EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 62

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 62 - 16.04.2016 om 02h10 (aan Wendy)

"Skryf My Liefling, My Bruid

Ek is besig om met elke een van julle self te praat en te lei soos wat Ek julle beloof het, My Bruid. Die van julle wie My Stem hoor en getrou doen soos wat Ek vir julle aandui, aan julle werke sal julle weet dat Ek getrou is aan My Beloftes. Dit is getrouheid wat op nuwe, diepere meer intieme wyse aan julle openbaar word. Dit is die verdieping van Ons verhouding wat Ek ook van gepraat het.

Verhoudings is iets wat julle, My Kinders, My Bruid, in ’n nuwe Lig sien, My Lig hierdie laaste paar weke. Dit is goed! Julle hou ook julle geliefdes nader aan die hart wat vir julle tot groot seën is en sal wees, want soos Lig in julle verhoudings invloei, so word die siele om julle verlig en kan hulle wie reeds ontslaap het, maar nog aardsgebonde is weens die verknogtheid aan die die materiële, 'n beter Weg sien. Hulle wie julle in hierdie tyd vooruitgaan, gaan ook versterk in die Ligsfere van My Ligryk aankom en vir julle tot goeie hulp wees.

Soos die fyn lint onder jou hekelpen omvorm word tot 'n diensbare werkstuk, so My Liefling is Ek besig om jou diensbaar te maak vir My. Ja, daar is 'n paar kere waar die hak nie die lint kan optel met die eerste beweging nie en verg dit meer aandag om die steek te voltooi voordat daar aangegaan kan word, - so is dit met julle getrouheid om die onsuiwerhede uit te werk en die deel dan in plek te laat kom, - in lyn met My Wil. Net soos jy nie weet hoe groot die artikel gaan wees met die lint tot jou beskikking nie, so ook, My Kinders, weet julle nie hoe lank, of hoe vêr julle hier sal kom met die afronding nie, voordat die wolkbreuk oor julle gaan kom nie. Die belangrikste My Kind, is dat julle getrou sal werk aan dit wat Ek voor jou lê. Hoe die werkstuk daaruit gaan sien en wat Ek daarmee gaan maak, het julle nog nie duidelikheid oor nie. Dit is onbelangrik. Wees getrou in die take en opdragte wat Ek aan elkeen van julle gee en Ek sal sorg vir die Seëninge wat daaruit sal vloei. Wees Getrou, Wees Gehoorsaam!

Die graan in die suier moet nie vir julle tot gemak roep nie. Soos die ryk man wie sy graan in skure ingevorder het, selfs nuwe skure daarvoor gebou het om sy rykdomme daarin te vergader, maar sy lewensduurte buite rekening gelaat het in sy "eenoog fokus" op sy gemak, so moet julle nie wees oor dit wat vir julle plesier en hartstog opgegaar het nie. Ek is Meester van die Lewe en die tydsduur van elkeen van My maaksels hier gegun, is slegs aan My bekend. Moenie dat julle aan die einde van julle toetstydperk gevind word in hebsug, eieliefde en verharde siele nie. Soos stof tot stof terugkeer, sal julle, wie so te lig gevind was, saam met die verstoktes terugkeer na die toestand waaruit julle gekom het, naamlik die gebonde wil en julle sal My Glorie, My Majesteit en My Lieflikheid vir die tydsduur van die Sabbatsrus aanskou. Ek is Skepper en Heerser van hierdie Heelal. Ek maak soos Ek Wil en wie sal My keer. Jou ontkenning van My en My Wette maak jou nie minder daaraan gebonde nie. My Woord is al, AL WAT DAAR IS!

My Bruid, jou skitter Glimlag verhelder hulle daar waar jy is en jou Reinigingsproses is ook tot sprekende getuienis van My Liefde, My Belofte aan My Beminde. Moet julle gedetermineerde werk aan moeilike dele van julle reiniging nie onderskat nie, want sonder dat julle weet, het julle reeds groot lesse en riglyne gegee aan hulle wie saam met julle op julle lewenspad is. Hou vas aan My, Liefling! Elke nuwe openbaring wat Ek vir julle gee in die geheim van julle innigste, verlig na julle buitekant en word die weg om julle te verlig tot seën vir julle geliefdes en hulle wie julle op die lewenspad sal teëkom. My Saad lewer duisendvoudig in Goeie Grond. Ek is die Saaier en Meester van die Oes!

Voorwaar, julle moet julle nie vergelyk met hulle wie julle in eras vooruitgegaan het nie. Hulle is gebore in hulle tyd vir redes wat julle nie nou sal kan verstaan nie, net soos wat julle, My Kinders, in hierdie era gebore is, hier aan die Einde van Dae so lank van gepraat en voor gesug in die harte van My mensdom. Alles, ALLES loop en werk volgens My Plan, en dit is om elkeen van julle weer met My te sien verenig. Ek is buite Tyd en Sien die Einde van die Begin. EK IS en wie kan My Liefde keer, My Lankmoedigheid, My Barmhartigheid! HOOR MY ROEPSTEM en KOM IN na My, My kinders!

EK is Lief vir julle!

EK IS" AMEIN!

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205