|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 123
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
`n Monnik wil vir geld die mis lees. Die generaal gaan tekere teen Rome. Robert sou graag help. Die Heer kom.
123 Die generaal sê vervolgens: "Is daar onder die armsalige geselskap dan niemand van die Rooms-Katolieke geloof, wat die ou "Onse Vader" duidelik in goeie Duits kan bid nie?"
[2] Toe tree `n monnik in `n py (monniksgewaad) na vore en sê: "Meneer die generaal, ek ken die gebed goed, maar dit sal ons nie baat nie, want ons het almal gesterwe sonder om die heilige sakrament van die sterwendes te ontvang en het ook geen bieg afgelê nie, sodat ons onsself volkome in `n genadelose toestand bevind. Ons sou nou wel kan bid totdat ons tong op ons skoene hang, maar dit sal nie baat nie, omdat ons al vir ewig deur God verdoem is. Ons sal wel in die treurige toestand tot die laaste oordeel gevange bly. Dan sal die verskriklike basuin ons na ons liggame terugroep, waarna ons dan voor die onverbiddelike regterstoel van God sal moet verskyn om daar die ewige verdoemenis te ontvang, waarna ons in die ewige, met die verskriklikste pyne van die helse vuur gewerp sal word.
[3] Ek weet maar van een enkele redmiddel en dit heet: Die heilige mis, wat God alleen welgevallig is. Ek het weliswaar geen geleentheid en geen benodigdhede om een hier te lees nie, maar wanneer ek van hierdie medemense `n klein stipendium (aalmoes) kan kry, dan sal ek tog wel een uit my kop lees, waardeur ons almal goed gered sou wees. Want slegs die mis sal ons help; alle ander gebede dien tot niks."
[4] Die generaal sê: "Maak dat jy wegkom, jou tronkvoël. As jy die mis as die enigste redmiddel beskou en daarby nie soveel naasteliefde het om ons, wat tog niks van alles besit nie, sonder geldelike bydra te red nie, dan is jy slegter as alle diewe, moordenaars, rowers, hoerelopers en egbrekers op die hele aarde! Jy is hier wat jy ook op die aarde was, `n dienaar van God vir geld! Sonder geld, kan wat jou betref, die hele wêreld verdoem word, dit sal jou nie in die minste skeel nie. Gaan onder my oë uit en gaan lees jou Latynse onsin waar jy ook wil, maar laat ons daarvan verskoon bly. Ons is merendeels Duitsers en Slawe en wil en sal daarom ook in Duits of Slawies bid. Regsomkeer mars!"
[5] Die monnik verwyder hom na hierdie erg militêre woorde van die generaal. Hy vra nou aan die Slawe of iemand van hulle die "onse Vader" ken en sou wil bid.
[6] Dadelik tree `n Pool na vore en sê: "Generaal, ek ken dit in vyf tale. Die generaal sê: "Goed, bid dit dan eers in Duits en dan in Slawies, maar goed verstaanbaar en stigtelik!"
[7] Die Pool bid nou terstond geheel volgens die wens van die generaal en almal bid hom woord vir woord agterna. Alleen die monnik wat die mis wou lees en `n paar ander van sy soortgenote gaan nie daarmee saam nie en vererg hulle daaroor, dat die generaal nie gebruik wil maak van die Latynse erediens nie! Die omstanders bemerk egter dat hulle skandelike gebare maak en dat die monnik, wat die mis wou lees, by die bede: "U ryk kom…" sê: "Die hel kom oor julle." Daarop gryp hulle hierdie godsdienare, sleep hulle voor die generaal en vertel hom alles.
[8] Die generaal, vertoornd oor hierdie godsdienare, sê vir hulle wat die dienare voor hom gebring het: "Wees maar kalm! Julle weet tog, dat die papegespuis, op een enkele uitsondering na, op aarde allesbehalwe dit was, wat hulle sou moet wees. Daarom hoef dit julle nie te verbaas nie, dat die allerminste varkopasser `n heelwat beter Christen is as hierdie paap! Wie het Christus gekruisig? Die pape!? Om die werk egter nie te verleer nie, het hulle die mis uitgevind, wat niks anders is as `n seremoniële herhaling van die toenmalige kruisiging van Christus. Wat mense daarvan kan verwag, is voor die hand liggend. Indien iemand `n ander oordeel, moet hy of magtiger wees as hulle wat hy oordeel, of hy matig hom die amp van `n regter aan en doen asof hy die gebieder is oor diegene wat hy op sy minste in sy gedagtes oordeel. Die paap egter, oordeel Christus, die Heer daagliks en maak hom ook weer lewend om Hom vervolgens weer te dood, omdat hy iemand wat voortdurend leef, nie kan gebruik nie. Is hy as God se regter, nie méér as God Self nie? Wie kan loënstraf dat dit nie in die alleensaligmakende Rooms-Katolieke kerk so is nie? Indien die swart papedom vir hulle die doodstraf van God Self aanmatig, kan dit ons dan nog verbaas, dat hy ons ook na die hel verdoem?
[9] Ek het in my aardse lewe die wêreldgeskiedenis bestudeer en het ontdek dat, waar dit oor die mees infame streke gaan, die pape meestal vooraan staan. Neem maar eers die hedendaagse geskiedenis van die rewolusie en die oorloë. Wie is die aanstigters daarvan? Die pape!
[10] In Switserland het dit begin en hulle moes eervol hulle hakskene dra na alle windstreke van die wêreld. Daarna word die pous van alle kante onder druk geplaas om hierdie gruweldaad so gou moontlik oor die hele aarde te wreek, want Switserland sou vir so `n misdaad veels te klein gewees het. Die Switserse volk het naamlik, toe hulle erg honger gehad het, selfs die moed gehad om hulle te vergryp aan die beste wyne en die oorvloedige spyse uit die kelders en voorraadkamers van die godsdienare, omdat die godsdienare niks uit naasteliefde wou gee nie! Hierdie misdaad het die godsdienare so woedend gemaak, dat hulle op alle moontlike maniere die mense begin aanhits het, sodat hulle vloek oor die aarde in vervulling kon gaan. En kyk, hulle het hulle opdrag baie effektief uitgevoer, maar daarby ook, god sy dank, hulleself `n wond toegedien, wat waarskynlik deur geen aardse krui meer sal genees nie. Ek dink dat julle my begryp het. Wees daarom nou baie rustig, ook al wens die swartrokke julle die hel honderdmaal toe!
[11] Wie `n mens wil leer ken, moet sy handelswyse gadeslaan, want daarna is elke mens die maklikste te herken. Wanneer dit al onmoontlik is om `n vriendskapsverbond met vee- en menseslagters te sluit, hoeveel erger sal dit dan wees, om dit met, oor die algemeen, mees hartelose godslagters te doen?
[12] Die geskiedenis van alle tye, en in die besonder die van Spanje laat dit maar al te duidelik sien, hoe duiwels wreed die godsdienare met hulle afgedwaalde skapies omgaan. Laat daarom hierdie swartes van liggaam, gees en siel gaan waarheen hulle wil en vervloek soveel as wat hulle wil. Ons almal sal ons egter gedra soos egte broers en mekaar, so goed as wat ons kan, met raad en daad ter syde staan.
[13] Ek dink, as daar êrens `n God bestaan, waaraan ek hier steeds minder begin te twyfel, omdat ek nou sien dat ons werklik nog na die dood van ons liggame lewe, dan moet Hy, gesien Sy baie wyse skepping, sekerlik beter wees as Sy dienare, wat Hyself in Jerusalem, in die persoon van Christus op die regte manier beoordeel het, deurdat Hy aangetoon het wie se geesteskinders hulle is. Ons mag daarom sekerlik die hoop koester, dat Hy ons beter sal beoordeel as die duistere papegespuis!"
[14] Die hele geselskap breek in `n gejubel uit, nadat hulle die kragtige toespraak van die generaal aan die adres van die groepie pape aangehoor het. Hulle trek grimmige gesigte daarby. Die eersgenoemde monnik, wat nie in staat is om sy magtelose woede te beteuel nie, begin die hel aan te roep, dat hy homself mag open en dat hy sulke gruwelike boosdoeners ylings moet verslind. Die geselskap laat hulle egter nie meer lank welgeval nie, gryp die godsdienaar aan die kraag en gooi hom uit die huis uit waar hy afgemat vir `n lang tyd op die plek bly lê.
[15] Terselfdertyd sê Robert by die deur aan Dismas: "Broer, die toespraak en die ingesteldheid van die generaal geval my baie goed, behalwe die sterk en oordrewe verhaal oor die pape. As dit moontlik is, sou ek tog die baie treurige toestand van hierdie arme dwase `n bietjie wil verbeter."
[16] Dismas sê: "Nog `n klein bietjie geduld en die probleem sal homself oplos. Ons moet slegs die Heer daarby hê en ek voel dat hy kom. Kyk net daar deur die venster, daar is Hy met al ons bekende gaste. Laat ons Hom vinnig tegemoet gaan. O, dit is Hy, dit is Hy!!
|
|
|
|
|