EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 23 - 10.01.2016 om 16h00

(aan Wendy)

Mashiach, my Mashiach! Hoe lank nog voor U by my inkom? My verlange is U, U is al vir wie ek leef. U is my begin en met U is daar vir Ons geen einde! HaleluJAHH. Groot en Almagtig is U NAAM. Dra U my lewe soos 'n kleed, my Koning, laat Ons saam elke dag bewandel!

Skryf My Dogter, My Bruid,

Laat elkeen van julle vashou aan die beloftes wat Ek aan julle gemaak het, want My Woord is Waarheid en Ek kan nie lieg nie! Sowaar as EK LEEF gaan Ek jou kom haal om by My in My Ryk te Leef. Dit beteken nie dat jy nie langer hier op aarde gaan wees nie, nee! Daar is werk hier, en Ons Kinders is hier, My Bruid. Hoe kan ons hulle hier los, vir die wolwe gooi? Ek IS LIEFDE! Geen handeling of gedagte wat nie Liefde is, is van My nie. Leer om elke gedagte gevange te neem en bring dit voor My. Elke gedagte, want soos 'n man of vrou DINK in die hart, so is hy of sy. Wees skoon, wees Rein, My Bruid. Ek bemin jou met 'n Ewige Liefde, kan jy My Liefde aanvoel? Het jy al jouself so op My ingestel dat jy My elke beweging kan aanvoel? Kyk hoe is dit met 'n getroude paar, die een weet dadelik wanneer iets met die ander gebeur het . . Kan jy My so aanvoel? Nog nie? Begin dan selfs nouer op My let, jy sal weet wat My Hart verbly. Verbly julle in My en Ek sal MYSELF aan julle gee!

Die toring was nog altyd 'n belangrike deel van julle gemeenskappe, julle geskiedenis. Oor die jare en eeue het die betekenis daarvan vir julle verander en tog bly die struktuur daarvan onveranderd. Hier praat Ek nie van die klipstapels by die lee doppe waar mense vergader nie. Torings is Vestings en Uitkykpunte. Torings staan op strategiese plekke wat jul die voordeel gee in magstryd en verdediging. Ek Is julle Toring, julle Vesting. Kom IN by My. Ek is julle Skild, julle Beskerming. Ek wys julle wat aankom en berei julle voor vir die stryd wat voorlê. Die geveg is NIE teen vlees en bloed. My Wapenrusting raak nie klaar nie, lemme word nie stomp nie. Julle lees Paulus se beskrywing daarvan en sê dit soos 'n mantra. Ek het nuus vir jou, mantras werk nie. Dit is soos die gebede van die wie op straathoeke staan en bid. Dit is 'n rammelry van woorde sonder een vonkie Liefde vanuit die hart. Dis nutteloos en laat julle in 'n baie gevaarlike plek, want julle het dan NIE My beskerming NIE! Gaan lees dit weer nadat julle tot My genader het en gevra het dat Ek die deel vir julle oopmaak. Wees reg om al jou voorafopgestelde idees uit die venster te gooi, want dit is nie eens 'n fraksie van hoe dit werk nie. Byvoorbeeld, kyk na die deel wat handel oor jou voete. "Die bereidheid om die evangelie van Vrede te verkondig". Die Vrede kan net van My Teenwoordigheid kom, hoor julle? My TEENWOORDIGHEID. Sonder My Teenwoordigheid is jou voete onbeskermd en sal die caltraps wat die vyand vir julle uitgooi julle in so mate verwond dat julle nie verder sal kan gaan nie. Moenie julle voetbeskerming as gering ag nie. Ek weet julle het vir die Ark gevra vir skoene en Ek sal dit voorsien, weet ook dat slegs Ek daardie voetbeskerming kan gee wat julle nodig gaan hê in die dae wat kom. Al wat julle moet doen is om te vra. (Caltrap is 'n verharde, veelpuntige "dubbeltjie" wat in die ou dae op groot maat gemaak is en uitgegooi word wanneer onttrek word uit posisie om die opponerende mag se voetsoldate en perde te beseer. -skrywer )

Julle wonder hoe dit gaan uitwerk, wat vir julle voorlê en weer sê Ek vir julle dit gaan 'n beproewing wees, ook vir julle wie In My is, want dit is julle taak om Ons kinders by te staan, te voed, te klee en te beskerm, uit die moeras van wanhoop te red waar hulle tot My roep om hulp. Ek is daar by elkeen van julle en sal julle Vesting wees, julle Toring waarin julle veilig is, geborge is. Berei julle daarom dan op die take voor, julle LIEFDE moet vermeerder, want daar gaan tye wees wat dit slegs julle LIEFDE gaan wees wat julle daar sal hou totdat die taak volbring is. Die soort take is daar baie van, maar elkeen van julle het 'n voorliefde vir sekeres daarvan. Omdat Ek jou deur en deur ken en niks vir My verskans is nie, sal jy die take kry waarvan jy hou en jy sal dit voltooi met 'n Lied in jou hart tot My, jou Beminde! Ek het reeds jou hele lewe gebruik om jou op te lei en aanduidings te gee van wat dit is wat jy vir My gaan doen. Gaan na julle innerlike en vra vir verheldering en Ek sal julle leer, julle wys hoe die legkaart van jou lewe inmekaar pas. Niks is toeval, niks is "per ongeluk", daar is NET EK.

Kom, My Liefling, My Bruid! Trek julle goeie dade van LIEFDE aan as 'n linnekleed en omgord jou met die koord van My Bloed wat julle losgekoop het. Daar is werk om te doen! "

Amein!

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205