|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 65
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die Weners en die onplesierige Bohemer. Die heldin wend haar tot Jellinek. Hy verwys haar na die Heer
65 Toe ons heldin haar weer te midde van hulle bevind, met wie sy vroeër nogal `n fel bespreking gehad het, sê die reeds bekende Frans vir haar: "So handige juffie, hoe het dit gegaan by die opgeblase stoomketel? Het jy hom goed in Weens gesê?" Die heldin sê: "Nou ja, hy sou dit goed verstaan het. Nou verbeel die halfgebakte ook nog dat hy `n heer van stand is! Nou, dit sal nog wel ietwat anders opgedis word. Maar ek het hom gewaarsku! As julle gehoor het hoe meneer Blum hom gegryp het, omdat hy oor my gaan kla het; sou julle julleself krom gelag het! Ek wens geen mens iets lelik toe nie, ook nie hierdie grootprater nie, maar omdat hy so `n verwaande wykwas is, het ek regtig plesier daarin gehad, toe die goeie here daar hom so `n bietjie gekortwiek het. Toe kry hy wat hom toegekom het!" Frans sê: "Nou meisie, nou beval jy my en ek is nie meer kwaad vir jou nie. Maar dit sê ek ook vir jou, as jy my weer so gaan aanval soos netnou, sien dan maar hoe jy jouself verder kan red. Maar nou is alles weer goed, begryp jy?"
[2] Die heldin sê: "Nou, nou, ons is immers nie Bohemers nie, dat ons sewe jaar kwaad vir mekaar moet wees nie. Al maak ons soms asof ons mekaar goed kan verslind. Weners is, wanneer hulle `n slag omgedraai het, weer die beste vriende! Maar met die Bohemers is dit `n ramp! Ek het eens so `n tipe kwaad gemaak. Ek dink dat hy my selfs na drie jaar nog iets wou aandoen, as hy my net in die hande kon gekry het." Frans sê: "Mens praat nie so hard nie! Want jy weet nooit wie daar inluister nie. Weet jy dan nie dat die Bohemers die langste vingers en die grootste ore het nie, waardeur hulle dan ook steeds die beste spioene en polisie-agente was nie?"
[3] Na hierdie woorde van Frans verhef daar meteens `n kragtige dik gestalte (`n Bohemer) homself, haal diep asem en sê dan vernaamlik vir Frans: "Luister net hier, vervloekte kêrel, wie het groot ore en wie het lang vingers? As jy weer so-iets durf sê, pas dan maar op! Al is ek `n gees, dan sal ek jou eens en vir altyd vertel wie groot ore het! Verstaan jy my, vervloekte kêrel?" Die heldin sê: "O, wee, Frans, laat ons maar maak dat ons wegkom! As jy van die duiwel praat, trap jy op sy stert! Dit is een van daardie wat jy vir geen tweede keer wil teëkom nie! Nou, as hy kwaad word, maak hy ons skielik een kop kleiner." Die Bohemer sê; "Hou jou snater, kletskous! Of ek gee jou een, dan sal jy genoeg hê! Of dink jy dat die Bohemers duiwels is? Jy is `n egte hoer, maar die Bohemers is goeie mense! Verstaan jy my, jy met jou groot mond?" Die heldin sê: "Luister, beste Weners, as ons nie in so `n eerbare huis was nie, dan sou ons daaruit gegooi moet word, al sou dit ten koste van die lewe van my moeder gaan! Maar daar is tog iets daaraan te doen! Laat ons maar weggaan, anders kry ons op ons herrie!
[4] Na hierdie woorde kom die heldin met nog enkeles vinnig na Jellinek en My toe en begin dadelik die volgende gesprek met Jellinek: "Nou, nou, meneer die dokter, ek het u byna nie herken nie! Grote God! Wat maak u en wat doen u hier?!
[5] Jellinek sê: "Wel, met my gaan dit baie goed, baie beter as ooit op aarde. Dit is egter my vurige wens, dat dit met julle almal spoedig ewe goed sal gaan, dan sal julle nie so met mekaar rusie maak soos tot nou toe nie. Julle moet dit heeltemal aflê, anders sal dit moeilik beter gaan met julle. Leer van ons dat jy geduld moet hê met die swakhede van jou broers, dan sal julle mekaar beter begryp en dit sal vir julle gou vrugte oplewer. Maar as julle mekaar bly beskimp en met slaan dreig, dan sal daar tussen julle geen Christelike hemelse liefde heers nie, wat alleen die saligheid van alle geeste uitmaak.
[6] Hou daarom op met julle dom rusiemakery en word sagmoedig van hart, dan kan julle maklik en vinnig gehelp word! Maar as julle steeds bly rusiemaak onder mekaar, dan sal julle nog lank moet ly. En as julle gehelp word, sal hierdie hulp ewe karig wees, net soos wat julle liefde en vriendskap is. Dink tog daaraan dat ons almal voor God gelyk is. Niemand is iets voor op die ander nie, behalwe diegene wat die meeste deemoedig is en die grootste liefde vir God en sy broers in sy hart dra! Het jy dit goed begryp!?"
[7] Die heldin sê: "O, ja, dit het ek begryp! Maar ons Weense mond kan ons nie meer toehou wanneer ons êrens lug daarvoor kry nie. Daarvoor sal een of ander wonderkuur goed wees! Sal dit moontlik wees hier in die geestesryk? Weet u, ons harte is nie so sleg nie, maar wat ons mond betref, dit is `n ander saak!"
[8] Jellinek sê: "Wel, ons sal eers sien wat ons daaraan kan doen. Maar julle moet self ook moeite doen om julle tonge in toom te hou. Vra die heer hier langs my, Hy kan baie doen, as Hy julle help, dan sal julle regtig geholpe wees!"
[9] Die heldin sê: "Meneer Jellinek, sê net, verstaan die heer daar ook Weens? `n Goeie gesig het hy wel, en hy sien so gemoedelik daaruit. Kan ek Hom wel aanspreek, as Hy maar net Weens verstaan!
[10] Jellinek sê: "O, en hoe! Hy verstaan en spreek alle moontlike tale. Ja, ek sê vir jou, dat hy selfs die taal van die hart goed verstaan en by wyse van spreke van jou gesig aflees wat iemand so in die geheim by homself dink! Probeer dit maar net, en jy sal jouself dadelik oortuig dat ek gelyk het."
[11] Die heldin sê: "Goeie hemel, wat sê u nou vir my!? As Hy dit kan doen, moet Hy bietjie aan ons liewe Heer verwant wees. Dit sal wel `n humoristiese gesprek word, as hy alreeds weet wat jy vir Hom wil sê! Maar tog sal ek hom aanspreek, al sê Hy ook wat Hy wil! Maar sê my tog wat sy naam is, dan sal ek tevrede wees!
[12] Jellinek sê: "Ja, my beste vriendin, daar vra jy na iets, wat ekself nog nie agtergekom het nie! Ek het so `n vermoede, dat Hy `n groot, magtige engelegees is, en dat Hy na ons toe gestuur is om ons te leer om die korrekte pad na God te vind! Maar dit is ook al wat ek vir jou kan sê. Hoe Hy eintlik heet, en watter plek Hy voor God beklee, dit weet ek net so min soos jy. Maar dit is verseker, dat alleen Hy hier kan help, omdat hy die mag daartoe besit!"
[13] Die heldin sê: "Aha, aha, daar gaan al vir my `n lig op! Weet u, meneer Jellinek, ek dink dit is wel `n apostel? Miskien wel Petrus of Paulus. Haai, wat dink u daarvan, het ek gelyk of nie?
[14] Jellinek sê: "My beste, dit is alles baie moontlik. Wend jou maar regstreeks na Hom, en dan sal jy spoedig weet, waar jy met hom aan of af is. Maar vir `n Petrus of `n Paulus spreek hy vir my te selfstandig. Daarom vermoed ek dat Hy ietwat belangriker moet wees! Miskien wel `n soort aartsengel? Praat nou self met Hom, dan sal alles vir jou die vinnigste duidelik word!"
|
|
|
|
|