GEESTESERVARINGS.
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 8

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

Deel 8

Donderdag 10 Jan. 2008 6:00

Ek staan in Jahshua se arms op ‘n hoë rots en HY wys my daar in die verte. Daar is ‘n woestyn en ek sien twee groepe soldate wat op mekaar begin skiet. Hulle skiet mekaar stukkend vir geen goeie rede op aarde nie. Ek sien op sy sy, net soos ‘n kind wat met sy karretjies speel, lê ‘n draak en hy speel met die soldate. Hy laat hulle op mekaar skiet en dan stuur hy met sy vieslike vinger tenks onder hulle in om mekaar dood te maak. Terwyl hierdie twee nog so op mekaar skiet, kom daar ‘n ander groep van dieper uit die woestyn ook nader en marsjeer in gelid na die slagveld. Die draak stoot hulle met sy vieslike poot nader. Terwyl hulle nog so aangestap kom, laat die draak vliegtuie aangevlieg kom wat hulle ter pletter skiet nog voor hulle by die ander kan kom. Ek vra vir Jahshua of hy dit nie kan keer nie en HY sê vir my dat hulle in die woestyn wíl wees. Hulle wil daar wees en wil nie na HOM kom nie en daarom dwing HY hulle nie. Die draak lê en maak geluide net soos ‘n kind wat oorlog-oorlog speel. Hy is duidelik nie baie ernstig nie en dit lyk eintlik of hy baie vervelig is. Later vat hy alles in sy groot poot en druk dit sommer net stukkend. In die verte kom daar vrouens en kinders aangestap na die slagveld en die kinders huil omdat hulle honger is. Die vrouens is baie moeg en kom soek kos en hulp êrens. Hulle lyk verwaarloos. Die draak rol op sy maag en begin die vrouens en huilende kinders een vir een met sy wysvinger weg te skiet. Later druk hy hulle sommer so met sy duim dood en hy speel asof dit plastiekmannetjies is. Hy skiet sand op met sy stert. Hy is baie verveeld en rol weer terug op sy rug. Hy brul en maak draakgeluide omdat hy ontevrede is. Toe staan hy op en kyk hy reguit in die rigting waar ek en Jahshua staan. Hy wil oorlog maak maar nie teen mense nie. Hy wil met Jahshua veg.

 

Vader dikteer:

Die Derde Wêreldoorlog is op hande en omdat die mense nie na MY wil kom nie, kan EK niks daaraan doen nie. Julle wat MY woord lees, weet teen hierdie tyd al dat EK niemand dwing nie en alles wat dan met hulle gebeur, sal net hulle eie skuld wees. Maar julle wat MY liefhet, sal in MY arms kom skuil en alles vanuit die hoogte aanskou en julle sal helderheid oor die oorlog hê en sal satan se hand daarin kan sien. Die wêreldling met die toe oë sal verstom kyk hoedat verskillende lande mekaar aanval vir iets so belaglik soos wêreldmag. Wie het die mag in die wêreld? Is dit nie EK, Jahshua nie? Terwyl hulle veg om die mag te verkry, sal EK kom met MYNE en Ons sal die regeerders wees. Maar nie soos wat die wêreld wil regeer sal Ons regeer nie. EK sal MYNE kom haal en hierdie aarde vernietig en daar sal nie een koninkryk wees wat die ander oorwin en as regeerders uit die stryd tree nie. Kom skaar julle by MY en julle sal saam met MY regeer oor die nuwe volmaakte aarde waar die draak nie sy pote sal sit nie. Daar sal geen dood en oorlog wees nie en niemand sal die ander een kwaad wil aandoen nie, want EK sal daar heers. MY kinders, wees nie bevrees as die ander nasies mekaar doodmaak en vernietig nie, EK sal julle beskerm en al kom hulle om oorlog teen julle te maak, sal dit nie uit MY wees nie. En elkeen wat teen MY volkie wil opstaan, staan teen MY op en sal daarom sy loon daarvoor ontvang. Wy geen aandag aan wêreldgebeure nie en kom net na MY. EK sal julle alles leer wat julle nodig het om te weet. Al die ander inligting is oorbodig en julle hoef niks daarvan te weet nie. Dit sê EK aan julle, sodat julle kan weet dat die Derde Wêreldoorlog ook op hande is, maar julle moenie vrees nie. EK is met julle. Amen

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205