|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 70
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151. |
|
|
Die huweliksverhaal van die Patetikus. Die hulpvaardige generaal.
70 Die Patetikus sê: "Broer Max, jy het nou goed, waar en eg uit die lewe gegryp en gespreek! Ook ek was van geboorte maar `n landjonker (land-edelman of boer), soos jy weet. My ouers het nooit tot die klasse van die welgesteldes behoort nie en kon my dientengevolge ook geen ander opvoeding gee as wat hulle self gekry het nie. Die toeval wou gehad het dat ek `n soldaat word. Ek was `n eienaardige jongman en het die geluk gehad dat my owerste ingenome was met my. Hy het my na die militêre skool laat gaan waar ek in `n kort tydjie goed leer lees, skryf en reken het. Wat die orige diensaangeleenthede betref, was ek baie gou een van die behendigste van die hele regiment. Die logiese gevolg daarvan was dat ek soldaat-eerste-klas geword het, daarna korporaal, sersant-majoor en ten slotte na sewe jaar, reeds `n offisier. Jonk, keurig, opgewek en bekwaam, en ook nog offisier! Jy kan jou goed voorstel dat ek met sulke eienskappe ook nie vir die ander met die vroulike skoonhede teruggestaan het nie!
[2] Tot my ongeluk leer ek by `n aristokraat van hoë afkoms een van sy dogters ken, en wel per geleentheid van `n bal, wat hy vir die offisierskorps aangebied het. Sy was barones van geboorte en haar vader was bowendien skatryk. Die meisie het my geval en ek waarskynlik nog meer vir haar. Om kort te wees, sy het in vuur en vlam geraak en gee my ondubbelsinnig te verstane wat sy vir my voel! My afkoms was moeilik met dit te rym; ek was van geboorte immers `n hereboer (gewone boer) en ten opsigte van die baron so arm soos `n kerkrot. Slegs deur my goeie eienskappe en keurige uiterlike, en nie deur verdienste nie, het ek `n offisier geword. Maar egte liefde vra nie na afkoms en rykdom nie!
[3] Ons was smoorverlief op mekaar en ons innige wens was om so gou as moontlik te trou. Maar hoe? Hoe moes ons van haar hoog-adelike en ryk vader toestemming kry en hom beweeg tot die skenking van die bruidskat? Ek het al die moontlike gedoen om deur haar vader aanvaar te word. Die gevolg was dat hy my op `n hoflike manier toegang tot die huis geweier het. Wat nou?
[4] My owerste, wat my soos `n seun liefgehad het, raai my aan om die diens te verlaat, dan na Engeland te reis en daar `n vername militêre posisie te koop! Vir die doel was hy, ook `n skatryk aristokraat, bereid om my sonder enige voorbehoud die nodige geld voor te skiet. Ek volg sy vaderlike raad stiptelik op. Kortom, na verloop van `n halfjaar was ek, omdat ek my by die seesoldate aangemeld het, eerste kaptein op `n oorlogskip, wat na `n kort rukkie opdrag gekry het om na Oos-Indië te seil. Dit het my nie aan moed ontbreek nie en die navigasie het ek gou onder die knie gekry!
[5] Maar vinnig het daar genoeg geleenthede hulleself voorgedoen om my as veldheer te onderskei. Alle operasies wat aan my toevertrou was, het ek glansryk voltooi en sodoende het dit ook nie aan toegekende onderskeiding ontbreek nie! Na ongeveer vier jaar keer ek na Engeland terug, in die adelstand verhewe en ook baie ryk. Daar kry ek `n halfjaar verlof, wat ek natuurlik gebruik om my huweliksplanne te laat realiseer.
[6] Toe ek in my vaderland aankom en gelukkig my ouers, broers en susters in goeie gesondheid aantref, was my eerste voorkeur om na die stad te reis waar my goeie vaderowerste, nou tot generaal-majoor bevorder, hom bevind het! Die vreugde van ons weersiens was groot. My eerste sorg was om aan hom my groot skuld te betaal. Maar hy neem niks aan nie en sê, toe ek suiwer goud voor hom op die tafel lê: "My beste vriend, jy weet dat ek nooit getroud was en geen kinders het nie. Jy is my enigste seun, wat vir my dierbaar is en is dus ook die erfgenaam van my hele vermoë. Beskou hierdie kleinigheid as `n vaderlike voorskot en maak verder geen melding daarvan nie!
[7] Dat die mededeling my tot trane moes geroer het, is vanselfsprekend! Wie sou so ongevoelig kon gebly het vir so `n edel en agtingswaardige man! Toe ons mekaar so `n bietjie oor en weer oor alles vertel het, vra hy my of ek en die bekende barones met mekaar gekorrespondeer het. Ek antwoord dat ek drie keer aan haar geskryf het, maar helaas op geen enkele brief `n antwoord gekry het nie! Maar dat ek na die besoek wat ek sekerlik aan hom, my beste vriend, wou bring, ook nog na die baron wou gaan om die hand van sy dogter te vra.
[8] Die generaal-majoor was baie tevrede daaroor, alhoewel hy nie laat blyk het dat die baron nou nog hoër eise gestel het aan die vereistes waaraan vir sy dogter voldoen moet word nie. Rykdom sou geen lokmiddel meer vir hom wees nie en die verdienste wat nie adellik gebore was nie, nog ewemin! By hierdie bekrompe aristokraat sou slegs die afkoms van die hoë adel tel! Hy sou daarom ook die titel van graaf, wat die keiser hom aangebied het, van die hand gewys het, omdat hy daardeur een van die jongste grawe sou word, terwyl hy nou die oudste baron was!
[9] Dat hierdie mededeling geen gunstige indruk op my gemoed gemaak het nie, is goed te begrype. Ek was nou ook `n edelman, maar waar sou by my die minstens sestien vereiste adellike voorouers te vinde wees? Maar die generaal-majoor meen dat ek die ou heer tog `n besoek moes bring en hom daarby flink avontuurlike verhale moes vertel oor storms op see, seeslange en groot golwe, waarvan die baron `n groot liefhebber was. Miskien sou ek daarin slaag om die hart van die ou korrelkop te wen!
[10] Ek volg die raad van my vriend op en word met groot eer deur die ou heer ontvang, wat ek as `n goeie teken beskou het.
[11] Die beste van alles was dat my Emma my nog met dieselfde gloed liefgehad het as voorheen. Sy het my briewe inderdaad ontvang en kon hulle slegs in stilte en met baie trane in haar hart beantwoord. Ek het natuurlik alles gedoen om die ou heer, met die oog op sy dogter, vir my te wen. Maar dit was vergeefse moeite! Om kort te wees, na drie maande was ek nog net so ver soos op die eerste dag van my besoek!
[12] Wat nou gemaak? vra ek my vriend! Na `n rukkie sê hy: "Ek wil jou volstrek nie verkeerde raad gee nie, maar as jy in die geval jou doel wil bereik, moet jy wel jou toevlug neem tot `n oorrompelingstaktiek! Die meisie is nou byna ses-en-twintig jaar oud, dus meerderjarig, en kan self oor haar hart en oor haar hand beskik soos wat sy dit wil hê! Het sy die moed om sonder die toestemming van haar vader te trou, neem jou Emma dan hiervandaan weg! Omdat die meisie laas self die voorstel van `n ontvoering gemaak het, dink ek dat sy wel met die voorstel sal volstaan, omdat dit berus op `n wettige daad! Mag die plan egter misluk en jy sou hier nie tot `n huwelik kom nie, dan moet jy die ontvoering uiteraard vinnig en wel oorwoë waag en in Engeland jou in die eg laat verbind! As daar geen ander middel bestaan om jou doel te bereik nie, sal daar vir jou niks anders oorbly nie! Jy sal wel sekerlik agtervolg word, maar laat dit maar aan my oor; ek sal die agtervolging wel so lei, dat jy sekerlik nie ingehaal sal word nie! Die res sal jy self weet om te reël."
[13] Hierdie raad geval my natuurlik en ek voer die kragtoertjie dan ook spoedig uit, omdat onoorwinlike moeilikhede in ons huwelik se weg gestaan het. Soos my vriend my later dan ook meedeel, was ons agtervolg. Maar omdat my vriend geweet het hoe om die agtervolging te bestuur, en daar bowendien geen loopplank oor die see strek nie, loop dit goed af. Toe ek my fregat betree, laat ons onsself dadelik deur ons skeepskapelaan in die eg verbind en die huwelik terdeë skriftelik vaslê. Daarmee was alles in orde, vir sover dit die huweliksbevestiging aanbetref.
|
|
|
|
|