Voorwoord
Louise het hierdie aan my gestuur, nadat sy alreeds twee hoofstukke ontvang het van Golgota. Ons bly maar almal mense met ons vertwyfelinge, maar Hy is getrou, geduldig en barmhartig. Ek plaas dit hier voor in, sodat u ook hierdie gesprek kan volg, want ons Meester openbaar Homself ook hierin vir ons.
Dirk van Vuuren
Bevestiging oor ons Meester JaHshua se kruisiging
Ek (Louise) het getwyfel oor die egtheid van die feite i.v.m. JASHUA se kruisiging, omdat dit nie heeltemal ooreenkom met wat ons in die Bybel lees nie. Ek wou nie verder skryf nie en het gevra vir ‘n antwoord. Vader het die volgende aan My gesê: (HY het dit twee keer bevestig - in die dorp en toe ek kom skryf het om 00:05 op 13Nov. 2007)
“Moenie twyfel aan MY werk nie. Dit wat EK jou gee, is waar en eg. EK sal nooit lieg nie. Dit is net so weergegee in die Bybel, sodat die mense verder moet soek. Hulle het nie en nou gee EK dit onverdeeld aan julle. Wees bly dat EK julle waardig ag daarvoor. Wees bly dat EK dit aan jou gee, want jy is geseënd daardeur. Dit het jou te beurt geval, omdat jy MY daarvoor gevra het en nie omdat jy spesiaal en bo die ander is nie. EK het almal ewe lief en sal nooit die een bo die ander verkies nie. As almal saam na MY soek, sal EK aan almal dieselfde gawes gee. Jou mandjie het vol geword hierdeur. Gaan en deel uit aan jou hongerige naaste. Kom dan terug, sodat EK dit weer gevul aan jou kan gee om uit te deel. EK het MY volk lief en daarom is hulle gelukkig in die opsig dat EK, MY verborgenhede aan hulle bekend maak, al is hulle ‘n bedorwe geslag.
(Hier het ek vir Vader gesê dat ons volk so onder mekaar baklei.)
HY het my geantwoord:
Hulle baklei so onder mekaar, omdat die een die ander niks gun nie. Dit kom nie uit hulleself uit nie, maar uit MY uit, sodat hulle MY sal ken in die dag van nood en EK hulle uitred, sodat hulle MY sal ken as Verlosser wat hulle nie nou doen nie.
(Oom Dirk, ek verstaan dit as volg: As ons soos een man saamgestaan het, sou ons dalk gedink het ons is verlos deur onsself, maar nou baklei ons so, dat daar verdeeldheid tussen ons is en kan niemand op mekaar staatmaak nie. So, as Vader ons verlos, dan weet ons dit is beslis net HY. Louise)
Vader: Hulle soek na MY, ja, maar met halwe harte. Harte vol van doodstank en dooie beendere van hulle eie ego’s wat tog net gestreel moet word, anders is daar moeilikheid.
Hulle het MY nog nie lief nie, maar Ons sal dit gou verander; EK en jy wat vir MY moet werk. Laat jou lewe MY liefde uitstraal en ander sal by jou leer hoe om MY lief te hê. Moenie MY soek met ‘n hart vol aardse gemors nie. Kom soek MY in die reinheid van ‘n skoon hart soos ‘n helder skoon môre waarin niks nog gebeur het nie, behalwe die helder son wat opgekom het. (Ek het gister gesukkel om my gedagtes by Vader te hou en kon nie op MY gebed konsentreer nie)
En moenie bekommerd wees oor die moegheid nie. EK vat alles op MY. Hê MY net lief.”
Amen.
(Wat die moegheid aanbetref, was ek gister vuur en vlam om Vader se werk te doen en hoe later dit in die aand geword het, hoe moeër het ek geword. Ek was dan bekommerd dat ek nie sal kan wakker bly nie, aangesien dit al baie laat was.)
Groete, Louise
Hoofstuk 1
Daar is min wat werklik bekend is oor MY kruisiging en daarom wil EK julle inlig oor die werklike gebeurtenisse wat daar plaasgevind het. Dit was ‘n bewolkte dag toe EK gevange geneem is. Dit het ook die geestelike toestand van die volk aangedui en EK is dadelik na Herodes gebring, omdat hy die koning van die Judeërs was. Dit word nie in die Bybel vermeld nie, omdat EK dit so wou gehad het. Hy was ‘n papbroek en wou MY oorhaal om MY by hom te skaar sodat hy die Romeine kon oorwin en sodoende weer die land uit hulle hande kon vat. Hy was uiters skelm en het niks met iemand te doen gehad tensy hy nie voordeel daaruit kon trek nie. EK was die ideale gesant om hom uit sy verknorsing te red, want hy het gedink dat EK met toordery sy wil kon laat geskied. Maar omdat EK nie saam met sy vuil planne wou gaan nie, het hy MY na die Romeinse owerste gestuur in die hoop dat EK van plan sou verander as EK gegesel sou word. Sy bedoeling was nooit om MY te laat vermoor nie. Nee, daarvoor het EK teveel voordeel ingehou vir hom. Die skelm jakkals het met ‘n dienaar ‘n brief aan Pontius Pilatus gestuur waarin hy vra dat EK gegesel moes word, sodat EK hom kon gehoorsaam. Pontius Pilatus het geweet dat EK ‘n Judeër was en het MY weer na hom teruggestuur met die woorde: ”Ek vind geen skuld in hom nie. ” Daarop het Herodes MY weer probeer verlei, deur voor te stel dat EK hom moes help om die Romeine uit die land te dryf en dan sou hy MY met allerhande rykdomme beloon het. EK, wat die Skepper is van alles, het nie ‘n mens se klein sogenaamde rykdomme nodig nie en het nie na die aarde gekom om roem en rykdom te verwerf wat EK nie nodig het nie. EK moes volhou met MY verlossingsplan en is nie geroer deur sy voorstelle nie. Hy het in sy hart in woede teen MY ontbrand en MY deur die gesig geslaan omdat EK, ’n ”straatmens“ dit waag om hom te weier. Sonder enige woord is EK weer teruggebring na Pilatus wat effens verstoord was deur MY sagmoedige optrede. Hy kon dit nie oor sy hart kry om MY te skaad nie en het herwaarts en derwaarts na oplossings gesoek om MY te vrywaar van enige marteling. Die fariseërs en haters van MY het herhaaldelik om MY kruisiging geskree en dit het Pontius Pilatus nog verder ontstig, omdat hy nie daarop bedag was dat EK, wat so sagmoedig vir hom voorgekom het, so ‘n teenstand in die mense kon ondervind nie. Hy het die fariseërs ook geken en het geweet tot wat hulle is staat was en het daarom maar liewer stilgebly en MY laat gesel. Hy het gehoop dat hulle woede sou bedaar met die aanskoue van MY foltering en dat hulle MY sou begenadig, aangesien hy niks kwaad in MY kon vind nie. Al die getuienisse van mense wat EK genees het, het hom nog verder ontstig en hy het daadwerklike pogings aangewend om MY lewe te probeer red, maar dit het niks gehelp nie. EK is toe gegesel soos dit in die Bybel staan en EK het baie sleg daarvan afgekom. EK was vol bloed oor MY hele lyf, want die geselaar was ‘n buitengewone wrede mens wat behae daarin geput het om enige iets of iemand pyn aan te doen. Hy het MY oral oor MY hele lyf geslaan en met elke hou het hy demonies geskree van lekkerte. Hy was ‘n baie slegte burger van die land waarin EK gewoon het. Sulke mense is daar nog volop in die wêreld, maar weens die streng wette hou hulle hulleself in toom en waar niemand by is nie, word vrouens en kinders verskriklik mishandel. Enige dier wat kan bloei, loop dan ook deur. Deur die erge mishandeling het EK ook baie bloed verloor en EK was swak van uitputting. Maar dit wat nog sou kom, was veel erger. EK is herhaaldelik deur die gesig geslaan en het nie ‘n plekkie op MY gesig gehad wat nie geswel was nie. Daar is ook aan MY begin skop toe EK in ‘n oomblik van moegheid gestruikel het en geval het. Die wrede mans het van die geleentheid gebruik gemaak en het MY geskop met die doel om al MY bene te breek, maar hoe meer hulle geskop en geslaan het, hoe meer het hulle besef dat MY bene nie van hierdie aarde was nie. Dit het hulle met nog groter woede vervul en met nog meer mag en mening het hulle geskop. Dit was nie iets om te aanskou nie, want dit was die volle hel wat op MY probeer neerkom het en die hel het geen genade hoegenaamd vir niemand nie. En EK was die Seun van die Mens wat die Satan ten alle koste wou vernietig en toe hy dink dat hy die oorhand oor MY het, het hy homself op MY gewreek. Dit was die gedeelte voor MY kruisiging. Wat daarna volg sal ook aan julle bekendgemaak word. Tydens die marteling, het daar ‘n wrede en ongenaakbare gees van die ander wat daar gestaan het, oorgeneem en met groot gelag het hulle gestaan en spot oor die “Redder” wat almal kon red behalwe homself. Deur Satan geïnspireer, is daar mense met brandysters nadergebring om MY oë uit te brand, sodat hulle kon sien of EK vir Myself ook oë kon skep soos vir die blindgebore seun van die man en vrou waarvan MY dissipels MY gevra het watter sonde sy ouers gedoen het. EK het hulle geantwoord dat sy gebrek net dien tot die verheerliking van JAHWEH. Hy het ook getuig in die saal by Pilatus. EK sal hom gedenk, omdat hy vir MY getuig het. En so ook aan elkeen wat vir MY getuig en MY bely in hierdie wêreld waar Satan die oorhand het. EK is nie onmagtig nie, maar EK laat hom toe om te doen soos hy wil, vir ‘n sekere tyd. Maar sy tyd raak min en daarom kom hy baie fel op julle neer. Maar terug by MY marteling. Die brandysters is nadergebring en net voor dit MY oë kon aanraak, het die stele gloeiend warm geword, sodat die persone wat dit vasgehou het, hulle hande in die proses verloor het. Dit was ‘n hitte van ‘n ander aard wat hulle hulle hande gekos het. Daar het groot konsternasie geheers, terwyl die mense in pyn geskreeu het en sonder hande rondgehardloop het. Dit het my folteraars effens van stryk gebring, maar hulle het sonder simpatie iets anders probeer. MY ore is getrek sodat hulle van binne af begin bloei het, maar hulle kon nie MY ore afkap soos hulle beplan het nie. Die mes waarmee hulle MY wou vermink, het gloeiend warm geword, sodat hulle daarvan afgesien het om MY verder te skend. Dit was vir hulle nie snaaks nie, om dat hulle gewoond was daaraan dat EK wonderwerke verrig het. maar sonder om verder te dink, het hulle MY laat opstaan en MY rondgestamp, terwyl MY wonde vrylik gebloei het en EK al baie vermoeid was. Absoluut geen genade is aan MY betoon nie. Dink daaraan in die groot geloofstryd wat gaan kom, want as hulle MY nie begenadig het nie, sal aan julle ook nie genade betoon word nie en julle moet weet dat julle net by MY genade sal kry en EK sal julle beskerm tot die einde toe. MY beskerming strek so ver as die hiernamaals en nog baie verder. Om die waarheid te sê, het MY beskerming geen einde nie, omdat EK oneindig is.
EK is heen en weer geslinger tot groot vermaak van MY pynigers wat hulle siek wou lag, omdat EK MYSELF nie meer regop kon hou nie. Dit was ‘n voorstelling van die aarde wat gaan wankel in die einde van tye. Net soos wat die aarde soos ‘n dronkman gaan wankel, het EK gewankel en gesteier. Dit was vir die mense ‘n groot grap en met diepe leedwese het van MY kinders van ver af toegekyk op die wrede behandeling van MY, hulle Verlosser. Hulle is met ontsaglike hartseer gevul, omdat hulle MY so liefgehad het en hulle het gewens dat EK MY mag wou openbaar en my pynigers wou straf. Dit is nie so dat EK heeltemal omgeval het en nie weer kon opstaan nie. Dit was net vir MY vermoeiend om op te staan, weens die baie bloed wat EK alreeds verloor het.