EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 66

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 66 - 23 + 24.04.2016 (aan Wendy)

"Skryf My Liefling, My Bruid

Ek wil dat julle in sekere roetines begin inkom. Party van julle sluit af en begin nie julle take met die nodige nie. Hiermee bedoel Ek nie julle slaafse roetine van, so laat doen julle dié en dan so laat weer daardie nie. Kyk weer hoe julle julle hartsgedagtes rig, watter lied speel daar vir My, al dan nie. My Kinders, julle liedjies het soms onwelvoeglike woorde in en ander klink weer of die naald vasgehaak het. Ek luister nie na die preweling sonder hartsgebondenheid nie, maar gaan luister bietjie wat daaruit kom. Sien die Hand wat Ek uitreik na julle in antwoord op julle gebede. Voel hoe Ek wegtrek van julle wie sonder liefde in julle gebede, met vloeke tot My roep. My Kinders, word gevoed deur die kos wat Ek aan julle voorsien en word groot in julle lewens voor My. Swak gedrag en emosionele uitbarstings sien mens by kinders wie nie in 'n Huis van Liefdevolle Orde is nie. In My Huis is daar nie plek vir sulke gedrag nie. Elke een van julle is deur My geskape, elkeen van julle kosbaar! Jy kan enige tyd in jou dag of nag na My kom en Ek sal luister, antwoord, troos, onderrig. Kom binne My Orde, plaas jou wil by My Voete neer en kom en word onderrig in My Denke, My Planne, My Waarheid.

Neem julle uitgemete take op, My Kinders, want in julle gewilligheid lê daar vir julle kosbaarhede opgesluit! In elke deel van julle taak is Ek daar met 'n Woord en 'n Les vir jou siel. Kan jy sien hoe noukeurig Ek by julle lewens betrokke is; hoor julle My onderrig in julle harte? Moet nooit meer net deur julle dag in 'n waan ploeter nie. Verstaan op 'n nuwe, diepere wyse dat EK MET JULLE IS! Wees onderrigbaar en sal jy sien hoe vinnig jy nuwe Waarhede onder die knie gaan kry, hoe gou julle groei tot volwassenheid. Soos wat julle dan die stadium bereik, sal Ek julle met meer verantwoordelikhede kan toevertrou en julle sal jonger boeties en sussies kan begin help, leer en kosgee. Slegs babas benodig nog 'n bottel en dit vir 'n kort tydjie. KOM STAP SAAM met My en kom sien die wonderbare werke wat Ek vir julle elkeen toeberei het. Ek is LIEF vir jou, My Kind, kom neem My Hand sodat ons kan aanstap.

Julle het al gehoor van die Skape van My Weide. Ek wil julle hieroor pols en vra of julle onlangs hierdie woorde oordink het. Nie almal van julle ken skape nie, nie almal het al met hulle gewerk nie. Ook bewerk julle nie skape soos wat dit in die dae van My Dawid, My Elia, My Nehemia gedoen was nie. Neem tyd om hieroor te dink, vra My vir skatte hierin opgesluit en Ek sal nuwe dinge hieraan oopmaak. 

24.04.2016 om 06h00

Dit is reg dat hierdie deel onderbreek moes word, My Dogter, want Ek moet ook nog met jou sake uitmaak. Almal hier is nog besig om hulself te rig op My en Ek bring aspekte wat werk nodig het vorentoe op die regte tyd. Dit is voorwaar die eienskap van julle wandel met My wat deur die afskil van die ui uitgebeeld word. Soms is daar trane, ja maar nie altyd nie. Soos wat julle nader aan My beweeg, is die vreugde tot en in My van groter en groter ontwaking in julle plek, in en voor My. Maak al julle moed bymekaar, want daar is en gaan nog onthullings kom, sommige gaan julle koppe hang en voor My om vergifnis vra, en ander sal julle tot Hallalu-JaHH's roep en julle sinne verruk in My Gees! Geeneen het reeds "arriveer" soos wat julle sê nie. Wees geduldig en weet ook dat Ek reeds alles weet. EK is julle Skepper.

In elkeen van julle, My Bruid, plaas Ek aanduidings van wie EK IS wat julle nie altyd dadelik opmerk nie. Neem die tyd daagliks om te sien, te ontdek watter kleinood Ek vir julle gebêre het. Soms is dit 'n belofte van iets in die Nuwe Jerusalem, of 'n herinnering aan die voortyd, 'n Waarheid van wie jy was voor jy My hier kom help het. Slegs hulle wie die kennis kan ontvang sonder dat dit hulle siele skade sal doen, sal Ek onthullings kan gee van hulle voortyd. Berus daarin dat alles op die regte tyd aan julle geopenbaar sal word. Buite hierdie aarde bestaan tyd nie soos wat julle dit verstaan nie. Julle leef vir ewig, want Ek is EWIG en julle het vanuit My voortgekom. Besin daaroor en maak julle gordels vas, trek julle wapenrusting reg en WAG OP MY!     

My Kinders, laat julle verknogthede gaan en bring julle flenter lewens na My toe sodat Ek julle kan reinig. Soos vertoiingde boemelaars is julle wie nog vashou aan leerstellings wat aan julle gevoer is deur My Teenpool. Van elke kant word julle oorspoel met onwaarhede en daar waar julle hulp moes ontvang het, het julle in die wip getrap. Goedgelowig het julle onderrig ontvang, maar die vrug drup gif. Julle word van helende voeding beroof en sal julle soos die fabel Sneeuwitjie in diep slaap verval, indien julle nie reeds daar is nie. Laat Ek julle elkeen die ontwakende kus gee en julle tot Lewe bring.

Daar is nood onder julle waarvan julle nie eens bewus is nie, My Kinders en dit is dat julle dink julle reeds 'n vlak van saligheid bereik het en glo julle het niks verder te doen aan julle heil, julle sieleheil nie. Julle beste deel is beroof deur leerstellings wat julle nie wil laat gaan nie. Wees vertrouend op My, julle Skepper en glo dat Ek heel eerste LIEFDE is. Wanneer julle daardie vertroue het, gooi dan alles wat aan julle voorgehou is deur kerklike instansies en mense-redenasies en -leerstellings en kom hoor by My wat Waarheid is. Maak jou hart oop vir My Stem en werking van My Gees van Waarheid. Sy werk nie soos julle die "Heilige Gees" ervaar het nie. Sy slaan jou nie om nie, gee jou nie kouekoors of laat jou onbeheersd giggel en honend lag nie. Sy oorval jou nie van buite nie en het nie nodig om "oorgeplaas" te word met dawerende gebede nie. My Stem, My Gees, is sag en sal nooit jou wil oorheers of jou onbeheersd laat nie. In My Huis is Orde en daar is lering vir almal, want nie een is verhewe bo die ander nie. EK is Skepper van julle almal en het julle almal ewe Lief met oneindige Liefde. Kom eers na My en Ek sal jou onderrig! Groot en vol Barmhartige Genade is EK vir elkeen wie hulle in ootmoed na My wend. Die woorde het nie suiwer by julle uitgekom nie, My Kinders. Laat My toe om julle in die Waarheid te onderrig.

My Bruid, kom hoor by My hoe julle elkeen van My Kinders kan bedien. Ek ken almal en sal julle die nodige gee, ook die woorde om elkeen tot heling te bring. Skoon en geklee is elkeen van My Kinders.  Wees Geduldig en Lankmoedig soos Ek, My Liefling. Vir almal is daar 'n tyd bepaal. Kom in My Ewigheidsbesef. EK IS die een wie Losser en Redder van elke siel is. Word stil in My.

My Kinders, My Bruid, die tyd is verby, moenie in die waan verval as julle nie direk vandag of more geraak word daardeur nie. My Profete het die verloop van hierdie Laaste Dae gegee. Wees bedag daarop en moenie terugsak in die sagte kussings van die alledaagse nie. Hoor die draai van die ratte van hierdie Eindtyd-meganisme tot Verlossing. EK is Meester van Tyd, Ek is die Magtige Skepper. My Plan SAL uitgevoer word. Hou goeie moed My Kleintjies, My Bruid. Ek sal julle nie verlate of onversorg los nie. Julle is IN MY HUIS!

Ek is Lief vir julle!

EK IS"

Amein! 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205