OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 25
22 Nov. 2007 23:21
Geeneen wat die dood vrees kan gered word in die geloofstryd wat sal kom nie en daarom sal EK sekere dinge doen om julle van julle doodsvrees af te laat sien. Van My knegte weet al wat hulle gaan trotseer in die komende tyd en dit is vir hulle ‘n swaar las wat op hulle skouers lê, maar EK het dit aan hulle bekend gemaak, sodat hulle solank hulle krag van MY kan kom vra en sodoende met ‘n lied in die hart sal dra wat nou te swaar lyk. Hulle sien ook nie daarna uit dat dit moet gebeur nie, maar weet ook dat Ek ‘n doel het met alles en dat EK dit vir hulle ten goede sal laat meewerk. Elkeen wat na MY soek in alle erns sal op so ‘n wyse deur My gereinig word van alle sonde en vrese wat hy besit en waarvan hy nie eers altyd bewus is nie. Julle moet egter moed hou, omdat EK julle deur alles dra en julle nooit sal laat gaan om julle weg in alle eensaamheid te gaan nie. Weet dat EK altyd met julle sal wees, al is dit in die diepste van donker nagte en weet ook dat julle daaroor sal jubel en juig as julle sien hoedat EK julle hartseer in volle vreugde sal omskep. Min mense het nie ‘n vrees vir die dood nie en sal baat daarby vind om deur MY gewys te word dat hulle vrese ongegrond is, omdat daar lewe is na die dood. Die dood lyk vir julle altyd skrikwekkend, maar weet dat EK die dood oorwin het. EK is die Meester oor die dood ook en julle moenie dat die bose julle ander dinge kom wysmaak nie. Julle sal bly wees as EK julle met ‘n lewende getuienis kom wys dat die dood nie meer ‘n angel het nie. Sonder dat julle dit weet is die groot oorsaak van julle vrees vir die komende tyd, dat julle doodgemaak sal word en daarom is dit noodsaaklik dat Ek julle kom wys dat daar niks te vrese is nie. Deels om julle te versterk vir die tyd wat kom en ook om julle geloof in MY so sterk soos ‘n rots te maak. Diegene wat alreeds weet wat hulle te wagte staan, is baie bevoorreg aangesien daar ander is wat nog nie weet nie en wat baie geskok gaan wees as dit hulle beurt is om gereinig te word. Maar julle moet net besef dat alles in MY Hande is en daarom wil EK julle wys, want julle sal moet ly vir MY en as julle ‘n vrees vir die dood het, sal julle nie bly staan tot die einde nie. Dit is ongelukkig hoe dit sal moet wees, omdat die bose nie tevrede sal wees voor hy julle doodgemaak het nie, maar wees gerus en weet dat Ek in volle beheer is en niks julle sal oorkom as dit nie MY wil is nie. EK sal julle uit groot gevare uitred en daar sal die wees wat vir My sal sterf omdat Satan julle haat. Maar niks wat hy teen julle sal onderneem, sal julle skaad nie en met ‘n geruste hart sal julle julle weg kan gaan op aarde, al sal dit die felste stryd op aarde wees wat nog ooit geheers het. EK is Die Enigste en Eerste en Laaste en MY Woord is wet en as EK besluit dat EK ‘n ding wil doen, sal niemand MY keer nie. Net soos die woorde wat My skryfknegte neerpen, waar sal word en tot vervulling gaan, sal ook elke ander woord wat Ek spreek ook in vervulling gaan, omdat Ek die EEN is wat maak en breek en nie Satan nie en geen mens het mag oor MY Woorde nie. Al probeer hulle ook wát om My knegte te probeer stil, daar sal nie ‘n enkele ding gebeur wat hulle tot stilte sal bring nie, want EK wil dat hulle skryf en vir MY moet getuig en so sal ook elke ander werk wat Ek iemand opdra om vir MY te doen, ook gedoen word, al probeer die bose dit stopsit. EK is die Almagtige en niemand kan dit bestry nie - nie eers die engel van die duisternis nie. Weet julle dat EK opgestaan het uit die dood na My kruisiging? Julle sê almal ja! Nou waarom is julle bang vir die dood?
Geen lewe of dood kan julle van MY skei nie en daarom is dit ‘n ongegronde vrees wat uit julle uitgehaal moet word. Dit sal net tot reiniging vir julle dien en daarna sal julle dankbaar wees dat Ek julle gereinig het daarvan. Die bose weet dat elke mens die dood vrees en sal daarom altyd die dood gebruik om die mense tot oorgawe te dwing. Julle sal ook in sulke situasies kom en weet dan net dat EK in beheer is. As dit nie jou tyd is nie, sal niks jou oorkom nie en as dit jou tyd is, sal EK sigbaar aan jou verskyn en jou weereens versterk en in My arms sal EK jou wegdra sonder dat die bose ‘n vinger op jou kan sit. Maar julle moet eers berus by dit wat EK julle wil leer. En dink nie dat julle dit nie nodig het nie, want EK weet wat julle nodig het en wat nie! Wees maar net nie bevrees nie en wankel nie in jou geloof nie, want EK ís by jou om jou te vertroos en te versterk vir jou lyding. EK sal ook jou lyding verkort as EK sien dat jy jouself heeltemal oorgegee het aan My en voor jy dit weet, het EK jou lyding in die grootste vreugde omskep, omdat jy MY bo alles en almal gestel het. Vrees nie die bose nie, want dit is dooie dreigemente wat Ek nie sal laat geskied as dit nie MY wil is nie. Kom vra maar net vir MY om jou teen die bose te beskerm en EK dan het dit al klaar gedoen voor jy MY nog gevra het .
EK het julle lief en doen nie iets om julle te pynig om MY plesier te verskaf nie. Alles wat EK julle aandoen is net ‘n reinigingsmiddel om julle suiwer voor MY te kan bring.
Dink daaraan as dit jou beurt is om gereinig te word en wees nie bevrees nie - EK is met jou en dra jou deur dit alles sonder dat jy die sware las self hoef te dra, want alles word deur MY gedoen net uit liefde vir julle, My skepsels, wat MY kinders moet word.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205