|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 50
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die Weense geselskap vra na die danseresse. Robert se donderpreek. Sieleredding aan die afgrond
50 Die vier-en-twintig danseresse bly vir die wellustige Weense vriende egter te lank in die huis. Daarom kom hulle voor die deur van Robert se kamer en roep: "Sê vir ons, hoe lank dink die meisies met die vlugtige voetjies om by julle te bly? Ons sou byna glo dat jy hulle vir jouself en vir jou vriend wil agterhou! Nie sleg bekyk nie, as jy die beste vir jouself wil hou, en ons, as jou vriende, genoeë moet neem met die maer en lelike skarminkels hier buite nie. Ons bedank jou feestelik vir so `n pragtige vriendskap! Luister, ons wil redelik wees; omdat jy Blum is, kan jy één dosyn vir jouself hou, maar die ander dosyn van die mooi Engelse en Franse dames moet jy dadelik aan ons afstaan, anders gaan ons `n groot herrie opskop! En as dit nie genoeg is om ons wense vervul nie, dan slaan ons alles hier stukkend!"
[2] Robert sê: "So, so, Ek sê vir julle: So waar as wat daar `n ewige God bestaan, en so waar as wat ek tot nou toe nog my aardse naam Robert Blum dra, so waar sal nie één van hierdie danseresse vir julle skandalige vermaaklikheid uit hierdie kasteel uitkom nie, waarin God, die waaragtige, woon en aan elkeen gee wat hy verdien!
[3] Ek het hulle as hongerige en ongelukkige wesens in my huis opgeneem. Hulle is nou my gaste en geniet as sodanig ook alle respek, wat tereg in my huis van iedere opregte gees verlang word. As julle egter werklik van plan is om die heilige reg van elke huis hier te skend, probeer dit maar net! Ons sal dan wel sien wie aan die korste end trek.
[4] Na dit wat ek van julle deur die venster gesien het, is ek van mening dat julle julle daar in die tuin tog na hartelus moes uitgeleef het. Werklik, ek ken geen dier op aarde wat sy natuurlike drifte op so `n skandalige manier laat blyk het, soos wat julle hier daadwerklik as verstandige mense in die Godsryk aan die dag gelê het nie! Is dit nie genoeg dat julle julle reeds tot in die sentrum van die diepste hel besondig het en tegelykertyd duiwels geword het; nog nie genoeg om die arme vroulike wesens, in plaas van om hulle te help, nog veel ellendiger te maak as wat hulle reeds is; nog nie genoeg dat julle die suiwer, geestelike Godsaarde met die skandelike kwyl van werklike helse ontug en hoerery smadelik besoedel het nie! Nee, dit alles is vir julle onversadigbare lus nog veels te min!
[5] Hierdie arme wesens wat nou jarelank honger, dors en ander leed, volgens die wyse beslissing van die Allerhoogste, te verduur gehad het, het God nou self opgeneem! Die wesens, wat daar in die hoekie vir die eerste keer in dertig jaar `n stukkie voedsame brood geniet en God daarvoor, wat hulle helaas nouliks ken, met trane dank, die wil julle ook nog saam die hel insleep! Watter grenslose laaghartigheid!
[6] Die arme wesens daarbuite, wat julle nou net op gewetenlose wyse onteer het, wat nou vol pyn, weeklaend, en halfdood daar lê, weet julle wel wie dit is? Wel nou, op aarde was hulle julle eie dogters gewees! Hulle het deels deur natuurlike siektes en deels deur die beskieting van Wenen die lewe verloor! Gestroop van iedere geestelike ontwikkeling het hulle in hierdie wêreld aangekom en het geen raad geweet nie. Deur `n welwillende beskikking van God, verneem hulle toe, dat julle, as hulle aardse vaders, julleself in hierdie streek bevind. Vol vreugde, en in die hoop om hulle treurige lot te verbeter, het hulle hierheen gevlug! Toe hulle hier aankom en julle sien en herken en julle met die kinderlike uitroep "vader" aan hulle hart wou druk, spring julle soos woedende hiënas op hulle af en begin as vaders met hulle eie dogters die mees skandalige ontug en hoerery te bedryf. Tevergeefs roep die kinders: "In God se naam, ons is tog julle dogters! Wat doen julle met ons?! Jesus, Jesus! Wat doen julle tog?" Maar dit hoor julle gladnie! Want julle vervloekte, duiwelse bronstigheid het julle blinder gemaak as `n berghaan in paartyd! Julle het die meisies in julle blinde begeerte gewoonweg verskeur! O, julle laaghartige, gemene boosdoeners! Daar, kyk na buite, na julle pragtige werk; watse naam moet daaraan gegee word? Werklik, ek kan geen woorde daarvoor vind nie!
[7] Toe ek met my goeie vriend hier aankom, en julle in my huis aantref, was ek werklik bly saam met julle. Veral het dit my verheug toe ek, na my toespraak, hoor dat dit nou julle grootste verlange is om die Heer, ons Christus te mag sien, al was dit maar van ver af! Daarop het ek julle die versekering gegee, dat julle, as julle Hom met innige liefde in julle harte opneem en deur die liefde reiner sal word, Hom, die Heer van die ewigheid, altyd en ewig sal sien! Waarop julle bly ontroerd was en deemoedig toegegee het dat julle die genade nog lank nie werd sou wees nie! Dit het my so goed geval dat ek wel van vreugde wou huil!
[8] Toe ek egter met my vriend die huis binnetree en Hom daarop my blydskap te kenne gee, spreek Sy wyse mond: "Vertrou hulle nie te veel nie; hulle is grofsinnelike genotsmense! Ek sê vir jou, verskeie sal na die hel moet afdaal en hulle genesing sal `n swaar opgawe word!" O, wat `n groot waarheid! Ek sê vir julle, julle hoef nie meer na die hel te gaan nie; julle sit alreeds in die middel daarvan! Want hierdie kwaadaardige, onversadigbare genotsug van julle verdoofde harte, kan God alleen maar verbeter deur die oordeel van die hel!
[9] Nou het ek vir julle gesê, wat God my in my hart gelê het. Julle weet nou wat julle gedoen het, en wat julle nog wil doen, en wat die onvermydelike gevolg sal wees! Doen nou wat julle wil! Nou is julle vry! Maar vinnig sal die oordeel van God julle egter gryp en julle julle loon gee! Maar nie net julle alleen nie, ook almal wat in hierdie tyd nog op aarde lewe en die vermaning van God, wat in hierdie tyd so volop is, nie wil laat welgeval nie!
[10] Het ek self op aarde my ore en my hart geopen vir menige onloënbare vermanings van God, dan sou ek nie in `n oordeel gekom het nie. Maar omdat ek slegs afgegaan het op wat my oormoedige en eersugtige verstand my ingegee het, moes ek my `n baie onplesierige oordeel laat welgeval! Na my mening wil ek nog steeds die goeie doen, en tog moet ek die oordeel ondergaan. Hoe sal dit dan met julle gaan, wat alleen maar die bose wil doen, hoewel julle insien dat dit boos is!?"
[11] Na hierdie woorde van Robert staan die besonder getrefte toehoorders totaal ontsteld en die een na die ander trek homself terug! Nie één het die moed gehad om Robert maar iets terug te sê nie. Hulle mompel maar onder mekaar, dat hulle nie die verandering in Robert kan begryp nie en dat sy erns vir hulle voorkom soos `n donderslag en sy toespraak soos `n verwoestende stormvloed!
[12] Enkeles onder hulle begin tog tot besinning te kom. `n Hewige angs gryp hulle hele wese aan en hulle kry ernstig berou oor dit wat hulle gedoen het.
[13] Daarop wend Robert hom in sy hart tot My en sê: "O, heilige, waaragtige en liefste Vader, vergeef my as ek hierdie Weense vriende miskien tog te hard en te skerp aangevat het. U sien immers in my binneste dat ek hulle almal maar die beste toewens en deur die skerp toespraak niks anders wil bereik as om hulle die moontlikheid van `n allertreurigste oordeel van die hel; te bespaar nie. Want ek is nog altyd van mening dat so `n skerp berisping altyd nog onnoemlik ligter is as die kleinste vonkie van die helse oordeel! En dus het ek met al my innerlike krag teen my broers gegaan, wat elke vorm van beskawing mis, om dit te keer, en ek het skynbaar by enkeles `n duidelike sigbare effek teweeggebring!
[14] O vader, seën U my woorde in hulle! Miskien sal die woorde tog dit bewerkstellig, wat ek eintlik wou bereik."
[15] Ek sê: "My beste vriend en broer, en nou ook seun! Ek sê vir jou: Nie één woord meer of minder het jy gespreek wat Ekself nie in jou hart gelê het nie. Want wat jy gesê het, het Ek in jou hart gedink en gewil. Daarom moet jy volstrek geen verwyte aan jouself maak nie, asof jy uit jouself so hard sou gewees het teen hierdie geestelike verstokte geblewe mense. Wees daarom nou maar gerus!
[16] Want kyk, sulke geeste, wat hulle alreeds aan die rand van die afgrond vooroor buig, om die volgende oomblik daarin te stort, moet met alle krag vasgegryp word en so van die afgrond teruggetrek word. Alleenlik so is dit moontlik om hulle sonder die hel op `n beter weg te bring.
[17] Jy sal jou nou spoedig oortuig watter goeie uitwerking die donderspraak van jou by hulle teweeggebring het! Almal sal trouens nog `n uitvlug soek en hulle mooier wil voordoen as wat hulle is. Maar as slegs die grootste deel tot hulself kom, dan is dit al goed. Die kleinste deel, synde die swakste, sal dan mettertyd tog genoodsaak wees om hulle ten slotte gewillig te skik, omdat hulle andersins geen uitweg sal vind nie.
[18] Maar nou laat ons hulle `n bietjie rus en daarby ietwat deurgis! Wanneer die gistingsproses sy werk gedoen het, soos op aarde by verdunde mout, voordat dit in die distilleerketel gegooi word vir die bereiding van alkohol, sal ons hulle ook in `n ketel gooi waaronder `n magtige vuur van ons liefde brand! Dan sal dit makliker wees om hulle ware geestelike deel van die growwe aardse droesem te skei. Nou ondertussen na iets anders."
|
|
|
|
|