Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 139

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die dageraad begin by die graaf. `n Hoë gebergte en `n paleis word sigbaar. Liefdevolle lesse oor die ordening in die hiernamaals.

139 Die graaf spring byna uit sy vel van ergernis by hierdie aanroep van die spreker en wil wegvlug, maar die Fransiskaan hou hom aan sy jas vas en sê: "Heer graaf, geen stap verder nie! U het in Hongarye as eerste minister oor ons geheers. Dit word nou ligter, die ewige regter kom; u sal u teenoor Hom moet verantwoord! Begryp u my?"

[2] Die graaf, geheel ontdaan oor die verbasende erns van die Fransiskaan en nog vol ergernis oor die gebed van die spreker, raak heeltemal in verwarring, maar sê dan sag en beheersd: "Ja, ja, ek vind alles al goed hoor, maar asseblief, bring my nie soos `n roofmoordenaar om nie. Val my tog nie so aan nie, ek sal tog immers alles doen!" Die Fransiskaan sê: "Nou goed dan, maar hoe sal dit met u gaan voor die ewige Regter, en ons as u medepligtiges?"

[3] Die graaf sê: "Maar beste vriend, het u dan nie so pas gehoor dat die Heer vir ons almal genadig en barmhartig wil wees nie? Waarom sal Hy ons dan wil oordeel, of waartoe sou die Almagtige en Alwetende eers `n konfrontasie begin met Sy skepsele, om hulle deur hulle eie bekentenisse daartoe te bring om in te sien, dat hulle tereg verdoem word? O, dit is verdraaid swak van `n Rooms-Katolieke ordepriester om aan die Godheid menslike swakhede toe te dig. God is goed en genadig, vir wie Hy goed en genadig wil wees, maar vir hulle wat Hy wil laat val, help niks meer nie, allermins die voorspraak van `n Hongaarse graaf. Ek glo egter, dat die liewe God nie sal kyk na die rommel wat ons mekaar voor die deur gevee het nie. Begryp u dit, beste priester meedoënloos?"

[4] Die Fransiskaan sê: "Baie goed, heer graaf, ons sal wel sien wie daar ten slotte gelyk sal hê. Dit word nou steeds ligter vanuit die ooste, soos dit vir my wil voorkom. As die ellendige newel maar nie daar was nie! Anders moes ons tog in die lig, hier en daar iets kon onderskei, as hier ten minste iets te onderskei is."

[5] Die spreker vervolg: "Beste vriende en broers, daar het `n goeie idee in my siel opgekom en dit wil ek aan julle meedeel. Kyk, ons het almal ewe ongelukkig geword en niemand het iets voor op die ander nie. Hoe sou dit wees as ons eers in egte broederliefde en vriendskap bymekaar bly en, sonder om mekaar verwyte toe te slinger, afwag hoe God se almag oor ons sal beskik? Dit is tog erg genoeg, dat ons vir God se oordeel so bang sal wees soos `n duif vir die kloue van `n arend. Dink julle dan dat God se oordeel oor ons, daardeur makker sal wees? God doen wat Hy wil en geen ewigheid bring Hom van Sy eens genome besluit af nie. Laat ons daarom tenminste onder mekaar vriendelik wees, as die Godheid ons miskien nie al te vriendelik tegemoet tree nie! Dit word nou werklik steeds ligter en daar bo lyk die hemel vir my ook blou, maar sterre kan ek nog nie waarneem nie. Waarskynlik sal hier ook nie wees nie!

[6] Die graaf sê: "Bravo, vriend Miklosch, u taal beval my honderd keer beter as die van priester Cyprianus. Werklik, `n paap bly tog vir ewig `n gevoellose wese! Maar alles is hom vergewe! Van nou af aan sal ek my nooit meer bokant iemand plaas nie, ook nie bokant my ergste vyand nie. God gee ons almal `n korrekte insig in `n wedersydse, standvastige geduld. Sy wil sy met ons almal!"

[7] Na hierdie woorde van die graaf word die newel dunner en dit kom voor asof hulle hulleself nie so lank in hierdie omgewing bevind het nie.

[8] Miklosch sê na `n rukkie, toe hy in `n westelike en noordelike rigting `n magtige gebergte ontdek: "O vriende, daar, kyk net daar! Land, hooggebergtes! Eindelik die eerste land in hierdie wêreld en nog wel van die hooggebergtes. Dit kalmeer op wonderbaarlike wyse die anders dikwels so angstige siel van die mens en sy hart word in die geloof in `n almagtige God gesterk en ontbrand in liefde tot Hom. O, hoe goed doen die aanblik van die reusagtige hooggebergte my nie! Veral die top in die noordweste is iets geweldig. Werklik, hierby vergeleke, kan die hoogste toppe van die aardse berge nouliks heuweltjies genoem word. Sien julle ook die hooggebergtes?"

[9] Almal sê: "Ja, verseker, ons sien dit, maar dit moet nog baie ver hiervandaan verwyderd wees, `n mens kan dit uitmaak uit die grysblou kleur. `n Mens moet byna sy nek uitrek om die hoogste top te sien. Dit moet tog wel `n hoogte wees. God word honderd keer geprys dat ons tog iets te siene kry! O, dit is heerlik! `n Mens sou byna jou oë kan uitkyk. Tog is dit merkwaardig, dat na die suide en veral na die ooste alles nog in `n newel gehul is. Tog kom `n sekere helderheid uitsluitlik vanuit die ooste. Die son, as hier dalk een is, moet nog diep onder die horison staan, omdat daar geen strale op die hoogste toppe val nie."

[10] Die graaf sê: "Maar soos wat ek opkyk, lê die hoogste top al binne die bereik van die strale, anders sou hy nie so rooiagtig skitter nie. Dit is werklik iets buitengewoon majestueus, die aanblik van so `n gebergte! Vriende, as ons hier slegs een gids gehad het, sou ek een van die eerstes gewees het om te besluit om so `n berg uit te klim. Vanaf die suidelike kant moet die top nie eens so moeilik te beklim wees nie, en ons het nou ook hier bepaald niks te versuim nie. Wel, praat Cyprianus, wat sê u hiervan.

[11] Die Fransiskaan sê: "Wat moet ek daarop sê? Ek het genoeg gepraat en mense het nie na my geluister nie, maar my as `n meedoënlose uitgeskel. Daarom hou ek my nou stil en sal slegs luister, en as die gehoorde my aanspreek, sal ek daarvolgens handel! Gaan julle die berg in, dan sal ek nie alleen agterbly nie. Ek dink egter dat niemand van ons ooit enige hoofpyn sal kry op die onmeetlike hoë top nie, want `n mens word al duiselig net deur na bo te kyk; hoe sou dit met iemand daarbo gaan!?"

[12] Miklosch sê: "Ja, so dink ek ook daaroor! Ons is hier welis­waar geeste en daardeur heelwat ligter as op aarde, maar van so `n hoogte sou ek nie graag `n dodelike, "salto mor­tale" (doodsprong) wil waag nie! Laat ons nog `n tydjie hier bly totdat dit heelwat ligter word; dan sal dit wel blyk wat ons verder te doen staan. Dit kom my in die gees voor, asof ons hier binnekort besoek sal kry, en as my gevoel my nie bedrieg nie, kom daar juis vanuit die ooste al iemand reg op ons af."

[13] Die graaf sê: "Ja, ek sien ook iemand in `n rykgeplooide gewaad! Miskien is dit `n nuwe aankomeling van die liewe aarde; is dit dalk iemand wat net soos ons veroordeel is?"

[14] Die Fransiskaan sê: "Dan sou hy, net soos ons, nog in aardse vodde geklee moet wees. Sedert die ou Grieke en Romeine dra geen mens op aarde meer `n geplooide gewaad nie. Dit moet wel `n baie ou burger van hierdie wêreld wees! Wel, spoedig sal dit blyk wie hy is en wat sy amp mag wees. Ek sal hom roep dat hy na ons toe kom!"

[15] Miklosch sê: "Ek glo nie dat ons hom hoef te roep nie, hy kom tog reg op ons af. Sy nadering maak `n goeie en weldadige indruk op my innerlike. Dit moet `n goeie mens of `n goeie gees wees. Hy word ook nou ligter, namate hy naderkom en dit is baie merkwaardig. Kyk net daar na die ooste; êrens agter die man ontdek ek skielik deur die digte newels baie duidelik die omtrekke van `n ongelooflike paleis."

[16] Almal wend hulle gesigte na die ooste, ontdek tegelykertyd wat Miklosch alreeds ontdek het en verbaas hulle geweldig daaroor. Die graaf sê: "Kyk, ek het tog gelyk. As ons enkele honderd tree verder gegaan het, dan sou ons met ons neuse teen die gebou vasgeloop het, en kon daar vra om binnegelaat te word. Nou is ons egter nog steeds hier." Die Fransiskaan sê: "Dit maak nie saak nie! Vergeleke met die ewigheid is `n paar minute vroeër of later om`t ewe. Maar stil nou, die goeie man, wat waarskynlik in die paleis woon, is al baie naby. Die hoflikheid gebied dat ons hom moet tegemoetgaan, aangesien hy baie seker die moeite doen om hierheen te kom."

[17] Met die voorstel is almal dit eens en hulle gaan die naderende man tegemoet. Toe hy by hulle aankom, voer die graaf die woord en sê: "Is dit vir my geoorloof om u te vra waar u so haastig heengaan? U het miskien nog `n ver pad om te gaan?

[18] Die Vreemdeling sê: "Gegroet, beste vriende en broers! Ek het slegs vir julle hierheen gekom. Ek het julle stemme verneem en het daarom vinnig uit die huis hierheen gekom om julle almal die nodige hulp aan te bied. Ek woon in die huis wat julle hiervandaan nog enigsins in newels kan sien." Die graaf sê: "U is hoogswaarskynlik die eienaar?

[19] Die Vreemdeling sê: "Ja, min of meer, soos die mense gewoond is om te sê. Maar kyk, hier bestaan eintlik geen privaatbesit nie; alles is hier in `n sekere sin gemenegoed. In dié ryk heers `n suiwer demokrasie, want wat aan die een behoort, behoort aan al die ander, wat één van sin en één van hart is. So kan julle oral gebruikmaak van alles, sonder om julle daarby af te vra van wie dit of dat is. Hier heers die mees volmaakte vryheid, waaroor slegs elke vry gees sonder enige beswaar kan beskik. Wat iemand hier wil, word hom ook deelagtig."

[20] Die graaf sê: "O mooi, dit is `n skitterende ordening! Daarvoor wou ons ook op aarde veg, maar daar het dit nie opgegaan nie, want daar het die reg van die sterkste nog altyd geheers! Maar hier skyn die reg van die eerste eienaar te geld, of selfs die oeroue "elkeen is sy eie heer!"?"

[21] Die Vreemdeling sê: "Ja, ja, so ongeveer, maar nou tog nog iets anders, want hier bestaan daar maar één reg en dit is die reg van die vrye, suiwer liefde. Soos wat die liefde is, so is die reg vanuit en deur die liefde. Wat julle wil dat mense vir julle doen, doen dit ook vir die ander; dit is die lewensbeginsels hier! Omdat elkeen dus die hoogste regsbeginsels tot die belangrikste grondbeginsel van sy lewe sal maak, verleen hy daardeur ook aan iedereen die vrye reg om alles wat hy het, volledig te gebruik, omdat hy in die teenoorgestelde geval hom ook dieselfde reg geheel onbekommerd mag veroorloof. Julle sien nou die huis heelwat duideliker en ek sê vir julle, dat julle die volste reg het om die huis saam te gebruik, omdat ook die eienaar van sy kant af dieselfde reg het op `n besit, wat julle hier êrens ten deel kan val! Is julle dit eens met hierdie regsbeginsels?"

[22] Die graaf sê: "Maar vriend, dit is tog kommunisme op sy beste, of eintlik die ou, suiwer Christendom! Op aarde is die tyd vir so `n staatsinrigting beslis nog nie ryp nie. Dit is werklik die mees natuurlike en beste staatsvorm vir elke volk. Die nadeel is alleenlik, dat die traagheid daardeur gestimuleer word in teenstelling met vlytigheid!"

[23] Die Vreemdeling sê: "Vriend, jy vergis jou. `n Luiaard en `n vlytige persoon kom nie hier saam voor nie, omdat `n luiaard onmoontlik nie kan wil wat `n vlytige persoon kan wil nie. Hier geld werklik: "Soort soek soort", en wat nie by mekaar pas nie, spat vanself uiteen! As die hoogste regsbeginsel inhou, dat elke persoon vir sy broer dieselfde moet doen wat hy ook vir homself van sy broer verlang, dan is dit daardeur al uitgesluit, dat `n luilak alles wat vir hom aangenaam is van sy ywerige broers verlang, sonder om ook van plan te wees om vir sy broer ook dieselfde te doen. Dit gaan gladnie hier af nie, omdat elke gees juis hier maar net daarna streef om sy broers op alle moontlike maniere te help. Wie egter lui is en nie deur hierdie gees besiel is nie, kry spoedig `n hekel aan so `n kommunisme en soek sy eie geselskap van luiaards wat volledig met sy ingesteldheid ooreenstem. Hoe dit binne die kortste tyd met so `n geïsoleerde geselskap van luiaards sal gaan, sal vir iedereen van julle sonder veel uitleg goed duidelik wees.

[24] Julle sê daarop: Ja! Omdat julle dit nou volkome insien en die regsorde van hierdie wêreld, waarin geen dood meer bestaan nie, as goed aanvaar, moet julle julleself nou ook so gedra soos wat hierdie wet dit vir julle eie belang vereis. Dan sal julle daardeur al volmaakte burgers van hierdie wêreld wees en kan julle van alles `n goeie en vir julle `n nuttige gebruik maak, wanneer julle die huis wil binnegaan om daar een of ander verkwikking te gebruik. Julle moet slegs die vaste wil hê om die huis van alle moontlike maniere van diens te wil wees."

[25] Die graaf sê: "Geagte beste vriend, dit is vanselfsprekend, want ek sou veel liewer gladnie bestaan nie, as om van iemand aan te neem, wat ek nie op een of ander manier weer sou kon teruggee nie. So ook my hele geselskap; daarvoor sal ek na eer en gewete borg staan! Maar beste vriend, aangesien u sekerlik al langer in hierdie streek woon, en wel van alles goed op hoogte is, sê ons almal net, hoe ons onsself om hulp tot die enige God van hemel en aarde, dus tot Jesus, die Gekruisigde, moet wend. Waar is Hy, en sal ons sondige oë ooit Sy heilige aangesig te siene kry?

[26] Ons was vroeër, toe dit nog baie donker was, deur `n stem aangespoor om ons tot Jesus te wend indien ons geholpe wil word. In die begin het ek dit meer as `n akoestiese misleiding beskou, maar stilaan het ek begin insien dat daar tog werklik iets waar daarvan moes gewees het. Hoe om dit egter doelmatig aan te pak, is `n ander vraag! Hier sou waarskynlik niemand beter op kan antwoord as juis u nie, omdat almal en elkeen u hier vas en volkome vertrou."

[27] Die Vreemdeling sê: "Baie goed, my beste vriende! In hierdie wêreld is ek, om so te sê, oral volkome tuis. Wat julle versoek betref; julle het julle al immers tot die Heer Jesus gewend, waardeur dit ook skielik ligter om julle geword het. Ek hoef julle daarom oor hierdie kwessie niks verder uit te lê nie. Bewaar Jesus in julle harte, dan sal julle baie spoedig die beste hulp kry. Julle moet alleenlik al julle saamgebringde wêreldse aardse hoogmoed, trots en eiewaan, elke wraakgevoel en die vervelende sinlikheid jeens die vroulike geslag vir ewig verban en alles aan Jesus, die Heer oorlaat. Dan sal julle ewig by Hom, om Hom en in Hom wees. Want Sy goedheid is onmeetlik!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205