OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 37

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 37
 28 Nov. 2007 10:49
Geeneen van julle wat vandag leef sal verstaan as EK aan julle verduidelik hoe EK gelyk het na MY kruisiging en marteling nie. Die verskeurde liggaam wat van die kruis afgehaal is, was onherkenbaar vermink en dit word ook so deur My kneg Jesaja beskryf deurdat hy sê dat EK geen mens meer was nie. Julle sal ril as julle kon sien hoe EK gelyk het en die haat van Satan jeens MY kon duidelik gesien word in MY marteling. Dit is wie Satan is - ‘n moordenaar wat nie net liggame vermoor nie, maar ook siele. En hy het gepoog om My te breek, terwyl hy geweet het dat hy dit nooit sal kan regkry nie. Julle is in hierdie tyd in baie groot nood en julle is salig onbewus daarvan. Julle lei julle lewens sonder om eers daaraan te dink dat hy regtig soos ‘n brullende leeu rondom julle rondsluip. Julle almal verkeer in baie groot gevaar en net EK kan julle red. EK wil hê dat julle aanhoudend moet bid, omdat dit julle enigste redding is. EK het al by baie geleenthede gesê dat julle moet waak en bid, sodat julle nie oorval kan word nie. Die geringste dingetjie wat julle verkeerd doen, gee hom ‘n kans om op julle neer te kom. As julle daaroor nadink, sal julle besef dat dit die waarheid is. Hoe dikwels het ‘n klein oortreding julle nie al hoe slegter en slegter laat voel nie, totdat jy later baie vêr van MY verwyderd voel. Dit is net waar hy sy voet in die deur wil sit, sodat jy die deur nie weer toe kry nie. Maar EK sê weereens aan julle: Soek na MY sonder ophou, bid sonder ophou en wees My gehoorsaam, sodat die ou slang nie ‘n houvas op julle kan hê nie. Dit word gesê aan julle, nie om julle bang te maak nie, maar omdat EK alles om julle kan waarneem wat julle nog nie kan sien nie weens julle blindheid. Toets My woorde volgende keer wanneer jy weer vergeet het om gedurig op jou hoede te wees en kyk of EK reg is wanneer EK sê dat ‘n klein dingetjie kan lei tot iets groters. Julle dink dikwels dat niks julle kan oorkom nie, omdat EK met julle is. Dit is die waarheid, maar as julle nie ook self iets doen om die bose weg te hou nie, kan EK niks doen nie, omdat EK julle julle vryheid gegee het. Wanneer julle dan soek vir probleme, is dit dan net julle eie skuld en daarom sê EK; WAAK EN BID, sodat julle nie oorval kan word nie. Wees altyd vol van MY lof en sing ‘n lied vir MY in jou hart en jy sal sterk wees en die versoeking voor die tyd kan raaksien. As julle MY die hele tyd in julle gedagtes het, sal julle nie deur die duiwel versoek kan word nie en niemand sal dan in sy slaggat val nie. Dit is so naby aan die einde en daarom wil hy nou sy aanvalle verskerp om soveel as moontlik siele saam met hom in die verderf in te sleep. Veral julle wat nou al deur MY vry gemaak is van verkeerde leerstellings, is vir hom ‘n groot doring wat hom baie pynig. En ook almal wat MY brood eet, sal hy nie met rus laat nie, as julle hom net ‘n halwe kans gee. Daarom moedig EK julle so aan om nie slap te lê nie, omdat dit julle weer dae sal vat om regop te kom na een van sy aanvalle. EK is hier en beskerm julle teen hom, maar julle moet ook ‘n poging aanwend om van hom vry te bly, deur gehoorsaamheid aan MY, deur liefde in julle harte en deur goeie dade te doen. Kortom, doen alles wat EK julle al gesê het en julle sal nie oorval word nie. Hy het MY nie eers uitgelos nie en het MY herhaalde kere versoek, waarom sal hy julle uitlos? Julle is tog nie groter as EK nie en dit is vir hom ‘n groot uitdaging om julle tot ‘n val te bring. Maar bly by MY – dag en nag – en niks sal van julle afval nie. Nie eers ‘n haar sal van julle afval, as dit nie MY wil is nie. EK het julle so lief en sê dit aan julle omdat EK julle nie sal verlaat of verloor nie, maar die keuse is nog steeds in jou eie hande of jy by MY wil bly of deur Satan verlei word. Laat eieliefde vêr van julle af wees en hy sal julle nie kan bykom nie. Selfsug (ook eieliefde) is een van sy groot punte wat hy probeer om julle tot ‘n val te bring. Dan is vrees ook nog iets wat een van sy wapens is. Moenie vrees nie! EK is hier by jou en jy sal niks oorkom nie! Al gebeur daar iets met jou, is EK nog steeds in beheer en kan maak en breek soos EK wil. Hy is ondergeskik aan MY en kan daarom nie besluit wat die uiteinde gaan wees nie. Net EK kan besluit hoe EK ‘n saak kan laat eindig, en vertroue in My laat altyd die beste dinge gebeur en jy sal bly wees in plaas van huil. Dit is MY versterkende woorde aan julle. Eet MY brood wat EK weereens aan julle bied en wees versterk daardeur!
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205