|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 141
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die Franciskaan oor die liefde. Hy kritiseer die graaf. Sy aristokratiese antwoord. Die bemiddeling van Miklosch.
141 Die Fransiskaan sê: "Het u gehoor wat hierdie edele vriend gesê het? Mag die liefde ons leier wees. Met baie weinig woorde ontsettend baie gesê. Ja, die liefde, die groot liefde! Daarin lê alle geheime van die lewe verborge.
[2] Ons ken ook een soort liefde, maar dit staan by ons bekend as eieliefde en ten tweede vleeslike liefde, te wete die vlees van die skone geslag. Met hierdie liefde het beide van ons menige avontuur beleef. Van die Goddelike liefde egter, wat nog aan die kruis, onder die grootste pyniging, tot die ewige Vader om volledige vergewing vir Sy moordenaars kon bid, heer graaf, het ons beide nog nooit van gedroom nie. Tog bevat slegs hierdie liefde alles wat die lewe bepaal.
[3] Om ons vyande ten gronde te rig, hulle alle moontlike teenslae toe te wens en hulle oorlewer aan die hel…daartoe was ons wel in staat; maar hulle seën wat ons vervloek, goed doen aan hulle wat misdade teen ons begaan het en hulle wat ons vervolg, opneem…daarvan is geen spoor in ons harte te vinde nie. Tot nou toe het ons heimlik nog steeds op `n moontlikheid van wraak gesit en broei. Om sy broers te veroordeel uit `n magsposisie, is werklik geen kuns nie. Om broers vanweë meningsverskille te haat, is baie maklik. Om meester te word van eie hartstogte en alleen die suiwer goddelike liefde te laat heers oor alle swakhede van die blinde mense, hulle van ganser harte genade en vergewing van bo toewens en met alle broers geduldig en barmhartig te wees, vriend, dit is `n heel ander kuns!
[4] Sien u, waarde vriend, dit is nou juis die heilige Godsliefde, die geheim van al wat leef en waarvan beide van ons nog nooit gedroom het nie. As ek my nie vergis nie, het ons onbekende vriend juis hierdie liefde bedoel toe hy gesê het: "Mag die liefde julle lei." Hoe sal dit egter moontlik wees, as ons nie veel beter as kat en hond met mekaar omgaan nie? Eerlik gesê, heer graaf, waaroor ek my die meeste oor u vererg, is dat u nie eers u titel wil aflê nie. Ek het al lankal afstand gedoen van my priesterlike Fransiskanisme. Waarom het u dit nie al lankal gedoen met u "heer graaf" nie? Glo my maar op my woord, ek sou u as mens en broer nooit met één woord beledig het, as die "graaf" in u, wat in die geestesryk slaan soos `n tang op `n vark, my nie steeds meer gehinder het nie. Ek vra u nou ter wille van u eie heil; gee nou self vir ewig die "heer graaf" `n onmiddellike uitbrander! U sal dan nooit meer een woord van my hoor, wat u maar in die minste beledig nie, en ek sal u ook, vir alle beledigings wat ek u aangedoen het, van ganser harte om vergewing vra. Doen dit tog ter wille van hierdie edel vriend, uit wie se mond al soveel trooswoorde vir ons treurige toestand gevloei het,"
[5] Die graaf sê: "My beste Cyprianus, so maklik word van "die graaf" geen afstand gedoen nie! Hierdie vriend, wat baie wys skyn te wees, het so-iets dergeliks nog nie van my verlang nie, en as hy dit sou verlang, is dit die vraag of ek sy verlange dadelik tegemoet sal kom. Die geslag Bathianyi is naamlik al baie oud, begryp u dit? Die Fransiskaan sê: "O ja!" Die graaf sê: "Bly u wat u is, dan bly ek wat ek is! Wat kan dit u skeel of ek `n graaf is of nie? Was daar dan nie al vroom grawe, vorste en hertogte gewees nie? Ek dink dat die fyn opvoedingsbeskawing van `n aristokraat meer geskik sal wees vir `n suiwer liefde as die van `n gewone plaasjapie. God sou nie volmaak gewees het, as Hy `n groter welgevalle aan die onvolmaakte sou gehad het nie. Waarom word dan selfs in die hemel die mees volmaakte engele "aartsengele" genoem? Mense noem hulle ook wel "ligvorste" en "uitvloeisels van God se mag." God Self het dus al onder die eersgeskapene geeste `n bepaalde rangorde ingestel, wat Hy Self nougeset in ag neem by hemelliggame, berge, seë, plante en diere. En wel so, dat alles mekaar moet dien. Desnieteenstaande bly die son in die vervolg son en kan nie verlaag word tot `n gewone planeet nie. Ook die Chimboradzo bly Chimboradzo en kan nie verlaag word tot molshope nie. Tussen die Amasonerivier en `n klein stroompie bestaan tog hopelik ook `n duidelike waarneembare verskil.
[6] Sal u die Godheid nie versoek om sulke voorrangsregte in die groot natuur af te skaf nie? Waarom het Jehova dan destyds slegs een Saul, een Dawid en een Salomo tot koning en heerser oor die hele Joodse volk aangestel. Moes Hy na u mening nie liewer die hele volk tot koning gesalf het nie? So het God, na my wete, ook aan Dawid die belofte gemaak, dat Hy uit sy stam die toekomstige Messias van die wêreld sou verwek en dat sy stam ewig sou bly voortbestaan. Waarom moes Jesus nou juis uit Maria, wat uit die koninklike stam van Dawid voortkom, gebore word en moes Josef, wat tot dieselfde stam behoort, sy pleegvader gewees het? Het u nooit gelees hoe, ek glo in die boek van Kronieke, van Adam af die suiwer eersgeboortereg tot by Jesus aangetoon word nie? Waarvoor sou so-iets goed wees? Sou, na u mening, dit nie beter gewees het as alle mense, net soos die muise, aan mekaar gelyk moet wees nie?
[7] Beste vriend, hoe kan u `n rangorde, wat die Godheid tog Self ingestel het, in een oogwink ophef! Het die Godheid dit nie so beskik dat my stam in die graafdelike patriargaat opgeneem moes word nie. As God egter eenmaal iets bepaal het, mag mense dit dan weer na eie goeddunke ophef? Ek is `n graaf van Godsweë en daarom kan die eervolle voorreg my nie deur `n jaloerse Fransiskaan ontsê word nie!"
[8] Die Fransiskaan sê: "Ek het uit u, met allerlei twyfelagtige bewyse deurspekte redevoering, duidelik agtergekom, dat niks `n mens so swaar beval as om hom te verdeemoedig en sy soewereiniteitsvoorregte wat hy op aarde bereik het, op te gee nie. Ook het ek uit u geniale rede agtergekom, dat die hooggeplaastes op aarde dit baie moeilik vind om so klein te word soos die kinders, wat nog nie bewus is van die aardse voortreflikheid nie en wat volgens God se woord alleen in staat is om God se ryk binne te gaan! Maar ook kom dit by my op, wat ons Heer eens aan die ryk jongeling gesê het: Dat `n kameel eerder deur die oog van `n naald sal kan gaan as dat `n ryke of hooggeplaaste (wat een en dieselfde is) in die hemelryk kan kom!
[9] Vriend, is die mosterdsaadjie waarmee die Heer Self Sy ryk vergelyk, dalk `n Chimboradzo of `n Amazonerivier? O nee, dit is die kleinste onder die saadkorrels! As die Heer Sy ryk egter vergelyk met so-iets kleins, waarmee Hy sekerlik die uiterste deemoed van die mens wil aantoon, dan kan mens tog nie aanneem, dat daar op die oppervlakte van die klein korreltjie plek is vir `n Chiboradzo en `n Amazonestroom nie. Ook sê Hy dat die voëls van die hemel hulle intrek onder die takke van die uitgegroeide mosterdstruik sal neem. Sou Hy, ten gunste van die aardse groothede, nie eerder moes gesê het: "En onder sy takke sal griffioene* arende, lammervangers, volstruise hulle intrek neem!", om daardeur aan te toon dat mens op aarde ten minste `n baron moet wees om in die ryk van die hemele opgeneem te word? *(fabelagtige dier met die kop en vlerke van `n arend en die liggaam van `n leeu),
[10] Og, my beste heer graaf, u kan met soveel bewyse na my toe aankom, tog sal ek steeds by hierdie uitspraak van Christus bly: "Wat vir die wêreld groot, hoog en vol praal is, is vir God `n gruwel!" Ek sou wil wed, dat ons in die hemelryk nóg `n Dawid, nóg `n Salomo as koning, en geen keiser Karel die Grote, geen heilige koning Stefanus van Hongarye en dus ook geen vorste en grawe sal teëkom nie, maar as hulle al in die hemelryk verblyf het, dan sal hulle suiwer, mekaar dienende broers, wat almal één God, één Heer en één Vader het, wees! In die hel, daarenteen sal op die beste nog baie van die hardnekkige aristokrate kan wees, wat mekaar nog steeds eer bewys! Ja, ons edele vriend daar mag my `n oorveeg gee, as ek iets onwaar gesê het. Ek wil u hier maar net sê, hoe ek u woorde begryp het. Ons edele vriend mag as skeidsregter tussen ons albei optree, as u niks daarteen het nie!"
[11] Die graaf sê: "O, daarteen het ek niks in te bring nie, maar na my mening het ons geen skeidsregter nodig nie, want u het gelyk op u manier en ek op myne. Ek wil u toekomstige saligheid niks in die weg lê en u laat my van nou af aan na my eie gaan! So speel ons beide sonder skeidsregter op `n gemaklike manier gelyk!" Die Fransiskaan sê: "By Hom beteken doop en salfolie niks nie! Elkeen kan gewen word, selfs `n Judas Iskariot, maar by `n Hongaarse edelman is elke goed bedoelde poging tevergeefs. Daarom: "requiescat in pace*!" *(RIP rus in vrede)
[12] Daarop sê Miklosch, wat ondertussen met die Vreemdeling gespreek het: "Vriende, ek sê vir julle, julle rusie klink vir my na die gedors van koring deur klein kindertjies, wat in die hoek van die skuur met `n klein speelgoed dorsmasjien op `n leë strooihalm slaan.
[13] Ek sê vir julle: Wil julle of kan julle nie verbeter nie, omdat ons almal, van A tot Z, voor mekaar sleg is. Wat baat dit ons dan, as ons mekaar nog so wys onderrig gee, maar nie met wyse en goeie dade vorendag kan kom nie, en die leerling vir die leraar sê: "Hoe kan jy my leer om die goeie weg te betree, terwyl jyself die verkeerde bewandel? Skep eers orde in jouself, indien jou woorde vir my welgevallig moet wees! Wag tot ekself by jou kom en sê: "Broer, jou ordening beval my. Wy my in, in al haar voordele en grondbeginsels!" Ook ontbreek ons aan elke ervaring in hierdie nuwe wêreld en in wese weet ons niks van alles af en oor die verhoudinge in hierdie wêreld nie. Hoe sou ons mekaar dan iets daaroor kan leer?
[14] Beste vriend Cyprianus, jou redenering was weliswaar baie evangelies Christelik en sou op aarde miskien `n baie goeie uitwerking gehad het, maar watter effek het dit op my vriend Bathianyi teweeggebring? Juis die teendeel van wat jy wou bereik. Wat is die oorsaak daarvan? Niks anders as wat die Heer tot die Fariseërs gespreek het nie, naamlik dat `n blinde nie `n ander blinde kan lei nie!
[15] Kyk, hier in ons midde bevind hom `n buitengewone ervare leier, wat baie goed kan sien in hierdie wêreld. Hy versoek ons almal dat hy ons eenstemmig op die goeie weg sal lei. Ek is vas daarvan oortuig, dat één woord van Hom meer uitwerking sal hê as wanneer ons blindes nog `n halwe ewigheid `n leë strooihalm sou bly dors!"
[16] Die graaf sê: "Ja, met die voorstel is ek volkome eens. Daarom sal ek ook alles doen, maar die goeie Cyprianus, wat `n egte lomperd is, kan maar wat doen met sy "requiescat". Ek ontken nie dat hy ten slotte goed en eerlik gespreek het nie, maar wie gee hom die reg om my daarmee te onderrig? Hy is tog geen haar beter as ek nie, hoe wil hy my dan leer?!
[17] `n Ware leer moet van `n sagmoedige, suiwer en verligte hart uitgaan en daar moet geen satiriese frases in voorkom nie, dan sal dit steeds die beste uitwerking hê. Maar indien so `n suiwer leer duidelik met ironie deurspek is, stig hy meer kwaad as goed, As ek my moet verbeter, mag ek nie beledig word nie, maar alleen sagmoedig en broederlik oortuig word. Vriend Cyprianus byt met sy leer meer as die skerpste paprika, maar jou voorstel, broer Miklosch, is iets anders. Daaraan kan mens homself hou en ek sal my ook daaraan hou!"
[18] Die Fransiskaan sê: "Ja, as julle almal dit wil, wat lankal my vurigste wens was, is ons almal met mekaar eens. Laat ons daarom hierdie liewe vriend vra, of hy ons die goeie weg sal wys, wat ons dan ongetwyfeld sal bewandel!"
|
|
|
|
|