Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 149

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die Frasiskaan hou halsstarrig vas aan die Roomse leer. Miklosch genees hom hiervan deur middel van skerp vrae. Nou het ook by hierdie verstarde siel die ys gebreek. Salige verwondering oor die hemelse waarhede

149 Na `n kort tyd van diep verbasing sê die graaf vir die Fransiskaan: "Vriend, as dit in jou vermeende hel so uitsien, dan bly ek sonder meer daar en broer Miklosch seker ook saam met al die ander! Ook die helse manlike en vroulike geeste sien ongelooflik mooi en heerlik daaruit. Waarlik, in so `n helse geselskap sal dit vir ewig die beste uitgehou kan word! Wel vriend, wat dink jy nou daarvan?"

[2] Die Fransiskaan sê nors: "Daar het al oneindig baie deur sulke helse bekoorlikhede ten gronde gegaan en daardie lot sal julle ook nog ten deel val. Ek is weliswaar ook erg honger en veral dors, maar solank ek net soos `n Thomas geen tasbare bewys vir dit alles het nie, vertrou ek die saak nie. Want by ketters, soos Robert Blum en meelopers, kan God die Heer immers nie woon nie!" 

[3] Miklosch sê: "Vriend, kom eers saam met my na die groot venster. Ek wil jou iets laat sien." Die Fransiskaan sê: "Goed, laat ons dan maar gaan, maar hou my nie vir die gek nie, want anders…!"

[4] Die twee gaan na die venster en Miklosch toon die Frasiskaan daar buite `n wye landskap en op aansienlike afstand in `n westelike rigting `n stad wat soos een in Boedapest lyk. Hy sê vir hom: "Vriend, die Heer, wat jy in jou domheid as die hoogste duiwel beskou, laat jou deur my sê: "Ek laat jou vry uit hierdie hel. Daar buite sien jy Boedapest. Gaan daarheen en verskaf jouself daar of iewers anders `n beter hemel!" Jy kan dadelik deur die venster na buite gaan, want hierdie vensters het geen glas nie." Die Fransiskaan sê: "O, waarom dan? As dit hier die hel is, waarom sal jy dan nog daarin wil bly?"

[5] Die Fransiskaan sê: "Weet jy, ek sou nog net graag wil weet of Blum vóór sy teregstelling miskien tog weer saam met sy geloofsgenote in die skoot van die alleen ware en saligmakende kerk teruggekeer het. Is dit die geval, dan kan alles hier, op die nog nêrens sigbare Heilige Drievuldigheid na, in orde wees. So nie, en daarvoor is ek die bangste, dan is dit hier niks anders as `n helse begogeling nie! Ook die hel is naamlik vol hardnekkige ywer om haar onsaliges vooraf goed voor te berei, totdat hulle heeltemal deug om in die eintlike hel toegelaat te word. Hier is werklik elkeen aanwesig: Christus, Maria en die heilige Josef, alle heilige apostels, alle aartsvaders, patriarge en profete en verder nog `n massa heiliges. As Blum en sy meelopers egter nog dieselfde ketters is, dan is dit alleen maar helse misleiding en dan moet ek daarvoor sorg, dat ek vinnig hier wegkom. Want kyk vriend, wanneer die pous van Rome nie die ware plaasbekleër van God op aarde is nie, en die Roomse kerk, wat as enigste die sleutels van die hemel en die hel vir alle mense in haar allerheiligste hande het, nie die enige saligmakende is nie, dan is Christus gladnie Christus nie en Sy leringe op aarde waardelose hersenskimme. So staan die sake daarvoor en daarom is ek ten seerste op my hoede, sodat ek my op geen enkele manier deur die hel kan laat mislei nie. Want die ware kerk is `n rots, wat nimmer deur die poorte van die hel oorwin kan word nie!"

[6] Miklosch sê: "Goed, goed, goed! Al hierdie Rooms-Katolieke dwaashede ken ek net so goed soos jy. Ek sal jou mond goed kan snoer, sodat jy van honderd vrae nie één daarvan sou kan beantwoord nie, maar ek gee jou die voorkeur om aan jou slegs met enkele vrae `n bietjie in die noute te dryf. Ek sê jou egter by voorbaat, dat jy elke vraag vir my moet beantwoord, want as jy my nie beantwoord nie, sal jy daardeur bevestig, dat die pousdom in geen geval deur Christus gestig is nie. Luister dus, dit is die vraag:

[7] By watter geleentheid het Christus die kerk se hooggeskatte misoffer, en wel alleen in die toentertydse heidense Romeinse taal, voorgeskryf? Ek vra `n streng, op die Skrif gebaseerde antwoord!"

[8] By hierdie vraag staan die Fransiskaan radeloos en kyk. Daar kom geen antwoord nie!

[9] Miklosch vra egter verder: "Omdat jy geen antwoord vind nie, moet ek iets makliker vir jou soek. By watter geleentheid het Christus dan die seremonie, die ryk versierde gewade die stola, (Romeinse versierde gewaad) die corporale (hostiedoek), rooi kouse, die waardevolle herderstaf (vir sover ek weet, het Hy selfs die apostels verbied om `n stok by hulle te hê), die pouslike tiara (kroon) en die duur kardinaalshoede voorgeskrywe? `n Antwoord graag! Jy is alweer sprakeloos! Wel. Ek sal met nog iets makliker kom.

[10] Wanneer het Christus, die Heer, wat die eintlike en enigste lewende kerk in die harte van die mense wil oprig, tot die bou van gemesselde tempels oorgegaan, waarvan daar nou op die hele aarde wel meer as `n miljoen te vinde is? Wanneer het Hy die heidense inrigtinge voorgeskryf, die voorkeuraltare, die genadebeelde, en die gewyde doopwater, net soos die heilige chrisma. Die ware apostels het tog met baie natuurlike water gedoop, soos God dit geskape het; of hulle by die doop gebruik gemaak het van die heilige olie, daaroor skyn die geskiedenis eweneens te swyg! Wanneer het Hy die gebruik van klokke, orrels, en misgesange, die kosbare benodigdhede vir die mis gelas; wanneer die begrafnis plegtighede en die duur vereistes? En by welke geleentheid het Hy kapelaans, pastore, diakens, kanunnike (geestelikes), dekane, kerkvorste, biskoppe en kardinale geïnstalleer en hulle van so `n groot inkomste voorsien? Na my wete het Hy die apostels, toe Hy hulle vir die verbreiding van Sy leer uitgestuur het, selfs verbied om reissakke te dra om een of ander geskenk daarin te kan stop! Ek vra jou hier nogmaals vir `n goed gefundeerde antwoord! Spreek nou, spreek! Jy was altyd so goed van die tongriem gesny! Jy is en bly sprakeloos? Dit wil dus sê: "Ek weet niks om ten gunste van die Rooms-Katolieke kerk te sê nie en hou my daarom liewer stil!"

[11] Baie onwillig sê die Fransiskaan eintlik: "Ek sal jou wel heelwat kan sê, maar teenoor `n ketter is dit beter om te swyg!" Miklosch sê: "Dit glo ek ook, veral wanneer `n mens geen enkele bewys kan aandra nie! Sê my dan ten minste, wanneer het Christus die goddelose formule vir die oorgang van `n christelike-ketterse geloofsekte na die Roomse kerk voorgeskryf? Wanneer het Hy die aflaat ingestel, wanneer die fees van die rosekrans, wanneer die portiuncula fees? By watter geleentheid het hy dan die heilige Roomse en Spaanse inkwisisie ingestel? En wanneer en waarom het Hy die hele ordegeestelikheid ingevoer? Spreek en gee antwoord! Kyk, jy is alweer stom soos `n graf! Waarom? Dit weet ek! Dus, iets makliker!

[12] Sê my eers, waar staan dan in die Handelinge van die apostels geskrywe dat die apostel Petrus die werklik pousdom in Rome gestig het? Na my wete het hierdie apostel hom tydens die laaste jare van sy lewe in Babilonië opgehou en het daarvandaan ook `n brief geskryf na Jerusalem. Maar Rome en Petrus het mekaar net so min gesien as ek en die keiser van Sjina! Miskien het jy wel ander, betroubare gegewens en dus, spreek! Jy sê egter alweer niks. Daar skiet jou sekerlik weer niks steekhoudend te binne nie. Kyk net, wat se arme sukkelaar is jy tog nie met jou verdediging van die pous nie!

[13] Maar miskien kan jy my dan tog sê wanneer Christus of Petrus aan die pous die titel van "heilige vader" gegee het en die kussings van sy pantoffels, wat die waarde het van baie aflate, voorgeskryf het? Christus het na my wete immers streng verbied om wie dan ook, behalwe God alleen, goed en heilig te noem. So sou mens ook niemand Vader kan noem nie as God alleen, want onder mekaar sal ons broers en susters wees! Wie weet egter of Christus, die Heer nie naderhand, as daar miskien iets beter Hom te binne skiet, `n aantal onbekende aanvullende verordeninge laat uitvaardig vir ons leke, hoewel Hyself in die openbaar voor baie mense uitdruklik verklaar het: "Hemel en aarde sal vergaan, maar My woorde nie!"

[14] Ja my vriend, jy swyg nog steeds en jou ergerlike verleentheid is op jou gesig te lees. Wat moet dan daarvan tereg kom? Kyk, ek sou jou wel nog honderd sulke merkwaardige vrae kan stel, maar waarvoor het dit nut? Jy wil dan geeneen beantwoord nie! Daarom sou dit beter wees dat jy óf die pous heeltemal laat skiet en na die werklike Heer toe gaan en trou en openlik jou domheid teenoor Hom erken, óf op reis gaan na Boedapest, wat jy daar sien lê!"

[15] Die Fransiskaan sê eindelik: "Vriend, jy het my deur jou merkwaardige vrae op heel ander idees gebring, waarvoor ek jou baie dankbaar is. En ek wil jou volg na die enige waaragtige!"

[16] Miklosch sê: "Dus nie na Boedapest nie?" Die Fransiskaan sê: "Beslis nie. Want ek glo, dat `n gees in die stede van die wêreld maar verdraaid min kan soek! Wat sal `n gees, as hy hom daar êrens sou laat sien, nie alles kon oorkom nie?" Miklosch sê: "Kraam tog nie soveel hoogdrawende onsin uit nie. Watter sterfling kan dan ooit `n gees iets aandoen? Maar daar sou jy nie beter geword het nie, alleen maar slegter. Want van distels sal mens seker nooit druiwe kan oes nie."

[17] Die Fransiskaan sê: "Maar sê my nou, omdat jy werklik aansienlik wyser is as ek: Is dit dan die werklike Boedapest van Hongarye? Hierdie saak kom vir my bietjie verdag voor! Ek is van mening, dat die sigbare stad daar meer `n illusie as die werklikheid is." Miklosch sê: "Genoeg daaroor. Of dit wat jy sien die werklikheid is of nie, sal vir ons nog duidelik word. Ons gaan nou na die Heer, erken teenoor Hom ons groot dwaasheid en laat dan verder alles aan Hom alleen oor."

[18] Die Frasiskaan sê: "Maar dink jy nie, dat dit miskien goed sou wees as ons onsself eers tot die allersaligste maagd Maria wend, omdat sy immers ook daar is?" Miklosch sê: "Waarom nie dadelik na Adam en Eva en alle aartsvaders en profete nie? Tot wie het die graaf hom gewend? Tot niemand anders as tot die Heer self nie! En kyk, hy is by Hom selfs die naaste. Wil jy dalk nog nader aan Hom wees? Kyk ook na Robert Blum, aan wie die Heer die huis vol prag en grootsheid vir ewig gegee het; hy het homself ook vooraf vas en seker tot die Heer Self gewend en is oorgelukkig. Wil jy dalk nog meer hê?

[19] Die Fransiskaan sê: "Jy het gelyk! Daar kleef nog baie dwaashede aan `n mens, wat hy nie met een slag kan kwytraak nie. Wees maar ietwat geduldig, mettertyd sal alles wel goed uitdraai. Laat ons daarom nou na die Heer gaan en ons aan Hom toon soos wat ons is! Ek dink dat hy ons nie so presies as Rooms katoliek sal opneem nie."

[20] Miklosch sê: "Dit is die laaste waaroor ek my sal bekommer. Kyk, ek is tog seker behoorlik dom en bowendien ten opsigte van die Heer baie sleg van hart, en tog kon selfs ek, vanweë al jou blindheid onmoontlik hard teen jou optree, maar jou slegs vriendelik behandel as `n egte broer. Dan kan mens dit van die Heer, wat Self die suiwerste liefde is, tog wel in die hoogste mate verwag. Die Heer sal ook baie hard kan wees, veral ten opsigte van hoogmoed, gierigheid en nyd, en teen almal wat hulle aardse, armer broers as minderwaardige mense aansien, maar teenoor ons, wat ook in die eenvoudigste man steeds die mens sien, sal Hy sekerlik baie minder wees en daarom gaan ons nou vol goeie moed na Hom toe."

[21] Beide kom nou vinnig na My toe, maar Ek gaan hulle enkele tree tegemoet en sê vir Miklosch: "Wel, het broer Cipriaan tog nie die bene geneem nie? Daardeur is ek baie bly! Kom julle maar! Want brood en wyn is nog beskikbaar. Eet en drink daarvan volgens julle behoefte. Daarna sal Ek julle na die groot museum van die huis lei; daar sal julle oë groot rek! Gaan nou vinnig aan tafel en kom eers op julle kragte."

[22] Beide gaan nou skugter na die tafel, maar die Fransiskaan, wat presies voor Maria te staan kom, durf nouliks iets aan te raak.

[23] Moeder Maria glimlag egter vir hom en sê: "My beste broer Cipriaan, waarom is jy so verleë? Eet en drink! Dink jy dalk dat dit hier in die hemelryk net so hoogmoedig gaan as aan die howe van die konings op die donker aarde? O, geensins! Hier is ons almal kinders en bemindes van die Vader en is liefdevol, goedhartig en sagmoedig teenoor elkeen. Wees daarom nie meer so bedeesd nie, my beste Cipriaan!"

[24] Cipriaan, oorval deur eerbied vir Maria, val byna op sy knieë, maar Miklosch sê vir hom: "Wees nou nie so dom nie, beste broer, en doen wat die Heer Self en ons liewe Maria jou gesê het." Die Fransiskaan sê: "Jy kan maklik praat, want so fyngevoelig was jy seker nog nooit gewees nie. Maar ek, wat van my geboorte af al so gevoelig was, dat ek oor die dood van `n vlieg kon huil, word hier met uitsonderlike gevoelsaandoening gekonfronteer."

[25] Ek sê: "Moet nie daaroor bekommerd wees nie, dit is alles maar so in die begin. Mettertyd sal jy wel flinker word." Die Fransiskaan sê: "O Heer, U enorme minsaamheid sou iemand se hart van liefde tot U kan laat breek! Ek sê: "Wel, eet en drink nou maar! Kyk, Miklosch doen al goed. Robert, gaan haal nog meer brood en wyn. Ek merk aan Miklosch, dat dit vir hom goed smaak."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205