Geheime van die Natuur
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

11. Die vlieg as versamelaar van lig en lewe.

Wat dryf die geeste van die eerste nog onvolmaakte soort van die son nou weg in die eindelose ruimte in? Niks anders nie as My ewige orde, waarkragtens hierdie geeste wat van die son uitgaan, weliswaar `n positief-polêre versadiging het, maar self negatief is.

Wanneer twee gelyke pole mekaar nader, stoot hulle mekaar so lank af, totdat die alleen maar positief gevoede, maar in wese negatiewe pool, al die positiewe afgegee het. 

So is hierdie atoomagtige wesens dus feitlik negatief van aard en kan hulle, net solank as wat hulle hierdie karakter behou, in die son bly. Neem hulle egter al te gretig `n ligversadiging uit die positiewe poolgebied van die songeeste aan, sodat hulle, wat betref die wese van die lig, hulle baie weinig van die eintlike positief-polêre geeste onderskei, word hulle met groot snelheid deur die positief-polêre wesens na buite gedryf. 

Hierdie uitgedrewe geeste is die uitstralende lig van die son, wat sy positiewe deel afgee, wanneer dit op `n hemelliggaam val. Die meegenome lig is dus die nog voortdurende liefde - en vreugdevibrasies van die volmaakte geeste.

Wat betref die negatiewe deel, sal die uitgaande atoomagtige wesens, veral by die nadering van `n hemelliggaam, — omdat hy anti-polêr is—weer na die son terugkeer. En dit is die terugstraal van die lig wat uit die son afkomstig is. Omdat hierdie wesens hulle, deur hulle groot snelheid, steeds reglynig voortbeweeg, word dit ook begryplik waarom die voorwerpe waarop die sonlig val, baie duidelik te sien is.

Dat so `n beligte vorm in haar geheel gesien kan word, is weer die gevolg daarvan, dat alle materie waaruit `n vorm gemaak is, niks anders is as `n konflik van geestelike potensies nie.

Wanneer hierdie vinnige ligdraers dus uit die son op `n vorm stuit, dan neem die vorm - na gelang van haar innerlike geaardheid, die deeltjies wat sy kan gebruik vir haarself. Wat vir haar onbruikbaar is, stoot sy met die grootste snelheid in alle rigtings terug.

Die oog is dus slegs `n orgaan om die baie verskille op te neem tussen die invallende en die weerkaatsende lig. En hierdie talryke verskillende ligsoorte vorm dan natuurlik al die verskillende beelde in die oog, wat gevoelig is vir hierdie ligverskille. 

Nou sal dit uiteindelik wel duidelik wees, dat alles wat hom materieel manifesteer, noukeurig beskou nie materieel nie, maar geestelik is. Die mense kan nog net nie die geestelike sien nie, omdat hulle nog nie in die geestelike polariteit is nie. Maar wanneer hulle hulleself eendag daarin sal bevind, dan sal die teenoorgestelde gebeur, dan sal `n mens alleen die geestelike kan sien. Al die materiële sal `n mens daar dan net so moet by bedink, as nou die geestelike by die materiële.

Daarom moet dit u ook nie al te veel verbaas nie, wanneer `n mens met verloop van hierdie verhandeling op punte stuit, wat nog nie heeltemal duidelik is nie. Om al hierdie verhoudinge duidelik te kan maak, sou `n mens op aarde, heeltemal uit die materie in die suiwer geestelike moet oorgaan, terwyl die tyd daarvoor nog nie gekom het nie. 

Nadat ons in kort die verskille tussen lig en lig so begryplik moontlik verklaar het, sal ons onsself weer tot ons vlieg wend, wat skynbaar in vergetelheid geraak het. Maar Ek sien nou `n nuwe vraag opkom, naamlik: “Welke verband is daar dan tussen die vlieg en die ligverwekkende en ligdraende geeste?" Die vlieg, sê Ek, sal hier `n medium wees en sal by ligversamelende gees behoort! Sien, hierin skuil die groot geheim! Sou `n mens ooit `n wese kan begryp, sonder om te weet van welke standpunt hy is? Wat se begrip kan dit dan wees? Waarlik, daar sou dan weinig onderskeid wees tussen die manier van hoe `n mens die vlieg of `n ander dier sien, of hoe `n ander dier die vlieg sien, behalwe vir die feit dat `n mens haar `n naam kan gee en vasstel dat sy ses voete het, twee vlerke, `n liggaam, `n kop en tot die vlieënde insekte behoort. -

Dus, die standpunt van `n ding is die basis, van waaruit gesien dit eers in sy volle waarheid verskyn. Wat is dan die waarheid van `n ding?

Die geestelike van `n ding is die waarheid. 'Solank dit nie opgespoor kan word nie, lyk alles soos `n hol, leë neut!

Beskou dus ook ons vlieg vanuit hierdie standpunt! Sy is gedeeltelik stoflik en omdat sy leef, gedeeltelik geestelik.

Sy bevind haar, net soos tallose ander wesens, tussen die twee hoof polariteite, naamlik tussen die positief lewende polariteit van die son en die negatiewe van haar planeet. Sy is derhalwe neutraal, dit beteken nóg heeltemal positief, nóg heeltemal negatief. Sy is nie maar net ligverwekker nie, nie maar net ligdraer nie, maar `n ligversamelaar.

Ons weet dat die lig ontstaan uit die beweeglikheid van die lewende. Dus is lig en lewe een en dieselfde. Die lig is derhalwe `n verskyningsvorm van die lewe. Maar omdat ons vlieg `n versamelaar van die lig is, is sy dan ook nie `n versamelaar van die lewe nie?

Hoe lyk die lewe nou in die vlieg? Uiter dit dalk in `n luisterryke lig?

`n Mens sal nie van `n vlieg nie kan beweer dat hy haar as `n liggewende vuurvliegie gesien rondvlieg het nie. Die vlieg bewaar die lewe op voorbeeldige wyse in haar en laat dit nie meer uitstraal nie. Sy het `n donker kleedjie aangetrek, sodat die lewe des te meer in haar kan vermeerder. 

Wie nie die wese van die deemoed by die vlieg kan herken nie, moet meer as blind wees! Nou is haar veelsydige nut bekend: maar die wêreld ken dit nie. En daarom is die ywerige, in al haar beweginge, nuttige vlieg, aan die veragting prysgegee, waar sy liewer die lewe in haar vermeerder as om daarmee te pronk. Nou is die standpunt sigbaar, hoe van daaruit strale in alle rigtings uitgaan, sodat `n mens duidelik die oorwinning kan sien, wat hierdie diertjie altyd moedig behaal.

Wat is hierdie oorwinning dan eintlik?

Uitgaande van die eerste ontstaansgrond van die lig moet ons begryp, dat van alle denkbare opgawes, die volgende die moeilikste is om op te los:

Hoe bind sy die vrye lewe, en hoe versamel sy die vooraf vry rond­swerwende lewe?

Ons het verneem, dat by die vorming van `n planeet, die vlieg dit as eerste sigbare skepsel bewoon. Hier het ons die vlieg gesien as eerste wat verspreide lewe in haar opneem. En na die beskouing van die lig het ons die vlieg weer gesien as lewensversamelaar tussen son en planete. Wat is die onderskeid tussen nou en die oertyd, toe die vlieg nog die enigste bewoner van `n aardbol was?

Aan die een kant is daar heeltemal geen verskil nie, want sowel nou as vroeër beantwoord sy volledig aan haar destydse gegewe natuur en orde. Maar aan die ander kant is daar `n oneindige verskil, want sy staan nou nie net op die laagste polêre trap vir die versameling van lewe nie, maar ook van die omsetting daarvan tot steeds hoër potensies en uiteindelik tot die hoogste potensie van die oerlewe self.

Toe was daar tussen haar en die oneindige mag (potensie) nog `n eindelose kloof; nou is dit opgevul deur die wese van die mens, en ook deur die byna eindelose ry wesens wat die mens voorafgegaan het.

Destyds was dit getoon wat hierdie diertjie was; nou word weliswaar dieselfde getoon, maar terselfdertyd is die oorwinning daarin te sien: Dit is die instandhouding van die lewe!

Maar hoe behou die vlieg die lewe?

Deur haar groot werksaamheid. Want die lewe wil in dade omgesit word. Verder deur haar groot deemoed, want die lewe moet versamel word! Sy behou dit deur gehoorsame onderwerping aan My wil. Want alle lewe moet in orde gebring word, as dit hom eens wil terugvind en homself bewustelik sal ken.

Wie nou hierdie punte oordink en ook die voorskrifte wat deur My gegee is vir die ewige instandhouding van die lewe, mag hierdie vir homself goed in ag neem, sodat hy daardeur steeds geskikter en bekwamer word en My steeds benader. So mag hy uiteindelik ook die grootste oorwinning beleef. Dit is die wedervereniging van elke afsonderlike lewe met My oerewige lewe.

Hoe dit sonder enige belemmering sal geskied, waardeur elke lewe op sigself selfstandig bly, ongeag van die feit dat dit met die Oerlewe in die innigste verbinding staan, sal die vlieg ons nog in die volgende, laaste hoofstuk laat sien.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205