OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 40

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 40
1 Des. 2007 06: 17
Dikwels is daar dinge wat julle nie verstaan nie en dan maak julle dit af as onnodig om te verstaan. Julle dink baiekeer dat dit julle nie geoorloof is om alles te weet nie. Op hierdie stadium op die aardbodem ís daar dinge wat aan julle bekend gemaak sal word as julle daarna vra. Vra julle nie daarna nie, sal dit nie aan julle bekend gemaak word nie, omdat julle nog steeds die weg na MY sal kan vind sonder daardie kennis. Weet dat EK elkeen se hart ken en dat EK alles aan daardie persoon bekend sal maak wat MY in alle liefde en deemoed kom vra. Julle is MY uitverkore kinders en Ek wil julle nie in die duister laat nie en sal julle in al MY geheime inwy, sodra die regte tyd aangebreek het. Die tyd is dan ook nou reg om julle weer iets nuuts te leer. In MY leërmagte is daar baie verskillende engele wat aangestel is oor verskillende dinge. Hulle is dan ook verantwoordelik daarvoor om julle te lei en op te pas en sal verskillende dinge om julle laat plaasvind waarvan julle nie eers bewus is nie. So kry ‘n mens baie verskillende werkinge onder My engele en hulle almal is baie gretig om MY te dien, aangesien hulle al heeltemal tot liefde omvorm is. Nie éen van hulle is ledig nie en daar word hard gewerk, en met vreugde doen hulle wat EK hulle vra. Daar heers dan ook altyd die grootste vrede en vreugde onder My engele, omdat EK teenwoordig is in elke een van hulle. Die engele wat Ek aanstel om julle te bewaar is dan ook die sterk engele onder hulle, omdat satansmagte dan ook baie krag vereis om teen te sit. Hulle (satansmagte) is buitengewoon hardvogtig en sal nie na iemand luister wat nie deur My gestuur is nie. MY engele sal deur MY gestuur word om julle te beskerm in alle nood en julle sal uitgered word sonder enige mensehulp. Mensehulp is van nul en gener waarde, omdat ‘n mens nie teen die bose kan veg uit homself uit nie. Baie keer is julle deur MY engele beskerm, sonder dat julle eers bewus was van enige gevaar en daarom is dit nodig om MY altyd te herdenk, omdat julle nie eers weet wat EK alles vir julle doen nie. Sommiges van julle was al in doodsgevaar en het slegs deur My beskerming anderkant uitgekom. Daar is van julle wat wel ‘n aanvoeling het vir hierdie dinge en sal duidelik voel dat “iets nie reg is nie”. Daar word dan vurig gebid en dít is julle redding. Die geveg in die geestelike wêreld is dan ook aan die gang en julle is salig onbewus daarvan. Daar is mense wat al My engele aanskou het en wat uit vrees vir hulle wou weghardloop, maar EK sê vir julle dat julle niks het om te vrees nie, aangesien hulle net liefde is wat uit MY uitgegaan het. As EK net liefde is, sal MY engeleskare beslis nie anders wees nie. Vrees hulle nie maar dank MY omdat EK julle met MY magtige hand beskerm. Wees vir My lief en julle sal ook die engele kan aanskou sonder om hulle te vrees. EK is julle altyd naby en beskerm julle sonder dat julle MY eers vir elke klein dingetjie hoef te kom vra. As julle My moes kom vra vir beskerming elke keer wat jy die gevaar voel, sou julle al lankal uitgewis gewees het, omdat daar elke sekonde bose gevaar om julle dreig, en julle dit nie eers weet nie. Elke mens het dan ook sy spesiale skare engele om hom te beskerm en op die regte pad te lei. MY engele mag egter geen dwang op julle uitoefen nie en sal daarom maar net probeer om julle sagkens op die regte weg te lei. Sodra julle heeltemal Een met MY geword het, sal julle dan ook in staat wees, deur My GEES, om My engele te aanskou en julle sal juig oor die skoonheid van ‘n enkele engel. Daar word dikwels na iemand verwys as ‘n engel, en dit is dan ook baie keer die waarheid, omdat daardie persoon in werklikheid ‘n engel in mensevorm is. Sonder dat julle daarvan bewus is, is daar baie mense om julle wat engele is en wat die vleeslikheid kom aanneem het, sodat hulle MY kinders hier op aarde kan kom bystaan en help. Dit is dan ook die rede dat sekere mense buitengewoon baie hulpvaardig is, en wat uit hulle pad sal gaan om ander te help. Sonder om eers self te weet van hulle oeroorsprong, sal hulle net genoop voel om ander by te staan met hulp op alle gebiede. Sulke mense is dan ook baie yl gesaai in hierdie tyd. Daar is ook engele in menseliggame wat glad nie bewus is van hulle roeping op aarde nie, en sal baie dikwels op verkeerde weë wandel waaruit EK hulle sal moet gaan haal. Hulle het dan ook ‘n buitengewone swaar las wat hulle moet dra, soos ons man in die vorige hoofstuk. Dit is alles deel van MY Groot plan om van MY verlore kinders terug te bring en dit is waarom sekere mense geroepe en gedryf voel om ‘n sekere ding vir MY te doen. As jy so voel, moet jy dit aan MY kom opdra, en EK sal jou wys wat jy moet doen. EK is die Een wat jou daartoe geroep het, en My GEES en My engele werk dan op jou in om jou sovêr te lei om dit te doen waarvoor jy bewustelik na die aarde gekom het. Met die geboorte van ‘n nuwe baba is alles uit sy geheue gewis en is hy net ‘n gewone mens in sy eie oë. Daar is van My aartsengele nou teenwoordig en hulle sit tussen julle sonder dat hulle dit self weet. Maar daar kom ‘n dag en dit is nie vêr nie, dat EK hulle elkeen gaan roep om vir MY die taak te volbring waarvoor hulle spesiaal na die aarde gekom het. Satan is baie uitgeslape en herken ook hierdie mense as My engele en sal dan met felheid op hulle neerkom as hy net die kans gegun word. Maar EK beskerm hulle, sodat niks hulle oorkom nie. Hoogmoed is sy grootste wapen en daarom sal hy MY engele probeer aanval met hoogmoed sodat hulle tot ‘n val kom en nie meer diensbaar vir MY kan wees nie. Dit is dan ook waarom EK julle waarsku teen die hoogmoed en julle tot nederigheid aanspoor. Wees maar net gerus - gee alles in MY hande oor en EK sal julle beskerm. Daarvoor is net ‘n gedagte van MY genoeg en dan het EK miljoene der miljoene engele tot MY beskikking sodat julle bewaar kan word. Vrees nie die bose nie, omdat slegs een van My engele genoeg is om ‘n hele leërmag van hulle te kan verslaan. Dit is dan My woorde aan julle wat deur MY gestuur is na die aarde met ‘n spesiale roeping.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205