|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 53
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die volksleiers Messenhauser, Jellinek en Becker in die hiernamaals. Hulle mening oor God, hel en noodlot
53 Ons albei kom by die deur en dit gaan meteens vanself oop.
[2] Deur die geopende deur sien ons die drie baie verdiep besig, gesete om `n ronde tafel. Hulle vroetel in verskillende geskrifte en aktes asof hulle een of ander dokument soek.
[3] Na `n lang vrugtelose gesoek sê Messenhauser taamlik opgewonde: "Maar ek sê nog steeds: Die belangrikste dokument vir die bewys van ons onskuld het by die laaste ongelukkige gebeurtenis verlore gegaan, of is selfs heeltemal vernietig. Wat het al ons gesoek dan sin voor? As `n goeie genie ons nie uit die gevangenis sal red nie, dan is ons sonder meer verlore. Want dit sou die grootste waansin wees om genade van die regters te verwag. Ons is nou maar eenmaal in die hande van egte duiwels, dan is hulle genade nog erbarming! Julle sal sien dat dit nie meer lank sal duur nie, of daar sal `n regter van die krygsraad met `n dekreet hier binnekom om ons doodsvonnis voor te lees. En dit met so `n onverskilligheid, asof hy in plaas van mense, slegs `n paar reënwurms voor hom sou hê, wat platgetrap moet word! Ek sê vir julle, ons sal doodgeskiet word!
[4] Daarop sê Jellinek: "Vriend Messenhauser, waarvoor jy nog steeds bedag is, is lankal letterlik aan ons voltrek! Die hele geskiedenis lyk wel soos `n koorsdroom, maar tog is dit geen droom nie! Want dit staan my tog te duidelik voor oë, hoe ek na buite gebring was in die afskuwelike loopgraaf en daar formeel doodgeskiet is. En ook dat ek my meteens in hierdie tweede kerker, wat nie veel afwyk van die aardse nie, bevind, en jou, Messenhauser, hier aangetref, waarna ook ons vriend Becker hier aangekom het. Ons lewe hier dus nou baie verseker na die dood van ons liggaam verder in `n soort geestelike sielelewe, en ons angs om weer doodgeskiet te word, is volkome ongegrond.
[5] Maar my bedruktheid in hierdie sonderlinge toestand is iets heel anders: In die eerste plek die groot onsekerheid oor waar ons nou is, en ten tweede, wat ons te wagte staan. As daar verduiwels ten slotte tog iets waar sou gewees het in die hellepreke van die papery (Roomses) dan sou ons waarlik nie te beny gewees het nie! So `n ewig verdoemde oordeel van een of ander almagtige Wese ontbreek nog net aan ons geluk. Maar ek troos my nog steeds met die gedagte, dat die Godwese, as so iets bestaan, seker oneindig beter moet wees as al die goeie mense op aarde tesame. Hy is seker beter as die veldmaarskalk Windischgrätz, wat ons met so `n onbeskryflike gemoedsrus laat teregstel het. O, as daar maar êrens net `n middel sou bestaan om jou op die tier te kan wreek en wel so wreed moontlik, dan sou dit in ieder geval vir my die groots moontlike saligheid beteken! Sou julle nie daarmee eens wees nie?"
[6] Becher sê: "Ja, ja, broer, jy skyn in alles gelyk te hê. Ons vriend Messenhauser voel hom in `n sekere sin nog aards gevange en dink dat hy nog steeds in Wenen smagtend in `n kerker op die doodsvonnis sit en wag. Maar op die punt is ek dit heeltemal eens met vriend Jellinek. Dit is jammer genoeg die suiwer waarheid, dat ons al drie werklik doodgeskiet is. Ek sou nie met sekerheid kan sê op watter dag nie. Want ek het hier waar dit nóg heeltemal dag, nóg volledig nag is, heeltemal die tyd kwytgeraak. Ons is volgens aardse begrippe eens en vir altyd dood en daarvoor help geen denke en geen gepraat meer nie!
[7] Maar aan `n hel glo ek nie heeltemal nie. Want as daar `n God bestaan, kan daar geen hel wees nie. Bestaan daar egter geen God nie, kan daar nog minder `n hel wees. Want die begrip God is te suiwer, te verhewe groots en te wys en te goed, dat mens uit Hom `n hel as begrip van volslae onvolkomenheid sou kan indink. Sou daar egter geen God bestaan nie, maar slegs suiwer meganiese, onbewuste kragte, dan volg die vraag, hoe sou dit `n sistematiese hel kon voortbring?"
[8] Jellinek sê: O, dit kan ek my die beste voorstel. Bestaan daar `n God, waaraan nie te betwyfel is nie, dan volg die vraag: Hoe kon die volmaakte Wese byvoorbeeld ook so `n Windischgrätz skep? Daardie tiermens verteenwoordig taamlik getrou die hel op hierdie aarde en is tog, net soos `n ratelslang, `n werk van die volmaakte Godheid? Sou daar egter geen God bestaan nie, hoe kon die stomme natuurkragte dan in so `n misrabele humeur kom en `n Windichsgrätz heeltemal per toeval optower? Julle sien dus, dat sowel met `n God en sonder `n God die bose net so goed voorkom as die goeie. Meestal selfs nog rykliker en sterker, waaruit dit dan in beide gevalle volg dat die begrip hel goed te verklaar is. Daarom is dit baie goed moontlik om daarin ewe onskuldig te beland soos wat ons op aarde in die hande geval het van Windischrätz. Wat dink julle hiervan?
[9] Messenhauser sê: "Ja, jy skyn volkome gelyk te hê! Vir my is dit nou ook baie duidelik dat ek werklik doodgeskiet is, en wel kort na ons arme, goedhartige Blum. Ek het nou al verskillende dinge waargeneem, wat ek julle wel kan meedeel!
[10] Kyk net op die tafel, waarop ons belangrike papiere gelê het. Hulle het skielik onsigbaar geword. Dit is tog `n verbluffende en eienaardige omstandigheid! Verder merk ek ook dat daar oorkant aan die oostelike sy `n deur oopstaan, terwyl ons kort gelede nie kon uitvind aan watter muur daar moontlikerwys `n deur kon wees nie! Ten slotte merk ek, met nie min verbasing nie, dat ons gevangenis in `n aardig uitsiende kamer begin te verander. Ook begin ek nou werklik vensters in hierdie kamer ontdek, en sien baie duidelik dat dit nou ligter en ligter begin te word. Wel was daar `n skemerlig in ons kamer, maar ons kon daarby niks eg en duidelik onderskei nie. Nou kan ek egter alles goed waarneem en ek sien allerlei sierlike voorwerpe!
[11] Al hierdie verskynsels bevestig steeds meer my oortuiging dat ons onsself nou in `n droom- of geesteswêreld moet bevind. Maar wat daar in die toekoms in hierdie wêreld met ons sal gebeur, is naamlik `n ander vraag.
[12] Jy, broer Jellinek, het so ewe te kenne gegee dat die wraak op Windischrätz jou die grootste saligheid sou gee. Op hierdie punt is ek dit nie eens met jou nie, want kyk, ek is lankal al `n fatalis. Die Fatum (noodlot) het op aarde gif en balsem in gelyke mate uitgestrooi. Wat kan `n tier daaraan doen dat hy `n tier is? Wat kan die wolfskers daaraan doen, dat haar vrugte gevaarlik is vir die mens! En ewegoed kan jy van Windischrätz sê: Hy is `n blinde werktuig van die Fatum, wat hom gemaak het soos wat hy is. Op sy manier is hy ewe beklaenswaardig as ons, wat sy bloedige slagoffers geword het.
[13] Ons het dit, goddank, deurstaan. Hy moet dit egter ondergaan. En wie weet of hy dit beter sal hê as wat ons dit gehad het? Vandag ek, more jy! En ten slotte is dit om`t ewe of jy die stof honderd of tien jaar lank platgetrap het, en of jy aan die galg, of in die sagte bed jou liggaam aan die wurms as voedsel gee. Vir my is dit alles om`t ewe.
[14] `n Lewe het ek weer en ek is nog steeds Messenhauser! Ek het geen pyn, geen honger en geen dors nie. Julle het my beste vriende gebly en ons kamer word steeds ligter en mooier! Wat wil ons dan nog meer hê? As dit so aangaan, kan ons van geluk spreek. Want beter en sorgloser het ons dit tog nooit op aarde gehad nie! Wie weet hoe alles nog hier sal ontwikkel? Ek glo steeds beter en beter! En sou dit mettertyd weer `n keer slegter word: Hoe dikwels het die noodlot op aarde ons nie heen en weer tussen goed en kwaad geskommel nie?
[15] Ek kan nie aan die saak verander nie. En daarom is dit die verstandigste om alles maar te neem soos wat dit kom en daarnaas alle wense aan die kapstok te hang. Want dit het ons nog nooit voordeel gebring en sal ons hier waarskynlik ook nooit van nut wees nie. Is julle dit alles met my eens?
|
|
|
|
|