EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 49

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 49 - 17.03.2016 om 20h40 aan Wendy

"Skryf, My Liefling, My Bruid

Kom werp jou sorge op My, My juk is lig. Die wêreld druis in op jou en Ek sien jou hart, jou smagting na My. Ek weet hoe graag jy aan My voete wil sit. Doen jou take en versorg jou mense in My Liefde en jou bruilofskleed sal verfyn en sal selfs verder versier word. Dit is 'n offer wat jy bring en dit is kosbaar vir My!

Groot en Magtig is My Naam, My Weë verhewe bo die van die mens. Sal Ek verantwoord aan 'n mens, sal Ek My "saak" verduidelik op aandrang van My maaksel? Jul perspektiewe is uit as dit is wat in jul harte sit. Ek deursoek die harte en niere van elke mens en niks kan van My versteek word nie! Kom julle voor My en buig jul harte neer in ootmoed. 'n Wederstrewige hart kan nie geleer word nie, 'n stywe nek wil nie voor My buig nie. Tot jou hart nie in volle oorgawe tot My om hulp uitroep, om redding, om vergifnis nie, KAN Ek jou nie help nie.

My profete het oor die eeue met My Volk geworstel om na die Goeie Weë terug te keer, hul vermaan en gewaarsku. Hier is ons weer en word My Volk weer teruggeroep na My, My Weë. Nou, soos eens, is hul ore verhard, hul oë blind. Die enkelinge wie die ore het om te hoor en die oë het om te sien, se siel sal verhelder deur My Lig, My Liefde, My Lewe! Nougeset moet My Liefdeswette onderhou word wat op hul harte geskryf gaan word en wat deur My Gees uitgeleef gaan word. Dit vereis elke greintjie krag, moed, durf en fokus. Alle ander passies en liefdes word in die tweede plek geplaas in die Lig van My Liefde. So kom My Kind dan in die gehoorsaamheid van "Wees Lief vir Vader met jou hele hart en jou siel en jou verstand en AL jou krag". Eers in daardie totale oorgawe aan My kan hulle dan as uitvloei daarvan My Liefde, My Gees bedien aan hul naaste. Hulle is dan My hande, My voete, My arms, My bene en My mond wanneer Ek dit so gee, en My hart, waar die wêreldling nie My Hartklop kan hoor nie. Daar is soveel wandelende dooies van siel dat My Hartklop 'n vreemde klank vir hulle is. My Kinders, My Kinders! Wees My sigbare Liggaam vir My Volk. Hulle gaan julle aanval, julle beskuldig, julle vloek, verskree, verneder, slaan, martel en selfs dood. Hoe dan anders? Sal die kneg se pad anders wees as die van sy Meester? Vir julle, My knegte, My Kinders, sal dit 'n Liefdestaak wees, want julle is vas in geloof in My. Julle siele leef vir ewighede en is by My geborge. Of julle lewe, of sterwe, wen julle, want julle is IN My! Vreugdevolle sang en lofliedere styg op na MY van My Kinders, My Geliefde, My Bruid! Nie een van julle, My dierbares, sal die lewe hier neerlê sonder rede nie. Jul lewens is in My Hand en Ek ken die lengte van jou lewe hier tot op die millisekonde. Jy is MYNE!

My skryfkneg vra vir woorde van versterking en bemoediging vir julle, woorde wat julle sal bybly in die tye wat kom. My woorde vir julle is die: "Jy SAL My STEM HOOR!". My vraag aan julle is: GLO Jy My? Of sit jy nog op die spreekwoordelike draad? Sonder geloof sal JY NIKS ontvang nie. Elkeen van julle moet voor My kom en Sake met My uitmaak. Voorwaar, Ek sê vir julle, die louwarm siel SAL Ek uitspoeg en groot gaan jul tranebesef wees wanneer dit te laat is om iets daaraan te doen. Julle sal nie kan sê dat julle nie geweet het nie. Laat staan jul redekawel, jul twis en stuiwende drifte van vergelding en weerwraak. Laat staan jul hoogmoed en "wag en sien" hartshouding. Jul eie-ek sit nog op die troon van julle harte en daar is nie plek vir My nie. Hoekom sal julle dan in My Koninkryk wil ingaan? Daar kan slegs EEN Koning wees. As julle volhard in jul besluite om self oor en in julleself te heers, sal julle die Ryk van Smaad beërwe, daar waar die geween oor versmaaide kanse tot die Ligryk sal opklink en daar knersende tande van selfverwyt sal wees. Dit sal dan te laat wees. Die Sabbatsrus van Vrede sal dan aangebreek het en Ek sal dit met My Bruid, My geliefdes, in vreugde deurbring.

Kom na My, My kinders, julle wie nog nie sekerheid in julle het nie, by wie die vyand van julle siele nog inspraak het, waarin gefluister word van donker en duisternis. Kom en maak skoon jul lewens voor My en word verlos van die kettings wat julle nog vashou. Vir elkeen wie My vanuit die diepte van hul harte aanroep, in ootmoed SAL Ek hoor en help. Ek kan nie 'n kind van My, wat uit My gekom het, se roep hoor en nie dadelik tot hulp en redding kom nie! Elkeen van julle smag Ek na, soos die Vader van die Verlore Seun gelykenis! Is jy nog die Verlore Seun? Kom na My, My kind! Besin daaroor dat daar in My Huis geen honger siel is nie, geen naaktheid nie! Daar is Liefde, warmte, aanvaarding en geborgenheid. Jul aardse families is een en almal in daardie opsig verdorwe, gebroke, gekraakte beelde van hoe dit hoort te wees. Moenie vrees vir harde woorde nie, vir stief behandeling nie, vir verwyte nie. Is dit hoe Ek My aan julle deur die eeue openbaar het? Nee, nog altyd het Ek gewaarsku wanneer daar uit My Orde beweeg word, in Liefde vermaan Ek en soebat Ek dat daar teruggekeer moet word na My en My Weë. EK IS Liefde, EK IS Lig, EK IS Lewe. IN My is GEEN DUISTERNIS nie!

Neem My Hand, My Beminde en wandel saam met My in die vroegaand Tuin. Die vuurvliegies dartel in die paadjie voor ons uit en die aandblomme deel hul geure met ons. Die diertjies in die ruigtes naby ons sing na hartelus en ritsel die blare effens soos wat die voëls hul rusplek vir die nag inneem. Dit is die "tussentyd" en julle kan die afwagting, die pasverandering tasbaar voel. Die gevoel van vrede is vir julle siele, onthou dit. Daar is op die oomblik 'n pasverandering aan die gang, hierdie een nie tot rus en vrede in die wêreld nie, inteendeel. Die golf is hier. Wees en bly geborge in My! Ek is jul Redding, jul Beskerming en die Een wie vir julle sal veg. Ek is jul Aanvoerder!

Hou die nagwake in my Tempel, hef jul hande op in Lofprysing en aanbidding tot My Apartgestelde plek! Groot en Magtig is Ek, verhewe is My Naam bo alles!

My Bruid, My geliefde! Hoe stralend is jou gesig na My gedraai, jou oë blinkend op My gerig. Jy is in My Hart versteek, verwag My Hand op jou hart. EK IS HIER!

EK IS"

Amein.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205