Geheime van die Natuur
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

10. Die berge as liefde- en wysheidspredikers.

Bowendien is `n gletsgerberg soos die Grossglockner `n voortdurende liefdesprediker en wysheidsprofeet. Hoe kan `n mens `n berg egter liefde en wysheid hoor predik? Daar bestaan op die hele wêreld niks eenvoudiger as om hierdie tweevoudige stem van die berge te verstaan nie. Die berg is die woonplek van die vredesgeeste wat daar weldra as die weldadige bemiddelaars optree, sodra een of ander onenigheid ontstaan. Vanaf die oomblik dat mense, wat eers hewig met mekaar getwis het, saam `n berg bestyg, word hulle gemoedere steeds lewendiger en wek hulle daardeur steeds die gevoel van liefde sterker op. As hierdie mense dan die hoogte bereik het, het die gevoel van toegeneentheid by beide al so sterk geword, dat hulle dikwels nie meer in staat is om langer onvriendelik teenoor mekaar te wees nie. Is die gemoedere harder, dan maak die geeste dit vir hierdie twee mense dikwels so moeilik, dat hulle skynbaar in dodelike gevaar verkeer. Hierdie toestand voer dan gereeld tot wedersydse ondersteuning, en langdurige vyandskappe word daardeur dikwels baie skielik in egte vriendskap verander.  

Dat dit waar is, laat ook `n ander voorbeeld sien. By groot, elementêre gebeurtenisse - soos byvoorbeeld `n alles vernietig­ende onweer of oorstroming - word selfs die wildste diere so sag en intiem dat hulle hulleself sagmoedig soos die duiwe, sonder om skade aan te rig, by die mense en die mak diere aansluit.

As doodsgevaar dus selfs verskeurende diere vriendelik stem, dan sal dit ook onder mense die geval wees, veral op hoë berge waar die gemoedere ongemerk deur die vredesgeeste beïnvloed word.  

Vir die oë van die weetgierige, ontvou die berge ook die geskiedenisboek van die prehistoriese tyd en dit vertel hulle hoe dit eens daar moes gelyk het. Hier is die berge die beste en betroubaarste getuie van groot wêreld-en natuurgebeurtenisse. As iemand sy kaal top bestyg het, dan sal hy homself by die aanblik van die eienaardige formasies die vraag stel of die berge al daar vanaf die eerste begin was, en of hy later gevorm was en hoe hy aan sy huidige vorm gekom het. En die mens wat dit vir homself afvra, sal deur die baie losgerukte klippe die antwoord dadelik kry: “Ons het sedert ons ontstaan geweldige veranderinge ondergaan. Meer as die helfte van ons voormalige hoogte het die dieptes en die dale al lankal opgevul en rus nou aan ons voet. As jy egter die verskillende vorme van ons gesteentes sien en tussen die lae daarvan dikwels nog duidelik herkenbare afdrukke van plante en diere waarneem, wat gewoonlik slegs in die diepere gedeeltes op die aarde voorkom, dan kan jy daaruit sekerlik wel die afleiding maak, dat ons self ook eens vlak grond was en eers deur die wyse besluit van die Skepper bo die vlak grond verhef was. As jy verder ons klowe, riwwe en splete beskou, kan jy maklik daaruit aflei, hoe storms en magtige storms van die elemente eens hulle reusekrag op ons harde hoofde beproef het!" 

Sien, so spreek die berge en gee die mense te kenne, hoe hulle ontstaan en gevorm het en waarom hulle nou so lyk. En wat sê die berge nog meer? As `n gewekte mens niks anders as kaal gesteentes en ook sneeu en ysvelde op sy hoogtes vind, sê die berge aan hom: “Kyk mens, jy wat altyd probeer het om jouself trots bo jou broers te verhef en om oor hulle te heers, hoe maer lyk die vrugte nie hierbo nie! Soos wat jy ons hier kaal, koud, gevoelloos en leweloos sien, presies so is jy ook in jou heerserswaan. Leer daarom van ons! Verneder jou onvrugbare koue verstand, net soos ons onsself verneder. Daardeur sal jou liefde groei en jou lewe sal ryker word op die plek waar jy deur jou Skepper geroep word. Laat jou verstand, wat dink om ver te gryp, steeds met deemoed omgewe word, sodat sy begrippe tot seënryke water word, wat omlaag vloei in die diepte van jou liefde, om dit lewend te maak".

Sien, nou bestyg `n ander mens die berg, een wat niks anders soseer ter harte het as goud en silwer nie. Aan hierdie mens gee die berge `n uitstekende onderrig, hy sê: “Jy dwase mens, hoe ver en diep het jy geval. Kyk, wat jy so liefhet, is maar net ons afval. Hoeveel meesterlike plante groei nie op ons weivelde en voed die diere nie. Hoeveel duisende van die mooiste bome groei nie op ons nie en gee jou hout vir allerlei nuttige dinge. Tel net die kristalhelder fonteine, wat ons laat ontspring en waarmee ons die vlaktes en dale seën! Hoe dikwels sien jy nie ons toppe in wolke gehul en verskriklike storms daaromheen woed nie! Dit neem ons op ons, sodat dit deur ons geseënde dale en vlaktes van groot verwoestinge verskoon bly. Jaar in en jaar uit sien jy ons toppe onder sneeu en ys begrawe. Daarom trek ons soveel krag na ons toe, sodat die dale en vlaktes hulle sal verheug in die lewende warmte. Hou daarom op met jou dwaasheid en woel in die toekoms nie meer in ons ingewande nie, maar loop liewer op ons weivelde en hoogtes rond en wees daarvan verseker: `n Plant, `n druppel uit een van ons bronne en `n blik in die dale in die wye omtrek waar jou almagtige Vader en Skepper sy werke verrig, sal jou onuitspreeklik meer van nut wees as die leeggrawe van die binneste van die berg!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205