EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 26

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 26 - 15.01.2016 om 16h15 (aan Wendy)

"Skryf My Dogter, My Bruid

Vandag wil Ek met hulle praat wie nog in die waan van heerssug en verhewendheid vasgeval is. My seuns, My dogters, daar is slegs Een Heerser en dit IS EK! Het julle dalk vergeet dat Ek My Dissipels berispe het toe hulle geredekawel het oor wie die grootste, eerste in My Koninkryk sou wees. Ek het My kleed afgehaal, water in 'n bak gesit, 'n doek geneem en hulle voete gewas. Op 'n ander keer het Ek 'n klein kindjie nadergeroep. Het julle dit dalk misgelees, misverstaan? Julle harte is verhard en julle nekke stram om voor My te kom buig, voor My wie julle sê julle dien. Hoor My baie duidelik! Ek heers alleen, en naas My, My Bruid. My Bruid is minsaam, nederig, rein en sonder vlek. Sy het 'n ruggraat van staal en My Bloed in Haar Are, 'n Hart sonder weerga, My Beminde, My Vrou! Harte van klip en stokstywe nekke pas nie by Haar in nie. Julle sal julself aan die buitekant van die Deur bevind met die Bruilofsmaal. Ek praat, vermaan, roep tot julle harte, maar julle ore is verstok, jul oë blinde pêrels.

My Koninkryk is LIEFDE! Waar pas julle hart versugtinge in in My Ryk? Julle wil Moses se wette toepas, broer en suster onder klippe vergruis, deur julle eie hande gewerp! . . . Nee, My kinders! Julle wil maak en breek wanneer die reg daartoe SLEGS My toekom.

Kom, besny julle harte, kom in ootmoed voor My en buig voor My voete. Die verlore seun is met oop arms deur sy Vader ingewag. Kom terug na My. Hier is Vreugde, Lig en Liefde, Broederskap en Samehorigheid. Julle almal kom uit My en tot My moet en sal julle terugkeer. Keer gou terug sodat dit kan jubel in My Ryk, engele sing en juig wanneer een van hul broers of susters terugkeer na die Huis! Die Tyd is haas verby waarin julle nog in hierdie bedeling na My sal kan keer, voor die reiniging van die aarde vir die Duisendjaar Sabbat waarin My Bruid en Ek saam sal regeer. Groot is die opgewondenheid! Voorbereidings is haas klaar, net die finale punte word nou afgehandel. .. Die engelekore is reg, die Feesmaal berei, die gaste - hulle wie gevind is, gewas en bruilofsklere aangetrek, is ook meestal in hul plek. EK WAG! My liefling, My Bruid, EK WAG!

Hoor die Stem van die Nasarener! Hy sing 'n Minnelied vir Jou. Hoor die diep Liefde, die sugting na Jou, Bruid van Sy Hart! Sy Stem uniek! Nooit sal Sy Hom kan verwar met enige ander. Hy is Hare, Sy behoort aan Hom! Sy bruilofstent is oor Haar gespan, DIE LIEFDE!

Hoor die Helder Reën wat om en in julle val, julle oeste verdriedubbel! Werk aan die onderhoud van julle tuine, jul lande en maak seker die heinings het nie gate in nie. My Vrugte is soet, My Koring geil. Ek gee die Reën op die regte Tyd, Ek laat die plante groei, julle is die grond. Hou dit skoon van onkruid. Ek kom julle binnekort besoek, wanneer die oes moet inkom.

My Liefdesleer, My Minnelied is nie vir almal hoorbaar nie. Slegs hulle wie hul harte na My Weë teruggekeer het. My Moses het hulle, julle gesien daar van die Berg Nebo en hy het geweet daar is HOOP! My Moses, saggeaard en Lief vir My, Ek het My Engel vir hom gestuur. Hy was Myne!

Joshua het My getrou gedien, hy het fyn geleer by My Moses... Joshua, My Hart, het geweet JisraEl gaan struikel en val. Vermanings en wegwysers het hy hulle gegee. Hy het uitgevoer, geveg, naby My gebly, leiding gegee. Vandag is daar ook Joshua’s onder julle soos wat daar Moses en Elias is. Elkeen het sy of haar taak, elkeen in My Diens! Kom vra My, en as Ek sien dat nederigheid jou deurdring, sal Ek jou sê, aanduidings begin gee. Die wie reeds weet, het ook hul take. Miskien, vir jou sieleheil sal jy nie nou weet nie, maar duidelik jou take vanuit My Mond ontvang. Jy sal jou take enduit uitvoer. Ek sal al My Kinders versterk. Bly naby, geborge IN MY en Ek sal julle rig, julle lei, julle Spys en Drank wees!

Word LIEFDE! My Stem resoneer in LIEFDE, die LIEFDE binne julle Wese. Die frekwensies daarvan solfeggio... 6 Tone, Skeppingskrag verberg van die wêreldgesag. Soos opgehete, eiewaan skepsels sou hulle erger as 'n Babel kon vermag... Nee, Die hou Ek verborge in My en sal My Bruid die sleutel daartoe kry!

My Beminde, My Bruid! Binnekort sal jy My Arms om jou voel slaan om jou nooit weer te laat gaan! Die ewige toekomstige ewighede kan jy nie eens begin verstaan, dit wat Ons gaan doen, saam, altyd saam!

Geen naywer moet daar te bespeur wees, ook nie wisselvalligheid nie. Ek moet reinheid en sagmoedigheid sien in My Bruid, skoongewas in die Reën.

Kom, neem My Hand, Ek Wil dat Jy by My moet wees, IN MY, DEEL VAN MY. Ek Wil met Jou deel wat in My Hart is, Jou lei op die Weg vorentoe.

Kom na MY!"

Amein

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205