GEESTESERVARINGS.
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

DEEL 21

1 Feb. 2008 07:10

Ek is in die Gees by Jahshua en ek sien SY gesig wat so mooi en vol liefde is. Ek sien altyd SY oë kleinerig en ek vra HOM daaroor en HY sê dat SY liefde deur SY oë skyn en dat ek dit glad nie sal kan verdra om SY oë groot te sien nie en daarom doen HY dit om my te beskerm. Ek weet dat HY baie verborge hou vir my, wat nog swak is. SY oë lyk soos iemand wat baie hartlik glimlag en dan word die oë mos klein van die vriendelikheid wat daaruit straal, en ook blink SY oë en kom daar strale te voorskyn wat moeilik te beskryf is. Al hoe ek dit kan beskryf is dat ek niemand ken met sulke oë nie en dat die liefde en vriendelikheid daaruit straal wat jou hart aangryp en week maak. Jahshua het my in SY arms en ek sien Ons is by baie lig. Dit lyk of Jahshua op wolke met my loop. Dit is pragtige lig en daar skyn reënboogkleure vanuit die wit lig. Ek kan nie verduidelik vanwaar die kleure kom en of dit op iets skyn nie, dit is net vermeng met die wit ”wolke”. Jahshua sê dat dit is hoe HY SY GEES aan my voorstel. Ek vra vir Jahshua om my met SY GEES te vervul en die volgende oomblik lê ek tussen die “wolke” voor Jahshua se voete. HY staan by MY en praat met my. Dit is so wonderlik en ek lê snoesig daar tussen die lig. Ek vra vir Jahshua of ek altyd daar kan bly en nooit weer terugkom aarde toe nie. HY sê dat as ek Een met HOM geword het, ek die hele tyd op daardie plek sal wees, al doen ek ander werk vir HOM, omdat ek dan met HOM vervul sal wees. Hy tel my op en loop met my en ek sien met groot teleurstelling dat Ons nou in ‘n woestyn staan. Maar Jahshua stap na mense toe wat daar rondstaan en ek moet by elke mens waarby Ons kom, ‘n handvol van daardie lig uit my hart uithaal en op die persoon voor my se hart sit. Dan kom daardie persoon tot lewe. Toe is HY weer met my op die see en daar is drenkelinge en ek moet hulle ook tot lewe wek en op hulle voete help en op die water laat staan en in hulle die lig blaas wat ek in my het. Die volgende oomblik is Ons in ‘n klipperige plek sonder enige plantegroei en ek sien ‘n gewonde wat daar lê en ek moet daardie persoon ook versorg en tot lewe wek met die lig binne my. Jahshua sê dat ek met SY lig (GEES) in my, ander moet help, maak nie saak waar ek heengaan nie.

 

Jahshua dikteer:

MY lig sal vanuit elkeen wat MY soek en liefhet, straal. EK sal elke een wat van goeie wil is en wat bitter graag MY GEES in hom/haar wil hê, vervul. Daar is baie mense wat MY hulp nodig het en EK kan dit net deur julle doen, omdat die mense sal beswyk as EK in MY persoon na hulle sal kom. Daarom het EK werktuie op aarde nodig om MY te help sodat MY ander kinders wat nog vasgeval in die verderf sit, uitgered kan word. EK sal julle met MY grote liefde vervul en julle sal dadelik weet dat dit EK is wat spreek en nie jy self nie. MY liefde oortref alles en Ek sal nie MY liefde van enige iemand weerhou nie, nie eers die grootste sondaar sal deur MY gesnoep word nie, omdat elke liewe mens MY kan liefkry en sy lewe verander. Al voorwaarde is dat jy MY liefde moet waardeer en MY ook liefkry en EK sal ‘n verandering in jou lewe maak. My kinders, moenie dink dat MY liefde ooit kan ophou nie en daar is geen perk aan MY liefde nie, maar dit sal verkeerd wees om MY liefde te misbruik en te dink dat jy nou maar kan sondig, omdat MY Liefde groot is. Dit is nie hoe dit werk nie en EK sal MY liefde dan in ‘n mate van jou onttrek en jy sal vind dat daar baie teëspoed op jou lewe kom. Maar dit is ook ‘n manier waarop EK liefde betoon, omdat EK op so ‘n manier die sondaar na MY toe terug lok. EK sal niemand ooit heeltemal verlaat nie en al sou so ‘n persoon teen MY kies, sal EK MYSELF net op die agtergrond hou en nog steeds MY Hand oor hom hou. So iemand, wat teen My kies, sal dan baie gou agterkom dat daar nie meer voorspoed in sy lewe is nie en sal, ten spyte van groot rykdom, ‘n leegheid in sy binneste voel. Dan sal Ek weer en weer kom om daardie persoon terug te roep, totdat die mens MY raaksien en aanneem. Dit is hoe vêr MY liefde strek en EK sal aan julle nog meer van MY liefde bekend maak, maar nie nou nie, omdat julle nie alles sal verstaan nie. Weet net dat MY Liefde geen grense of perke het nie en dat EK mense herhaaldelike kanse gee en dan sal EK optree as daardie persoon MY nie in sy lewe wil hê nie. Al onttrek EK MYSELF, sal EK egter nooit heeltemal van so iemand af weggaan nie. EK is orals teenwoordig en dit moet julle onthou en daaraan dink voor julle weer in mismoedige twyfel versink. Amen.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205