EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 27 - 16.01.2016 om 16h00 (aan Wendy)

"Skryf My Dogter, My Bruid

Hoe noem julle My "Vader" as julle soos straatkinders rondgaan sonder enige beheer, sonder enige struktuur en leef in ellende, prooi vir al wat boos is? Julle wil nie by My Huisreëls hou nie, julle leef nie in My Orde nie en tog wil julle roem om "Vader se Rebel" te wees . . . Wees versigtig, rebellie is wat veroorsaak het dat My HELE Skepping tot ’n val gekom het. In My Huis is nie rebelle nie. Ek moes eons en ewighede se Verlossingsplan begin omdat My Ligdraer besluit het om sy wil op te neem. Voor dit, vir onkenbare ewighede was sy wil verborge in My Wil en het hy My Wil gedoen.

Ek wil julle neem om saam met My te gaan wandel langs die oewer van die meer, daar na waar die water invloei om die diertjies te gaan kyk. Vir hulle vloei die lui waters tussen grasse en waterplante, oor klippe en ruisende skeure. Daar is plek vir klein en groot visse, paddas en allerlei water goggatjies. Voëls trippel oor die blare, opsoek na 'n versteekte happie en naaldekokers flits in die sonlig. Bye zoem iewers waar veldblomme uitspattig pronk, hul gesiggies dansend in die ligte briesie. Dit is tog na alles, diep en heerlik ryk...stil. Wag 'n oomblik en jy begin jou hartklop hoor en die ruising van My Bloed in Jou are. Hierdie is Ons Ryk...wat Myne is, is Joune, My Bruid, My Vrou!

Daar sal tye kom in die nabye toekoms waarin julle sulke prentjies voor julle geestesoog gaan oproep om vir julle oase te wees in die storm wat woedend oor die aarde gaan losbreek. Die dreunings en blitse begin vêraf waarneembaar word. Die opwinding van die komende storm is getemper omdat julle, My Bruid, weet watter nood daar onder My Kinders gaan wees tydens en na die storm. Ek is julle voorbereiding! Kom naby, kom IN MY! Ek het elke nood vooruit gesien en niks vang My onkant nie. My Stem in jou oor sal jou reg lei, My instruksie duidelik. My Krag sal jou deurvloei, My Liefde jou versterk en My Wysheid jou bemoedig. Julle is My arms van Liefde, My Mond van bemoediging. Rig die drenkeling op My, vertel hulle van My Verlossingsplan, dat hierdie My Magsvertoon is, My laaste roep na hul harte om My aan te gryp en te LEEF. My arms staan wyd oop om hulle te ontvang. EK IS hulle Tuiskoms! Nooit sal hulle weer hoof weg te gaan nie, nooit weer verstote, alleen, verhonger en dorstig nie. EK IS ALLES wat hulle nodig het...hulle moet net na My toe kom!

Gebruik die tyd om inventaris te neem voor My. Laat My toe om vir julle insae te gee waaraan julle nog werk moet doen. Ek ken julle elkeen immers beter as wat julle ooit kan. Vertrou absoluut op My vir elke noodsaaklikheid. My Krag in jou, My Bruid, is die sleutel. Bewaar dit, oordink dit en vra My om dit vir jou te verduidelik. Voorwaar, Ek sê vir julle die dae wat kom, nie gaan verloop soos meeste mense dink of verwag nie. Wees voorbereid vir die onverwagte en wees wakker in jou gees om te weet wanneer Ek jou iets anders wys, 'n beter manier.

Wees soos My Joshua, Ek het hom leer veg, soos Ek My Dawid geleer het. Maak seker die kanale is oop na My, geen hindernisse nie, want dit kan lewens kos. Julle mag nou dink dat dit bietjie verregaande is, maar onthou My Woorde vandag. Daar is nie tyd of plek vir "rammetjie-uitnek" arrogansie nie. Hierdie storm is nie net in My Suid Afrika nie, dit is vir die hele Aarde! Elke persoon MOET presies doen soos wat Ek vir hulle sal sê. Julle moet wees soos die soldaat wie My kom vra het om sy dogter te genees. Hy het verstaan wat dit is om binne 'n struktuur van Orde te wees. So moet julle ook kan funksioneer. Is jy een van My Reddingspan, of dwaal jy rond sonder rigting en sal jy ook gered moet word? Kom, My Kinders, kom, word deel van My Bruid en kom neem jou plek langs My! Daar is werk om te doen!

Waaragtig en Getrou is My Woorde aan elkeen van julle. Hoor My Gees van Waarheid in julle harte, is julle siele oop vir Haar lering? Toets My Woorde in julle innerlike en kom na My met julle vrae. Ek SAL julle antwoord, EK IS dan julle Pa! Word stil voor My en alles sal vir julle duidelik gemaak word. Kom, neem My op My Woord, Ek is nie 'n adamiet dat Ek sal lieg nie. My Woord staan vir Ewig

Soos 'n rivier oor die rand van 'n waterval tuimel, so moet julle uitbundig in My Gees beweeg. Ek staan nooit stil nie en nooit sal Ek twee keer op dieselfde manier vir jou uitkoms bring nie. My Gees is vloeibaar, kom word een met Haar en wees deel van Haar werksaamheid. Bruisende, polsende LEWE!

Kom na My, word een met My en LEEF! "

Amein

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205