Geheime van die Natuur
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 33

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

8. Die weg tot verbetering van die natuurgeeste.

Wat die derde soort geeste betref, die is ook weer in drie groepe te verdeel en wel in `n onderste, `n middelste en `n boonste. Tot die onderste behoort die geestelike wesens, wat binne in die berge woon en daar waak oor die metale en die waterbronne en ook oor die gesteentes en die aarde. Hierdie soort geeste is op sigself ook weer drieërlei en wel: Die vuurgeeste, die aardgeeste en die watergeeste. Hulle het nóg `n bose nóg `n goeie natuur, maar bevind hulleself tussen goed en kwaad.

Daarom word hulle ook vir die volgende doel gebruik: Die vuurgeeste om die metale uit te kook, die watergeeste om die vuurgeeste by hulle werk te temper en die aarde- en klipgeeste om die vuur- en watergeeste binne perke te hou. Wie hom van die bestaan van hierdie geeste wil oortuig, soek maar die geselskap van opregte en onbevange mynwerkers op. Hy sal sekerlik baie onder hierdie mense aantref, wat in sy lewe minstens een, twee- of driemaal `n sogenaamde bergmannetjie gesien het. Hierdie geeste kom maar selde na die oppervlakte van die aarde, want binne in hulle bergwêreld vind hulle dit veel heerliker as in die waardelose wêreld daarbuite, soos hulle gewoond is om te sê. Die materie hinder hulle nie by die heen en weer loop nie. Waar so `n gees hom ook maar heen wil begewe, gaan hy deur water, vuur of klip baie makliker heen as wat jy jou deur die lug beweeg. Want waar jy materie sien, daar sien die gees maar net die ooreenkomstige substansie (die geestelike) daarvan; die eintlike growwe materie bestaan vir hom so goed as gladnie. 

Word hierdie geeste smadelik deur `n ongelowige behandel en daardeur geprikkel, dan is hy gou bereid om hom op sulke mense te wreek. Wee diegene wat dan in sy hande val! Maar `n sagmoedige mens daarenteen, het niks van hulle te vrees nie. Inteendeel, as `n gelowige en goedmoedige mens in die onderaardse tonnels en gange van die berg verdwaal is, wys hy hom byna altyd `n veilige weg na buite. Dit kan jy ou mynwerkers uit die mees verskillende streke hoor vertel. 

Die tweede soort geeste is meestal op die oppervlakte van die aarde besig en van hierdie soort is daar baie. Die een deel moet vir bome, struike, plante, gras, mos en paddastoele sorg. Hy moet die geeste, wat nog nie uit die plante vry geword het nie, in hulle werk lei, sodat elke plant sy eie vorm en werking behou. Die ander deel van hierdie geeste het die dierewêreld onder hulle en moet dieselfde daar doen, sodat elke dier ooreenkom met sy voorgeskrewe vorm en werksaamheid.   

Hierdie soort geeste is slegs selde vir die mense sigbaar, want hulle het te min tyd om hulle sonder rede sigbaar te maak. Tog vind `n mens nog menige vroom herders in die berge, wat meermale sulke geeste gesien het. Hierdie herders weet ook te vertel hoe sulke geeste dikwels hulle koeie en skape by hewige onweer teen ongelukke behoed het. Al kan iemand wat min geloof het, ook nie sulke geeste sien nie, tog word hy dikwels deur hulle geprikkel, veral in uitgestrekte bergwoude of op vrye bergweidings, of wanneer hy langs groot kuddes perde, koeie of skape loop. Hierdie prikkeling bestaan uit `n min of meer onrustige gevoel, waarop dan `n ligte huiwering volg. As iemand so iets ervaar het, kan hy daarvan verseker wees, dat sulke geeste hom genader het. Met watter toestand hy in die eintlike geesteswêreld ooreenkom, word in die religieuse deel bespreek.

Die derde soort word uiters selde gesien en ook nie die werking wat van die geeste uitgaan nie, en nog minder word hulleself as wesens opgemerk. Die werk van hierdie geeste bestaan uit die waak oor die lug en die eter. Deur die oudstes word hulle daarom 'luggeeste' genoem.

As jy die waai van die wind waarneem, veral van die uit die noordooste en dan liefs rondom middernag, of dikwels ook saans een of twee uur voor sonsondergang, kan jy hulle inwerking bemerk, wat hulleself deur `n huiwering kenbaar maak; ook die huisdiere word onrustig. Wees dan daarvan verseker dat sulke verskynsels afkomstig is van die luggeeste van `n laer soort.

As jy gereeld na die merkwaardige vorme van de wolke kyk, kan jy ook weer seker wees, dat sulke vorms die werk van die geeste is. Die wolk self bestaan nie uit hierdie geeste nie. Sy vorm hang egter af van hoe die luggeeste die een luglaag om die ander draai en wend, sodat die wolkegeeste - naamlik die van die onderste, kwaadaardige soort - slegs die vorm kan aanneem wat hulle deur die draai en wending van die luglaag toegestaan word.

Dit gebeur sodat die vredesgeeste - vir wie dit vry staan om hulle gestalte te vorm - die bose geeste en hulle bedoeling aan hulle vorm sal herken.

Hier is dus slegs die werking te sien, die werkende gees self egter nie. `n Nog hoër staande soort van hierdie geeste, wat hulle al in die eter bevind, sien ons in die seldsame verskyning van `n fata morgana (noodlot).

As die boonste etergeeste die lugoppervlakte heeltemal tot rus gebring het, word hierdie oppervlakte geskik vir spieëling - en wel op dieselfde manier as `n rustige wateroppervlakte. Word die lugoppervlak egter deur deining en golwe uitmekaar geruk, soos die oppervlakte van `n meer of see, as dit deur winde of vloedgolwe onrustig word, dan is `n weerkaatsing natuurlik onmoontlik. 

Die fata morganas op sigself is daarom daar, sodat dit daardeur vir die in die hoë eter verblywende etergeeste makliker word, om die geheime doen en late van die bose geeste in die klowe en ravyne van die berge waar te neem; of ook om van sulke geeste, wat hulle al in die gestaltes van wolke in die lug verhef het, wat heimlike bedoelinge het, met sekerheid te kan vasstel. Jy moet nie dink dat die bewegende lug hulle by die waarneming hinder nie! Hulle kan met hulle oneindige skerp, groot en diepsiende geestesoë die intriges van die bose geeste maklik waarneem. Die rus van die lugoppervlakte is slegs `n gevolg van die opmerksaamheid, wat die hoër geeste by sulke geleenthede teenoor die wat laer is, aan die dag lê.

Dit is dus die derde soort geeste, wat hulleself tesame met die ander hoëre vredesgeeste in rustige oomblikke in die omgewing van hoë gletsers ophou en - as dit nodig is, - hulleself met die snelheid van `n gedagte oor alle streke van die aarde kan uitbrei. Maar onder die derde soort moet jy nie die vorm van die onderste wolkegeeste en ook nie die vredesgeeste self verstaan nie, maar slegs die etergeeste, wat vir `n sterflike oog byna nooit sigbaar is nie, deur wie hierdie rus van die lugoppervlakte veroorsaak word.

Maar daar is nog ander hoër geeste, wat in die heelal die wêrelde en sonne lei en ten slotte nog hoër geeste, wat die mense moet help. Maar vir hierdie is weer `n ander, groter plek bestem en hulle het nie direk te maak met die ordening op aarde nie. Daarom hoef hulle ook nie hier verder bespreek te word nie. Dus is ons nou met die geestelike deel van die Grossglockner en daardeur ook met alle ander berge klaar en ons sal ons nou aan die religieuse deel wy. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205