1. Die Grossglockner — `n vader van die berge.
Dit is `n pragtige gesig, hoe daar te midde van sy groot broeders `n koning van die berge - die Grossglockner - majestueus oprys en na alle kante uitkyk. Stiermarken besit nie een enkele heuwel aan hierdie kant van die rivier Drau, wat nie afstam van hierdie vader van die gebergtes nie.
Van die alles oorheersende hoogte van so `n stamgebergte hang dikwels in natuurlike opsig die goeie instandhouding van `n hele wêrelddeel af. Die verhouding van sulke berge tot die res van die land is soos die van `n kop teenoor `n liggaam. Al gaan die lewe ook nie net van die kop uit nie, tog is dit wel die vernaamste opname orgaan van die natuurlike lewe en dit lei die hele organisme. Die boonste ekstremiteit van die liggaam verloor mens nie sonder om die lewe daarby te verloor nie. So sou ook die wegvee van die ‘Grossglockner’ weldra `n onafsienbare groot landstreek in die ewige winter, of op sy minste, in `n uitgestrekte meer verander. Want so `n berg neem geweldige hoeveelhede water vanuit die binneste van die aarde op. Hy hou dit deur sy geweldige gewig daaronder en laat slegs soveel deur die porieë na buite kom, sodat die land in die wye omtrek van die benodigde water voorsien kan word. Die oormaat van hierdie voortdurende uitwaseming van die inwendige water suig hy weer uit die lug na binne. Sodat dit nie te ver van hom verwyder word nie, verander hy dit voortdurend in ys en sneeu. Daarom sien julle hom maar selde sonder newel of wolke.
Dieselfde moet al sy kinders ook doen, al is dit dan in `n mindere mate. Waarom word hier gepraat van 'kinders' van die berg? Omdat in die tyd toe die berge gevorm was, het die hoogste berge van die aarde eers ontstaan, en na hulle ontstaan eers die ander in reëlmatige opeenvolging. Tussen hierdie opeenvolgende vorming het min of meer miljoene aardse jare verloop, sodat in `n land nouliks twee ewe oue berge aanwesig is. Dat die ‘Grossglockner’ as `n vader van die berge tot die oudste behoort, kan jy daaraan sien, dat hy oor verskillende lande domineer. Bowendien bewys sy gesteentes dit ook; dit verskil baie van die van sy kinders en kindertjies. Soos alle berge ten opsigte van sy vader egter in hoogte toeneem, neem hy ook in ouderdom toe. En hoe meer sy top hom met ewige sneeu en ys tooi, des te verhewe en belangriker word hy. Wie dit nou in gedagte hou, sal wel insien waarom een vierkante vadem van die met ys bedekte Glocknergrond belangriker is as `n hele vierkante myl van die mees vrugbare heuwelland. Want die Grossglockner is `n enorme groot vogtige klip en daardeur trek hy die vog wat in die lug aanwesig is, oor `n ver afstand na hom toe. Bly dit egter in die vorm van druppels aan sy wande klou, dan sou dit baie gou weer in groot strome aan hierdie reuseklip ontkom en baie landerye verwoes. Om dit te voorkom, bewerk hy deur sy hoogte en deur die eienskappe van sy gesteentes, dat die ingesuigde vog dadelik in sneeu en ys verander.
As sy ys- en sneeulas van bo en van buite groter word, kom die onderste ou sneeu- en ysmassas onder druk te staan, waardeur hierdie water- en lugdele in tallose klein deeltjies ontsteek, los dan in `n newel op en styg dan op vanaf die plek waar hulle gevangene gehou word.
Omdat so `n gletser maar net in die hoogste streek deur die berg vasgehou kan word, sou die ontwykende water hom in die dieper liggende vlaktes uitstort, waarby alles verwoes sou word. Of hy sou sy sneeu- en ysstreek steeds meer uitbrei, sodat hele landerye gedurende duisend jaar deur hulle begrawe sou word. Maar sodat nóg die een nóg die ander gebeur, het so `n vaderberg `n onoorsienbare hoeveelheid kinders gekry, wat die oorbelasting van sy vader op hulleself neem. Wat vir hulle self teveel word, neem die omringende heuwels dan weer op, wat dan met hulle oorvloed die uitgestrekte vlak land seën.
Nou sal julle insien, waarom vanaf so `n hoë berg sulke uitgestrekte, samehangende bergkettings hulle byna straalsgewys in alle rigtings uitstrek.
En dit word begryplik dat daar in julle land maar weinig bronne is, wat sy bestaan oorspronklik nie aan hierdie vader van die bergland te danke het nie. Ook val hier selde `n druppel reën uit ander wolke as uit die, wat deur die ‘Grossglockner’ en sy uitgebreide familie oor hierdie land uitgestuur word. Want hy besit drie verskillende, verreikende kragtige arms, waarvan die eerste hom in sy kinders na alle kante toe uitstrek; die tweede reik tot in alle fonteine, stroompies en stroom gereeld nog verder as sy kinders. Die derde mees verstrekkende arm is egter die wolkestreek, wat op die ‘Grossglockner’ haar sentrale punt vir verskillende lande het en aan die baie wyd verspreide kinders, sorgsame bewakers en verdere ruspunte het, waar hy hom weer in steeds newelagtiger massas omvorm. En as hierdie massas, byvoorbeeld op die Choralp, te dig word, dan het ook hierdie berg weer gerangskikte kindertjies onder haar, wat hulle moeder `n groot deel van haar las ontneem en dit as weldadige reën na die plante en diere van die vlaktes lei.
Maar dit is slegs een van die natuurlike, nuttige werkinge van hierdie vader van die bergland. Nog twee ander en meer belangrik sal ons hierna leer ken. Dan sal `n mens ook `n meer verhelderende beeld kry van die groot nut van so `n dooie lykende bergreus.
Daarom, jy moet eerbied hê vir die berge; want waarlik, hoe hoër hy sy top bo die slyk uit die diepte, opwaarts hef, des te seënryker is hy vir die hele land.