|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 125
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Geestelike ontwaking van die monnik. Selfgesprekke as sielespieël. Die Heer, die lewensanker van die skipbreukeling
125 Robert buk dadelik af en blaas sy asem saggies oor die na buite gegooide monnik. Hy begin vinnig te beweeg soos iemand wat uit `n diep slaap ontwaak.
[2] Toe die monnik homself na `n rukkie volkome opgerig het, vra hy: "Wie blaas lewe daar in my ingewande, want ek was tog deur my vyand gedood?" (in die geesteswêreld is naamlik almal wat uit die huis gegooi word, vir `n bepaalde tyd "dood", want uitstoot of na buite werp beteken in die geesteswêreld soveel as gewelddadige teregstelling of dood). Waar is ek tog nou? Dit is nag en baie donker, waarheen ek my oë ookal wend. Geen geluid dring tot my ore deur nie. Of ek ook verlam is, weet ek ook eintlik nie, want ek voel geen grond onder my nie. O, as ek tog maar êrens `n klein skemering kan ontdek!
[3] Op aarde was ek `n priester en het my voorgeskrewe dienste ywerig verrig. Weliswaar was meestal slegs suiwer aardse belange daarmee gemoeid en van `n geloof was daar eintlik nouliks sprake, maar desondanks het ek my amp nougeset vervul. Maar welke loon het ek nou geoes in die ryk van die dooies! O, God, as U êrens is, of onverbiddelike harde noodlot, waarom moes ek tog `n denkende, selfbewuste wese geword het? Waarom moes ek gelei word deur die mees onnatuurlike omstandighede, wat so swaar met vervloeking belas is. Wie wou dit gehad het, dat ek juis dit, en nie iets anders moes geword het nie? Wat kan `n kind eintlik daaraan doen, dat hy blind in die wêreld kom en dan geen dokter meer vind nie? O, harde noodlot, waar is jy, sodat ek my tot jou kan wend en jou kan vervloek! My hele lewe was tot nou toe een lang ononderbroke vervloeking, maar ek wil nie meer vloek nie, want dit is genoeg dat ek self `n vloek is."
[4] Ek sê vir Robert: "Blaas nou saggies oor sy ore." Robert doen dit.
[5] Die monnik luister en sê na `n rukkie: "Waar het ek beland? Want nou hoor ek iets soos die geruis van `n groot rivier en by die geruis iets soos die stemme van allerlei voëls. Werklik vreemd, die geruis word magtiger en die gesang van die voëls sterker. Sal die water my dalk oorspoel en sal die voëls hulle versadig aan my lyk? O, afskuwelike noodlot, waarom moet ek dan, terwyl ek ten gronde gaan, eers die verskriklikste stem van die verderf hoor? Kan jy jou dan nie soos `n sluipmoordenaar van my, magtelose, meester maak nie? Maar wat sit ek hier en mor? Die harde menseregters op aarde lees tog ook hulle doodsvonnis aan die misdadiger voor, voordat hy doodgemaak word. Vir die wrede hardheid van die mensehart is die dood van sy broer alleen nie genoeg nie, hy moet ook nog vooraf gemartel word."
[6] Daarop sê Ek vir Robert: "Blaas nou saggies oor sy oë." Robert doen dit.
[7] Die monnik begin daarop sy oë te vryf en sê: "Wat was dit nou? Ek het duidelik `n asemtog gevoel wat oor my oë gly. Nou sien ek skielik asof deur `n aandskemering, en voel weer vaste grond onder my. Kyk, daar is weer dieselfde huis waar my vyande my uitgegooi het! Ja, dit is presies dieselfde en ek hoor nou, in plaas van die rustige geruis van die water, die onheilspellende baie stemme van my vyande. Die gesang van die voëls is in my nabyheid, maar ek kan niks sien nie!
[8] Nou glo ek weer in een of ander God! Die generaal daar binne, wat my mis heeltemal ten onregte versmaad het, het gelyk dat hy die Godheid baie hoër skat as wat ek hom wou voorspeel. Maar …loon volgens werke! Julle het gelyk, dat julle my daaruit gegooi het! Waarom wil ek hier `n dom esel wees!?"
[9] Ek sê vir Robert: "Blaas nou saggies op sy mond en op sy bors." Robert doen dadelik wat Ek vir hom gesê het.
[10] Die monnik sê: "O, hoe heerlik en weldadig waai daar `n sagte briesie langs my mond! Was dit miskien `n sagte soen van `n engel? Ja, so moet engele soen. Ek voel dit ook in my bors, waarin daar `n geluksalige lewensgevoel deurdring, sodat `n engel my moes gesoen het, anders kon dit nooit so gelukkig in my geword het nie. Werklik vreemd, dit word ook nou merkwaardig steeds ligter in my. My hande word stewiger en in my voete voel ek `n weldadige lewensdrang. Dit is asof `n nuwe lewenskrag my hele wese begin deurstroom.
[11] Nou word ook die hele omgewing ligter, en die huis word ook nou duideliker afgeteken. Ag, dit is werklik `n baie mooi huis: Drie verdiepings en hierdie pragtige arkades en balkonne onder die vensters! Die imposante grootte en hoogte! Nee, die hele saak kom vir my nou voor soos `n droom! Ek het die huis tog al voorheen gesien, toe die generaal ons almal hierheen gebring het, maar ek kan my nie herinner dat dit toe so pragtig daaruit gesien het nie.
[12] Ek sal die huis graag weer wil binnegaan, maar dan sal ek verseker weer vinnig uitgesmyt word. Daarom bly ek maar hier buite en bewonder die ongelooflike praggebou in stilte, wat nou by die toeneem van die morelig steeds groter blyk te word. Ja, ek sal hier bly, want ek begin nou erg op my gemak te voel.
[13] Ek begryp egter nie waarom ek my hier so tuis voel nie; dit is asof net God weet hoe lank ek al hier tuis is. Tog is hierdie omgewing vir my so vreemd soos iets wat `n mens nog nooit gesien het nie! Ag, hoe heerlik is dit nie hier nie! Alles is ook in harmonie: Hierdie uitgestrekte tuin met grasperke, die pragtige bergkettings, hierdie villa op `n groot afstand omring en wat homself, veral in die oostelike rigting, steeds hoër verhef en na die weste en noorde in `n onafsienbare vlakte uitloop, o, dit is onbeskryflik!
[14] Ook sien ek hier naby my `n skitterende pawiljoen. Hoe sal dit wees as ek eers daarheen gaan? Van daar moet hierdie omgewing nog mooier daaruit sien. Ek het nou krag in my voete. Dit is wel baie hoog om op te klim, maar vooruit, na bo met my! Nee, maar ek sal tog hier onder bly; dit sou vir die eienaar nie aangenaam kan wees nie. Dit is ook baie goed. Maar noudat dit steeds ligter en helderder in my geword het, merk ek, dat die mens ook in die geestesryk honger en dors kan word. `n Stukkie brood en iets te drinke sou by hierdie verligting van die geesteswêreld werklik nie sleg te pas kom nie!"
[15] Ek sê vir Robert: "Sit nou brood en wyn voor hom neer." Robert neem vinnig die brood en die wyn van Helena oor en plaas dit op die monnik se skoot. Hy is stom verbaas en sien dadelik die gawe, maar nie die gewers wat rondom hom staan nie.
[16] Die monnik bekyk die brood en wyn vir `n rukkie en sê vir homself: "God sy geloof, nou het ek alles bymekaar! O, goddelike tafeltjie-dek-jou! Ja, so gaan dit in die geesteswêreld! `n Betowerende uitsig en begrip vir `n leë maag, waarlik, so sal dit wel uitgehou kan word tot in alle ewigheid, Amen! Maar asseblief, geen nag meer in hierdie omgewing nie, want die nag was hier huiweringwekkend!
[17] Nou sou ek ook graag wou weet, wie hier so hulpvaardig is. Geeste is hulle in elk geval, en sekerlik baie goed. Maar ek is tog ook nou `n gees. Hoe gebeur dit dan dat ek nie hierdie dienende geeste of engele kan sien nie? Waarskynlik is ek nog te veel onheilig om die heilige engelegeeste te aanskou. Tog sien ek wel die brood en die wyn. Nou ja, dit is wel goed so, die ander sal wel in orde kom. In Godsnaam sal ek eers met die brood begin en daarna met die wyn, wat besonder goed daaruit sien. God seën dit. Aan Hom alle eer en lof!
[18] Na hierdie woorde breek die monnik `n redelike groot stuk brood af, begin te eet en vind dat dit besonder heerlik smaak. Daarna eet hy die hele brood op en sê vergenoegd, toe hy daarmee klaar is:
[19] "Goddank! Dit was `n brood, so smaaklik soos `n ryp piesang uit Brazilië. Nou wil ek egter, in God se heilige naam, ook die wyn aanspreek! Dit is byna meer as `n liter, maar dit maak nie saak nie. Ek het immers op aarde dikwels, by die uitoefening van my amp een liter en soms nog meer as die heilige Sint-Janszegen ingeneem. Vooruit, in Godsnaam! Dit sal hier ook goed gaan. O jou liewe wyntjie! Wat `n heerlike goudkleur!"
[20] Hierop plaas hy die fles teen sy mond en neem dit nie weg voordat die laaste druppel opgedrink is nie! Hy kan hom nie genoeg verbaas oor die besondere kwaliteit van die wyn nie, en word bomate vrolik en tewens baie vroom gestem, sodat hy ten slotte aanhoudend uitroep: "O, Goddank. O, God is geprese!"
[21] Nadat hy homself vir `n tydjie vroom uitgelaat het, rig hy hom ten slotte regop en sê vir homself: "Hoe het hierdie maaltyd my nie versterk nie. Dit was geen aardse brood en geen aardse wyn nie! Dit was waaragtig brood en wyn uit die hoogste hemele, want die brood was geheel en al voeding en die wyn was geheel en al lewe. Nou eers leef ek waaragtig en die dood lyk asof dit vir ewig van my gewyk het! Ten slotte is die ou mite van Christus, wat Sy dissipels die Nagmaal (Avondmaal) met brood en wyn gevoed het, en die nuttiging daarvan, ter verkryging van die ewige lewe wat Hy aanbeveel het, dan tog nie so niksseggend soos wat heimlik deur die geleerde, hoër kerklikes geglo word nie!
[22] Hierdie leer van Christus, wat, soos dit in die vier evangelies opgeskrywe is, en tot in ons tyd gehandhaaf is, bevat heelwat teenstrydighede, wat `n gesonde gees nie so maklik kan verteer soos ek nou die brood en die wyn nie. Tog bevat dit ook weer ander, baie ware dinge, waaruit die mens kan uitmaak dat die stigter van so `n leer volstrek geen gewone mens, maar kennelik `n God moes gewees het. Ook gee die opnuut-tot-lewe-kom deur brood en wyn my byna `n onweerlegbare bewys, dat Christus eens werklik op aarde geleef het en met Sy God Seunskap nie so sleg daaruit kan sien as wat die hoë geestelikes wel heimlik dink nie!
[23] Wie weet of dit nie in hierdie mooi geesteswêreld tog kan gebeur, dat ek êrens die gees van Christus sal ontmoet nie. O God, mog ek dit belewe, dan sal ek Christus vra om my toe te staan om die pous en al die kardinale `n, sekerlik ongewenste, besoek te bring om hulle te toon wie Christus is en wie se geesteskinders hulle is! Waarskynlik sal dit nie veel nut hê nie, maar dit sal mense goed doen om hierdie rooi-kappie-draers, hierdie flagrante anti-Christene, te kan aantoon dat Christus geen fabel is nie, soos hulle meen, maar waaragtig dit is wat Hy aangaande Homself geopenbaar het. Hulle oë sal rek soos die mooiste volmaan!
[24] Maar nou hoor ek skielik die gefluister soos van mense om my heen en die lig van die oggend word voortdurend sterker. Daarom, baie stil nou! Miskien hoor ek wel duidelik uitgesproke woorde en sinne!"
|
|
|
|
|