|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 137
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die trots van die graaf kom weereens na bo. Aardse politiek vanuit die perspektief van die hiernamaals. Die generaal en Robert oor die twis van die geeste. Die groot geduld van die Heer
137 Die Fransiskaan sê: "Heer graaf, daar is nie veel daarop te sê nie. Die ongelyk is nou eenmaal aan ons kant, nou kom dit slegs op God se genade neer. Neem Hy ons aan, dan is ons nie verlore nie. Laat Hy ons egter in die steek, dan is ons vir ewig verlore."
[2] Opgewonde sê die graaf: "Wat sê u daar, dat die ongelyk aan ons kant sou wees? Waar leef die God wat dit aan my sou kan bewys? Stam ons nie regstreeks van Attila af nie? Het ons voorouers nie die pragtige Hongarye vir ons bevogtig nie? Het ons nie die land vir meer as `n duisend jaar in ons besit gehad nie? Ons self het ons konings gekies en moes ons nooit beperk het tot die Habsburgse huis nie. Dat ons dit so lank kon handhaaf, was ons vrye Magjaarse grootmoedige wil. Hoe kon ons verkeerd gedoen het deur hom, wat ons nooit tot koning gesalf het nie, afvallig te verklaar van die Hongaarse troon, omdat hy ten onregte op die troon aanspraak gemaak het. Sy oom, die regmatige koning van Hongarye, het immers volgens die Pragmatiese Sanksie, nooit die reg gehad om, sonder ons instemming, in sy plek `n koning vir ons magtige ryk te bevestig nie! En nou spreek u oor ongelyk aan ons kant?"
[3] Die Fransiskaan sê: "Maar om Godswil, praat tog nie hier in die geesteswêreld so ultra-Magjaars dom nie! Sê my net, het die Godheid die land dalk aan Attila geskenk, soos die beloofde land Kanaän aan die Israeliete. Of het Attila dit nie veeleer met die wapen verower en het dit so onregmatig geroof van die oorspronklike bewoners nie? Is dit `n regmatige besit voor God? Oostenryk het werklik `n ouer reg op ons ryk as wat ons ooit wil toegee. Oostenryk het Hongarye herower van die Turke en dit weer aan ons teruggegee met die voorbehoud dat die Habsburgers `n eerste reg sou hê op die kroon van Hongarye. Waarom doen ons dan nou so asof ons ons eie boontjies uitgedop het. Sien u, dit kom van ons hoogmoed. Ons het onder die septer van Oostenryk te ryk en te magtig geword en wou tot ons ryk selfstandig beheer en baie ander dinge self doen.
[4] Maar dit het die goeie God nie geval nie en hy het `n streep deur ons rekening getrek. U, heer graaf, as `n egte seun van Attila, staan nou vry om protes aan te teken teen die almagtige God, Wie weet wat se merkwaardige gevolge dit sal hê. Ek wens u baie geluk en nog mooiweer daarby!
[5] Weet u dan nie, dat daar in die heilige Skrif staan, dat alles wat in die wêreld groot wil wees, vir God `n gruwel is? Ons wil egter groot en magtig wees, en nou sit ons mooi in die vet. As ons hierdie domhede nog ietwat verder op die spits gaan dryf, kan dit gebeur dat ons `n egte helse stukkie gebraai met swawelslaai as ewige lekkerny opgedis gaan kry! Dan bly daar vir ons verder werklik niks meer te wense oor nie; so `n klein vuurproefie het ons nou inmiddels al! Laat ons maar volhard in ons halsstarrigheid, dan sal dit nog beter word! `n Ou spreekwoord sê: "Wat die hel wil, sal haar nie gespaar bly nie!" Ek is nou uitgepraat!
[6] Die graaf sê: "Baie goed gedoen, meneer swart-geel! Dit is net jammer, dat u nie twaalf maande vroeër met hierdie argumente op aarde vorendag gekom het nie; dan sou dit moontlik gewees het om `n winsgewende loopbaantjie by die Weense ministerie te gekry het. Werklik, so `n pragtige argumentasie sou selfs `n vors soos Metternich, nie kon misverstaan het nie!
[7] Mog u tog spoedig met Jesus, die Heer, `n vriendskaplike ontmoeting hê, probeer u Hom daartoe beweeg om enkele hemelse onderskeidingstekens na die aarde te stuur en dit as bewys van Sy welgesindheid aan diegene uit te reik, wat hulle tydens die gebeurtenisse rondom ons ophang, die meeste daadkrag getoon het! Want sien u, die ophang van mense moet by Jesus, die Heer, wel `n besonder hoë waarde hê, omdat Hyself `n soortgelyke dood gesterf het. Nee, ek het nooit gedink dat u so `n welgesinde persoon sou wees nie. Die ophang moes u besonder goed gedoen het, omdat u nou die Oostenrykse regering so dankbaar daarvoor is!"
[8] Die Fransiskaan sê: "Beste heer graaf, u wil my soos `n kwaaijonge pla, maar dit doen niks aan my nie, want ek weet hoekom ek so gepraat het. U het glad niks van al my woorde begryp nie, daarom word dit u ook vergewe wanneer u so praat! Het ek dan die handelswyse van die Oostenrykse regering geprys? Meneer, ek ken die gebreke van Oostenryk netso goed as wie dan ook. Die Oostenrykse keiser is soos `n soort Vesuvius vir die hele geweste van Oostenryk, dit weet die Heer Jesus. Ons wil egter met alle geweld `n ewebeeld daarvan word en dit was nou juis verkeerd. Daarom het ons nou, vanuit God se standpunt bekyk, die ongelyk aan ons kant!
[9] Ons het nou `n plig om die ongelyk in te sien, en dit in ons hart teenoor God, die Heer toe te gee. Het God nie gesê nie: "In My toorn het Ek julle `n koning gegee!" As die koningskap al `n gevolg van die toorn is, waarom streef ons dan daarna? Ons het ook die toorn van God gekry as eerste toegif op die koning. As ons, in stede van God se toorn, vir Sy liefde gestry het, dan sou dit waarskynlik ligter om ons gewees het, as wat nou die geval is!
[10] Jesus wil egter, soos dit vir my nou helder voor oë staan, op sekere hoogs wyse gronde, die aantal regente verminder en nie vermeerder nie. Sodoende het ons, wat in Europa nog `n nuwe koninkryk daarby wou stig, op die korrekte oomblik by Hom aangeland. Moet ons hier dalk nog aan die verwesenliking van daardie idee bly vasklou en daardeur vir ewig ten gronde gaan? Heer graaf, laat vaar tog daardie aardse hoogmoedswaansin. Dit is genoeg dat ons daarvoor aan ons einde gekom het!"
[11] Die bewese generaal, wat hom in die eerste saal van die huis bevind het, sê vir Robert, wat so flussies saam met Helena uit die tweede saal gekom het: "Luister, dit is `n langdradige geskiedenis! Wat daardie ongelukkige geeste daar buite alles met mekaar babbel, is werklik ongehoord! Daar oortref die een domheid werklik die ander een. Nou twis die kêrels daar al `n halwe ewigheid oor, of hulle die aangebode hulp van die Heer sal aanneem of nie! Nee, so-iets sal in die hele oneindigheid nie gou `n tweede keer kan voorkom nie! Hoe lank sal ons nog geduld moet hê met hierdie kletsmajoors?
[12] Robert sê: "Beste vriend en broer, die Heer is hier die lewende maatstaf vir ons almal. Kyk maar deur hierdie deur, die saal in, en kyk hoe die Heer `n onderhoud met Sy mense voer en juis daaroor spreek hoe mens verder met hierdie dertig te werk moet gaan. Bespeur julle wat almal hier is dalk die geringste ongeduld op Sy heilige aangesig? Die generaal sê: "Nee wragtig! Goddelike rus en ewig dieselfde hoogste grasie straal uit Sy hele wese uit."
[13] Robert vervolg: "Sien broer, dit is ons maatstaf vir geduld en liefde. Vir Hom is daar geen vyande nie, die konserwatiewes is net so goed Sy kinders as die radikales. Hy sorg vir almal. As een of ander vader op aarde baie kinders het wat in twis en tweedrag met mekaar lewe, dan bestraf hy die kwaadwilliges, maar sy liefde, wat teenoor almal gelyk is, kan hy tog nie verloën nie en daarby doen hy steeds sy bes om vir almal so goed moontlik te sorg. Wat beteken die konserwatiewe of radikale karakter van die mens vir die Heer op aarde? Hy tugtig die kwaadwilliges ook wel, maar juis deur hierdie tugtiging sorg Hy des te meer vir hulle. Hy is nog steeds dieselfde, wat die nege-en-negentig skape in die kraal agterlaat om die honderdste te gaan soek, wat Hy dan met die grootste vreugde in Sy skaapskraal bring, wat aan alle kante omhein is deur Sy goddelike genade, liefde en erbarming.
[14] En so moet ons dan ook met Sy kinders, ons broers, die grootste geduld hê, want hier is geen teenstanders meer nie, maar suiwer kinders van een en dieselfde Vader! Hier sê ons nooit: "Heer, Oostenryk handel teen U ordening…straf hulle" of: "die Hongare het teen u Wet gehandel…tugtig hulle!" In plaas daarvan sê ons: "O Vader, kyk genadig neer op die aarde en verlig ons swak broers, van welke party hulle ookal mag wees, en help hulle almal!" Die Heer sê dan genadiglik vir ons: "Waarom vra julle tog? Het julle dalk meer liefde vir julle broers en susters as Ek as Vader van almal?" Op so `n weervraag word ons almal dan sprakeloos om die groot liefde van die ewige Heilige Vader te verstaan!
[15] Hy hou eweveel van almal. Hulle wat tot Hom wil kom, word opgeneem, niemand word uitgesonder nie. Net soos wat Hy Sy son laat skyn oor die waardiges en die onwaardiges, en Sy reën laat val op edel en onedel gewasse, so is ook Sy genade, liefde en erbarming!
[16] Wees nog `n bietjie geduldig en julle sal sien wat die liefde van die Heer kan vermag. Juis by hierdie dertig sal Sy erbarming op `n baie besondere manier aan die lig kom!
|
|
|
|
|