Dismas en sy vroeëre vriende. Allerlei soorte verweer van die geestelike traes. Hongerkuur vir hardkoppige ongelowiges.
104 Na enkele oomblike kom hy by die geselskap aan en word baie koel ontvang. Dismas egter, wat dit goed opmerk, spreek die geselskap as volg toe: "Vriende, soos wat julle op aarde was, so is julle ook hier. Julle vind julle ware vriende lastig, maar daarenteen julle ergste vyande, wat listig genoeg was om julle sand in die oë te strooi en julle daardeur te verblind, des te aangenamer. Wie ooit met die waarheid na julle toe gekom het, was deur julle as vyand die deur gewys, maar wie geweet het hoe om julle vlei, soos `n jakkals vir die hoenders, was warm deur julle begroet as julle beste vriend. Solank ek, jammer genoeg, met julle op één lyn gesit het, het julle my gerespekteer en was ek julle vriendskap werd. Omdat ek egter in die Heer glo en die leegheid van ons toestand ingesien het, my van julle afgekeer het en my daarheen gewend het waar ewige waarheid en trou heers en so die weg betree het van lig en lewe, om vervolgens na julle toe terug te kom om julle almal op die weg te bring, ontvang julle my koeler as die koudste poolnag se dageraad!
[2] O, julle groot dwase, wat wil julle dan van julle self maak? Wat het julle domheid julle tot nou toe opgelewer, wat se voordele het julle vir julleself verskaf? Kyk net na julleself en kyk na die vriende van God daar! Hoe gelukkig sien hulle nie daaruit nie en hoe ongelukkig is julle! Kan julle nou ook na enige nadenke nog ernstig van plan wees om, alleen ter wille van julle dwaasheid, vir ewig in hierdie miserabele toestand te volhard? Om welke beweegredes wil julle julleself dan verdoem, wanneer God self julle geluksalig wil maak. Open tog julle oë en maak in julle harte ruimte vir my woorde, sodat dit vir God en my moontlik is om julle almal opreg te help. Hoe goed doen dit my dat die Heer my uit my ellende gered het! Sou ek, as julle ou vriend, julle nie almal dieselfde toewens nie? Waarom wend julle dan julle bose oë van my af weg en minag julle my bowendien? Lees uit my oë of ek dit onredelik met julle meen! Vind julle bose trou in my, vervloek my dan in God se naam! Ontdek julle egter in my `n redelike vriend, neem my dan op en laat julle deur my na die geluksaligheid lei!"
[3] Een van die dertig sê: "Vriend, jy was vroeër `n verstandige mens, maar nou het jy `n dwaas van jou gemaak! Wie het op die dom aarde meer gereken, gelees en ondersoek ingestel en verrig as ek, en jy af en toe ook, saam met my, wat het ons daardeur te wete gekom? Niks anders as dat die mens, ondanks al sy moeite, oor die eintlike essensie van die universum van God nooit iets te wete kan kom nie.
[4] Ten opsigte van die oneindige universum van God is ons mense nog baie minder as `n luis ten opsigte van die grootsheid en die krag van `n mens. En ons aller miserabelste infusiediertjies van die skeppingsdruppel aarde wil God begryp, ja, Hom selfs as aan ons gelykwaardig vermenslik?
[5] Kyk eers broertjie, tot waar jy afgegly het! Hoe sou jy selfs in `n droom op die idee kon kom om hier by ons die heel agtenswaardige mensegees Jesus as die groot Godheid te wil opdis? Kom en word weer die ou agtenswaardige, skrander kaptein Dismas!"
[6] Dismas sê daarop: "Vriend, die liggaam wat ons hier het, is nie vleeslik nie, maar `n suiwer eteries-geestelike liggaam, waarin ons alles gewaar word wat aan ons van die groot Heer Jesus op aarde verkondig was. As ons egter hier in die hoogste mate alles voor ons bevestig sien deur die voortbestaan na die liggaamlike dood, deur die herinnering aan ons aardse lewe en deur die insig dat ons dieselfde is as in ons aardse lewe, dan sal ons hopelik nie daaraan twyfel dat die lewensleraar, wat op aarde soos `n son die sterflinge vir die eerste keer die oë geopen het en hulle hulle ware tuiste en hulle ware Vader leer ken het, tog ietwat meer moet wees as alle mense bymekaar, en wel omdat hy die enigste en eerste was wat die mense na hulle ware bestemming gelei het, en omdat ons nou as geeste die lewendige oortuiging het, dat dit presies so is soos wat Hy in woord en daad geleer het! As dit nie Hy is nie, sê eers wie is dit dan?
[7] Bowendien verrig Hy dade slegs deur sy wil. Wat Hy wil, is daar op dieselfde moment en alles gebeur volgens Sy woorde. Ons raad het hy nie nodig nie. En wanneer Hy tog iets vir Hom deur die mense laat aanraai, doen Hy dit maar net om die mense te toon dat alle menslike wysheid vir Hom, die oneindige wyse, weinig nut het, en hoe goed dit sou wees om ewig slegs van Sy wysheid afhanklik te wees!
[8] Wanneer julle dit alles saamvat en Jesus in dié lig, noukeuriger in julle harte beskou, dan is dit tog voor die handliggend dat Hy nie net `n baie wyse leraar is, soos geen ander nie, maar ook dit moet wees wat hy oor Homself geopenbaar het! Want mense kan tog onmoontlik aanneem dat `n origens nie te ervare wyse leraar, naas Sy onbegrensde wysheid, ook nog die aller verwaandste porsie domheid sou besit om Homself aan Sy leerlinge voor te stel as die God van die ewigheid, en Hom as sodanig te prys en van Satan gehoorsamigheid, diensvaardigheid en aanbidding te verlang wat volgens my beoordeling soveel wil sê as: Die hele geskape natuurwêreld het hom aan Sy almagtige Godswil in alles volledig onderwerp, as hulle nie deur die mag en krag van Sy woord geoordeel wil word nie!
[9] Wanneer `n wese, wat vervul is van die hoogste, onbereikbare wysheid, so-iets egter met alle Goddelike erns, nie alleen van die mense, maar selfs van die stomme natuur verlang, kan mens dan nog daaraan twyfel of so `n wese, ook al het Hy dieselfde gestalte as ons, wel God sou wees, of slegs `n mens soos ons? Ek dink dat die gesprokene, wat by Jesus duidelik sigbaar word, wel elke twyfel moet wegneem en julle van die suiwerste waarheid moet deurdring, naamlik dat Hy alleen die Godwese is. Verhef julle julle almal tot die geloof! Ek sal julle na Hom toe lei; Hy sal julle dan self toon dat Hy dit is, voor wie se naam alle magte van die hemel en wêrelde diep moet buig!
[10] Julle weet dat ek juis die een was en nog is, wat wel die allerminste ooit iets liggelowig aangeneem het. Ek het my sekerlik verweer solank as wat dit moontlik was. Maar toe ek deur `n baie harde beproewing tot die korrekte insig gekom het, het ek alles sonder twyfel aangeneem wat my die allerduidelikste openbaring oor Jesus laat ken en nou nog steeds duideliker laat begryp. Wanneer ek dus, die hardnekkigste onder julle, Jesus nou as God erken, dan sou ek tog dink dat so-iets ook by julle des te makliker kan gebeur, omdat julle op aarde tog almal gelowiger was as ek!"
[11] Die woordvoerder van almal sê: "Vriend, die honger het jou daartoe gedryf; maar ons het nog nie so `n honger nie! Wanneer die honger ons egter sal dwing, sal ons ook liewer die towenaar as God beskou as om te verhonger!"
[12] Dismas sê: "O julle dom poliepe van die mees stinkende slyk! Hoe het die honger my gedwing om aan te neem dat Jesus die enige, ware God is! Niemand van julle het my hier sien eet of drink nie. En julle sê dat ek dit vanweë die honger sou gedoen het! Nou sien ek duidelik dat julle almal regtig heeltemal dol is! Ja, die honger het my daartoe gebring, maar dit was nie `n honger van die maag nie, maar `n honger van die hart na Hom, wat my die lewe gegee het wat ek liefhet, maar dat ek sonder Hom ook `n onoplosbare raaisel was! Hierdie honger en dors na die groot openbaring van die heilige raaisel is nou duidelik vir ewig versadig en die sfinks is nou oorwin, maar my maag is nog volkome leeg!
[13] Julle sê egter: "Ons het glad nie honger nie; ook nie die heilige honger van die hart nie!" Dan is julle ongeneeslike situasie, net soos die oorsaak daarvan, vir my verklaarbaar. Wag nog maar `n bietjie en `n eienaardige honger sal julle deel word. Ons sal dan wel sien hoe dit julle sal geval!"
[14] Die woorvoerder van die geselskap sê: "Ja, ja, vriend, `n sterk honger, dan sal al die ander wel agtermekaar kom! Vir die hongeriges is die een `n god wat hulle iets te ete gee. Diegene egter, wat geen honger het nie, dit wil sê, nóg objektiewe, nóg subjektiewe behoeftes, vra nie baie na God en Sy ryk nie. Wanneer vir iemand, byvoorbeeld, wat deur `n sekere onverskilligheid in sy hele wese bevange is, en daarby deur slaap oorval word, sodat hy nouliks meer by sy bewussyn is, gepreek word oor moraal en deug, dan sal hy geen aandag daaraan skenk nie, want sy sinne is traag en sy gees slaap!
[15] Wil jy egter met so iemand iets bereik, genees hom dan eers van sy kwaal! Wek in sy siel `n lewendige behoefte na dit wat jy hom wil gee, dan sal hy ook begerig aanneem wat jy hom aanbied; maar sonder so `n voorbereiding sal jy by hierdie pasiënt nouliks iets bereik. Sê eers, sou die voortplanting van die menslike geslag wel plaasvind, as die Skepper in die anders so dikwels trae natuur van die mens nie so `n sterk drif of honger na die geslagsdaad gelê het nie?! Wat sou die vrou vir die man beteken het, as die Skepper die man geen geneigdheid vir die vrou sou ingegee het nie?
[16] Hieruit kan jy maklik uitmaak, dat daar by die mens `n sterk behoefte aanwesig moet wees, as hy hom aktief vir iets wil interesseer.
[17] Presies so staan dit ook met ons. Aan dit wat jy nou hier uiteengesit het, het ons heeltemal geen behoefte aan nie. Ons lyk wel halfdood en het geen plesier aan die slaperige hondelewe nie. As ons dan egter geen vriende van die lewe is nie, hoe sou ons onsself dan kan interesseer vir jou lewensleer en vir jou enige lewensmeester Jesus? Besorg ons maar eers `n ernstige honger, en staan maar eenkant toe met jou onaangename domhede! Wat ons betref, mag jou Jesus wel tien keer die hoogste Godwese wees; maar wanneer ons egter geen behoefte aan Hom het nie, wanneer ons hier vrywel sonder gevoel soos klippe by mekaar saamhok, wat het ons dan te doen met jou Heer Jesus? Verskaf ons dan meer lewe en maak dat ons Hom nodig het, dan sal dit goed blyk hoe ons onsself ten opsigte van Jesus sal gedra; miskien wel beter as jy!"
[18] Hierdie woorde laat Dismas ontsteld staan en hy weet nie meer wat om te doen nie. Ek lê hom egter in sy hart, dat hy deur sy wil in My naam `n geweldige honger in hulle mae moet lê; dan sal hierdie halfdooies wel meer en meer in die lewe begin oorgaan!
[19] Dismas doen dit en die geselskap word al spoedig lewendiger. Enkeles begin hulle maagstreek te betas en sê aan die spreker; "Vriend, sorg dat ons iets te ete kry, anders eet ons jou met huid en haar op!"
[20] Die woordvoerder sê: "Dwase, ek kry nou self honger soos `n os wat gevas het voor die slagting en het self niks waarmee ek my honger kan stil nie! Wat sou ek julle dan kan gee? Daar voor julle staan Dismas; gryp hom maar. Hy sal wel te ete en te drinke hê, want hy het mos nou `n intieme vriend van die leraar Jesus geword, wat eens in die woestyn seker vyf duisend mense met enkele brode sou versadig het! Miskien het daar vir ons ook `n kleinigheidjie oorgebly. Laat ons Dismas maar aangryp!
[21] Daarop begin hulle almal by Dismas aandring om hulle spys en drank te gee.
[22] Dismas sê egter: "Vriende, julle verlang iets van my, wat ek nie het nie. Daar aan die tafel sit Hy egter, wat ter versadiging alles in oorvloed het! Gaan na Hom toe, beken julle gebreke teenoor Hom, verdeemoedig julle voor Hom en vul julle harte met liefde vir Hom, dan sal julle sekerlik ook versadig word!"
[23] Die vriende, wat nou nog steeds honger en dors kry, sê vir Dismas: "O jy, uitgekookte swendelaar, as jy volgens jou eie uitspraak honger en dors kan gee, waarom is jy dan nou nie in staat om albei die plae weer weg te neem nie. Kan jy die een, dan kan jy die ander ook! Neem daarom almal se kwellende honger en brandende dors af; kyk andersins maar uit wat jou te wagte staan!"
[24] Dismas sê: "Beste vriende, ek smeek julle ter wille van julle eie heil, wen julle nie so op nie! Dat ek julle op julle eie versoek honger en dors kon gee, berus hierop, dat niemand in staat is om sy broer iets te gee wat hy self nie het nie. Ekself het egter honger soos `n wolf en kan die groot oorvloed daarvan daarom maklik met ander deel. Sou ekself iets gehad het ter versadiging, sou ek dit met ander gedeel het. As ek dit egter vir julle gee, waar julle vir ewig volledig versadiging kan vind, gaan dan daarheen en doen wat ek julle aangeraai het! Dan sal julle ook sekerlik alle versadiging ontvang van Hom, wat die hele oneindigheid voed en in stand hou. Sou julle nie daar versadig word nie, dan het julle die reg om met my te doen wat julle maar wil, maar voor dit nie! Laat julle dit agterweë, dan het julle dit aan julleself te wyte, dat julle nie versadig word nie!
[25] Die hongeriges en dorstiges sê: "Het ons jou dan gevra om na ons toe te kom? Jy het nie in ons opdrag na ons toe gekom nie, maar in opdrag van jou God Jesus. As Hy die mag gegee het om ons te tref met honger en dors, waarom ook nie die mag om ons te versadig nie?"
[26] Dismas sê: "Beste vriende, wie van ons het dan die mag om God te dwing? Hy alleen is almagtig en kan doen wat hy wil! Hy laat egter gewoonlik eers deur allerlei apostels die mense bitterheid besorg, sodat hulle na Hom toe kan kom en van Hom die soetheid kan ontvang! Die mense moet daardeur tot die insig kom, dat alle mensehulp nutteloos is. Verwag daarom ook niks goeds van my nie, want as ek self sleg is, hoe sal ek julle dan iets goeds kan gee?! Hy egter, wat self waardig is en bomatig goed, kan ook alleen die goeie gee. Daarom dus op na Hom!"
[27] Die hongeriges en dorstiges sê: "As alles wat van Hom kom, goed is, waarom is jy en ons dan sleg? Ons het tog almal van Hom af uitgegaan!"
[28] Dismas sê: "Ons het nie sleg uit Hom gekom nie. Uit onsself het ons eers sleg geword, toe ons onsself met ons vrye wil van Hom afgewend en vergeefse moeite gedoen het om ons te gedra asof ons self vrye gode sou wees, wat van die eintlike God niks meer wou hoor nie. Omdat dit nie God se wil kon wees nie, laat Hy sulke ingebeelde beelde net so dikwels teen hulle hoof stoot, totdat hulle tot insig kom dat hulle tog geen gode, maar sonder Hom slegs swak en dom mense is. Bedink dit en gaan na Hom toe, dan sal julle verseker waarlik gehelp word!"
[29] Die nou al van honger en dors vertwyfelde geselskap sê: "Maar ons weet heeltemal nie wat jy bedoel met jou "verseker-geholpe-word"! Dom sukkelaar, het jy ook na Hom toe gegaan toe Blum jou daartoe uitgenooi het? Is jy ook dalk daardeur gehelp? Wat het jy dan nou meer as wat jy voorheen gehad het? Of is jy dalk nou versadiger as wat jy voorheen was? Net soos by ons is die honger ook van jou gesig af te lees, en jy noem dit beter word!
[30] O, jou oerdom apostel, gaan tog weg en laat jou nie uitlag nie! Kom eers self met `n tevrede gesig na ons toe, dan sal ons jou ietwat meer geloof skenk as wat nou moontlik is. Solank as wat jy egter self met `n gesig wat ontevredenheid en behoeftigheid uitstraal, na ons toe kom, sal geen mensegees glo dat jy salig is nie, dit wil sê versorg en van alles voorsien!
[31] Stap dus maar rustig op Dismas, want in jou toestand, wat tot nou toe volkome eenders is as ons s`n, bereik jy niks by ons nie. Bring ons liewer iets te drinke en te ete, dan sal ons jou ook na elders volg; met jou momentele wysheid is daar met die beste wil niks uit te rig nie. Dink net hoe dom jy nou is! Jy beveel ander iets aan wat jy self nooit gehad het nie! Jou vader moes wel baie van varkvleis gehou het, dat hy so `n oerdom seun in jou gekry het!
[32] Dismas sê: "Vriende, het ek julle van dit, wat ek in `n kort tydjie self ervaar het, nie lewendig kon oortuig nie, dan moet julle tog toegee dat ek dit sekerlik goed met julle almal bedoel het. Ewemin kan niemand van julle my verwyt dat ek my onaardig, ru en grof gedra het nie. Daarom meen ek om van julle te verwag om meer hofliker met my te praat. Ek sleep julle tog nie aan die hare na die Heer toe nie. Wil julle daarheen gaan, gaan dan; wil julle absoluut nie, dan sal julle ook nie gedwing word nie; ru, onbeskof en grof hoef julle daarom nie te wees nie. Dat julle nou so `n sterk honger en dors voel, daaraan het ek geen skuld nie, maar julle self. Julle het hierdie honger gewens om weer iets op te lewe, en nie ek nie, maar die Heer gee julle wat julle toekom deur my woord. Ek het julle egter dadelik getoon waar en hoe julle julle honger en dors kan stil! Waarom doen julle dit nie, as julle dit tog weet? Julle noem my, omdat ek Blum volg, `n domoor en dat hierdie weg my nie sou baat nie. Ek sê julle egter, dat hierdie weg buitengewoon nuttig vir my was. Ook al is my maag nog leeg, tog is my hart versadig met die liefde vir God, die Heer. Dit is baie beter om jou hart te versadig as honderd mae. `n Hongerige hart kan nie deur die vul van die maag bevredig word nie; dit het slegs die dood van die hart tot gevolg. Doen nou maar wat julle wil! Ek sal nou nie meer die dwaas vir julle speel nie. Wil julle diermense bly, bly dit dan maar! Wil julle egter na die Heer toe gaan, dan staan die lewensweg vir julle oop!"
[33] Met hierdie woorde van Dismas raak die geselskap ontsteld en weet nie wat hulle moet doen nie.
[34] Die hoofwoordvoerder uit hulle midde kom na vore en sê, wanneer almal hom vra om te praat: "Vriende en susters, ek het nou baie nagedink oor die missie van Dismas en oor sy woorde wat aan ons gerig is. Ek moet eerlik beken, dat ek vind dat hy ten slotte tog gelyk het. Ons sou werklik moet doen wat hy wil hê, want ons kan wel `n halwe ewigheid heen en weer bly praat en oorleg pleeg; tog sal ons moeilik tot iets beters kan kom as wat die goeie broer Dismas ons aangeraai het.
[35] Wat belet ons dan om ook na die man te gaan, waarvan Dismas, net soos al die ander wat nou reeds gelukkig is, verklaar het dat Hy die Godheid self is? My mening lui dus: Is die Jesus werklik God self, ondanks ons starre ongeloof, dan sou ons verset teen Hom meer as gewaagd wees. Sou Hy dan nie wees wat Dismas en ander gelukkiges van hom beweer nie, wel, dan het ons werklik niks verloor, as ons Hom tot ons vriend maak nie. As die ander dit dan goed het aan Sy sy, waarom sou ons dit dan sleg hê, wanneer dit slegs van ons afhang om na hom toe te gaan en Hom deur ons hartlikheid te wen? So nie, dan verloor ons ook niks. Alles wat ons egter daardeur bereik, kan slegs wins vir ons wees. Want wie, soos ons, wat heeltemal niks het nie, die het ook niks om te verloor nie, alleen maar om te wen! Laat ons tog maar na die Heer van die huis gaan; dit sal dan wel duidelik word watter vangs ons gemaak het, wanneer ons met die Christus gespreek het! Hoe dink julle oor die saak?"
[36] Al die ander sê: "Ja, ja, dit kan ons spelendergewys doen, want dit kos ons geen besondere moeite nie; daar sal tog geen koppe rol nie. Na jou verstandige woorde is dit ook makliker om iets te onderneem as om na die hoogdrawende woorde van Dismas te luister! Ons wil nie daardeur beweer dat Dismas dom sou gespreek het nie, maar `n hoogdrawende redevoering het nooit die effek soos `n nugtere en verstandige nie!"
[37] "Alles goed en wel", sê `n ander uit die geselskap, as ons maar net beter gekleed sou wees! Veral ons tien dames sien erbarmlik daaruit. Niks behalwe lomp toiings en vodde van die smerigste soort hang wanordelik om hulle uiters onaantreklike liggame nie. En ons manne is ook nie soveel beter daaraan toe nie. Daarom dink ek dat ons eers moet probeer om beter klere te kry en dan eers na Hom toe gaan, want in hierdie, nie bepaald vir `n bruilof geskikte kleding, sou ons in Sy nabyheid `n verdraaide slegte indruk maak!"
[38] Die eerste spreker sê: "Vriend, niemand kan gedwing word tot iets wat bo sy mag lê nie! Die dames moet maar agter ons aanloop en hulle, wat nog enigsins behoorlik gekleed is, gaan vooraan, en so sal dit volgens my mening goed gaan. Dismas as die bes geklede, is tog sonder meer ons aanvoerder."
[39] Al die ander sê: "Goed dan, laat ons dit maar probeer!"