OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 33

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 33
27 Nov. 2007 06:54
Na ‘n sekere aantal dae het EK MY dissipels uitgevat na ‘n verafgeleë koppie en daar het EK met hulle gesit en hulle onderrig. EK was Een met MY VADER en dit was na MY opstanding. Daar was baie wat EK hulle nog wou wys en leer. Ons was alleen saam en daar was nie nuwe mense by wat nog bietjie onryp was om sekere dinge te verstaan nie. Dit was goed, aangesien EK aan hulle wou wys hoe MY verheerlikte liggaam gelyk het, sodat hulle saam met MY bly kon wees en geen vrees meer hoegenaamd kon oorhou nie.
EK het opgestaan en MYSELF aan hulle getoon en groot was die verbasing omdat EK hulle eers weer ‘n beeld van MY verminkte liggaam laat sien het. Direk na die beeld van MY liggaam, het EK hulle gewys hoedat EK in MY verheerlikte liggaam daaruit gesien het. Dit was vir hulle ‘n aansporing, omdat hulle geweet het dat hulle ook vir MY sou moes ly. EK het aan hulle gewys dat hulle niks te vrese het nie en hulle was vol moed en durf en met nog meer liefde vir My vervul. Dit was dan ook die doel daarvan om hulle te wys. EK wil julle ook aanspoor om nie bang te wees nie, omdat die komende tyd baie fel gaan wees en julle dikwels baie gepynig gaan word vir MY. EK wil julle wys dat julle ook niks te vrese het nie, omdat julle liggame tot niet gaan en net die verheerlikte siel dan sal oorbly. Die van julle wat wel oor sal bly om MY koms op die wolke te sien, sal ook versterking nodig hê, omdat julle alles om julle sal waarneem en dit nie ‘n mooi gesig sal wees nie. Wees nie bekommerd nie. EK sal julle uit alles uit red en julle sal deur MY gedra word, tot op die oomblik dat dit julle tyd is. Niks sal van julle afval nie en al klink die komende tyd buitengewoon wreed, sal julle dit tog kan verdra, omdat EK julle sterk maak en julle sodanig voor die tyd daarvan ingelig het en julle versterk het. Wees maar net gerus, as julle weer met MY verenig is, sal julle juig en dankbaar wees oor al die leed wat julle op aarde moes dra. Ek sál julle help en bystaan en julle sal MY kan sien tussen julle rondwandel terwyl die wêreld om julle My sal soek en nie vind nie. Dit is waarom EK nou sê: Soek MY terwyl EK nog te vinde is. Dit is dan ook waarom EK julle nou hierdie dinge leer en vertel, sodat julle daaraan herinner kan word op die tyd dat julle dit nodig het. Dit sal julle só sterk maak dat julle vorentoe sal beur op die swaar pad en die kruis sal dra wat EK julle opgelê het, sonder om moeg te word, maar die wat nie versterk wil word nie, sal langs die pad oorval word en die roofdiere sal op hulle toesak. Wees rustig oor alles en bou aan julle verhouding met MY en julle sal weldra alles verstaan en ook waarom dit gebeur. Alles hang van julle liefde vir MY af en nou is die aangewese tyd om MY meer lief te kry, aangesien julle nie tyd sal kry om aan julle liefde vir MY te werk as die wolwe en jakkalse om julle draai nie. Dan is daar nie meer tyd vir vrees nie, omdat julle al klaar julle vrees moes aflê voor die groot stryd. Dit is dan ook waarom EK julle al hierdie dinge sê, want EK weet dat julle vreesagtig is. Sodra die vyand om julle heen gaan draai, sal julle net aan julle liefde vir MY moet dink en EK sal tussen julle wees om julle te versterk, en met nuwe moed sal julle verder gaan, en alles wat op julle weg kom, trotseer. Dit is dan ook MY Groot liefde vir julle, dat EK julle voor die tyd al van alles bewus maak, sodat julle weet wat julle te wagte staan, en solank daaraan kan aandag skenk en julle tekortkominge kan bewerk. Wees nie bevrees nie, want EK is met julle en al sou hulle julle aardse liggame skend, sal julle niks daardeur verloor nie, maar alles wen. EK sal julle beloon met nuwe verheerlikte liggame, waaroor julle so sal juig en niemand kan daardie liggaam van jou afneem of skend nie. Daarom moet julle nie ter wille van julle aardse liggame ingee nie, omdat EK die beste aan julle sal gee in ruil vir ‘n ou en geskende liggaam. Maar díe wat aan hulle aardse liggame bly vasklou, sal nie ‘n verheerlikte liggaam ontvang nie en sal dan bitter teleurgestel moet toekyk hoedat sy getroue broers beloon word. Dit sê Ek, nie om julle bang te maak nie, maar om julle voor te berei op die dinge wat nog gaan kom en waarvan julle getuies sal wees. Dit sê EK ook in alle liefde aan julle, MY liewe kinders vir wie EK MY aardse liggaam opgegee het.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205