|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 82
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Blum en Jellinek gee hulle mening. Die antwoord van die Heer.
82 Robert sê: "O Heer, wat my aanbetref, het ek met die aarde as die draagster van wesenlik, eerder blinde as slegte mense, geen rekening meer te vereffen nie. Maar as ek met `n versoek na U toe kan kom, dan moet dit wees: "Heer, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie! Laat vrede, deemoed en liefde in hulle harte neerdaal! Dan sal die origens pragtige aarde weer haar kinders liefdevol soos `n tere moeder kus en alleen deur U genade en erbarming lewe gee in oorvloed! Sien Heer, dit is dan al wat ek U vir die aarde sou wou vra.
[2] Ek lê in my wens ook geen uitgesproke versoek nie, omdat ek tog gevolglik moet aanneem dat voor U, o Heer, my bede en wense sekerlik netso onryp is, as ekself as mens met my vrae en wense nog teenoor U sal wees, o Heer. Maar dit dink ek by myself: `n Stommerik is hy wat meer wil doen as wat hy kan, maar nog slegter is hy wat sy talente nie gebruik nie! Wanneer iemand egter dit wat hy vanuit sy hart as goed en wenslik beskou, ook aan al sy broers toewens en dit ook probeer bewerkstellig, dan vind ek so `n handelswyse goed en reg! Want die goeie wens en die daaropvolgende handeling kan onmoontlik êrens vandaan kom as uit die opregte naasteliefde, wat U, o Heer, as eerste gebod aan die mense gegee het!
[3] Sien ek byvoorbeeld `n sieke en ek het ook `n goeie geneesmiddel vir sy siekte, wat by ander wat dieselfde kwaal gehad het `n uitstekende werking gehad het, wat sou ek dan doen, as die lydende om hulp smeek? Die liefde vir my lydende broers gebied my om hom te help. Ek gee hom die geneesmiddel, en sien, dit gaan daarna nog slegter met hom. Moes ek die geneesmiddel dan van hom weerhou het, omdat dit `n slegter uitwerking, in plaas van `n verbetering kon teweeggebring het? O, sekerlik nie! Dit mag my nie daarvan weerhou om vir my broers alles te doen, wat ek na die beste insig en gewete as goed erken het nie. Die resultaat hang nou nie meer van my af nie, maar van U mag, o Heer, sodat ek daarvoor geen verantwoording kan doen nie. So wou ek ook in Wenen volgens my toenmalige beste wete en gewete aan die bedreigde Weners goed doen. Maar die resultaat van my bemoeienis het helaas baie anders uitgeval! Tog meen ek egter dat ek nie daardeur gefaal het nie, want ek wou immers slegs dit doen, wat ek as goed beskou het.
[4] En daarom glo ek dat daar nou baie is, wat sekerlik aan almal toewens, wat volgens hulle insig, goed is. Moet hulle daarvoor veroordeel word? Gee U, o Heer, die korrekte lig en kalmeer hulle harte, dan sal hulle verlos wees van alle kwaad!
[5] Daar is ook baie eiesinnige mense, wat deur bepaalde beginsels dit as die korrekte voorhou, en so laat verhard dat hulle eerder die hele wêreld sou laat vergaan as om een jota van hulle verstarde beginsels te laat val. Maar U, o Heer het tog immers `n hele boel vuur, wat met groot gemak die hardste rotse soos was kan laat smelt! Een vonkie in die harte van daardie verstarde mense geplaas, sal hulle baie gou makker en toegeefliker maak!
[6] Dit is my eenvoudige mening en ook my beste wense. In hoeverre dit dan ook goed is in U oë. Heer, daarvoor het ek nie `n betroubare maatstaf in my hart nie. Daarom sal ek verder alles alleen maar aan U leiding wil toevertrou!"
[7] Ek sê: "My beste vriend en broer, ook jy het die spyker op die kop geslaan! Dit is die volle waarheid wat jy gespreek het. Daarom sal jy vir My in die vervolg ook `n geskikte werktuig word. Goed, waar en edel was jou voorstel en Ek kon jou reeds al vooraf die versekering gegee het dat Ek kragtig daarvolgens sal handel soos wat Ek alreeds gehandel het. Maar desnieteenstaande sal ook Jellinek sy woord doen en ons sal sien in hoeverre hy met jou eens is. Daarom, beste broer Jellinek, maak jy nou ook jou mond oop."
[8] Jellinek sê: "O Heer, wat broer Robert Blum gesê het, is uit my hart gegryp, net soos diegene wat vóór die grote Paulus gespreek het, wie se rede een gloedvolle stroom van waarheid was. Wat sou ek dan nog meer kan sê? Daarom sê ek slegs: Heer, U heilige wil alleen geskied, en dan sal die heerlikste orde die aarde kus! Wat die groot aardsvaders vooraf gespreek het, gaan my bevattingsvermoë ten bowe. Hulle bedoel dit ook miskien goed, maar dan sekerlik op `n heel ander manier as Robert Blum en ek. Dit kom vir my tog ietwat vreemd voor, dat hulle nog steeds die een of ander belofte van U verwag en U dan beskuldig van `n sekere aarseling! Maar soos gesê, ek begryp niks daarvan nie. Ek beleef slegs `n groot vreugde daaraan dat ek hulle uiteindelik as `n nakomeling persoonlik leer ken, aan wie se bestaan ek werklik getwyfel het. Daar is werklik `n heilige erns op hulle gesigte. My bydrae is hiermee beëindig!"
[9] Ek sê: "Luister, broer Jellinek, julle almal hier in die ryk van die ewige vreugde kan nou maklik sê: "Heer, U wil geskied. Maar op die aarde sien dit daar heelwat anders uit as hier in die ryk van die mees vrye lewe! In die liggame van die mense leef dieselfde vrye geeste en onsterflike siele wat julle hier in werklikheid sien. Hulle wil tog graag uiteindelik vryer ontwikkel en wens daarom vir egte vryheid en geen onderdrukking meer onder die ystersepter van die konings nie. Hulle kom daarom orals in opstand en probeer om die mag van die konings te breek. Maar die konings bring eweneens almal wat hulle slaafs onderdanig is, tot `n groot strydmag byeen. Hulle het gesweer om alle teenstanders te dood, en sonder genade en erbarming slag hulle die mense dan ook by duisende af. Sien, hulle wat vry wil word, roep tot My om wraak op hulle onbarmhartige konings. En die konings roep My aan teen hulle opstandige volkere!
[10] Wat moet Ek nou doen? Soos wat dit nou voorkom, het beide partye grotendeels gelyk. Want die konings wil nou eenmaal teen elke prys heers, maar die vry wordende volk wil ook heers. Gehoorsaam en onderdanig wil niemand egter wees nie.
[11] Nou kom die groot vraag tevoorskyn, wat Ek nou eintlik moet doen, help Ek die konings, dan sal die ou duisternis weer oor hulle volkere versprei, waarin geen enkele gees moontlik en maklik vry kan ontwikkel nie, en die haat teen die onderdrukkers sal groei. Help Ek egter die volk, dan sal hulle vinnig wraak neem op hulle voormalige maghebbers en sal My leer deur Rome baie verdag gemaak word, waar soveel boosheid sal uitkom dat My leer heeltemal oorboord gegooi sal word en die volkere `n suiwer wêreldse leer in die plek daarvan gee!
[12] Julle sien, beste vriende, dat dit nou so op aarde is, dat Ek voorlopig nóg die een, nóg die ander party volledig kan help. Wat is daar nou te doen? Laat Ek die sake so deurgaan, dan sal die twee verbitterde doodsvyande nooit met mekaar in die reine kom nie, want die wedersydse woede is te groot. Help Ek egter, dan moet julle julleself heel ernstig afvra: WIE? Doen Ek iets of doen Ek niks, dit is altyd verkeerd. Wat is daar dus om te doen?
[13] Ja, beste broer Jellinek, dit is maklik om te sê: "Heer, laat U wil geskied!" Maar hoe dit in sulke omstandighede moet gebeur, is `n ander vraag! Robert meen weliswaar dat Ek vonkies hemelse sagmoedigheid in die harte van die vorste sou kan lê, sodat hulle makker, beter en wyser sou word. Dit is wel waar en korrek. Maar sal die uitermatige verbitterde volkere hulle wel kan vertrou? Nee, dit sal hulle nie, want `n kind wat gebrand het, sal nooit meer vuur vertrou nie. En alles is makliker terug te win as `n verlore vertroue!
[14] Jy dink trouens dat mense ook so `n vonkie in die harte van die volkere sou moet lê, dan sal alles gewonne wees. Dit sou inderdaad `n baie maklike manier gewees het. Maar as Ek dit sou doen, dan sal die konings, sowel as die volkere immers ophou om vry mense te wees. Hulle sou daarom gerig word om soos edele, menslik lykende diere te word, by wie daar geen sprake meer sal wees van `n vrye geestelike ontwikkeling nie. Solank ons mense soos mense wil behou, mag ons absoluut nie die magsmiddele wat ons ten dienste staan, gebruik nie. Want ons weet dat dit op dieselfde oomblik met die mensdom gedaan sal wees. Die mense sou tot diere en tot afgerigte slawe van ons ewige onoorwinlike mag word! Jy sien dus dat dit nie op hierdie manier sal baat nie!
[15] Ons moet ons dus daarom na ander middele wend. Sê jy nou eers, beste Becher, wat jy sou aanraai om die gekwelde volkere op aarde in erns te help?"
|
|
|
|
|