EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 80

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 80 - 30.05.2016 om 01:50 (aan Wendy)

"Skryf My Dogter, My Bruid

Dit is nie vir julle voordelig om die pynlas op te tel wat julle reeds deurgemaak het, wanneer julle sien hoe julle broers en susters daardie toets deurgaan nie. My Gees, My Woord, My Liefde moet jou dan eers help, voordat jy bruikbaar kan wees om jou broers en susters te help. Bly op My gefokus en Ek sal jou deurlei waar dit vir jou nog rou voel. Julle sagte harte voel hulle pyn aan en dit is reg so, My Liefling. Moenie verward word en dink dat dit jou pyn is nie. Ek het jou reeds daardeur gedra en die felheid daarvan is in My opgeneem. Ek het reeds My Helende Balm oor jou wonde laat loop en die gate is gelyk volgemaak met My. Ek is jou Lewe, jou Lied van Vertroosting wat jy vir My Kinders sing. EK IS Almagtig en EWIG LIEFDE. Bring My Kinders na My toe en Ek sal hulle heelmaak soos wat Ek julle ook heelgemaak het. Daar is niks wat voor My staande kan bly wanneer jy, My Liefling, dit voor My bring nie. Ek suiwer, Ek reinig, Ek maak heel, Ek vertroos, Ek berei die Weg. Ek is die Lewegewer!

Soos wat julle selfs meer in My verdiep en fyner luister, julle die innerlike stilte self instap, sal jul My duideliker kan hoor. My innigste Liefling, Jou vasberadenheid om My te soek en te bly soek verbly My Hart, want in die uitverkiesing van My bewys julle jul Uitverkiesing van My. Sien julle dat dit niks is om oor hoogmoedig te word nie, want daarin word julle verhinder. Hierdie soeke, aanhoudende volg, kan nie gebeur in die "lig" van hoogmoed nie. As julle daarin roem, het die hoogmoed jul skat as klatergoud bewys. My Bruid is nederig en sagmoedig, edel en loop in Waarheid en Lig! As julle vind dat julle My nie kan hoor nie, staan stil en luister.

Kom en aanskou die heerlikhede wat Ek vir julle voorberei het, julle wie volhard het, wie alles met vreugde opgegee het om My, Die Skat, te bekom My Liefling. Ek is jou Skat, en nooit sal julle daarvan beroof kan word nie! Onherroeplik is ons aan mekaar verbind. My Beloftes is vas, My Woord ewig. Waaragtig en Getrou is Ek om dit wat Ek beloof het, tot uitvoer te bring. Verlaat julle geheel en al op My, My Liefling. EK IS jou Man. My Goedheid en Guns sal jou volg al die ewighede van Ons lewens saam.

Ek is jul kannetjie wat onuitputlik is waar julle in die woestynstreke, die dorre land gaan inbeweeg om My take te gaan verrig. Ek is jul ewige waterbottel van verkwikking want nooit sal julle dors hê en Ek nie daar sal wees met julle nie. Versadig sal julle wees, want Ek is die Brood van die Lewe. Gaan sonder vrees, Ek is met julle!

"Sowaar as padda manel dra" is die gesegde en julle weet nie waar dit vandaan kom nie, dus wil Ek julle weer wys op die verborgenhede van die woorde en uitdrukkings wat julle so aan gewoond geraak het. Laat toe dat Ek tot elkeen van julle in julle harte spreek oor die woorde, die uitdrukkings, die sinsnedes in My Woord wat julle al ken, wat julle al bestudeer het, wat julle al nagevors het. Daar is rykdomme daarin waarvan julle nog nooit bewus was nie, soos kinders wat speel langs die rivier en nooit die goudstukkies daarin sien lê nie. Kom, word deur My onderrig, nader tot My in die stilte en Ek sal wonders aan julle openbaar!

Kom, neem My Hand en wandel met My, My Liefling, My Bruid. Elke oomblik saam is kosbaar vir My en van onskatbare waarde vir julle. Bly IN My, elke oomblik van elke dag en Ek sal jou gee, die begeerte van jou hart!

Jy is Myne en EK is joune! Ek is LIEF vir jou!

EK IS"

Amein


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205