|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 133
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die graaf en die meedoënlose. Beide se lewensgeskiedenis. Hulle eensgesinde, sombere Godverloëning. Die trotse koningsaanspraakmaker en sy beklaenswaardige einde.
133 Die graaf sê: "Vriend, jy gaan te ver met jou meedoënloosheid! Daardeur veroordeel jy ook jouself. Sou jy dit goedvind as mense hulle volgens jou beginsels ook van jou sou ontdoen? Die meedoënlose sê: "Dit geld vir sowel die een as vir die ander! As iemand ter wille van sy eie voordeel homself van my kan ontdoen, sou ek hom selfs `n esel noem as hy dit nie sou doen nie!"
[2] Die graaf sê: "Jy sou my dus ook nie ontsien nie?" Die meedoënlose sê: "As ek voordeel daarby sou kry, sekerlik nie! Meneer die graaf het ons aardse moordenaars tog self gelyk gegee, dat hulle hulleself van ons ontdoen het deurdat hulle nie van ons kon gebruik gemaak het nie. Kan u my dan ongelyk gee, as ek presies so dink soos u, heer graaf?"
[3] Die graaf sê: "So waai die wind dus uit hierdie hoek! Jy is ook een van hulle wat my wil gryp, maar jy sal nie slaag nie, want ek weet nou wat ek te doen staan!"
[4] Die meedoënlose sê: "Wat sal u of wat kan u doen? Ek sê ronduit dat u nou net soveel kan doen as in die laaste oomblikke van u aardse lewe, waarin u, net soos ek, die beul na die galg buite moes volg! Ons het almal gevloek, tot walgens toe, maar dit het niks gebaat nie, Ons het al die duiwels aangeroep, maar nie een het hom laat sien nie. Hoe het ons nie kragtig God, dood, duiwel, hemel, aarde, son, maan en hel vervloek nie, maar tot ons ergernis wou hulle niks hiervan vir hulleself aantrek nie. Wat kon ons nog doen? Wil u miskien begin bid?"
[5] Die graaf sê: "Ja, presies, dit sal ek doen, om jou daardeur tot sterwens toe te vererg!" Die meedoënlose sê: "Vooruit maar, heer graaf, my lagspiere is al heeltemal gespanne! Maar sê my net, tot wie sal u bid? Tot `n oneindige groot God, wat u stem net so sal hoor soos wat u die stemme hoor van die klein wesens, wat by triljoene in `n doudruppel woon? Of tot `n oneindige klein godjie, wie se ore vir u reusestem tog ietwat te klein sal wees. Of sal u dalk `n vroom gebedjie aanhef tot die allerheiligste harte van Jesus en Maria en bowendien ook tot die heilige Josef?"
[6] Die graaf sê baie boos: "Hou nou jou groot mond, of ek slaan hom toe, vervloekte galgebrak! Nou het hierdie stuk afval die brutaliteit om my, eerste edelman van die hele Hongarye, te treiter. Die duiwel haal jou, jou gemene hondevodde! As ek wil bid, dan bid ek, en ek sal so `n stuk skobbejak aan sy varkneus hang! Uit onder my oë, anders sal ek jou die krag van my edelmansarms laat voel!"
[7] Die meedoënlose sê: "Heer graaf, u is tog so `n sonderlinge man? Soos u op aarde was, so is u ook hier. Ek het niks anders gesê as wat ek self van u af ontvang het nie, en dit vererg u nou mateloos. Wanneer het u dan, beste graaf, ooit in `n God geglo? U God was die oneindige ruimte en oneindige tyd. Het u uself nie dikwels mislik vererg wanneer u `n kruisbeeld of `n Mariabeeld opgemerk het nie? Of het u nie `n vyand van die edele Kossut geword nie, omdat hy volgens u, `n godsdienstige dweper was en dikwels opreg "God-Christus" se hulp ingeroep het. Het u op aarde ooit die "Onse Vader" éénkeer gebid? En nou wil u bid! Ek vra U: Hoe, wat en tot wie dan?
[8] Die graaf sê nog vol toorn: "Dit gaan jou geen duiwel aan nie! Kon ek nie op aarde innerlik `n heel ander mens gewees het, as wat ek my na buite vertoon het nie?"
[9] Die meedoënlose sê: "Sal moeilik kan staande hou, heer graaf! Ek sal u presies sê waarom. Sien u, innerlik was u `n vriend van die bekoorlike Venusvlees, maar uiterlik `n edelman wat selfs koning van die hele Hongarye kon geword het. Christus was vir u `n armsalige fabel van die Swape, wat van die Jodedom af oorgeneem is. `n Ander Godheid…`n hersingskim van een of ander filosofiese domkop! En u sê, dat u innerlik `n heel ander mens sou gewees het? Ek vra u, maak uself tog niks wys nie! U en bid!! Dit is twee teenoorgestelde pole, wat mekaar moeilik ooit sal raak. Begryp u my nou?
[10] Die graaf sê: "Sê jy my nou eers, wie jou die reg gegee het om so met my te praat, asof ons saam varke opgepas het? Dink jy dan dat graaf Bathianyi hom dit nog langer sal laat welgeval? Of dink jy dalk dat ek, omdat ek in die laaste tyd in die rye van die gewone soldate gestaan het, gelyk met jou in rang staan? O, dan vergis jy jou baie! Ek sê vir jou, as jy jou los praatjies nie dadelik in bedwang bring nie, sal jy spoedig ondervind wat se verskil daar bestaan tussen jou en my! Daarom, geen woord nou meer nie! Neem `n voorbeeld aan van ons ander twee-en-dertig lotgenote. Almal is stil en rustig en betreur my, wat hulle toekomstige goeie koning moes geword het. Slegs jy veroorloof jou die brutaliteit om my te verpes, omdat ek nou hulpeloos by jou staan! Laat jy maar hierdie lus gou los, anders kan dit jou baie duur te staan kom!"
[11] Die meedoënlose sê: "Heer graaf, in hierdie newelwêreld bestaan ons wapens alleen uit die tong en so nou en dan ook uit hande en voete. Wat die tong betref, sal u my nie maklik kan ewenaar nie; ewemin met die hande, want in Engeland het ek leer boks. By die gebruik van die voete egter, sou u my duidelik die baas kan wees, want ek het nog nooit die hasepad gekies nie."
[12] Die graaf wend hom nou af en sê vir `n ander een: "Vriend, wat sê jy nou van die enorme brutaliteit van hierdie doodgewone soldaat? Sê my eers, of jy hierdie kêrel, vanuit sy bestaan op die aarde, dalk ietwat beter ken? Ek weet net dat ek hom enkele kere onder die gewone soldate gesien het. Waar hy egter vandaan kom en wat hy vroeër was, is vir my totaal onbekend."
[13] Die aangesprokene sê: "Volgens my kennis was hy eens `n monnik van die Fransiskaanse orde en het hy die twyfelagtige reputasie gehad van `n sogenaamde heldersiende. Hy het baie maal kwetsende dinge oor sy eie orde gesê en het volstrek geen teregwysinge aangeneem nie. As hulle hom daarvoor agter slot en grendel wou plaas, dan het hy, ontembare sterk kêrel wat hy is, die hele klooster `n afranseling gegee. Toe hy mettertyd genoeg gehad het van dergelike twak, pak hy op `n dag al sy orde-klere bymekaar, versteek dit êrens, verlaat daarop sy klooster met baie van die klooster se geld en laat hom by die eerste en beste Honved-bataljon aanteken. Hy het oral soos `n leeu geveg, as gevolg waarvan hy as kommandant dan ook saam met ons in die stof gebyt het. Dit is al wat ek van hom af weet."
[14] Die graaf sê: "Ja, kyk, nou het ek eg spyt, dat ek die man ietwat te hard aangevat het. As hy vroeër as monnik soveel wyser was as sy orde-kollegas, wie se verstand so bekrompe was dat hy hulle afgeransel het, behoort hy klaarblyklik by die beter mense. Aha, met hom moet ek weer `n vriendskap sluit!" Die graaf wend hom daarop weer tot die meedoënlose en sê: "Geagte vriend, u moet my nie kwalik neem, dat ek netnou ietwat onhoflik teenoor u was nie, maar ek het nie geweet wie u was nie. Omdat ek nou van hierdie vriend verneem het wie u op aarde was, sien alles nou inderdaad anders daaruit. U is dus die reus Goliat, wat sy orde uit innerlike oortuiging die rug toegekeer het en daarop met `n sterk hand die swaard opgeneem het om die vaderland so moontlik te red?"
[15] Die meedoënlose sê: "Ja, beste heer graaf, dit is ek. Ek het my opgeoffer vir die welsyn van die mensdom, wie se slawekettings my onuitstaanbaar begin te hinder het. Weliswaar het ons gesaai, maar ander sal maai! So was dit steeds in die dom wêreld en so sal dit ook bly! Ons het die wingerd bewerk en ons oes was bloed en dood, maar die druiwe sal gepers word deur hulle wat na ons sal kom. `n Pragtige lot vir die grotes van die aarde! Hulle is gedoem om die vooruitgang van die brommers voor te berei. Kom die tyd van die oes, dan val die hele swerm oor die grote heen, bring hulle om en bemagtig so die mooi oes. Hoe beval hierdie goddelike wyse inrigting van die wêreld en haar lewensverhoudinge volgens die natuurreg u?"
[16] Die graaf sê: "Daaroor kan `n mens eerder swyg as praat! Hierdie inrigting is selfs vir die toeval te sleg, laat staan nog vir een of ander wyse hoogstaande wese! Die Godheid, as Hy bestaan, skyn nie die minste notisie van Sy werke te neem nie. Hy stel Hom waarskynlik daarmee tevrede om by wyse van spel alleen maar wesens en mense te skep. As hulle eenmaal daar is, sorg die liewe Godheid weer daarvoor, dat hulle so gou as moontlik tereggestel word. Omdat dit soveel makliker verloop, laat Hy dit toe dat die anders argelose mensdom deur die skandelikste selfsug en heerssug besiel word. Deur hierdie helse begeerte gedrywe, word die een broer vir die ander `n hiëna en word hy van bloeddorstigheid vervul wat nie te les is nie! O, dit is skandalig; wat `n afskuwelike spel met die lewe van `n sigself bewuste mensepop! Welke skadeloosstelling kan die Godheid dan wel bied aan `n mens, wat soos ek, op so `n skandelike manier gedood is, dat iets dergeliks in die wêreld nouliks aan te wys is.
[17] Dink jou net in, `n graaf van die hele Hongarye! Hy word deur `n paar van die keiserlike soldateregters tot die dood aan die galg gevonnis, en dadelik sonder omhaal na die plek van teregstelling gesleep. Daar doen hy uit desperaatheid en uiterste wanhoop `n poging tot selfmoord, wat egter misluk. Die toekykende volk begin deur medelye oorverdowend hard te vloek en eis uitstel van die teregstelling. Dan gee die uitvoerders toe vanweë die nekwond, en die graaf word teruggebring na die siekehuis. Die graaf het nou die volste vertroue om amnestie te verkry van die keiser. Dan kom daar in die aand `n ouditeur, wat die graaf uit sy half bewustelose slaaptoestand wek en hom `n tweede doodsvonnis voorlees wat onmiddellik voltrek moet word. Asof deur `n bliksem getref, stort die graaf ineen, sodat die mense hom moes verkwik. Toe hy weer by sy sinne kom, word hy deur die beulsknegte gegryp en weereens na die plek van teregstelling gebring, waar hy deur verskeie jagters, soos `n hond doodgeskiet word, en dan soos `n ou knol begrawe word. En daardie graaf is ek wat vir u sondermeer bekend sal wees. Sien u, dit noem die mens regverdigheid!
[18] Tog kan ek my nie meer so vererg vir die dieragtighe wreedheid van die mense nie, want hulle lyk tog eerder vir my asof hulle stom werktuie van `n onsigbare mag is, as dat hulle so-iets uit vrye wil sou doen. Daarom het ook die, in baie opsigte wyse leraar uit Nasaret by Sy teregstelling gebid tot sy vermeende God Vader om vergewing vir Sy moordenaars, omdat Hy vas van mening was, dat die natuur van die mens tog nie so sleg sou kon gewees het nie. Ek is ook dieselfde mening toegedaan.
[19] Maar die eintlike Godheid of Satan, die almagtige Wese, sit behaaglik in een of ander ontoeganklike sentrum, versprei sy giftige asem oor alle hemelliggame en vergaap hom dan aan die tallose, deur homself op tou gesitte moord taferele. Dat die arme toneelspelers daarby ontsettend gepynig word, skeel die groot Godheid weinig! So `n skandalige Godheid sal ek graag wil leer ken, maar tewens sou ek ook die mag wil besit om Hom ten gronde te rig!;
[20] Die meedoënlose sê: "U het volkome gelyk, nou pas ons eers goed bymekaar. Maar luister, ek hoor mensestemme in die omgewing. Daarom rustig nou, miskien hoor ons iets wat ons kan troos!"
|
|
|
|
|