OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 3
Dinge het op die oog af sleg gelyk vir MY, maar in der waarheid het dit baie sleg begin gaan met Satan, die oomblik toe EK MY laaste asem uitgeblaas het. Die volle mag van MY toorn het op hom neergekom in die bevryding van MY geliefdes wat in armoede en lyding gekluister gesit en wag het op MY koms na die doderyk. Ja, hulle het MY verwag en het onder mekaar gesit en praat van die groot en deurlugtige dag van JAHWEH van die Leërskare wat selfs in die dood hulle nooit sou verlaat het nie. EK het hulle met MY Gees bygestaan, sodat hulle nie moed verloor het nie, terwyl dit buitengewoon fel op hulle was. Die brug tussen MY en hulle was nog nie gebou nie en daarom het hulle versmag sonder dat EK hulle kon red. Dit is nog ‘n rede dat EK die menslike vlees kom aantrek het om sodoende MY ander kinders, wat trou op MY koms gewag het, kon uitred. Met MY aankoms in die doderyk het daar groot konsternasie in die hel geheers. Paniekerig is daar deur Satan en sy demoniese gesante rondgehardloop om MY te keer om nie in die onderste hel in te kom nie, waar daar die uiterste duisternis geheers het. EK laat MY natuurlik deur niks stuit nie, nie eens die grootste donkerte van gees of donkerte van oog nie. En met MY inkoms het EK met MY fel lig elke hoekie en draaitjie verlig wat ook maar bestaan het - menende dat niks, absoluut niks vir MY verborge was, is, en sal wees nie. Dit is MY wil om ook die grootste sondaar uit die bekke van die slang te verlos en daarom het EK hierdie daad gedoen waarvoor niemand anders kans gesien het nie. Niemand anders het die krag gehad om dit te kon volbring nie en hierdie verlossingsdaad van MY is al eeue der eeue voor die grondlegging van die wêreld besluit en EK het al ‘n geruime tyd op die besluit gekom voor die bestaan van die eerste mens. Dit was ‘n besluit van liefde, omdat EK nie kon toesien dat MY skape so moes ly deur die hand van Satan nie. Geen mens sal ooit kon raai hoe donker dit daar onder is nie. Dit is letterlik die geboorteplek en put van duisternis. EK het met MY intrede die hele plek verlig en daardeur almal wat MY nie verwag het nie, se oë sodanig verblind, dat hulle ‘n tyd lank glad nie na MY kon kyk nie. Hulle het in vrees en bewing verkeer in die aanskouing van MY Magtige Lig wat alles deurvors. MY volksgenote en die liefhebbers van MY Naam is met groot blydskap vervul, omdat EK hulle kom red het. Hulle het MY al baie lank verwag en het net bly wag op die dag dat EK die bose sal verslaan en hulle uit die diepe put sou haal om hulle saam met MY te vat. Dit het dan ook só gebeur: Met MY intrede het elke demoon gevlug na die verste uithoek waar hy gemeen het om nog ‘n bietjie duisternis te vind. Daar was egter nêrens vir hulle ‘n plekkie te vinde nie en bang het hulle op die grond neergeval uit ontsaglike vrees vir Satana wat hulle met moord en dood gedreig en beveel het om die poorte vir MY gesluit te hou, maar hulle het uit vrees en bewing vir MY Lig alleen beswyk van vrees. Die een demoon op die ander het uit bewing, soos dood op die grond neergeval en EK moes oor hulle trap om by MY geliefdes uit te kom. Dit klink nou vir julle snaaks dat EK in die geesteswêreld nie dwarsdeur hulle kon loop nie, maar dit is ‘n aanduiding dat EK hulle ook genade sou betoon het as hulle, hulle na MY wend. Dit is miskien vir julle moeilik om te verstaan hoedat EK aan hulle genade kon bewys na alles wat hulle MY aangedoen het, maar dit is hoe EK is. In MY Grootheid is EK genadig en barmhartig aan die slegste van die slegstes en sal hulle ook uitred as EK in diepe berou daarom gevra word. Die demone het MY natuurlik net uit vrees om vergifnis gevra en daarom kon hulle nie gered word nie, omdat EK vrywillige oorgawe wil hê en nie gedwing uit vrees of bangheid nie. Dit sê EK nou aan julle almal ook. Soek MY met liefde en berou oor julle sondes en nie uit vrees nie, want dit is dwang en nie vrywillig nie. En niemand kan MY met oorgawe dien as hy nie vrywillig na MY kom nie. Moenie jou naaste dwing om MY te dien nie, want daarin lê vir hom net ‘n oordeel. Daarom kan ons nie deur die wêreld gaan met krag of geweld nie, want dan is dit dwang wat op die mense uitgeoefen word. Wat EK soek is vrywillige liefde en rein harte. Gedwonge harte is nog vol van die aardse vuil en sal op die oog af lyk soos ‘n kind van MY, maar in sy hart sal hy bly klou aan sy aardse plesiertjies.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205