OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 35
28 Nov. 2007 06:03
Julle dink dat julle MY behaag deur net MY gebooie te doen en dat julle daardeur dan die Ewige Lewe sal beërwe, maar EK wil julle sê dat dit glad nie die geval is nie. Wat EK wil hê is ‘n hart vol van liefde en vreugde vir MY, julle Vader. Deurdat iemand My liefhet, doen hy al klaar die gebooie en daarom vra EK net julle liefde. Wat baat die iemand dat hy goeie dade aan iemand anders gedoen het, maar in sy hart is daar nie ‘n brandende liefde vir MY en vir die persoon aan wie hy goed gedoen het nie? Dit is vandag so verkeerdelik oorgedra en nou wil EK, julle Vader en Skepper dit weer aan julle bekend maak wat die werklike betekenis van liefde is. Julle almal dink dat net om iemand anders vriendelik en gasvry te behandel, dit nou genoeg is en dat jy nou MY gebooie nagekom het. Dit is nie so nie. Hoe het jou hart gevoel terwyl jy met hierdie kuiergas gesit en gesels het? Was dit ook vol vriendelikheid en het jy hom ook gasvry in jou hart opgeneem? Of was jy maar net uiterlik vriendelik? Julle uiterlike en innerlike moet ooreenstem en julle moet brandend van liefde voel, sodat julle nie deur die bose oorval kan word nie. EK wil aan julle ‘n gelykenis vertel. Daar was ‘n man wat op reis was na ‘n vêr land en op sy reis kom hy ‘n ou boemelaar tee. Die boemelaar vra hom toe om saam met hom te reis en hy stem toe in. Eers was hy maar redelik skugter en wou nie eintlik met die ou boemelaar gesels nie, maar die boemelaar het baie vriendelik met hom gesels en lateraan het hulle baie lekker gesels. Hulle kom toe by hulle eindbestemming uit. Hulle het nogal geheg geraak aan mekaar, aangesien dit ‘n reis van ‘n aantal maande was. Hulle het mekaar leer ken op die pad en die uiterlike van die boemelaar het glad nie ooreengekom met sy innerlike nie. Nadat hulle by ‘n herberg ingegaan het, het die man op reis vir hom en die boemelaar vir die verblyf betaal, maar die herbergier was ‘n man wat op die uiterlike staatgemaak het en wou nie die boemelaar daar laat bly nie. Die man op reis het dan ook aan die boemelaar nuwe klere gegee sodat hy respektabel kon lyk en ewe skielik het die herbergier nie meer omgegee dat hy ook daar tuisgaan nie. Die man op reis en sy boemelaarvriend is met die beste kos en grootste gasvryheid behandel nadat die boemelaar netjies aangetrek was en ook gebad het. Sy vriend het nie ‘n geldskaarste gehad nie en het alles vir hom ook betaal. Na hulle verblyf is hulle daar weg en die herbergier het ander mense in sy herberg geneem, maar tot sy bittere spyt kom hy agter dat daar van sy goue eetgerei weg is. Sy eerste gedagte was dat dit die boemelaar was en inderhaas word daar iemand met ‘n perd agterna gestuur om hulle te soek. Hulle kon egter nêrens gevind word nie - wat die herbergier se vermoedens net nog groter laat word het. Eendag besluit die mees vername gas van die herbergier dat hy vir ‘n dag of wat in die omgewing gaan deurbring en glad nie by die herberg gaan eet of tuisgaan nie, terwyl sy goed daar agterbly. Die herbergier laat sy kamer sluit sodat niemand daar kan inkom en sy besittings sou steel nie. Die herbergier was baie gesteld op sy goeie naam en wou nie dat daar slegte gerugte oor sy herberg versprei word nie, en sou iemand die vername gas kom beroof terwyl hy nie daar was nie, sou dit vir hom ‘n groot skande gewees het. Maar die gas het nie teruggekeer nie en die herbergier het later maar sy besittings gaan haal om dit in ‘n stoorkamer te bêre, omdat hy die kamer nodig gehad het.
Tot sy groot verbasing tref hy sy goue eetgerei saam met nog baie verlore artikels tussen sy klere aan. Sy klere was so gehawend dat jy nie jou vinger op ‘n heel plekkie kon sit nie. Die kamer het gestink en was ontsettend vuil en die herbergier het met skok besef dat die “vername ryk man” niks anders as die grootste voordoener was nie. Hy is lelik om die bos gelei deur die man se enigste ordentlike pak klere en die geldbeurs wat hy rondgedra het. Hy het dan ook besef dat hierdie die swendelaar was wat al baie lank deur almal gesoek word vir diefstal en moord. Daar het hy besef dat uiterlike niks is nie. Die swendelaar is deur hom soos ‘n koning behandel, omdat hy gedink het dat hy ryk was en ‘n gesiene man, maar die arme boemelaar wat regtig nie ‘n heenkome gehad het nie, is nie vriendelik deur hom ontvang nie. Skaam het hy nagedink oor sy ontvangs van mense en het besef dat hy mense met die grootse “liefde” ontvang wanneer hulle goed lyk in sy oë.
Dit is waarvan EK praat en EK wil hê dat julle altyd ongeveins moet wees. Ongeveinsde liefde sien nie die persoon voor jou raak nie, maar sy innerlike. Ook sal julle “deur” ‘n mens wat hier voor julle staan kan kyk en ten spyte van sy mooi uiterlike, sal julle dan sy korrupte binnekant kan sien. Sulke mense moet julle dan ook met die grootste liefde behandel en dit sal dan ook ‘n verandering in daardie persoon meebring, omdat die liefde die grootste wapen is. Julle is baie geneig om mense te beoordeel op hulle uiterlike, sonder dat julle die innerlike ken en daarom sê EK weereens aan julle dat daar dalk net ‘n engel voor jou staan en jy weet dit nie. Moenie mense goed behandel omdat jy moet nie - dit moet vir jou ‘n liefde wees en al hoe jy dit sal regkry, is om MY bo alles lief te hê. EK gee alles wat jy nodig het op jou aardse pad en dit sluit geestelike goedere in. As julle MY liefhet bo enigiets anders sal julle omvorm word tot liefde en julle sal ander mense met opregte liefde behandel en daar sal geen geveinsdheid meer in jou binnekant wees nie. Dit is die les wat EK julle wil leer en julle moet ag gee op MY lesse, sodat dit nie net verby julle gaan nie. As julle MY op aarde kon sien, sou van julle MY dalk glad nie herken het nie, en julle sou MY nie so hartlik behandel het as wanneer julle sou geweet het dat dit EK was nie. EK was eenvoudig van voorkoms, sonder enige versiersels en mooi klere en niemand sou Die Groot, Ewige Skepper in My liggaam gesoek het nie. Dit moet so wees met julle ook. Ek wil geen versiersels hê nie, omdat uiterlike versiering net dien om ‘n slegte innerlike weg te steek. Wees eenvoudig soos EK en wees opreg soos EK en wees vir MY lief bo alles en julle sal almal wat op julle pad kom, met ware liefde behandel en dit sal julle tot groot loon strek.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205