EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 6 - 13.12.2015 om 22h00

”Heiligheid en Heiligmaking - Apartheid en om Apartgestel te word”

Hoe moeilik kan dit wees! Julle wik en weeg, "sal ek, of sal ek nie" die harde klipperige pad loop om by die Skat, die Ewige Herberg van My Liefde aan te kom. Kom ons kry die perspektiewe reg. Dit is nie of jy lus het om jouself uit te sit om by My uit te kom nie. Nee, dit is Dit : Het jy My LIEF?

So, besin daaroor, want die antwoord is maklik. Dit is JA of NEE. As dit Nee is, wees seker van jou saak, want Ek sal nooit jou wil teëgaan nie. Maar as dit JA is, moet jy ook besef dat om My Lief te hê, nie in die orde kan wees van enige emosie, gevoel wat jy nog ooit beleef het nie. My Liefde vir jou Brand hoog! En Ek wil van jou ook vurige Liefde ontvang. Vurige Liefde neem jou hele gedagtewêreld op, jy wil praat en vrae vra en stilwees...saam, altyd saam. . . Hoe is dit dat julle kan dink om aan My die oorskiet gevoelens te gee, dit wat nie opgebruik is in jul dag nie, jul flenter aandag?. . . My Liefde vir jou Brand Hoog!

Ontwaak vanuit jou draling en doen voorraadopname van jou verhouding tot My, met My. My Bruid, nadat Sy die Huwelikskontrak aanvaar het, plaas 'n sluier voor haar gesig. Sy hou haar apart van die plekke en plesiere wat sy nog geniet het, 'n kort tyd tevore. Alles wat Sy aan dink en doen is ter voorbereiding vir haar Bruidegom se koms. Sy let nougeset op haar voorkoms en berei haar innerlike voor vir die eenwording, die Huweliksbevestiging. Sy is haar Man se Hulpmaat, Sy ander-Self. Wat Twee is, word weer Een...

So, antwoord My. Is jy die Bruid wie My Hulpmaat is, My ander-Self? Of is daar nog werk wat gedoen moet word? Is jou Kuisheid bekend, jou vrugbare grond bewerk? Hoe kan Ek vir jou terugkom as jou kleed vol modder, skeure en distels is?

Kom uit, My Bruid! Sonder jouself van die wêreld af en besin oor die Liefde. Leer My ken, leer om op My te vertrou. Ek stuur aan jou die Vriend van die Bruid wie na jou welstand omsien want sien, jou versorging het My verantwoordelikheid geword, My Vreugde! Hoe sal Ek My Bruid verlate los sonder kos of herberg? Nooit! Nooit kan dit wees nie!

Julle menseverhoudings het julle gekraakte potte gemaak, jul verwagting van My is power en jul kapasiteit vir die Liefde ontoereikend. So kom, kom in My Nabyheid in en Ek sal jou heelmaak sonder kraak of merk. Ek sal jou vul soos 'n Waterkruik waarheen Ek sal kom vir lafenis in die hitte van die dag.

My Bruid, My Liefling, kom loop saam met My in die vroeë oggend dou, en dwaal aan My Sy in die skemering wanneer die vars geure in die tuin hul skatkamers oopmaak.

Ek vra jou weer, Het jy My LIEF?"

Amein!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205