Hoofstuk 3
Die evangelie van die wynstok
Die wynstok behoort in die planteryk tot die meer edele soorte; dit het eers na die sondvloed uit Noag se tyd as te ware opgegroei en is deur My omvorm en geseën. Die rede daarvoor is dat dit by sy eerste ontstaan deur die wil van My vyand, vir die eerste mens `n steen des aanstoot geword het, toe hy My die meeste vergeet het.* *(Het betrekking op Adam. Sien Jakob Lorber - Huishouding van God Deel 1: Hoofstuk 13 tot 124, Dl 1, 13 — 14)
Na die sondvloed het Ek toe die wynstok sy gif ontneem en het dit vier maal geseën; en juis as gevolg van hierdie viervoudige seëning behoort die wynstok nou tot die edelste plantsoorte.
In elke bessie vind jy één of meer hartvormige pitte. Uit hierdie hartvormige pitte kan `n mens altyd die gevolgtrekking maak dat `n plant min of meer volmaak is. Want net soos wat die hart van die diere steeds meer ooreenkom met die hart van `n mens, namate hierdie diere meer volmaak word, is dit ook die geval met die pitte uit die planteryk. En die verenigde geeste van sulke meer edele gewasse kan by hulle ontwikkelingsproses ook `n groot aantal dierlike trappe oorslaan, ja selfs dikwels dadelik in die klasse van die mense opgeneem word.
En hulle het ook nog die voordeel, dat, terwyl hulle geestelike deel hulself rustig verder ontwikkel, hulle materiële huls, wat bestaan uit tallose sagte hulsies, waarin in elk `n hoër lewensvonkie ingesluit is, aan hoër lewende wesens eers tot voedsel van die liggaam, en daardeur ook tot voeding en ontwikkeling van die siel dien.
Vrugte, soos byvoorbeeld koring en andere growwer vrugtesoorte, dien vernaamlik tot voeding van die liggaam, maar die vrug van die wynstok dien, by suiwer en matige gebruik, meer tot die verlewendiging van die siel, as van die liggaam.
Die pit van die druif is so gevorm dat hy in die middel van die bessie, soos `n kind in die moederliggaam groei, en tesame met die bessie ryper word! Hierin styg daar, deur die murg van die wynrankie, in `n fyner as spinnerak geweefde haarvaatjie, `n eteragtige vurige sap omhoog, waarmee die binnenste hulsie van die pit gevul word. Die hulsie is so klein, dat dit maar `n tienduisendste deel van die grootte van die olieagtige pit inneem, en dit word dus met hierdie vurige substansie gevul. Dan word die haarvaatjie afgesnoer en vanuit die buis vorm daar dan meerdere klein sykanale in hierdie omgewing, as te ware daaromheen geweef, en word die hulsie met genoemde olieagtige substansie olieagtig-soet daardeur, omdat dit uit die edeler geestelike substansies gevorm is, wat al vroeër in die laere plantewêreld ryp geword het.
As hierdie tweede handeling geskied het, dan word die haarvaatjie vir die tweede keer weer saamgesnoer en vorm dan al dadelik die vaste pit op die volgende manier:
Aangesien die sappe hulleself gedurende die kort tydsperiode van die samesnoering oor die hele lengte van die buisie verdig het, bars die sappe uit op die plek waar die buisie die swakste is en dit is onder die saamgesnoerde punt. Die verdigte vurige sappe verdring hulle dan ywerig in liefde om hulle middelpunt.
As die pit nou enigermate die nodige vastheid bereik het en die sappe wat nog altyd opstyg, slegs teen dieselfde sap stoot en nie meer die warmte van die innerlike lewensvonkie voel nie, dan deurbreek hierdie sappe die kanaal en omspin die pit soos `n ruspe haar papie. Tegelykertyd word deur die buitenste, growwer kanale, wat in die wynrank opstyg, `n groter huls gevorm en dit alles gebeur natuurlik deur die eenvoudige intelligensie van die geeste wat in so `n plant woon. As hierdie growwer huls nou `n bepaalde vastheid bereik het, bars die edeler vate, wat die pit omgewe, en vloei dan in `n soete, geestelike sap in hierdie huls in. Aangesien hierdie huls ook oorspronklik deur sappe gevorm was, wat vanuit haar natuur suur moet wees; omdat die vrug, of liewer die skil, vas moet word, kom twee soorte sappe aanvanklik binne hierdie skil saam, naamlik `n wrang en `n soet sap; daardeur gebeur dit ook dat die onrype bessie baie suur smaak.
Langsamerhand egter word die wrange en slegtere deur die inwendig soete en goeie oorwin en na die uiterste grens gestu as vaste skil. En so word dan, as `n goeie voorbeeld vir die mens, deur die goeie, wat van binne opstyg, die lewe ten eerste in `n ongebonde vryheid behou, wat die pit hier voorstel, want al haar omgewende sappe word steeds losser en milder en daardeur ook ryper en meer vergeestelik; ten tweede word die oorwonne wrange en as te ware slegte ook goed, aangesien dit tot materiaal vir die vate van so `n plantheiligdom word.
`n Mens kan aan die wynstok ook blare, takkies en in plek van klein takkies, die welbekende hegranke ontdek. As `n mens die gewas sorgvuldig beskou, sal `n mens daarin al meer dierlike lewe vind as in enige andere plant.
Hierdie hegranke ontstaan weliswaar op dieselfde manier as die druif self, maar die natuurgeeste het nog te weinig liefde in sig, en daardeur ook te weinig lewe om `n vrug te vorm en wanneer hy nou volgroeid is en merk dat daar in hom geen lewe is om `n vrug te vorm nie — en dit eintlik vanweë `n soort sorgloosheid — dan dink hy met sy eenvoudige intelligensie, dat die lewensvonkie as te ware van hom af weggeloop het. Hy strek so ver moontlik uit en as hy dan iets voel, glo hy in sy blindheid, dat hy die lewe gevind het, omwikkel dit dan op dieselfde manier as waarop die vaatjies die pit omhul en laat hom nie meer los nie. Maar dit blyk nou dat hy by so ver weg gryp in plaas van die lewe, die dood omarm het en daaraan sterwe hy self.
Dit is `n klein wenk. As iemand sy innerlike buite rekening laat en maar net glo om die volheid van die lewe te soek in die ver uitgestrekte skeppingsruimte, dan strek hy eweneens sy oë en arms ver uit na die dood; en Ek leer tog deur daaglikse ervaring duidelik aan iedereen, dat die wêreld steeds mooier, heerliker en verligter word, namate `n mens verder van haar verwyderd raak. Daarvan kan ook `n panorama getuig; na `n ver verwyderde gebergte kyk `n mens dikwels met aandag en genoeë. Maar hoe is dit as `n mens self die gebergte bereik het en `n mens vind daar niks moois en ook geen ander genoeë as maar net die vergesig op nog verder afgeleë streke nie? Daarin lê dit ook, dat, hoe meer `n mens homself van die wêreld afwend en homself as te ware van haar verwyder, des te mooier, verligter en deursigtiger kom sy vir ons voor, eers dan het hy, wat My werke beskou en ag daarop slaan, egte vreugde daaraan.
Want die lewe woon in ons — en die dood lê buite ons!
Wie na die lewe streef en lewend word, vir hom word alles stralend lig en lewend. Want wie lewe het, hy besiel alle dinge met lewe en so word dit dan lewend vir hom en deur hom. Die dood moet sy gevangenes aan die lewende afstaan.
Wie egter na buitetoe streef, na wat hy ook is, die streef na die dood en gryp baie gou die eerste en die beste wat hy onder oë kry en dit is op sigself niks anders as die dood nie. So iemand verstrooi sy lewe, word maar meer swakker en sterf uiteindelik heeltemal. En dan is alles ook vir hom dood en as nie-bestaande, waardeur soveel mense selfs vir My, die mees Lewende Lewe, uit sy oog en hart verloor, omdat Ek glad nie meer vir hulle bestaan nie.
`n Derde uitsonderlikheid van die wynstok is die blaar. Dit word uit `n drievoudige sap gevorm. Van die murg van die ranke gaan kanale uit op die plek waar `n nuwe lid gevorm word. En dit geskied as volg:
Die strewe na My in die lewensvonkie wat in die saadjie gelê is, het hier al `n veel lewendiger plek, soos reeds by die groei van die boom uiteengesit is.* Wanneer die arglistige natuurgeeste nou bemerk dat die vonkie in die sentrale vate opstyg, volg hulle die vonkie baie vinnig in hierdie kleine stingels. Maar sodra die vonkie dan `n sekere hoogte bereik het, slinger hy bliksemsnel om die sytakke van hierdie dwase geeste. Desondanks hardloop hulle egter die vonkie na en weet, deur die vele krommings van die hooforgaan, nie waarheen die vonkie gegaan het nie. Hy soek daarom op die plek waar die wynstok `n lid gevorm het, skiet hier met krag uit die stam en vorm op hierdie manier die steel van die blaar. *(Sien die "lewe van die boom" in hierdie boek”)
As hy die lewensvonkie ook nie daar gevind het nie, wil hy met sy eenvoudige intelligensie homself in alle rigtings begewe om die vonkie te vind. Daarom brei hy homself netvormig na alle rigtings uit en maak veel uitlopers na onder, waardeur die hare onder die blad gevorm word. Deur hierdie soeke vul hy dan ook die tussenruimtes met sy substansie. As die lewensvonkie merk dat `n voldoende hoeveelheid na buite gestroom het, snoer hy baie vinnig sy kanale dig, behalwe die middelste. Self breek hy dan dikwels juis in die middel van sulke hordes uit, waarna die bekende proses opnuut begin.
So `n handeling vind by elk lit van so `n wynstok plaas.
Hierdie blare laat die lewensvonkie daarom ontstaan, sodat sy verdere ontwikkeling ten eerste in `n koel skaduwee kan plaasvind en ten tweede suig hy dan self vir die vorming van die sap, wat sy pit omgewe, uit die ligsee wat uit My (genade)son uitstroom, die eteriese stof in homself op; daaruit bestaan die viervoudige seën eintlik.
Hierdie viervoudige seën word dan, as die druif uitgepers is, die geestelike in die wyn. Maar nie alvorens al die onsuiwere uit die sap verdwyn het, kom die geestelike in die sap tevoorskyn nie. Ook hier sien ons weer `n klein evangelie: Die innerlike krag van die lewe gaan dan eers werksaam en voelbaar in die gesuiwerde materie oor, as deur selfwerksaamheid, weliswaar alleen maar met sterk hulp van My af, die parasiete van die dood na buite gewerk is. Dan word die materie self verlig en suiwer, soos die sap van die druif in die vat.
Op `n dergelike wyse trek sy terug uit die wêreld in die beskuttende en stewige vat van die deemoed, ook word die materie-lewens van die mens deur die inwerking van die Gees wat na vore kom, gesuiwer. In hierdie deemoed vind dan `n ooreenkomstige gisting plaas, waardeur al die onreine en dooie van die wêreld weer teruggegee word. Die lewe egter, verenig met sy gewyde materie, bly as `n goeie wyn in die vat van die deemoed ewig en kragtig tesame.