink dit: "Haastige spoed is selde goed!"; dan sal dit vir my alles goed wees!"
[9] Die Fransiskaan sê: "Wel ja, wat dit betref, sal u hierdie keer nie ongelyk hê nie. Ons moet inderdaad met die diepste eerbied voor God verskyn, alhoewel allereers in die hart. Daarom wag ons nog bietjie, miskien hoor ons nog iets vertroostend."
[10] Na hierdie woorde van die Fransiskaan word die hele geselskap stil en hulle luister of daar nie nog eenmaal êrens iets gehoor kan word nie, maar van geen enkele kant kom daar `n woord nie!
[11] Na `n tydjie se vrugtelose gewag, kom daar een uit die geselskap na die graaf toe en sê: "Ek was ook `n Magjaar na liggaam en siel en het nóg die dood nóg die duiwel gevrees. My hele lewe was gewy aan die swaar diens van Hongarye. Geen God kon my tot iets anders beweeg as net die dien van die heil vir ons vaderland, maar ons hele insig was `n hersenskim. Want wat ons ook gedoen het, in die vaste veronderstelling om die vaderland te dien, dit het ons sonder God gedoen. Ons het wel gebede voor die ore van die volk uitgespreek om die volk te bekoor, maar waar was ons harte toe, waar ons geloof, waar ons egte liefde vir God en vir die volk?
[12] Ons weet dat ons swak gestaan het en het gewag vir hulp van buiteaf. Maar dit het nie gekom nie en ons moes ons laat welgeval, dat as gevolg van ons grootdoenery, ons teenparty die hulp van Rusland ingeroep en ook gekry het. Ten slotte moes wel aan die lig kom hoe ons daar uitsien. Die resultaat was dat ons nie net ons volk nie kon help nie, maar het slegs ons hoop in rook sien opgaan.
[13] Daaruit maak ek ook uit dat ons onsself ook nie hier op ander hulp moet verlaat nie. In die wonderbaarlike klinkende voorstel lui dit: "Wend julle tot die Heer Jesus, en julle sal gehelp word!" Oor die voor en teen hiervan het ek nou al tot vervelens toe tussen jou en die Fransiskaan `n groot hoeveelheid woorde gehoor wat verspil is. Hoeveel beter het ons daardeur geword? Ons staan nog steeds op dieselfde plek! Daarom nou nie meer langer gedraal nie, maar handel volgens die gestelde voorwaarde. Anders gaan ek van hier af en sal heeltemal vir myself handel!"
[14] Die graaf sê: "My beste vriend, dit is baie merkwaardig dat in hierdie skim geesteswêreld alle radikale swart-geel word! Straks is die Godheid Self nog heeltemal swart-geel!"
[15] Die ander val hom opgewonde in die rede: "Hé, sê my net in Godsnaam, wat het jy dan gewen as anti-swart-geel weldoener van die volk? Dat ons albei en miskien nog enkele tientalle opgehang was, is egter ons enigste wins! Ons anti-swart-geel gedrag moet die liewe Godheid trouens ook nie erg welgevallig gewees het nie, anders sou ons na ons beregting tog sekerlik nie in so `n erbarmlike situasie beland het nie.
[16] Kyk vriend, ofskoon ons ons hier in `n volledige duisternis bevind, word dit in my hart tog steeds ligter. Ek sien nou baie duidelik in dat die mens nie vir die aarde, waarop hy slegs een voorbereidingslewe moet deurmaak, maar vir `n ewigdurende geesteswêreld geskape is, waarin die hoogste saligheid baie maklik kan manifesteer.
[17] Waarom het ons nie liewer die Oostenrykse regering trou en onderdanig gebly, en ons die menige vorms van dwang, wat bedoel was vir die algemene welsyn van die volk, ons laat welgeval nie, dan sou ons nou beter daaraan toe gewees het. Aangesien ons egter, sekerlik deur God se toedoen, die aangestelde regering nie langer gehoorsaam het nie en self regente wou wees, het ons die loon ook nou daarvoor ontvang. Dit is genoeg, dat ons op aarde meesterstukke van menslike domheid aan die lig gebring het. Moet ons dalk ook nog hier daarvan gebruik maak? Ek is liewer vir ewig `n baie gewone inwoner van die een of ander swart-geel hemel, as `n radikale koning in die hel.
[18] Ek bind my nooit weer aan welke kleur dan ook, behalwe die aan gehoorsaamheid en ware deemoed nie. Daarom roep ek nou hardop:
[19] Hoogverhewe, regverdige en liefdevolste Heer en God Jesus, U wat my ook verlos het deur U heilige bloed aan die kruis, help my, en indien moontlik, ons almal uit hierdie hele duistere, benarde toestand. Luister nie na die heerssugtige, dom geswets van `n hoogadellike selfsugtige demokraat, by wie die gewone volk tog altyd nog gepeupel heet, maar luister tog na ons, arme drommels en help ons almal op grond van U genade en barmhartigheid, uit hierdie groot ellende, wat sekerlik al enkele duisende jare duur!"
|
|
|
|
|