|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 76
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die opregte skoenpoetser. Die onwelkome Mierl. Die groot sielsreiniging van die Patetikus. Die gekrenkte, hoogmoedige gees verlaat die hemelse geselskap
76 Die reeds aan ons bekende Frans, wat destyds op aarde `n getroue skoenpoetser was, stap nou op die Patetikus af en sê: "Ons is wel hier almal gelyk, maar ek sê tog maar, "meneer" vir u. Hoor net, U is nog steeds soos wat u op aarde was. En dit lyk vir my dat dit nie goed was nie, begryp u vir my? Op aarde was u inderdaad `n heer van aansien en u was daarby nog stinkryk ook, waartoe u gemalin wel die meeste bygedra het. Maar met dit alles is dit nou hier gedaan. Want ons is nou in die geesteswêreld, verstaan u? Maar hier moet almal veral deemoedig wees, anders kry hy tog maar die wind van voor! Die goeie heer daar bedoel dit goed met ons, en daar het `n liggie vir ons opgegaan. Daarom meen ek dat ons dit nie net sommer kan afwys nie. Gaan u tog saam met ons, dit sal u nie skade berokken nie. En kyk nou, daar is u liewe Mierl ook nog! Weet u, wat u ook nog naas u gemalin gehad het, begryp u? En waar u Mierl is, daar mag u tog nie ontbreek nie! Wat dink u daarvan?
[2] Die Patetikus sê erg verontwaardig: "O, wat kry ek nou oor my heen? Dit skyn slegs die vagevuur te wees, en dus sal die hel ook nie te ver weg wees nie! Dit is tog om van hels te word. Nou is hierdie loeder van `n Mierl ook nog hier, en boonop nog my godsalige vrou! Wat kan dit nou word? My vrou het tog `n paar jaar voor my na die ewigheid gegaan. En ek het gedink, omdat sy die laaste tyd so vroom gesit en sug het, en so salig ontslaap het in die Heer, dat sy al lankal op `n hemelwolkie sou rondswewe! Maar nee, sy is hier, en wel heelwat ellendiger as wat sy op aarde was voor haar dood. En nou kom daar, tot oormaat van rampe, my minnares met `n tong soos die van `n skeermes, ook nog daarby! Nou, wat se nut is daarin om na `n man te gaan wat my al vroeër ondubbelsinnig te verstane gegee het, dat ek nog terdeë verdeemoedig sal word. Maar ek voel wel aan wat gaan kom, en dit sal my wel verhoed om na die towenaar en sy verheerlikte Lerchenfelder te gaan! Moet jy dan in hierdie beroerde wêreld alle narigheid tegelyk kry! As dit nie rampe is nie, dan weet ek nie meer wat jy `n ramp kan noem nie! Miskien daag my ander, tydelike liefdes ook nog op, en allerlei groepies wat ek vir die grap gevorm het!?
[3] So redeneer die Patetikus by homself, maar ook die omstanders verneem sy woorde. Sy vrou tree na vore en sê vriendelik vir hom: "Johan, ek het immers al op aarde geweet hoe jy geleef het. Dit was ook die rede vir die onenigheid, wat daar in die laaste tyd tussen ons ontstaan het! Maar desondanks het ek jou alles vergewe. Maak jy hier voor God ook alles weer reg met my, jou aardse vrou, wat uit suiwer liefde alles vir jou opgeoffer het, selfs die liefde van haar vader. Wees nie bang vir my nie, want ek sal jou geen verwyte toeslinger nie. Volg nou egter ook vir Hom, van wie jy op aarde steeds voorgegee het dat jy Hom alleen volg. Hoe dikwels het jy my nie beskuldig van oud-aristokratiese hoogmoed nie, maar hier in die ryk van verdeemoediging is jy nog honderd keer hoogmoediger as ek en my hele familie! Hoe het dit gebeur?
[4] Die Patetikus Johan staan verstom, brom by homself, maar sê niks op dit wat sy vrou gesê het nie.
[5] Nou kom Mierl na vore en sê aan Emma: "Mevrou, ek vra `n duisend keer om vergewing, omdat ek iets met u man te doene gehad het! Ek was altyd `n goeie en brawe meisie gewees, Maar buite by die Sperl het ek op `n dag u man leer ken en hy het my daar erg die hof gemaak, en my hoog en laag belowe om met my te trou; en toe het ek regtig gedink dat dit bes moontlik sou kan gebeur. Maar die skynheilige vark het my jaar na jaar aan `n lyntjie gehou, en van trou was daar geen sprake meer nie! Ek het egter nie geweet dat hy getroud was nie! Sien u, dit het ek eers hier gehoor. Maar verheug u nou maar, ek sal die losbol wel eers my mening gee! Nou sal hierdie bedriegde Annemierl haar verheug!!"
[6] Daarop wend Mierl haar tot die Patetikus en sê: "Nou, u is vir my `n mooie hofkoetsier of gepensioneerde adviseur of hof-filosoof, of wat u ook al mag wees! Wat dink u wel wat u is? U eggenote, wat op aarde so gemeen deur u bedrieg is, kan u tog wel `n antwoord gee. Sê nou eers iets, as u die moed het, skynheilige lomperd! Weet u nog wat u alles vir my gesê het? Dat u `n vrygesel was en hoeveel geld u gehad het! As u so `n hoë piet was, soos u my voorgehou het, wat soveel agting geniet, dan kon u nie so `n beroerde kêrel gewees het nie! Weet u, as ek my nie so verskriklik geskaam het nie, dan sal ek u vrou alles vertel, wat u alles met my aangevang het! Maar wag maar net, ek sal u vrou nog wel meer vertel. Maar nou word ek éérs giftig op u, omdat ek weet dat u so `n deugsame, goeie vrou gehad het!"
[7] Toe Max Olaf dit hoor, gaan hy na die Patetikus toe, val Mierl in die rede en sê: "Wel beste vriend, daar kom dan die werklike pragtige verhale oor u aardse lewenswandel te voorskyn! Waarlik, daarvan het ek nooit iets van u verneem nie. Ja, nou begryp ek so een en ander, wat ek andersins nooit sou begryp het nie! Dus, so `n soort trou en liefde het u u goeie vrou bewys. O, wat `n varknek van `n heer! Ja, nou weet ek waarom u die Lerchenfeldse so verafsku. Sy sou miskien menige kere betrokke gewees het by u kapperjolle. Daarom het dit u nie geval om saam met my daarheen te gaan nie, waar mense u beter blyk te geken het as wat ek u geken het! Vriend, as dit so gestel is met u handel en wandel as eggenoot en u desondanks nog as `n man van eer wil deurgaan, dan moet ek u tog werklik versoek om maar nie met my saam te gaan na die suiwer, groot en heilige mensevriend nie! Ek sou wel weinig respek hê vir die heilige, as ek so `n toonbeeld van `n varknek na Hom toe sou bring! Doen nou maar wat u wil; ek sal my wel behoed om nog voortaan met u om te gaan!
[8] Arme Emma! As ek dit op aarde geweet het, wat se man jy gehad het, dan sou ek jou sekerlik geen straf weens smaad opgelê het nie. Gaan nou egter almal saam met my na die groot, heilige mensevriend toe. Daar sal julle alles vergoed word wat julle ooit deur my aan onreg gelei het. Maar daardie varknek moet maar gaan waar hy wil!"
[9] Die baron sê: "Nee, dit sou ek nooit van hierdie man gedink het nie! So bly dit altyd waar: Wat niks is, bly niks! Maar wat gebeur het, het gebeur! Desondanks wil ons hom nie veroordeel nie, maar vir ons geselskap in hierdie wêreld deug hy ook nie meer nie. (Hy wend hom tot die Patetikus): Gaan weg, en bly uit die omgewing van ons geselskap! Daar by die gepeupel is vir u die beste plek! Miskien vind u daar nog enkele godinne, wat u by u heerlike feeste die nektar vir u gereserveer het!"
[10] Boos sê die Patetikus: "Mens sal ook hier wel die reg hê om sulke aanmatighede te verbied. Het my skone eggenote nie ook dikwels en elke Saterdag feeste gehou nie? Of hulle daar by beskouinge van Ignatius van Loyola gehou het, weet ek werklik nie! Origens hoef niemand my hier te gebied nie, want ek dink dat ek geen voog meer nodig het nie! Ek versoek u dringend om my nie meer met sulke ongure opmerkings lastig te val nie, want ek sal self weet wat my te doen staan. Verder hoef u my nie daarop te wys dat ek te min sou wees vir u hoë hoogadellike geselskap nie. Want ekself dank nou vir God dat ek op hierdie manier van sulke gespuis bevry is! Gelukkig sien ek daar op die agtergrond enkele goeie bekendes; deur hulle sal ek sekerlik agtenswaardiger behandel word as deur julle ingebeelde hoogadellike gespuis!"
[11] Met hierdie woorde verlaat die Patetikus die geselskap en begeef hom na sy bekendes! Emma wil hom terughou, maar hy stamp haar opsy en loop vinnig weg.
[12] Max Olaf sê egter: "Laat hom gaan! Miskien gaan hy op sy opstanding af…of sy ondergang tegemoet! Ons wil die heer daar egter vra, dat Hy vir hom genade voor die reg sal laat geld. En laat ons nou na Hom toe gaan, na die redder van die mense!"
|
|
|
|
|