MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 18

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 18
“Dink aan MY bloed wat op Golgota gevloei het, aan MY deurboorde sy en dink dat EK dit in liefde gedoen het”
Dink aan MY in die dag van more. EK wat liefde is, sal julle nooit verlaat nie. En in die tye wat kom, wat bitterlik gaan wees, sal EK julle trou bewaar. Julle wat almal op MY skoot kom sit, sal EK uit groot gevaar bevry. Wees MY getrou en bewys barmhartigheid aan ander, sodat EK julle met barmhartigheid kan vergeld. MY barmhartigheid is eindeloos net soos EK en sonder dat julle dit besef of weet, is elke daad van julle in MY opgeteken en in die dag van nood sal elke daad van julle op die lappe kom. Die van julle wat goeie dade gedoen het, sal vergeld word daarna en die wêreld sal vergeld word na sy slegte dade.
Wees daarom altyd bereid om jou naaste te help, sodat EK ook ‘n reddende hand na jou kan uitsteek in die komende tye. Dink aan MY liefde vir MY mense wat MY uit hulle harte liefhet. Hulle wat MY dag en nag soek. EK sal hulle in MY arms optel en hulle na veiligheid lei, al loei die stormwinde om hulle heen. Aan MY Vaderbors sal hulle kom rus en ons sal gesels, soos ‘n Vader met sy geliefde kinders, soos ‘n broer met sy medebroers.
Dink nie daaraan dat julle sondige mense is nie, maar dink aan MY bloed wat op Golgota gevloei het, aan MY deurboorde sy en dink dat EK dit in liefde gedoen het. Deur die lewe op aarde het EK as voorbeeld gedien vir mense op alle plekke in die heelal en niemand het eers ‘n idée van hoe groot MY verlossingswerk is nie. Weereens wil EK die mense uitnooi om na MY verlossingswerk te kom kyk met nuwe oë en dan sal julle self agterkom hoe ‘n groot genade dit van MY was en nog steeds is, want duisende der duisende siele is gered deur die swaar las wat EK vir almal gedra het. Groter liefde is daar nie as dat iemand sy lewe aflê vir miljoene mense nie. Wees nie ‘n swaap wat deur satan verlei word nie. Wat het hy vir die mensdom gedoen om eer te verdien? En tog kry hy al die eer en verheerliking en dit terwyl hy sorg dat miljoene in die diepste dood vasgekluister sit. Hy roof siele en moor hulle uit. Misdadigers op aarde word op wrede wyses om die lewe gebring, maar satan word vereer vir sy vuil dade. As julle kon ruik hoe hy stink, sou julle, julle neuse toegedruk het en weggehardloop het, maar nou is julle siele nog doof en blind en julle kan nie ruik nie, want hy het julle verblind deur die rook van sigarette wat vrylik beskikbaar is en so het hy julle stadig maar seker gewoond gemaak aan sy vrot reuk wat julle sal laat brul van pyn hierna. Daar is nie een mens wat die satan kan oorwin deur sy eie krag nie. Daarom moet julle krag van MY kom haal, sodat julle die verleier kan weerstaan. Sonder MY krag is julle niks en tot niks in staat. EK hou die heelal vas met MY krag alleen. Slegs ‘n gedagte kan alles vernietig, maar dit sal EK nooit doen nie, omdat EK nie skep om te verwoes nie, maar om te red. Daarom sê EK weer dat julle nie ‘n idée het van MY groot redding wat EK bewerkstellig het deur MY sterwe aan die kruis nie. Die een wonderwerk na die ander het plaasgevind deur MY kruisdood en wat in die hiernamaals gebeur het, sal EK op ‘n ander geleentheid deur MY skryfknegte aan julle bekend maak.
MY skryfknegte is mense net soos julle, met sondes en vertwyfelinge en daarom ook van MY afhanklik vir alles wat aan julle gebring word. Maar wees bly dat daar iemand is wat bereid is om dit aan julle te bring. Dra hulle in alle liefde in julle gebede op sodat dit vir julle en hulle tot seën kan strek. Dink dat sekere mense laste het om te dra waarvan andere nie bewus is nie en moenie klippe gooi en veroordeel nie, want julle verstaan nie altyd alles nie. Die een kan die ander nie opsom deur na sy uiterlike te kyk nie. ’n Mens wat in sy liefde tot MY ontbrand, wys dit net vir MY en dit is nie nodig om aan almal te vertel hoe lief hy MY het nie, want EK ken sy hart. Hulle dra julle in hulle harte aan MY op, al sê hulle julle niks en dis ook nie nodig nie. Hulle loop nie met hulle harte op hulle arms sodat almal dit kan sien nie. Dis ‘n persoonlike saak wat net MY aangaan. Wees daarom vir MY ‘n welgevalle offer en dra jou medemens net in jou hart aan MY op en jy sal sien hoe EK jou gebed verhoor. Alles word deur MY gerig en niemand het ‘n invloed op MY besluite nie, maar hy wat na MY in liefde kom en vra soos ‘n kind ‘n vader kan MY hart versag en EK sal alles doen om hom of haar tevrede te stel en gelukkig te maak. Daarom sê EK dat die liefde alles is, want jy kan MY met die liefde in jou hart om jou pinkie draai, mits dit in MY orde is en EK daarmee tevrede is. Dit is die riglyne van die lewe. Volg dit!
Amen
(Oom Dirk, net ‘n getuienis oor hierdie hoofstuk. Die aksenttekens op die woord “idée” wat twee keer voorkom, het ek glad nie gemaak nie. Ek het dit so in my hart ontvang maar die tekens het self daarop verskyn. Dit het ek gesien, nadat ek die stuk ontvang het en deurgegaan het vir spelfoute. Ek is nog nuut met die tik van goed en weet nie eers hoe om ‘n aksent te maak nie! Dit is net Vader alleen. Ek het ook woord in die Bybel ontvang wat sê dat ons moet bly wees –nadat ek vreeslik platgeslaan gevoel het. Bid asseblief vir ons, oom. Satan sê die heeltyd vir ons (ek, Anelda en Marieta) dat ons vals is en die wonderlike dinge self uitdink Al drie van ons het op ‘n stadium gevoel om op te hou met skryf, maar dan gee Vader ons weer krag en dan gaan ons weer verder. Die aksenttekens was vir my nou weer ‘n bewys van Vader se Groot Hand in die werk.
Groete, Louise)

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205