MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 21
Liggaam, siel en gees
Na die wedergeboorte kom die liggaam, siel en gees aan die beurt. ’n Kort verduideliking van elk sal volg. Jou liggaam is die opnamehouer van MY Gees. Die liggaam huisves ook die siel wat die persoonlikheid is. Dit is wie jy is. Jou persoonlikheid is in die siel vasgelê en alles wat jy besluit is eintlik die siel wat jou voorsê. Jou liggaam word onderhou deur die siel wat aktief besig is daarmee om jou liggaam in stand te hou. Daarom verrot en ontbind die liggaam na die aardse dood omdat die siel nie meer teenwoordig is met sy onderhoudende eienskappe nie. Wat meer is, is dat alles wat jy dink in die siel vasgevat is en as jy die lewe laat, sal jy agterkom dat jy nog steeds kan dink en handel sonder die liggaam. Die siel is dan vry om te kom of gaan soos sy wil en is nie meer in ‘n dooie en swaar liggaam vasgekluister nie. Die bewys daarvoor lê daarin dat die lewende mens in sy gedagtes baie vêr kan beweeg deur middel van sy gedagtes. Hy kan in ‘n kwessie van oomblikke op die maan wees as hy net daaraan dink. Die siel teenoor die liggaam is vry en ongebonde, terwyl die liggaam net onderworpe is aan die wette van die natuur, bv. swaartekrag.
Die gees binne jou is MY Gees wat as ‘n baie klein deeltjie van MY in jou ingeblaas is die dag toe jy gebore is. Jy het MY Gees in jou, maar dit hang van jouself af hoe jy dit gaan ontwikkel. Ontwikkel jy dit nie, is dit jou lot wat jyself in die hiernamaals vir jou bepaal. Daarom moet jy die Gees binne jou ontwikkel deur die liefde vir MY en jou naaste. Die Gees vermeerder dan tot dit die siel heeltemal oorneem wat dieselfde is as om te sê dat jou wil in MY wil opgegaan het. Die wedergeboorte is dan eers bereik na baie geestelike groei en vordering. Maar dit gebeur maar selde en kan daarom nie as voorbeeld vir die mens dien nie, omdat daar nêrens op aarde iemand te vinde is wat al geestelik wedergebore is nie. MY profete van ouds was almal wedergebore en kon daarom in die toekoms kyk. Hulle was egter NIE fortuinvoorspellers nie, maar kon slegs dit voorspel wat nuttig vir die mense van daardie tyd se geestelike groei was. Die mense is gewaarsku oor ‘n slegte tyd wat sal kom sodat hulle, hulle tot MY kon bekeer. Die Gees sluimer in elkeen en dit hang van elkeen af of hy dit gaan ontwikkel. Hoe ontwikkel jy die Gees binne jou?
Deur selfverloëning, goeie dade aan ander, ware naasteliefde en bo alles – liefde vir MY. Hoe meer jy MY liefhet, hoe meer ontwikkel jou gees. Die gees is ook die stem binne jou wat jou aankla en roep. Moenie die lokstem binne jou “versmoor” deur hom te ignoreer nie, want dit is MY stem en as EK ophou roep, sal daar swaar tye op jou wag, want EK sal jou dalk nooit weer roep nie. Jy sal dan al hoe meer en meer afvallig van MY word en êrens op die pad sal jy MY verloor om MY nooit weer terug te vind nie.
Die mens het nou ‘n keuse. Sy siel kan kies tussen MY wat die Gees is, of sy liggaam wat die aardse roepstem van verlokkinge is. Die siel haas hom na die kant wat die hardste roep en sal innig verweef raak met die kant wat hy kies. Sorg daarom dat jy die regte kant kies, want die kant wat jy kies gaan jou lot bepaal. Daarom sê EK dat EK nie oordeel nie, maar MY woorde, want hier kry jy MY woord. JY moet nou self kies. Kies jy die liggaam en sy behoeftes dan kies jy die dood. In die vorige hoofstuk het ons gepraat van die kluistering, oftewel die vasgevange deeltjies in die materie (metale en ander fases van MY skepping).
Daardie deeltjies is gekluister, omdat die eienaar daarvan gekies het om nie na MY stem te luister nie. Hy het dus die dood gekies, want alles wat teen MY is, is die dood, want EK is die lewe. Die deeltjies sit vas in die materie en as jy die materie kies, is dit fataal vir die siel, want die siel kan dan nie in die lewe hierna opstaan tot die ware lewe met en in MY nie. JY moet mooi dink wat jy wil hê - die aardse verlokkinge, wat net vir tydelike geluk sorg, of EK wat vir jou ewige geluk kan berei as jy dit begeer. Aardse verlokkinge op sigself is alles wat die liggaam plesier verskaf en daarmee vind daar ‘n band tussen die siel en liggaam plaas en met die dag van afsterwe kan die band nie gebreek word nie. Die siel kleef dan aan die dooie liggaam vas en kan nie opstaan tot die ware lewe nie. Die lewe daarenteen is in MY en MY alleen en daarom is dit raadsaam om eerder vir MY te kies. EK wil jou gelukkig maak en nie hartseer en ongelukkig sien nie en daarom wil EK hê dat jy MY moet kies. Jy sal ewig gelukkig aan MY Vaderbors wees waar jy vir ewig sal leef en dit is dan die volmaakte ewige lewe waarna op aarde gestreef moet word. Dit is hoekom EK aanhoudend waarskuwings en vermanings stuur om julle te kry om die regte besluit te neem, want die verkeerde besluit kan en sal vir jou ewige hartseer en pyn verskaf. Dink vooruit en nie net aan nou se genot nie, want enigiets wat jou nou genot verskaf en jou aandag van MY aftrek, het die vermoë om jou gevange te hou as jy dit toelaat. Dink vooruit en wees wys en moenie dat aardse skyngeluk vir jou besluit nie.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205