|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 43
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Robert se nuwe, heerlike wêreld. Woorde van verwondering, dank en innige liefde. "Hierdie wêreld kom uit jou!" Gelykenis met die verwekking van kinders.
43 Robert kyk nou uiters oplettend om hom heen om êrens `n groter en beter wêreld te sien. Tog wil daar nie so gou een tevoorskyn kom soos wat hy volgens My woorde verwag het nie. Hy span sy oë in en kyk na bo of daar nie uit die hemele, die beloofde, nuwe wêreld, volgens sy idee, sou neerdaal nie? Maar ook daarvan kom niks!
[2] Na `n rukkie van vergeefse wag, wend Robert hom weer tot My: "Verhewe, ewige Heer en Skepper van die oneindigheid, liefdevolste Vader! Sien, ek kyk byna my oë uit en daar kom nog steeds geen ander wêreld tevoorskyn nie. Daar sal hoogs waarskynlik by my nog wel iets nie heeltemal in orde wees nie. Maar wat? Dit kan ek nie agterkom nie. Daarom wil ek U vra om vir my die oorsaak aan te toon!
[3] O Heer, mag dit vir U welgevallig wees, neem dan die sluier van my oë af weg!"
[4] Ek sê: "Wel nou, broer, Ek sê vir jou, open jou! Wat sê jy nou? Waar kom die landskap vandaan? En hoe beval dit jou?
[5] Robert, wat van vreugde geen woord kan uitbring nie, kyk in alle rigtings vol verbasing om hom heen. Magtige bergkettings begrens die ver uitgestrekte horison. Te midde van die heerlike velde rys voor Robert se verbaasde oë ook klein, groen heuwels op met pragtige woonhuisies teen die voet. Digby staan `n groot gebou, waaromheen `n geweldige weelderige tuin hom uitstrek, ryk aan vrugte en blomme. Bokant hierdie heerlike landskap welf daar `n blou hemel, waarin weliswaar nog geen son te sien is nie, maar in plaas daarvan des te meer pragtige sterregroepe, waarvan die kleinste helderder skitter as Venus met haar sterk lig op aarde. Daardeur word die landskap deur die lig van hierdie baie duisende sterre helderder verlig as die aarde deur die middagson!
[6] Robert kan maar nie genoeg kry van die betowerende landskap nie. Na `n rukkie van kyk en verbasing, val hy voor My op sy knieë, staar My `n tydlank liefdesdronk aan en pers dan letterlik die volgende woorde uit sy bors:
[7] "O God, O Vader! Almagtige Skepper van nooit vermoede wonderwerke! Waar moet ek, nietige wese, U begin te prys, en waar moet ek eindig met my ewige lof? Hoe groot moet U wysheid en mag wees, dat die geringste teken van U so `n skepping kan voortbring?
[8] En tog staan U hier langs my soos `n gewone mens! Ja, dit maak U nog eindeloos groter, beminnings- en vereringswaardiger, dat U uiterlik nie meer `n gewone mens skyn te wees nie. Maar wanneer U spreek en gebied, dan stroom tallose wêrelde, sonne, engele en miljarde ander wesens van nooit vermoede wonderprag en heerlikheid uit U mond!
[9] O Heer! Wie kan U ooit bevat en wie kan U liefde, wysheid en almag begryp? O my God, ek is alleen maar `n armsalige sondaar en kan niks anders doen as om U lief te hê nie en nog eens lief te hê. O verhewe Jesus, wie op aarde begryp, dat nou juis U en geen enkele ander wese die hoogste ewige godwese self is nie!
[10] En U is hier by my as iemand, wat deur die wêreld veroordeel word! O, allergrootste liefde! O Heer, O, Vader, O, God! En U noem my, die deur die wêreld vervloekte, U broer! Nee! U is te groot en U liefde is ontsagwekkend! O, wek my kragte op, sodat ek U vir U goedertierenheid en minsaamheid kan liefhê, met die gloed van alle sonne wat die eindelose ruimte bevat!"
[11] Ek sê: "Liefste broer! Dit verheug my hart oneindig dat jy My so prys in jou hart omdat Ek nou die sluier van jou oë weggeneem het, en jy weer `n omgewing sien wat heerliker is as die mooiste op aarde en ligter as die helderste middag in die beloofde land!
[12] Tereg prys jy My liefde, wysheid, mag en die grootsheid van My dade. Want waarlik, al sou jy My loof met die taal van engele, dan sou dit tog nooit voldoende wees om die kleinste deel van My goddelike grootsheid en volmaaktheid na behore te prys nie!
[13] Dat jy My egter uit al jou kragte liefhet, is vir My die aangenaamste lof! Want alleen deur die liefde is Ek as Vader vir die skepsele, wat My kinders is, bereikbaar; deur die wysheid egter nooit! Want die wysheid van al My tallose skares engele en geeste is ten opsigte van My ewige wysheid nouliks wat een doudruppel is ten opsigte van die ewige etersee wat die oneindige ruimte vul.
[14] Aangesien jy My egter lof toesing uit liefde, is die lofprysing dan ook tereg, alhoewel hier nie nodig nie. Want alles wat jy hier sien, is eintlik jou werk. Dit is ook wel My werk, omdat jyself My werk is. Maar op sig is dit alles jou werk, soos dit wat jy op aarde gedoen het, jou werk was.
[15] Wel vra jy jou nou af: "Heer, hoe is dit nou moontlik? As dit my werk sou wees, dan sou ek daarvan bewus moes gewees het, hoe ek dit reggekry het om so `n heerlikheid en so iets groots te skep? Ek het egter geen floue idee daarvan nie!"
[16] Dit is in die eerste instansie wel waar, maar dit is nou nie aan die orde nie. Jy het op aarde tog ook kinders verwek wat stuk vir stuk eindeloos groter wonderwerke is as wat jy hier sien. Was jy wel daarvan bewus dat jy eenvoudig en domweg deur hierdie verwekking sulke, vir jou onbegryplike wondere tot stand gebring het; en gehou het, en volgens welke vooropgestelde plan?
[17] En tog was dit jy, en nie Ek nie, wat sulke wondere met jou vrou verwek het. Seker was Ek dan ook weer daar die grondlegger van die groot plan, wat so georden is, dat `n mens deur die verwekkingsdaad moet ontstaan. Maar nietemin moet die willekeurige verwekkingsdaad van die mens ook daarby aangepas word, as `n nuwe mens gevorm moet word.
[18] Wees daarom nie al te verbaas as Ek vir jou sê: Sien, dit alles is jou eie werk, daarom is ook alles van jou, wat jy hier aanskou. Daar sal wel nog `n geestelike tyd kom waarin jy dit sal insien. Laat ons nou na iets anders oorgaan!"
|
|
|
|
|