Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 32

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Het My, Jesus, lief, want in Christus woon die volheid van die Godheid liggaamlik! Robert twyfel aan die Godheid van Jesus; wil egter blindelings glo

32 Ek sê: "Beste vriend en broer! Solank die druif nog nie heeltemal ryp is aan die wynstok nie, moet dit nie afgepluk word nie! Want haar lewensap sou dan nog suur wyn oplewer, met baie weinig gees; en sou hy al gees hê, dan tog `n baie onedele.

[2] Kyk, jy is nou ook soos `n nie volryp druif en jy is nog nie vir die onthulling wat jy verlang, ryp nie. En waarom nie? Dit wat nou volg, sal dit wel vir jou aantoon! Wanneer jy egter ryp word, dan sal jou eie gees jou sê wat jy nou regstreeks van My sou wil hoor"

[3] Ons het nog eers `n belangrike kapittel met mekaar te bespreek. As dit goed verloop, dan sal jy vinniger ryp word as wat jy jou kan indink. Val die bespreking nie uit volgens God se orde nie, dan sal jy nog `n hele tyd nodig hê vóór jy volkome ryp sal wees.

[4] Dit moet jy wel eerstens weet, soos wat die druif alleen deur die warmte van die son tot rypheid kom, so kom ook iedere mensegees deur die ware liefde tot God tot rypheid. As jy God nie kan liefhê nie, omdat jy nog vra waar en wie Hy is, het My dan lief met al jou krag, aangesien jy sekerlik tog nie in twyfel kan verkeer oor My bestaan nie. Daardeur sal jy al nader aan die gewensde rypheid kom. Want die liefde tot die naaste is gelyk aan die liefde tot God. En dat Ek hier jou naaste is, kan jy tog nie betwyfel nie?

[5] Doen dit dus, dan sal jy nader aan die Godheid kom. Maar nou gaan ons oor tot die kapittel wat ons wil afhandel!

[6] Sê my eers, beste vriend, aangesien die briewe van Paulus nie onbekend is aan jou nie, wat daardie leraar bedoel met die woorde: "In Christus woon die volheid van God liggaamlik". Bedoel hy dalk dat in Christus, dus in My, die hele Godheid Haarself bevind. Of wil hy met die vergoddelikende alleen die voortreflikheid aangee van die gees van My leer? En wel volgens die toenmalige gewoonte, waar mense maar al te bereid was om al die buitengewone te vergoddelik? Gee My jou eie mening daaroor. Ek sou dit graag van jou wil hoor!"

[7] Robert sê: "Ja, my beste vriend, dit is `n baie netelige vraag! Want hoe kan ek nou hier raai wat die goeie Paulus eintlik daarmee bedoel het? Dit sou uiters gewaagd wees om ronduit te beweer: Dit, en niks anders het hierdie hoogs eerbiedwaardige leraar van die heidene daarmee bedoel nie. Ek vind dit trouens erg aanmatigend van menige geleerde, wanneer hulle kortweg beweer dat hy die ware gees van een of ander geniale skrywer volledig begryp het! Ek is baie meer beskeie en laat ander in sulke gevalle baie graag oordeel. Beval hulle oordeel my, dan betuig ek hulle my instemming. Beval dit my nie, dan luister ek na die menings van andere en handel sodoende ook volgens Paulus, wat sê: "Beproef alles, maar behou slegs die goeie!" As goed egter, kan ek slegs dit erken, wat die meeste ooreenstem met my innerlike oortuiging. Sou Paulus die eerste bedoel het, wat bes moontlik kan wees, dan kon hy onmoontlik die tweede bedoel het, en omgekeerd! Dit is wiskundig en logies waar.

[8] Deur hierdie definisie van my sal jy hopelik insien, dat ek jou op jou vraag `n afdoende antwoord skuldig moet bly en dat ek van jou moet verwag wat jy van my wil hoor! Wees dus self so goed, vanuit jou wysheid, om oor die onderwerp te spreek!"

[9] Ek sê: "Vriend, die antwoord het ek verwag. Dit moes so natuurlik-verstandig uitval omdat jy op natuurlike gebied `n verstandige man is. Maar van `n bonatuurlike wysheid is niks daarin te ontdek nie. Volgens die innerlike, dus suiwer geestelike wysheid kan Paulus slegs één bepaalde iets bedoel het. Dit moet uit die keuse van sy woorde presies gedefinieer kan word, sodat daar in die vervolg oor hierdie gewigtige saak nooit meer twyfel kan bestaan of hy die een of die ander bedoel het nie; dat hy egter baie seker slegs, neem ons aan, die eerste moes bedoel het. Maar hoe dit in die innerlike, bonatuurlike wysheid af te lei is, kan jy natuurlik nie weet nie. Want Hegel en Straus, Rosseau en Voltaire het dit self nooit begryp nie. En jy, as een van die vurigste vereerders van die wysgere, kan daarom onmoontlik die weg ken, wat vir jou lerare en leiers nog onbekender was as Amerika, Australië en Nieu-Zeeland vir die Romeine.

[10] Sou jy as Duitser, in plaas van bogenoemde leiers, liewer die Bybel, Swedenborg en dergelike wyses van Duitse afkoms, baie vlytig bestudeer het, dan sou jy nou perfek geweet het hoe Paulus begryp moet word. Maar as volgeling van Hegel, is jy baie ver daarvan af, en daar sal baie moet gebeur voordat jy die innerlike wysheid sal bereik! Let nou egter op, Ek wil iets vir jou sê! As jy dit aanneem, sal jy nader aan die doel gebring word.

[11] Kyk, Paulus beskou die Christus, dus vir My, as die hoogste goddelike wese self, hoewel hy eers My felste teenstander was. Sê My nou eers, wat dink jy van die geloof en die wysheid van die ou Paulus?" 

[12] Robert sê: "Dit is weer uiters moeilik om `n bevredigende antwoord op hierdie vraag te gee. Want in die eerste plek sal ek bonatuurlike wysheid daarvoor nodig hê, wat my egter ontbreek. En vervolgens kan mens sonder verdere oordeelkundige bewyse tog nie sommer aanneem dat die origens baie wyse Paulus in alle erns self geglo het, wat hy ander mense wou laat glo het nie. Want alle agtenswaardige ou wyses, Paulus inbegrepe, het self beslis baie goed ingesien hoe wankelrig die basis van alle metafisiese en teosofiese teorieë is. Hulle bereken met hulle goeie mensekennis hoe gou die menslike geslag ongelukkig sou word, wanneer hulle tot dieper insig van die besef van hulle verganklikheid gekom het. Daarom probeer hy deur toesprake en sinspreuke dalk op die manier van die orakel van Delfi die volkere tot `n soort mistieke geloof terug te voer, waardeur tenminste hoop op `n toekomstige lewe opgewek kon word. Of hy self egter ook werklik vervul van die hoop geleef het en of hy van al dit wat hy onderrig het, volkome oortuig was, bly vir my sekerlik `n vraag, totdat ek, hetsy langs die weg van innerlike wysheid, of deur direkte konfrontasie met die geeste wat so-iets onderrig, tot `n ander insig kom.

[13] Ek het nie die geringste moeite om jou, my allerbeste vriend, solank as `n God te beskou, totdat ek êrens `n ander een gevind het nie! Sou daar in ewigheid geen ander God Hom laat sien nie, dan bly jy my enigste God en Heer, ook vir ewig. Want as daar één onder ons is, dan is dit beslis jy! Want by my is daar, ondanks al my Hegelse wysheid, nie die geringste `n spoor van `n Godheid te ontdek nie. Maar na `n bewys waarom ek dit graag glo en aanneem, moet jy my nie vra nie, want dan sou ek jou `n antwoord skuldig bly.

[14] Want wat mens glo, glo hy sonder bewys, omdat die geloof op sigself niks anders is as, oftewel `n traagheid, of dikwels ook `n sekere volgsaamheid van die verstand. Eis `n aktiewe verstand egter `n bewys van `n geloofsobjek, en dit kan dan voldoende aan die verstand gegee word, dan hou die geloof sondermeer op om geloof te wees, want dan word dit `n duidelike oortuiging!

[15] Bewyse kan ek my egter, wat jou Godheid betref, volstrek nie verskaf nie. Daarom wil ek intussen maar net glo dat jy voorlopig `n God is. Sou dit in die toekoms egter moontlik word om die geloof met bewyse ietwat duideliker te maak, dan sal my geloof `n sigbare waarheid word. Of my geloof egter maklik sover omvorm sal kan word, is trouens weer `n ander hoofstuk.

[16] Want sien jy, ek is `n hardnekkige Thomas, en verlang eers presiese bewyse, voordat ek iets as `n vasstaande bewys aanneem.

[17] Weliswaar het jy my die Bybel en die teosoof Swedenborg aangeraai; maar wat baat so `n hulpmiddel hier, as jy dit nie in die hande het nie? Daarom bly ek maar by die eenvoudige geloof. En as dit vir jou moontlik is, maak my dan ietwat dommer as wat ek van nature is, sodat ek sterker kan word in die suiwer geloof! Ek sien alreeds in dat ek gelukkiger sal wees as wat ek nou is.

[18] Want `n oerdom kêrel is met die oog op `n gelukkiger bestaan, baie ver voor `n verligte gees. Terwyl hy in die sweet van sy aanskyn soek en soek om nader te kom aan die groot en heilige waarheid, om homself en baie duisende daardeur gelukkig te maak, bid die suiwerste geloofsmens sy "Onse Vader" en gaan dan behaaglik op sy berehuid lê en slaap sorgloos, sag en rustig soos `n marmot! Breek sy laaste uur dan aan, dan is hy nie te veel daaroor bekommerd nie. As `n priester hom maar net teen enkele goed betaalde misse en dispensasie van die hel en aflaat van die tydelike straf in die vagevuur kan verskaf! Sy blinde geloof neem dit alles vir goeie munt aan en hy sterf in die optimistiese hoop om regstreeks na die hemel toe te gaan. Dit noem ek maar tog gelukkige domheid! En ek voeg nog dit daaraan toe:

[19] `n Dwaas en `n esel is hy wat homself sy lewe lank besig hou met denke en navorsing. Want daardeur word sy geluk nie groter nie, nóg in die materiële wêreld, nóg, en selfs veel minder, in die onstoflike, newelige wêreld. Dit maak hom inteendeel alleen maar meer ongelukkig hoe meer hy na die lig en waarheid dors, maar daarby steeds meer tot die insig kom dat die êrens aanwesige Godheid nêrens `n verkwikkende bron geskape het om die dors te les nie.

[20] Dus wil ek hierdie weg nou heeltemal verlaat en my in plaas daarvan in die sagte arms van die blinde en trae geloof werp. Miskien bereik ek eerder iets wat mens met reg `n ware geluk vir `n menslike wese kan noem.

[21] Hoe gelukkig is byvoorbeeld so `n klooster prelaat! (prelaat= titel van Rooms-katolieke geestelike) Hy dink niks; hy ontdek niks; maar leef slegs volgens sy eg Rooms-Katolieke geloof, volgens die soet orde van sy epikuristiese, Stoïsynse ordestigter en daagliks laat hy sy uitgesoekte maaltye goed smaak. Waarlik vriend, dit is `n gelukkige lewe. En so `n lewe kry jy deur die mees blinde en domste geloof?!

[22] Daarom wil ek my nou, sonder om na te dink, in die arms van die geloof werp. Miskien sal ek daardeur gelukkiger word!?


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205