MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 25
Wellus
Die volgende is ‘n baie netelige sakie en kan eintlik net met die volwassenes bespreek word. Dit gaan oor wellus. Wellus is ‘n term wat baie keer verkeerd opgeneem word. Dit beteken nie net dat jy jou naaste se vrou begeer nie, maar selfs jou eie vrou. Jy sal jouself betrap dat jy met vurige oë na ‘n vrou kyk en sonder dat jy dit besef is jy besig met owerspel. Wat EK wil hê is rein harte en daarom word hierdie hoofstuk behandel. Dit geld vir beide geslagte. Die geslagsdaad het EK geskep sodat die mens homself kan voortplant. Wat ‘n noodsaaklike en reine daad was, is heeltemal uit verband uit geruk en kan nie meer vir dieselfde doeleindes gebruik word nie. Die mens is so ‘n onrein skepsel en alles wat EK rein gemaak het, ontheilig hy. Dit is omdat die mens sy ore laat uitleen aan die satan. Geeneen van julle kan daarop aanspraak maak dat hy nog nooit wellustig was nie. Dit is iets wat EK nou duidelik wil maak. Wellus is ‘n begeerte van die vlees en kan daarom nie voordeel vir die gees bring nie. Behalwe vir voortplanting, is die geslagsdaad oorbodig en ‘n mors van kosbare energie, wat aangewend kan word vir geestelike ontwikkeling. Daar is die onder julle wat sal sê: Waarom is ons dan geskape met so ‘n drang? Dit kan tog nie sonde wees as ons so geskape is nie? Maar EK sê: Hoe kan jy meester word oor iets, as jy nie daaraan blootgestel is nie? Hoe kan jy die liggaamlike drange en begeertes oorwin, as jy nie sulke drange het nie? Julle moet rein lewe en dit beteken soveel as om in jou binneste te lewe. Nie uiterlik nie. Die wêreldlinge leef uiterlik. Kyk maar net om jou heen en jy sal sien dat die klem die hele tyd op die uiterlike gelê word. Kleredrag moet stylvol en smaakvol wees - maak nie saak of dit onkuis of uitlokkend is nie. Daar is niks respek vir die liggaam wat die tempel van MY Gees is nie. Daar is vandag nie iets op die mark wat nie gerig is op die liggaam nie. Voertuie word so luuks as moontlik gemaak, sodat die liggaam behaag kan word. Vliegtuie is ontwerp sodat die mens heen en weer kan vlieg en besittings kan verwerf. Dink maar net aan alles wat jy kan koop in vandag se winkels. Niks is op die gees gerig nie, dit gaan alles net oor die vlees. Mense dink nie daaroor na nie. Jy is mos geskape met ‘n liggaam en daarom moet hy mos behaag word! Maar as jy stil gaan sit en dink waarom jy ‘n liggaam het, sal jy baie daaruit leer. EK is hier om jou te help met MY Vaderliefde en daarom sal EK jou sê waarom jy ‘n liggaam het. Die liggaam is ‘n toets wat jy moet deurstaan om eendag gees te kan word. Jy moet leer om, ten spyte van drange en begeertes, in die gees te leef. EK weet dit is baie moeilik, want EK was ook eens op aarde as ‘n mens. Dit sal vir julle moeilik wees om te glo, dat EK ook drange gehad het, maar met MY Vader se hulp – wat die Liefde is, het EK alles oorwin en as oorwinnaar uit die stryd getree. Dink nie dat EK sonder drange gebore was nie, want dan maak jy ‘n fout. As EK sê dat EK verstaan hoe dit voel om ‘n liggaam te hê, dan bedoel EK dit. Dit is ‘n netelige saak en elkeen moet dit goed oordink, dat elke keer as jy geslagtelike gemeenskap het, sonder die doel om kinders te verwek, jy toegee aan die liggaam se begeertes en dit maak dat die liggam sterk word in sy begeertes en die siel ‘n hegte band met die liggaam smee wat nie maklik gebreek kan word nie. Daar is alreeds in ‘n vorige hoofstuk gepraat van die liggaam, siel en gees en daarom is dit onnodig om verder daaroor uit te wei. Onthou net dat die siel aan die liggaam verknog raak deur aardse plesier en genot en dat sy moeilik van die liggaam skei na die dood en dit beteken dan die ewige dood. En EK wil hê dat MY kinders moet opstaan tot die ewige lewe met en in MY, want EK het julle lief. Arm in arm wil EK met julle wandel en EK wil julle omhels met ‘n vurige omhelsing van MY Vaderlike Liefde. Dink daarom na voor jy weer iets doen wat teveel plesier aan die liggaam verskaf en dink daaraan dat EK julle vandag gewaarsku het. EK wil julle help en dra julle deur moeilike tye as die liggaam neig om te sterk te word. Dra dit in die gees aan MY, julle Verlosser en Vriend en tere Broeder op. EK SAL julle help waar julle gehelp wil word. Julle moet MY net die geleentheid gee en EK sal julle tot rein skepsels omskep wat MY waardig is. En EK sal julle tot MY rein kindertjies, waarvoor EK baie lief is, omskep. Wees MY net toegeneë in julle harte. Maar daar waar MY hulp nie gevra word nie, sal EK ook nie help nie, want julle is vry om te maak soos julle wil en EK respekteer julle vryheid. Maar julle moet MY ook respekteer as julle Vader en Verlosser, wat niks aan julle sê wat nie vir julle tot voordeel strek nie.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205