|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 142
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Preek van die Vreemdeling tot die neiging tot oordele. Teenwerping van die Fransiskaan. Die Vreemdeling oor die ordening van die hart
142 Die Vreemdeling sê: "Beste vriende, ek verlang van julle geen bedes nie, maar slegs `n volgsame en lankmoedige hart…al die ander sal vanself kom en julle sal vir ewig geen gebrek meer ly nie. Voortaan moet julle mekaar nie meer vyandig gesind wees vanweë `n meningsverskil nie, nóg mekaar van allerlei sonde beskuldig, asof julle die reg sou hê om mekaar te oordeel en te veroordeel.
[2] Aangesien julle almal nogal goed tuis skyn te wees in die heilige Skrif, moet julle tog ook weet, dat hy wat vir sy broer sê: "Jou dwaas", het die ewige vuur van die hel oor hom afgeroep. As julle dit weet, hoe kan julle met mekaar twis? Elkeen van julle sit self vol foute en gebreke en het genoeg te vee voor sy eie deur. Laat niemand homself bekommer oor die foute van sy broer nie, want dit is die grootste gruwel voor God.
[3] Wel weet ek helaas, hoe broers op aarde teen mekaar te velde trek uit suiwer hoogmoed en hemeltergende hebsug. Elkeen vind homself onberispelik ten opsigte van sy broer, maar skilder hom dikwels af in al die kleure van die hel. Besonder onwaar word die welgestelde op aarde deur die armes beoordeel, waartoe dit weliswaar tot die inhalige gees aanleiding gee. Omdat die rykes steeds die magtigste is en die arme by hom werk moet soek om sy brood te verdien, doen hy dit nie uit liefde nie, maar uit noodsaak. Dit sit hom dikwels verskriklik dwars in die krop dat hy aan sy welgestelde broer ondergeskik moet wees, terwyl hy tog liewer op alle moontlike maniere oor hom sou wou heers. Dat daar op aarde sulke verhoudinge bestaan, is ten opsigte van God se woord, treurig genoeg.
[4] Hier in die ryk van die geeste, waar van armoede en voorrang geen sprake meer kan wees nie, mag sulke aardse haatlikheid nooit meer voorkom nie. Want ek sê dit ronduit; wie sy broer haat om welke rede ookal, in hom is God se genade nie. Sy siel is `n duiwel vol hoogmoed en `n gees van onversoenlikheid, en dit is sy voortdurende wens om sy broers, omdat hulle hom `n ingebeelde onreg aangedoen het, alle moontlike teenslae as bestraffende lering te sien ondergaan.
[5] Julle kan mekaar so goed en tereg `n les leer, maar wat sal dit baat, as daar eersug, heerssug, eiebelang en baie hebsug daaragter sit? Wie sy broer met goeie gevolge wil verbeter, moet eers die balk uit sy eie oog verwyder en dan eers vol liefde sê: "Dierbare broer, ek sien dat `n splinter jou oog vertroebel; staan my toe om na jou toe te kom met die vooruitsig om dit uit te haal". Kyk, so sal elke les wat die broers mekaar gee, die allermooiste resultaat lewer. Wanneer broers mekaar dikwels ongevraagd leer, om hulle alleen maar te laat sien dat hy die wysste en beste is, is die beste les nutteloos en maak dit alles maar net erger!
[6] Kyk, ek is `n regte leraar, want ek verlang niks anders van julle nie as dat julle dit aanneem, wat vir julle eie beswil van belang is. So moet julle julleself ook ten opsigte van mekaar gedra, dan sal julle woorde geseënd wees.
[7] Broer Miklosch het hom so teenoor julle gedra en sy woorde het dadelik toegang tot julle harte gevind. Het Cyprianus en Bathianyi ook so gespreek, dan sou die hele gemeenskap al heelwat treë verder gewees het. Maar hierdie twee wou mekaar baie evangelies bewys dat elkeen van hulle die voortreflikste was, en sodoende het daar geen seën op hulle woorde gerus nie.
[8] Lê nou maar alles af wat ook maar die skyn van eersug het, anders kan julle geen kinders word van een en dieselfde Vader in die hemel nie. Wat sou dit julle kan baat, wanneer julle, met julle oor en weer lesse, dit so ver sou bring, dat die een die ander `n hele wêreld sou ontneem, maar daarby aan sy eie siel groot skade sou ly? Wat sal hy dan moet voorlê om sy eie siel uit die poel van die verderf te verlos?
[9] Julle ken tog die gebed van die Heer? Kyk, daarin word onder andere gesê: "Vergeef ons ons sonde, soos ons ook ons broers vergewe wanneer hulle teen ons gesondig het!" Wanneer julle egter allerlei moeilike versoeningsvoorwaardes stel, wat dikwels nouliks deur die teenparty opgebring kan word, waarop baseer julle dan die bekende bede tot God?
[10] In die Skrif staan ook: "Seën die wat julle vervloek en doen goed aan hulle, wat julle haat en julle kwaad aandoen!" Wanneer julle mekaar as lotgenote wil kwets, wat sou julle dan wel nie met julle vyande doen nie? En tog sê ek aan julle, dat niemand van julle God se ryk sal binnegaan, voordat hy, net soos Christus aan die kruis, uit die diepste van sy hart sal uitroep: "Heer, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!"
[11] Is julle daarmee eens, gaan dan nou met my die huis binne; so nie, bly dan en soek self `n herberg, want julle wil is vir ewig vry!"
[12] Bathianyi sê: "Vriend, jou woorde is weliswaar soos skerp pyle en tref presies die sentrum, maar tog verwond dit geen enkele hart nie. Want volgens die enige ordening waarin `n gemeenskap gelukkig kan lewe, is dit volkome waar. Ek, en hopelik ons almal, neem dit dankbaar aan. Na aanleiding van jou woorde vergeef ek ook van ganser harte al my aardse vyande, want hulle handel werklik almal in blinde oorwinningsroes teenoor ons, hulle vermeende grootste vyande. God, die Heer vergewe hulle dit; wat my betref, het hulle geen skuld meer ten opsigte van my nie.
[13] Ek wil net die Heer van die hemel en aarde vra of Hy nie my vrou en kinders wil onthou en hulle so lei, dat hulle langs `n beter weg tot God kan kom as wat dit by my die geval was nie!"
[14] Die Vreemdeling sê: "Maak jou maar nie besorg oor dit wat onder op die aarde gebeur nie, want daarvoor sorg die Heer goed, wat hier baie nader aan julle is as wat julle dink. Wat jou vrou en kinders betref, was `n haastige aardse vernedering, waarsonder jy nouliks kon kom waar jy nou is, van groot belang. Deur hierdie vernedering het hulle tog heelwat meer geleer ken oor die nietigheid van alle aardse goedere en dit heimlik selfs verafsku. So sal dit vir hulle, na die aflegging van die liggaam, makliker word om in die ryk van die lig te kom. Maak jy jou oor niks meer bekommerd nie, as die liefde vir God en jou broers; al die ander sal self na jou toe kom!"
[15] Die Frasiskaan sê: "Vriend, ek is dit wel volkome mee eens wat my lotgenote hier betref, maar met die onbarmhartige duiwels op aarde is ek sekerlik nie so vinnig klaar as vriend Bathianyi nie. Die hoogste wyse Godheid moet tog immers goed insien, dat dit geen kleinigheid is om op aarde soos `n straatrower tereggestel te word nie. Vir so `n dergelike misdryf verlang ek van God `n gepaste straf vir ons regters, wat bestaan uit soortgelyke tugtiging, anders sal my hart nie maklik tot ruste kom nie."
[16] Die Vreemdeling sê: "Vriend, hulle wat jou veroordeel het, behoort ewegoed aan die Heer, net soos jy. Neem ons egter eers aan, dat jy deur onversigtigheid met jou hande `n verwonding aan jou voete veroorsaak het, sodat jy jou hande vir die pyn verwens. Dan kom daar iemand na jou toe en sê: "Vriend, dit het jou eie hande gedoen. Neem daarom wraak en kap hulle af, want hulle is nie meer werd om deel van die liggaam te wees nie!" Sê nou net, sou jy op die voorstel ingaan en dit uitvoer?
[17] Die Fransiskaan sê: "Teen so `n dwaasheid sal die liewe Godheid `n mens tog wel behoed! Dit sou baie gek wees om aan `n pyn nog een tienvoudig toe te voeg."
[18] Die Vreemdeling sê: "Aha, daar het ek jou waar ek jou wou gehad het. Wanneer `n tweede pyn as straf, as gevolg van die afkap van jou hande, vir jou nie sin maak nie, waarom sou dit dan die Godheid behaag om Sy eie ledemate af te kap, wanneer hulle hulleself onversigtig gedra het teenoor die ander? Hoe kan jy van God verlang dat Hy Homself aandoen, wat jy jouself nooit sou aandoen nie. Soos wat jy met al jou ledemate van jou liggaam as `n volledige wese bestaan, so is ook die Godheid met al Sy geskapene wesens `n volledige geheel en probeer steeds al die siek dele so goed as moontlik te heel en geskik te maak vir hulle ewige bestemming. Wanneer God die Heer, weet hoe om jou wonde op `n ander en veel beter manier te genees, sal jy dan nog sin hê op wraak teenoor jou aardse vyande?"
[19] Verleë sê die Fransiskaan: "Ja, dan natuurlik nie meer nie! Dan sê ek sonder meer in godsnaam: "Wat God die Heer goed vind, sal voortaan ook goed wees vir my! Ek hoop egter, dat die liewe Godheid my gesindheid, wat deur treurige omstandighede veroorsaak was, nie as `n fout sal aanreken nie."
[20] Die Vreemdeling sê: "Wanneer jy met jou hart in die reine is, dan is jy dit ook met God. Het jy aldus al jou vyande vanuit die diepste van jou hart vergewe, dan is ook jou skulde daardeur voor God uitgewis. Jy kan dan met `n baie rustige hart en gewete tot God bid: "Vader, vergeef my al my sonde, soos ek nou almal vergewe het wat teen my gesondig het!" En die Vader sal jou alles vergewe, nog voordat jy Hom daarvoor gevra het!"
|
|
|
|
|