OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 46

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 46
4 Des. 2007 06:53
Julle almal wat MY Lewende Woord lees, sal weet dat die volgende waar en eg is. Daar was ‘n man wat na MY kom vra het en hy wou weet wat hy moes doen om die ewige lewe te beërwe. EK het aan hom gesê dat hy al sy goed moes verkoop en aan die armes gee en dat hy MY moes volg. Dit was teveel gevra aan hom en hy het hartseer weggedraai en teruggegaan na sy aardse goedere waaraan sy hart so verkleef was. Dit is dan ook waarom baie van die mense wat MY Woord verwerp, dan hulle rûe op MY draai. Die aardse verlokkinge is dan heeltemal te groot en hartseer draai hulle dan weg, omdat hulle nie daarvan afskeid kan neem nie. Dit is dan vir hulle ‘n groot bron van bekommernis en verdriet, want wat sal dan van hulle aardse goedere word as hulle dit aan iemand anders moet afgee? Baie is ook nie soseer gepla oor byvoorbeeld die huisraad nie, maar meer oor sy “stokperdjie”. Dit sal hulle bitter berou omdat hulle nie eendag hulle ou aardse plesiertjies kan saamvat nie. Die aardse plesiertjies weeg dan ook baie swaarder as EK en dit trek hulle tot in die diepte van die aarde in af. Daaruit sal hulle nie kan kom nie, voordat EK hulle self daaruit gaan haal en hulle gewillig alles net so los. Hulle klou dikwels so aan hulle aardse plesiertjies vas soos ‘n padda aan ‘n boomstomp wat besig is om in die rivier af te dryf op pad na die groot waterval wat net om die draai lê. Hierdie boomstomp is sy redding en hy besef nie dat hy maar net na die wal kan swem vir redding nie. Nee, hy klou aan hierdie stuk ding vas wat hom net vir nou red. Maar sonder om te besef, dryf hierdie ding met hom na die dood. Los alles en volg MY, was MY woorde aan baie mense en net ‘n paar het gehoor gegee daarop. En dit is wat EK ook vandag aan julle wil sê: Sny af van julle aardse goedere en ook van alle ander plesiertjies wat julle van MY aftrek. Dit vul julle harte mat groot plesier en dan is dit vir MY baie moeilik om tot julle deur te dring. As julle vol is van julle eie dinge, kan EK nie kom met MY GEES en julle vul nie, omdat daar dan teveel onreinhede in julle binneste is. EK deel nie julle harte met dinge van die wêreld nie. EK wil alleen Heerser wees in julle harte en daarom vra EK weer aan julle om daaraan te dink en stil te gaan sit en te dink of daar nie dalk iets in jou lewe is wat MY plek vul nie. Dit hoef nie noodwendig ‘n aardse ding te wees nie. Dit kan jou huisgesin ook wees. Baie mense het hulle kinders meer lief as vir MY en sal daarom dan ook die verkeerde keuses maak in die tyd wat kom. EK waarsku julle weer dat die tyd baie sleg gaan wees en dat julle buitengewoon swaar sal kry. Die groot geloofstryd wat voorlê gaan sorg dra dat menige mens MY verlaat uit vrees dat hy sy aardse plesier of genot gaan verloor. As EK jou kinders vra en jy weier MY, is jy nog te lief vir jou kinders. As EK jou man of vrou vra en jy weier MY, is jy nog te lief vir hom/ haar. Los alles en volg MY met jou hele hart. Julle dink deur MY net elke dag te smeek vir bewaring dat julle siele al gereed is vir die komende tyd. Dit is nie so nie en met leedwese gaan julle die tyd tegemoet. Kom na My, sodat EK julle kan reinig en dit gaan vir julle swaar wees, maar EK sal julle almal deur alles dra en julle sal heel en vol van MY GEES anderkant uitkom. Sny alles af wat nie pas nie, dit is, los alles wat nog ‘n groter plek as EK in julle harte vul. Los alle behaging van die vlees en dra sorg vir julle siele. As jy besig is met MY dinge, moet jy geen begeerte na enigiets anders hê nie. Nie kos nie, nie enige vorm van plesier nie, niks nie, net vir MY. En EK sal jou alles gee wat jy nodig het. Dit is dan ook wat die groot trek uit Egipte beteken het. Die Israeliete moes alles agterlaat wat hulle in Egipte gebind het. Hulle moes net met hulle besittings uittrek. Dit beteken dat hulle nie enigiets moes oorhou van die land/ aarde nie. Net so ook met julle. Hou net die nodigste dinge uit en los al die ander onnodighede. EK het aan hulle kos voorsien in die woestyn waardeur hulle moes trek en EK het hulle op die pad na die beloofde land gereinig. Al die onreinheid het in die woestyn agtergebly en net die reinste het die beloofde land binnegegaan. Dit moet met julle ook so wees. Los alles en “trek” na MY. Die pad gaan verlate en swaar wees - net soos die woestyn. Daar gaan baie dinge van julle afgehaal en verwyder word op die pad. Al die onreinheid wat nog aan julle vaskleef sal EK stadig maar seker uit julle uithaal - net soos wat EK al die onreines en onsuiweres tussen hulle uitgehaal het. Die ander volke se mense wat tussen hulle was, moes uit. Dit stel al julle wêreldse dinge voor en dit moet ook uit julle uit. Daar was later ook geen voedsel meer nie en EK het aan hulle voorsien. Julle sal later ook net op MY moet staatmaak vir julle geestelike voedsel wat elke dag op tyd sal kom. Moenie terug verlang na die kospotte van Egipte nie, want daarin lê die verderf. Moenie terug verlang na die aardse genot en plesier wat julle op die pad verloor het nie, want EK sal jou dan oorgee aan jou begeertes en jy sal dan ook langs die pad na MY, verlore gaan. EK sal aan julle kos en water voorsien m.a.w. EK sal aan julle net die nodigste gee, sodat julle kan oorleef hier op die aarde, maar moenie dink EK het aan hulle allerhande aardse plesiertjies gegee nie. Julle sal dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle die aardse bestaan kan voltooi, maar EK sal niemand stinkryk maak sodat hy in weelde sy weg kan gaan nie. EK sal julle almal lei tot in MY Vaderhuis en niemand wat na MY alleen kyk, sal verlore gaan nie. Daarvoor sal EK sorg dra. Julle almal wat op weg is na MY, is nou ook in die woestyn van julle lewens en EK is besig om julle te reinig, maar wees nie hartseer oor die dinge wat jy langs die pad verloor nie, omdat EK jou dan baie meer sal gee in ruil daarvoor. Almal van julle het nog dinge wat nie by die Beloofde Land (MY koninkryk) pas nie en sal daarvan moet afsien, voordat julle MY Beloofde Land bereik. Maar wees nie daaroor hartseer nie, omdat die een wat omkyk, MY nie werd is nie. EK wil julle almal in MY Land verwelkom en wil nie een langs die pad verloor nie en daarom sê EK aan julle dat julle moet werk maak aan julleself. Hier is geen oordeel in MY Woorde nie, net liefde, wat julle na MY wil trek en julle reinig sodat EK julle teen MY Vaderbors kan vashou. Soos reeds in van die vorige hoofstukke gesê is, kon EK geen onreine teen MY vasdruk nie, maar as julle vrywillig kom om deur MY gereinig te word, sal EK julle reinig, maar EK sal alles afsny wat nie pas nie! Wees daarom nie hardkoppig nie en los die aardse dinge vanself, sodat dit vir julle minder pynlik sal wees as wanneer EK dit self moet kom verwyder. Julle almal het nog sondes en daarom spoor EK julle aan om dit te los. EK het julle lief en sal alles doen om julle tot MY te bekeer en teen MY Bors vas te hou. As julle nie julle dinge wat julle behaag los nie, kan EK julle nie teen MY Bors druk nie en julle sal alles mis, net soos die Israeliete wat nie na MY kneg Moses wou luister nie en langs die pad omgekom het. MY kneg Moses was My stem wat hulle gelei het en daar was die onder die volk wat nie na hom wou luister nie en het langs die pad verlore gegaan. Luister dan nou ook na MY stem, sodat julle die Beloofde Land kan beërf en julle salig kan wees in MY Land waar MY Liefde heers. Dit sê EK aan julle, nie om julle te veroordeel nie, maar om julle na MY te trek en julle te reinig.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205