|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 147
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Bathianyi se wroeging. Die Heer oor die rypingsproses in die mens tot die hoogste godsdiens. Die nog blinde Fransiskaan kry duidelike wenke van Miklosch.
147 Die graaf sê baie berouvol uit liefde en eerbied: "O Heer, by U almagtige Naam, dit is vir U sekerlik makliker om te sê: "Staan op en kom”, as vir my, sondaar, om op te staan voor U, die ewige Heer van die oneindigheid! O Heer, ek, `n dom mensegees, en niks voor U nie, en U, die oneindige in alles en alles! En ek moet U begelei? Nee, hierdie gedagte is te oorweldigend vir `n geskape gees. O, laat my tog eers meer tot myself kom, want dit duisel my van U oneindige grootsheid."
[2] Ek sê: "Maar beste broer, nou begin jy My erg te verveel met jou lofredes oor My eindelose mag, krag en wysheid! Kyk, kinderagtige broer, Ek moet as God immers wees wat Ek is, omdat jy uit My en naas My kan wees wat jy is en nog veel meer kan word. Bowendien is jy tog ook My werk, en wanneer jy jouself as My werk as `n volkome niks aansien nie, beskimp jy selfs vir My! En dit wil jy sekerlik nie doen nie!"
[3] Die graaf sê: "Nee Heer, ewig nie, van U uit is ek enorm groot, maar vanuit myself is ek niks! Wel, ek staan al op, want U woord het my heeltemal opgerig." Daarop kom die graaf moedig na My toe en sê: "Heer, Vader God! Ek is nou deur U liefde en genade heeltemal genees en die oordrewe vrees vir U het ook verdwyn, maar in plaas daarvan brand daar `n grenslose liefde tot U, in die vorm van `n groot hartstog, in elke vesel van my hart. Langsamerhand sal ook hierdie eienskap van die geestelike lewe miskien ietwat tot ruste kom, maar nou sal ek U met al my lewenskrag wil omarm en sterwe in die onbeskryflike saligheid van die liefde tot God. Heer, laat my tog U omarm en U aan my van liefde brandende hart druk.”
[4] Ek sê: "My beste broer, dit sal nou vir jou skadelik wees, omdat jou gees nog te min vastigheid het in jou siel, maar wanneer jou gees weldra sterk genoeg sal wees, sal ons mekaar ook sonder vrees vir nadelige gevolge kan omarm. Ek is weliswaar, vir sover dit moontlik is, `n mens net soos jy, maar in hierdie mens woon nietemin die volheid van My Godheid in lewende lywe en jou gees sou dit nie kan verduur nie. Hy sal alle bande verbreek en homself dan verenig met die Godheid in My as synde sy ewige oergrond. Wanneer jou gees homself egter volkome in jou georden het, en vervul sal wees van alle kragte van die liefde uit My, dan sal hy My omarm sonder om nadelige gevolge te verduur!
[5] Kom nou egter vinnig saam met My na die ander, sodat ook hulle almal verhef kan word tot jou vlak van insig. Hulle weetgierigheid het al uitsonderlik groot geword, want hulle weet nie watter resultaat jou gesoek na Christus opgelewer het nie. Alleen Miklosch het `n sterk vermoede gehad, dat die Fransiskaan hom egter dadelik teengespreek het, met die gevolg dat ook die res van die geselskap hulle by sy mening aangesluit het. Daarom moet ons vinnig daarheen om die Fransiskaan se vrypostige mond te snoer.
[6] Die graaf sê: "O, Heer, ewige goedheid en sagmoedigheid, dit is vir my heeltemal uit die hart gegryp! Hierdie monnik is weliswaar op sigself wel `n goeie siel, as daar buite U nog iets goeds kan wees, maar sy idees oor die verhouding van God tot Sy skepsele en omgekeerd is onverteerbaar. Ek vra U, Heer, neem U hom maar `n bietjie onder hande, soos mens gewoond is om te sê." Ek sê: "Baie goed, maar nou `n bietjie sagter, want hulle kom ons al tegemoet!"
[7] Ek gaan nou die geselskap met die graaf tegemoet. Die Fransiskaan roep die graaf al van ver af toe: "Wel, beste graaf, welke resultate het jy geboek by die deursoek van die saal? Het jy Hom êrens gevind, die Heer oor lewe en dood en oor hemel en aarde? Ek het die indruk, dat die befaamde tweelingbroers nog steeds op hulle laat wag, want ek sien nog geen derde by julle nie."
[8] Die graaf sê: "Vriend, dit is ook gladnie nodig nie, want ons het genoeg van mekaar, ook sonder die tussenkoms van `n derde; begryp, meneer wysneus?" Op hierdie oomblik gee Miklosch die Fransiskaan `n por in die ribbes en sê: "Cipriaan, merk jy niks? Jy sal die hoeksteen nie vroeër gewaar word tot wanneer jy jou neus daarteen stamp nie!" Die Fransiskaan sê: "Hoeso, wat se hoeksteen? Waar is dan een hier?" Miklosch sê: "Ek glo dat die graaf jou baie duidelik gesê het, maar tog sien jy nie deur die bome die bos nie!"
[9] Die Fransiskaan sê: "Verklaar jou ietwat van naderby. Wat is dit dan, wat die graaf vir my sou gesê het? Hy sê dat hy en ons onbekende vriend ook sonder die tussenkoms van `n derde genoeg het aan mekaar. Is dit dan so-iets buitengewoon? Die derde, die Allerhoogste, sal waarskynlik nog baie lank op hom laat wag, omdat niemand van ons sekerlik, gesien die morele gesteldheid van Sy wese, ons waardig kan ag om God te aanskou nie. Solank iemand egter `n waardige vriend van God aan sy sy het, wat hom die korrekte pad na God wys, kan hy ook maklik sê: "Ons het genoeg van mekaar, ook sonder die tussenkoms van `n derde;" Vanselfsprekend alleen voorlopig, want dit sou treurig wees as ons nooit tot die aanskoue van God sou kom nie."
[10] Miklosch sê: "Vriend, jy is hardgebak. Verder kan ek jou niks meer sê nie, omdat ek jou, deur `n innerlike stem gewaarsku, niks anders mag sê nie. Daar sal op aarde verseker nog baie sulke hardgebakte mense wees soos jy, maar hulle sal makliker genees word as jy, alhoewel hulle hulleself op aarde nog in die vlees bevind, terwyl jy jou as gees hier op God se akker bevind! Om jou oë egter so groot as moontlik oop te maak, sal ek jou `n passende gelykenis vertel. Kyk, op aarde was daar eens `n groot en magtige heer en gebieder. Omdat dit vir hom belangrik was om sy onderdane persoonlik te leer ken, het hy hom dikwels as `n gewone mens verklee en besoek self meer as een maal as bedelaar hulle huise, veral die van die rykes, wat deur hom met die sorg van die armes belas was. Gelukkig is diegene wat hy, as onbekende, binne die voorgeskrewe wetlike orde wat hy voorgeskryf het, aantref! Maar wee diegene wat hulle nie aan hierdie orde hou nie! En kyk, die Heer van die hemel en alle wêrelde skyn iets dergeliks te doen. Weliswaar nie met die bedoeling om Sy mense op die proef te stel en daaruit te sien hoe hulle werklik is nie, maar om hulle die geleentheid te gee om hulleself te ondersoek, waartoe Hy hulle deur Sy liefde en wysheid geleentheid bied! Ook hier sou ek byna wil sê: Wee diegene wat deur hulle eiesinnigheid, deur hulle opgestelde blindheid en stompsinnigheid, vir Hom, wat Sy lankmoedigheid betref, al te gevoelig op die proef stel! Het jy hierdie gelykenis begryp?"
[11] Die Fransiskaan sê: "Taamlik goed, maar wat moet ek daarmee maak? Moet ek daarom dalk die onbekende vriend as `n verklede Heer van hemel en aarde aansien? Of is dit miskien iemand anders hier? Is dit uiteindelik die met die stralende hoed? Maar die ken ek, omdat hy op aarde van my stand was. Hy moes dus eers hier hierdie uitstraling van sy hoof gekry het, want op aarde was daar sekerlik niks wat minder gestraal het as sy hoof nie. Sê my dus, waar is die verklede, sodat ek daarheen kan gaan, voor Hom neerval en hom op gepaste wyse kan aanbid!"
[12] Miklosch sê: "Vriend, ek het jou al byna te veel gesê en sê nou geen woord meer verder nie. Daar is die graaf met ons groot vriend; wend jou tot hom en vra na die verklede! Maar dit staan vas: `n Paap is op aarde gewoonlik die hardnekkigste wese en in die geesteswêreld wil hy die Heer nie herken nie, ook al loop hy teen hom vas! Weet jy wie in Jerusalem die meeste blind en verstok was? Kyk, dit was die pape (priesters)! En wil jy weet watter mense op aarde die minste geneig is om `n ware geloof te aanvaar? Dit was weer die pape, veral die Rooms-Katolieke, waartoe jy ook behoort. Nou het ek jou genoeg gesê; God gegewe, dat dit jou mag baat! Gaan nou na hulle toe en praat met hulle."
|
|
|
|
|