DIT IS EK WAT BEVRY
MARIETHA NEL

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 17
Julle pad deur die ewigheid
8.12.2007 om 2h52
Kom, laat EK julle vertel van julle pad deur die ewigheid. Het julle al ooit oor julle lewens gewonder? Het jy al gewonder hoekom en hoe lank jy al bestaan? MY dogtertjie het gewonder wanneer sy ‘nie was nie’, sy het gevra; ‘Wanneer was ek nie?’
Laat EK julle herinner aan die gelykenis van die verlore seun. Die vader in die verhaal het twee seuns gehad en die jongste het sy vader gevra om sy erfdeel nou aan hom te gee. Hy het dit verkoop en met die geld na ‘n ander plek en stad gereis. Hy het die lewe van ‘n ‘deurbringer’, soos sommige van julle sê, gelewe en sy geld het vinnig klaar geraak. Die seun het honger begin ly en hy moes varke oppas. Hy het begeer om saam met die varke peule te eet, maar dit is nie aan hom gegee nie.
Hy het van sy vader onthou, en hy het gedink; ‘Laat ek teruggaan na die huis van my vader, want daar sal ek dalk iets te ete kry. Ek sal vir hom sê; ‘Ek het gesondig teen die hemel en teen u, ek is nie werd om u kind genoem te word nie, ek wil liewer u dienskneg wees.’
So het die seun moeisaam sy pad na sy vaderhuis begin. Sy vader was nog altyd op die uitkyk na wanneer die verlore seun weer kom. En toe hy hom in die verte sien aankom, hardloop hy hom tegemoet. Hy gooi sy arms om sy kind en druk hom teen sy hart aan. Toe die seun vir hom sê; ‘Maak my liewer een van u diensknegte’, sê die vader aan sy diensknegte om vir sy seun ‘n koninklike kleed te bring en die ring van verlossing aan sy vinger te sit. Daarop kry die diensknegte die bevel om die vetgemaakte kalf te slag. En daar is feesgevier met ‘n gejubel omdat die verlore seun weer tuis is.
Die oudste seun kom toe by die huis aan en vra vir die diensknegte; ‘Waarom vier almal fees?’ Hulle antwoord en sê: ‘U broer is tuis!’ Die oudste seun wou nie die huis ingaan om ook fees te vier nie. Sy vader kom toe uit en vra hom wat is fout en die seun sê; ‘Ek was altyd getrou aan u, en u het nooit vir my in u arms gehou nie, u het nooit vir my ‘n kalf geslag nie.’
En die vader antwoord; ‘My seun, alles wat ek het, is joune. Maar hierdie broer van jou was verlore en nou het hy teruggekom na ons!’
Hierdie verhaal ken baie van julle beter as MY skrywer, want EK moet haar aan elke ding herinner. Nou gaan EK julle ook die betekenis vertel. Baie van julle ken ook al die betekenis, maar terwille van julle wat dit nog nie ken nie, vertel EK dit weer.
Die verhaal begin by die val van die engele, miljoene jare voor die ontstaan van die materiële skepping. Ja, julle is daardie engele wat vrywillig MY VADERHUIS verlaat het, om julle erfporsie te verloor. Maar soos EK al vertel het, het EK julle baie lief en EK en MY engele het geween oor julle val. EK het die materiële skepping geskep om julle weer na MY terug te lei.
Voor julle nou stop en sê dat die Bybel dit nie leer nie, sê EK; ‘Is alles in die Bybel opgeskryf? Gaan kyk in die boek Johannes, die tweede laaste hoofstuk se einde, en dan sal jy sien dat EK sommige dinge nie toe vertel het nie. Ook was die mense nie ryp genoeg om alles te weet wat EK nou openbaar nie.’
Die seun stel julle gevallenes voor, en as hy swaar begin kry en besef dat hy hongerly (hy begin voel hy het iets verloor), begin hy weer dink aan sy VADERHUIS (begin julle weer soek na MY).
So kom julle uiteindelik na MY pad toe en EK IS dadelik daar om jou te verwelkom. Soos EK al gesê het; ‘EK verwelkom jou met ope arms terug as jy in berou na MY kom.’ Dan help en dra EK jou en EK verlos jou. EK gee jou ‘n koninklike kleed.
Die oudste broer is die engele wat nooit geval het nie, en hulle vra dat EK hulle ook aan MY bors moet verwelkom en vir hulle die kalf moet slag. In die geval is die kalf MY kruisoffer waardeur ook hulle verlos wil word.
EK het die pleidooi van MY ‘oudste seun’ aangesien, en baie van hulle word nou as mense gebore om MY verlossing te kan smaak. En hoe bly is die hele hemelskaar as almal terugkom na MY VADERBORS!
Ja, wat het jy nog altyd van jouself gedink? Het jy dalk gedink EK skep jou sommer omdat EK elke dag lus is om te speel? Dink jy regtig EK skep mense om met hulle pop te speel? Nee, alles wat EK doen het ‘n doel en ‘n rede. En wat EK vir julle vertel het nou, is die rede hoekom jy op aarde is!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205