MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 22
Die doop. Neem MY kruis op en EK sal jou las ligter maak.
Die van julle wat die vorige hoofstukke baie goed begryp het, kan nou verder gaan na die volgende aspek van die Lewe. As jy nie die voriges verstaan het nie, kan jy nou op jou knieë (dit is nederig) kom vra, sodat EK julle harte en verstande kan oopmaak, sodat julle ook die woorde van lewe kan begryp en daardeur gered word. Die volgende punt waarna EK wil gaan is die doop. Almal weet wat die doop is. Of so dink julle. Die doop wat julle ken, is die doop van Johannes met water. Dit is nie die doop waarvan EK praat nie. Die doop waarvan EK praat is die doop in julle harte. Dit is die doop van nederigheid en oorwinning oor die dood. Met MY kruisiging op aarde is die mense deur ‘n vuurdoop. Die wat MY liefgehad het, was onder die indruk dat deur MY net lief te hê, hulle al gereed is vir MY Koninkryk hierna wat EK met MY dood voorberei het. Dit was egter nie so nie. Vir elke mens op aarde is daar sekere dinge wat hy moet deurgaan om MY waardig te word. Dit is die reiniging waarvan gepraat word. Elke een wat sy hart aan MY gee, is verseker van al MY liefde, maar hy moet vir MY ook kan ly. Dit is waarom daar soms dinge oor jou pad kom wat nie lekker is nie. In julle land is daar baie sulke geleenthede om vir MY te ly. Julle verdrukkers sorg dat julle waar maar moontlik kan ly. Kyk maar na die boere en die grondeise. Niks is so onregverdig nie, maar EK laat dit toe en dit gebeur hier en daar dat sekere plekke onteien word. Maar kyk nou wat gebeur met die volk. Die boere kom bymekaar en begin praat. Hier en daar is iemand wat in MY Naam opstaan en die mense probeer moed inpraat deur te verwys na julle volksgeskiedenis waar EK julle voorgeslagte uit wrede barbare se kloue gered het. Maar die meeste gryp na grashalms en probeer geld insamel om te kan hardloop na ‘n mens wat net so min aan die saak kan doen as julle self. Nou begin daar verdeeldheid onder hulle ontstaan oor wat om te doen. Party meen om te verkoop, anders kry jy nie jou grond se prys nie. Ander wil dit weer beveg. Almal gaan onbevredig huistoe. Net om weer oor ‘n paar weke weer vergadering te hou oor niksseggende dinge. Die paartjies wat werklik in MY glo, begin nou vurig te bid en elke keer as die telefoon lui, word daar met vrees en bewing gewonder wat die grondeisekommissaris nou weer besluit het. Maar die een of twee wat ‘n liefdesverhouding met MY het, gaan sy gang asof die wind net daar buite waai, want hy weet, hy’t niks om te vrees nie - EK sy Skepper, Verlosser en tere Vader beveg die saak vir hom. Wat kan ‘n hele wêreld doen as sy PA by hom is? Maar die res is nie so gelukkig nie. Slapelose nagte lê voor en in angs word daar rondgerol met die volgende vrae: Waar gaan ons heen? Wat gaan ons regtig vir die grond kry? Sê nou ons word net sommer uit die bloute onteien?
Watse vrae is dit vir ‘n persoon wat veronderstel is om op sy Skepper te vertrou? Die mens begin nou tog te vinnig aan MY mag te twyfel en in die proses ly sy siel daaraan skade. Hy het vir MY gely. Nie in die opsig waaraan julle dink nie, maar hy het tog gely. Vertwyfelinge maak die hart swaar en daar is nou genoeg op sy hart om sy hart in die grond te druk. Hy probeer sy hart ligter te maak met allerhande aardse plesiertjies soos “kuier”, soos julle dit noem. EK noem dit ‘n dronkparty, maar voort met die strydendes. Plannetjies word beraam, maar niks kom tot uitvoer nie. Op die ou einde van die dag gaan daardie persoon met groot hartseer in sy hart, wat hy met moeite vir sy naaste verberg, huistoe sonder ‘n oplossing. Die ding druk nog swaarder op sy hart. Dit sal so aanhou tot hy besef waar sy heil lê. As hy net in volle geloof en vertroue na MY kom, sal hy soveel anders daar uitsien. Hy sal aanhou ly tot hy sy probleem op MY skouers gepak het.
Die persone wat MY eerste aangeroep het, is met ‘n sagte vuurdoop gedoop, omdat hulle by MY kom skuiling soek het. Hulle staan vas soos ‘n rots op MY, hulle Verlosser en wag. En net soos EK altyd verlos het in die verlede, sal EK weer verlos, maar tot hulle groot geluk het EK al die vuur van die vuurdoop op MY geneem en die pyn soveel minder gemaak as vir die ander wat nog steeds in hulle beddens rondrol. En EK is ‘n GOD wat MY woord gestand doen. EK het gesê: ”Werp al julle bekommernisse op MY. EK sal julle juk sagter en julle laste minder maak. Tel net MY juk op”
Maar die ander het verkies om hulle juk self te dra en MY sagte juk en ligte las wou hulle nie dra nie. Wie se skuld sal dit dan wees as hulle swaar kry en dalk nog hulle gronde in die proses verloor? Beskuldigend sal hulle dan ‘n vinger na MYNE toe swaai en hulle die skuld gee, omdat hulle nie saam hof toe gegaan het nie. Wie sal MY in vandag se regstelsel vind? EK is nie in die hof te vind, waar oneerlike uitsprake aan die orde van die dag is nie en daarom moet julle MY in die stilte van julle binnekamers soek (julle harte). Daar is EK te vind en dit is ook die enigste eerlike hofsaal wat bestaan en daar sal reg en geregtigheid geskied, want niemand hoef op die waarheid te sweer nie. EK ken elkeen se hart en weet tot hoe ver die onskuld strek. Die vuurdoop is ‘n proses waardeur elke mens op aarde gaan en begin al van kleins af. Broers en susters baklei van babatyd af met mekaar en dit is om hulle te leer om die konfrontasies in die lewe wat volg, te hanteer. Dit hang nou van die ouers af om die kinders se fokus reg te kry. Hulle moet geleer word om alle probleme met MY te kom bespreek in die binnekamer van die hart. Daar is nie een persoon op aarde wat nie vir MY moet ly nie en dit gebeur in snaakse dinge om jou. Klein probleempies wat vir jou baie groot lyk, maar wat EK kan omswaai in jou guns as jy dit net uit ‘n vurige hart aan MY opdra. By MY is niks onmoontlik nie en deur dit aan MY op te dra, ruil EK en jy laste. EK neem jou swaar las van jou skouers af en jy neem MY sagte juk en ligte las op jou skouers. Met ander woorde, EK keer die hittige vlamme van die vuurdoop van jou af en jy sal ongeskonde en met die minste skroeiwonde wegstap. Die mense wat nie na MY wil kom om hulp nie, moet self in die vlamme gaan staan waar hulle die volle hitte self moet afkeer. Dit is nie MY kinders wat op MY vertrou se skuld nie. Dit is ook nie MY skuld as hulle nie gehelp wil word nie. Maar die vuurdoop moet elkeen deurgaan om julle te reinig as dit in MY hande oorgegee word. Die wat dit self wil dra, sal egter nie gereinig word nie. Hulle word toegeskroei en is dan nie meer ontvanklik vir MY nie. (hulle verloor hulle geloof in MY) en dan is daar ‘n feller vuur nodig om hulle te probeer reinig. Dit is hoekom party mense kort-kort probleme het. Hulle weier om gereinig te word en klou halsstarrig aan die swaar las vas wat hulle maklik vir MY kon gee. EK is bereid om almal se laste te dra, as hulle dit net aan MY wil afgee. MY kinders, EK het julle so lief dat EK MY lewe vir julle gegee het. Die sware kruis het EK gedra en julle hoef nie ‘n swaar las te dra nie. Neem MY kruis op en EK sal jou las ligter maak.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205